Algemene jaarvergadering 2021: Bestuurdersverslag – Catrina Wessels

Baie welkom by ons algemene jaarvergadering 2021.

Die jaar het heelwat van ons vuisvoos betrap ná 2020 vir menige soos ’n stryd om oorlewing gevoel het – in sommige gevalle heel letterlik. Dood en verlies was weens die Covid-pandemie alomteenwoordig en ons moes met harsteer van ons lede groet.  

Marga het reeds ons meegevoel betuig aan naasbestaandes van ons lede wat sedert ons vorige jaarvergadering afgesterf het en wie se nagedagtenis ons eer, onder meer by die afgelope kongres van PEN International waar daar ’n paar woorde oor Margot Luyt en Christine Barkhuizen-Le Roux op die aanlyn muur van herinnering geskryf is.

Vir ander was dit ’n geval daarvan dat inkomstestrome opgedroog het, of minstens meer effentjies begin vloei het, met dié dat tydskrifte gesluit het en lesers hulle toenemend tot “gratis” roofkopiëe van Afrikaanse boeke begin help het en só skrywers en uitgewers se inkomste laat krimp het.

In sommige opsigte voel 2021 soos ’n ligter weergawe van die verskrikking van 2020. Enersyds is ons bloot al meer gewoond aan die maskers en die yler medialandskap wat steeds met ons is, maar andersyds sien ons ook bemoedigende tekens soos gesonde groei in die plaaslike boekbedryf, ekonomiese bedrywighede wat hervat het, en Tuin van Digters wat hierdie naweek weer op Wellington plaasvind. Ek herinner sommer nou opbetaalde lede dat julle dit gratis mag bywoon. PEN Afrikaans bied Saterdagmiddag om 17:00 ’n paneelbespreking oor die vertaling van gedigte in die Akkoordtent aan. Ons hoop om julle daar te sien.

Hierdie jaar is ook die eeufeesviering van PEN International, waarvan PEN Afrikaans ’n sentrum is en ons lede dus ook lede van die internasionale organisasie is.

By die afgelope kongres, wat weer vanjaar aanlyn gehou is, was die verskeie fasette van PEN se werk, en die internasionale strekking daarvan, weer duidelik: die beskerming, bevordering en viering van uitdrukkingsvryheid, persvryheid en die letterkunde.

Die uittredende voorsitter Jennifer Clement het tydens haar verwelkomingstoespraak gesê: “PEN believes in the unique, revolutionary value of literature in the transformation of individual lives and societies.”

Teen hierdie agtergrond is dit vir my ’n plesier om meer te kan vertel oor PEN Afrikaans se werksaamhede die afgelope jaar en die konkrete maniere waarop ons hiertoe probeer bydra het. Ons het vanjaar op artikel- en gespreksreekse gefokus, ’n skryfkursus aangebied, podsendings beskikbaar gemaak en namens ons lede deelgeneem aan belangrike gesprekke oor taal en outeursreg. Ons het ’n skrywersresidensie in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting aangebied en die PEN Afrikaans Vertaalfonds geadministreer. Ek vertel graag kortliks meer.   

  1. Artikel- en gespreksreekse

Die wêreld van die skrywer

Ons publiseer steeds kwartaalliks artikels in ons artikelreeks genaamd “Die wêreld van die skrywer”,  waarin skrywers op onderwerpe ingaan wat met die praktyk van skryf te doen het.

In ons eerste artikel van 2021 skryf Jaco Jacobs oor hoe ’n skrywer te werk kan gaan om iets vir die skolemark te skep. Is daar spesifieke moets en moenies? Wie hou ’n mens in gedagte terwyl jy skryf?

Chase Rhys, bekroonde skrywer, dramaturg en uitvoerende kunstenaar, het in die volgende aflewering boeiend geskryf oor perspektief en dialoog in die stuk genaamd “Ommie karakters se stemme te vind.”

Volgende het Nico Scheepers, die skrywer van onder meer Nêrens, Noord-Kaap, die treffertoneelstuk wat nou tot televisiereeks verwerk is, geskryf oor ruimtebeelding in sy werk. Die laaste artikel in hierdie reeks vanjaar sal deel van ons Desember-nuusbrief wees en ook op ons webwerf te lees.

’n Gespreksreeks in samewerking met LitNet

PEN Afrikaans en LitNet het vanjaar ’n reeks gesprekke geloods oor die integriteit van inligting, akkurate beriggewing, asook uitdrukkings- en persvryheid.

Herman Wasserman, professor van mediastudies aan die Universiteit Kaapstad, was in die eerste aflewering aan die woord oor waninligting, nog ’n siekte van ons tyd en ’n roekelose en skadelike praktyk wat joernaliste se werk bemoeilik en mense se lewens soms letterlik in gevaar stel. Hy brei uit oor die impak daarvan, faktore wat daartoe bydra en praktiese maniere om dit teë te werk.

Die veteraanjoernalis Max du Preez was daarná aan die beurt en het vrae beantwoord oor sy loopbaan as joernalis, oor die belang van mediavryheid, vrye spraak en geloofwaardige joernalistiek.  

Vinnige vrae in Taalgenoot

In Taalgenoot bied PEN Afrikaans sedert die begin van die jaar ’n vraag-en-antwoord insetsel aan wat behels dat dieselfde stel vrae telkens aan ’n ander lid van PEN Afrikaans gestel word. Hierdie jaar het ons al vir Louis Esterhuizen, Jaco Fouché en Madelein Rust van naderby leer ken. Joan Hambidge is volgende aan die beurt.  

Taalgenoot is as tydskrif gratis aanlyn beskikbaar en die inhoud vorm deesdae ook deel van Netwerk24. Kyk dus gerus daarvoor uit.

2. Taal

Ons het vanjaar op verskeie maniere taal probeer vier en bevorder. Ons het in Februarie byvoorbeeld Internasionale Moedertaaldag gevier deur digters aan die woord te stel. Gaan luister gerus na Breyten Breytenbach en Jolyn Phillips se voorlesings van hul gedigte wat ons ter viering van hierdie dag gedeel het.

Ons het deelgeneem aan die gesprek oor die voorgestelde konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch, in die lig van kommerwekkende berigte oor taaldiskriminasie vanuit koshuise en mikro-aggressies teenoor Afrikaanssprekendes soos die Departement Afrikaans en Nederlands van dié instansie dit in ’n brief aan die rektor gestel het.  PEN Afrikaans het ’n ope brief aan die universiteit gerig en ook amptelik aan die beraadslagingsproses oor die taalbeleid deelgeneem deur kommentaar op die beleid self in te dien. Ons kommentaar het grotendeels bestaan uit vrae oor die praktiese implementering van die voorgestelde beleid, wat op sigself bemoedigende geluide oor meertaligheid bevat, maar weinig aanduiding dat dié woorde nie bloot lippediens sal wees nie.

Ons het ons lede genooi om aan die gesprek deel te neem en met waardering julle bydraes ontvang en versprei.

Onlangs het ons tydens die Week van het Nederlands ’n paneelbespreking met verteenwoordigers van PEN Nederland, PEN Vlaanderen en PEN Afrikaans aangebied. Dié gesprek, wat taal as beweegrede gehad het teen agtergrond van die viering van die Week van het Nederlands, het gou gewys dat daar ook wat uitdrukkingsvryheid betref altyd werk te doen is, en dat selfsensuur toenemend ’n relevante onderwerp raak.  

3. Kopiereg

Op Wêreldboeke- en kopieregdag het ons ’n meningstuk van Marga Stoffer gepubliseer wat die belang van outeursreg vir skrywers uiteensit en, in lyn met PEN International se benadering daartoe, aandui hoekom dit iets is om te vier.

Ons het ’n voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg ingedien toe die Portefeuljekomitee vir Handel en Nywerheid weer ’n konsultasieproses aangekondig het en spesifiek voorleggings gevra het oor die voorbehoude wat president Ramaphosa daaroor geformuleer het, naamlik die grondwetlikheid van spesifieke bepalings en die vraag oor nie-nakoming van internasionale verdrae wat bekragtiging van die wetsontwerp tot gevolg sal hê.

Die wetsontwerp bly ’n belangrike fokuspunt vir ons en ons lede, aangesien dit skrywers en die groter boekbedryf direk raak en, indien daar nie wysigings gemaak word nie, ingrypend sal benadeel. Ons sal aanhou om skrywers se stemme hieroor te laat hoor.

4. Skryfskole en -kursusse

Vir PEN Afrikaans is dit, as skrywersvereniging, ook ’n fokuspunt om te belê in die ontwikkeling van skrywers. Ons het dit vanjaar gedoen deur ’n aanlyn kursus oor die skryf van verhale wat Marita van der Vyver aanbied, met Jolyn Phillips wat by die vorige sessie as gasspreker betrokke was.

Die kursus is weer vanjaar vol. Die aanbieders en deelnemers is geografies wyd verspreid, maar duidelik op dieselfde golflengte tydens die aanlyn sessies – ten spyte van beurtkrag wat vir ’n paar tegniese uitdagings tydens verlede naweek se sessie gesorg het. Baie dankie vir almal se deelname.

Ons het die kursus so toeganklik as moontlik gemaak om groter diversiteit onder kursusgangers te probeer verseker. Daar is beurse vir gratis bywoning en enigeen met konnektiwiteit kon aan die kursus deelneem of met ons daaroor reëlings tref.

Ons het ook ’n reeks podsendings beskikbaar gemaak wat uit opnames van verlede jaar se aanlyn kursusse bestaan.

Gaan luister op ons YouTube-kanaal na Kerneels Breytenbach en Charles Siboto tydens die resensiekursus, Anzil Kulsen en Jan Vermeulen oor die skryf van jeugverhale en Marita van der Vyver en Chase Rhys oor die skryf van verhale.

5. PEN Afrikaans Vertaalfonds

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds gaan voort te danke aan die finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. het ten doel om die vertaling en publikasie van verdienstelike Afrikaanse literêre werke in die buiteland te bevorder deur vertaalkoste te subsidieer. Daar is twee sperdatums vir aansoeke in ’n kalenderjaar: 15 Mei en 15 November.

Na afloop van die Mei-sperdatum, is befondsing toegestaan vir die vertaalkoste verbonde aan ’n Nederlandse vertaling van Ons wag op die kaptein deur Elsa Joubert (Uitgeverij Aldo Manuzio).

Op die dag waarop Elsa Joubert sou verjaar, is dit ekstra gepas om dié goeie nuus weer te belig.

Die volgende sluitingsdatum vir aansoeke is 15 November. Ons het reeds een aansoek ontvang en sien uit om ander ook te oorweeg.

6. Skrywersresidensie in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting

Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kon weer vanjaar aansoek doen om vir ’n maand in die Jakes Gerwel Stigting se Paulethuis in Somerset-Oos tuis te gaan om aan ’n goedgekeurde skryfprojek te werk. Ons is baie trots op die boeke wat al uit vorige jare se skrywersresidensie voortgevloei het en dit bly ’n plesier om dit te kan aanbied.

Die volgende ses skrywers – wat almal baie sterk aansoeke gebring het – het in Julie die skrywersresidensie bygewoon:

  • Andries Bezuidenhout
  • Salvia Ockhuis
  • Lydia Gittens
  • Mercy Kannemeyer
  • Sarie Nell
  • Valda Jansen

Daar het hulle geskryf en gewoon en gewerk, maar ook vir die eerste keer ’n ander, besonderse uitset gelewer: ’n album genaamd Derde golf waarin die skrywers hul gedigte met musiekbegeleiding voorlees. Gaan luister hier daarna.

Baie dankie aan Theo Kemp vir die goeie en lekker samewerking.

7. Kommunikasie

Wat ons kommunikasie betref, het PEN Afrikaans hierdie jaar voortgegaan met ons maandelikse nuusbrief, met ’n oorsig van resensies en nuwe Afrikaanse boeke wat daardie maand verskyn. Ons het gesonde groei in ons sosiale media-reikwydte gesien en het die jaar ingegaan met ’n splinternuwe webwerf – ’n eerste vir ons as organisasie – wat ons sedertdien bywerk en waar ons hulpbronne en nuus beskikbaar stel.

Ten slotte

Ek sê ter afsluiting baie dankie vir die uittredende bestuur van PEN Afrikaans vir die wonderlike samewerking, spesifiek vir Marga Stoffer, Danie Marais en Naomi Bruwer wat in Januarie deur Izak de Vries opgevolg is as tesourier. Vir my was hierdie span van PEN Afrikaans soos die enjinkamer, en dit is ’n warm vertrek, omdat daar dinge bespreek én gedoen word, en omdat dit nie net kundige en kreatiewe mense is om mee saam te werk nie, maar ook ruimhartige en warm mense. Dit was ’n groot bron van vreugde. Dankie vir alles wat julle gedoen het.

By voorbaat dankie aan die nuwe bestuur wat vandag verkies word. Ek sien baie uit om met julle saam te werk.

PEN is ’n netwerk. Wisselwerking en samewerking is van groot belang. Wat duidelik was tydens die internasionale kongres is die opvallende samehorigheid tussen lede vanoor die wêreld se verskillende tale, kulture en plekke.

Mag PEN Afrikaans se lede, met hul diverse stemme, toenemend ook daardie samehorigheid ervaar en voel dat hulle deel is van iets sinvols wat hulle ook help skep.

Dit is te danke aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys se ruim finansiële ondersteuning, goeie samewerking met ander organisasies, ’n kundige en entoesiastiese bestuur, en julle bydraes as lede dat PEN Afrikaans kan terugkyk op ’n goeie jaar. 

Dankie aan almal.

Catrina Wessels