
Die ontwikkeling van tegnologie het ’n drastiese invloed op vertaling en maak sodoende tegnologiese hulpbronne en -middels ’n essensiële deel van die vertaalproses (Ruokonen en Koskinen, 2017). Een van dié tegnologiese ontwikkelings is die ontwikkeling van generatiewe kunsmatige intelligensie (GKI). Alhoewel GKI nie spesifiek vir vertaling geskep is nie, word dit wel as ’n hulpmiddel in die vertaalproses aangewend. Die toenemende gebruik van GKI in vertaling blyk ’n verandering aan die vertaleragentskap te bring. Dus is dit nodig om sowel oor die rol van die vertaler as oor die vertaler se agentskap te herbesin.
Tredoux (2024) steun op Milton en Bandia (2009) se definisie van ’n agent as enige entiteit wat ’n rol in die proses van kulturele vernuwing en uitruiling speel. Vertaling as ’n aktiwiteit is onteenseglik ’n vorm van kulturele uitruiling en die vertaler speel ’n sentrale rol in daardie proses. Boonop dra die vertaler ’n enorme verantwoordelikheid om as ’n bemiddelaar tussen die bronteks (BT) en die doelteks (DT) op te tree. Wanneer die agent verantwoordelikheid oor iets (byvoorbeeld die vertaling) het, blyk dit dat hulle ook agentskap daaroor het (Lottering, 2025). Buchanan (2010) redeneer dat agentskap verwys na die agent wat in staat is om hulle aksies te bepaal. Gevolglik het die agent die bereidwilligheid en vermoë om op te tree deur keuses te maak en uit te voer, sowel as om mag op ’n intensionele manier uit te oefen (Ruokonen en Koskinen, 2017).
Insgelyks beweer Buzelin (2011) dat agentskap ook die “capacity and possibility of intentionally extering power” is. Derhalwe het die vertaler die mag om bepaalde keuses uit te oefen en in beheer te wees van vertaalkeuses gedurende die vertaalproses. Dit dui daarop dat die agentskap by die vertaler lê en hy of sy dus ’n gesaghebbende invloed op die vertaling het. Nogtans bestaan die moontlikheid dat dié sentrale rol van die vertaler kan verander. Die inkorporering van ’n GKI-program in die vertaalproses kan daartoe lei dat daardie mag en beheer as’t ware verskuif.
Daar is ook talle ander agente buiten die vertaler wat as ’n agent in die vertaalproses optree. Volgens Pickering (1993) kan ’n agent menslik of niemenslik wees, solank as wat die aktiwiteit van vertaling uitgevoer word of dié agent (hetsy menslik of niemenslik) by die vertaalproses betrokke is. Tegnologie-gebruik is nie ’n nuwe toevoeging tot die vertaalproses nie en tegnologiese agente, soos rekenaargesteunde vertaalprogramme en masjienvertaalprogramme, is al reeds by die vertaalproses as niemenslike agente betrokke. ’n Meer onlangse ontwikkeling, GKI, word ook nou deel van die hedendaagse vertaalproses en dien dus as een van die niemenslike agente.
Die vertaler het die vermoë om hulle aksies te bepaal, keuses te maak en uit te voer. Wolf (2007) se perspektief op die vertaalproses is dat alles in ’n bepaalde struktuur gebeur waarbinne die agent (onder meer die vertaler) gesitueer is. Gevolglik internaliseer die vertaler dié strukture en tree daarvolgens op. Met die byvoeging van GKI, wat as ’n vertaalhulpmiddel aangewend word, raak tegnologiese infrastruktuur myns insiens nog ’n bepalende struktuur wat die vertaler moet navigeer. Wanneer GKI as ’n agent beskou word, wil dit voorkom asof die agentskap wat die vertaler binne die strukture beklee, verskuif of herverdeel word.
Vertalers is vertroud met die gebruik van vertaaltegnologie, en implementeer dit al vir jare in hulle vertaalwerkvloei. Die vertaaltegnologie strek vanaf rekenaargesteunde vertaalstelsels, soos SDL Trados, na masjienvertaalstelsels, soos Google Translate, en sluit onlangs die omstrede gebruik van GKI-programme in. Soos reeds genoem is dit belangrik om daarop te let dat GKI-programme nie vir vertaling geskep is nie, maar toenemend daarvoor gebruik word – ’n verskuiwing wat die mag en beheer in die vertaalproses herverdeel en sodoende moontlik die vertaler se agentskap herdefinieer.
Die verskil tussen GKI-programme en die vertaalprogramme waarmee vertalers al vertroud is, is die kwessie van outomatisering. Wanneer GKI-programme vir vertaling gebruik word, word die teks dikwels in PDF-formaat aangeheg met ’n porboodskap wat as die vertaalopdrag dien. Daarná voer die stelsel die vertaling self uit en gee die vertaling weer in ’n porboodskap aan die vertaler, sonder enige bykomende inligting oor die wyse waarop die vertaling uitgevoer is.
In hierdie geval word die vraag oor agentskap juis sentraal. Wanneer die vertaling aan die GKI-program toevertrou word, neem die program patrone uit die opleidingsdata, en voer die vertaling uit. Dit wil sê die program neem die aksie en is derhalwe bereidwillig om te vertaal. Soos menslike vertaling, vind daar ook ’n kulturele uitruiling plaas wanneer GKI-programme vertaal en hierdie uitruiling is onder die beheer van en word bemiddel deur die program en die opleiding wat dit vervat. Daar is terloops merkwaardige studies wat vooroordeel in GKI-programme se response ten toon stel (vergelyk onder meer Kong, Ahn, Lee en Maeng [2024] en Tan en Lee [2025]). Gevolglik word die agentskap nie uitsluitlik deur die vertaler uitgeoefen nie, maar eerder herverdeel tussen die vertaler en die GKI-program. Dit impliseer dat die rol van die vertaler verander na dié van ’n post-redigeerder, waardeur agentskap in só ’n kapasiteit uitgeoefen word.
Om die rol van die vertaler toe te lig is ’n ingewikkelde taak as gevolg van die omvangrykheid van die vertaalproses. Die definiëring van die rol van die vertaler kan wissel na gelang van die omgewing waarin die vertaler werk, die soort vertaling wat uitgevoer word, hulle status, die materiaal wat vertaal word, die hulpmiddels wat hulle gebruik sowel as die interaksie met ander agente (Schäffner, 2020). Die rolle en verantwoordelikhede van die vertaler hang ook van hulle werksbeskrywing af – óf hulle vryskut vertaal óf verbonde is aan ’n maatskappy.
Die rol van die vertaler kan uiteengesit word as die oordrag van betekenis tussen tale, en derhalwe tussen mense en kulture, op ’n betroubare, akkurate en neutrale wyse, tensy dit anders volgens die kliënt gestel word. Volgens die tradisionele linguistiese benadering word die vertaler gedefinieer as iemand wat betekenis oordra van ’n BT na ’n DT, en dat dit die vertaler se verantwoordelikheid is om ’n DT, wat so getrou as moontlik aan die betekenis van die BT is, te bied. Anders as die linguistiese benadering situeer die funksionalistiese benadering die vertaler as ’n professionele kenner in teksontwerp vir interkulturele interaksie, met die verantwoordelikheid en bilaterale lojaliteit aan die BT-skrywer en DT-lesers – ’n meer bemiddelende rol, soos dit ook in die sosiologiese perspektiewe beskou word.
Die rol wat die vertaler in die vertaalproses beklee word in ’n meer sosiologiese aanslag dikwels beskryf as ’n bemiddelende sentrale rol, wat betekenis onderhandel in ’n gegewe sosiale en kulturele dimensie (Berneking, 2016). Om voort te bou op Wolf (2007) se interpretasie van die vertaalproses, beskou sy die vertaler as ’n agent wat sowel die vervaardiger van tekste as die skepper van betekenis is – ’n kreatiewe sosiale agent. Deurdat die vertaler as ’n skepper van tekste beskou word, word daar ook betoog dat die vertaler bykans die rol van ’n outeur beklee. Pym (2011) stel daarenteen dat die vertaler nie as die outeur van die teks beskou kan word nie, aangesien die vertaler binne ’n bepaalde vertaalsituasie beweeg en nie eintlik die verantwoordelikheid kan neem vir die inhoud van die bronteks nie. Hy argumenteer egter dat die vertaler in die geval van “kreatiwiteit” nader aan die status van ’n “outeur” beweeg.
Dit blyk uit die uitgangspunte oor die rol van die vertaler, dat daardie rol veelsydig en dinamies is. Dit wil voorkom dat die vertaler agentskap in die vertaalproses het, en dit is veral sigbaar wanneer die vertaler bepaalde vertaalkeuses kan maak as gevolg van die rol wat hulle beklee. ’n Goeie voorbeeld wat dit illustreer is die vertaler se rol as ’n aktivis. Baker (2006) voer aan dat die vertaler se vertaalkeuses kulturele en ideologiese implikasies tot gevolg kan hê. Gevolglik het die vertaler die mag oor die keuse van sekere woorde, frases, teks sowel as die aanvaarding of afkeuring van vertaalprojekte.
In die eietydse vertaallandskap word GKI-programme dikwels gebruik om die vertaalwerk te doen. Sodoende voer dié programme die vertaalkeuses uit, en dra die verantwoordelikheid as ’n bemiddelaar. Volgens die voorafgenoemde voorbeeld kan die programme ook ’n aktivistiese posisie beklee deur bepaalde woorde of frases te kies, wat ’n stel kulturele en ideologiese implikasies inhou. Ek verwys weer na die vooroordeel wat in GKI-programme se response gevind word soos geslags- en rassevooroordeel, magsongelykhede en taalongelykede. Voorts is dit ook meldenswaardig dat GKI-programme opgelei word op ’n korpus data en gevolglik response genereer wat partydig blyk te wees. Die toevoeging van GKI-programme tot die vertaalproses impliseer ’n verskuiwing in agentskap. Waar die vertaler primêre mag en beheer (agentskap) oor die vertaling gehad het, blyk hierdie dinamika te verander en die mag en beheer nader aan GKI-programme te plaas. Gevolglik word die agentskap tussen die vertaler en die GKI-program verdeel.
In hierdie toenemende gedigitaliseerde wêreld, waar vertaling as’t ware ’n geoutomatiseerde taak geraak het, wil dit voorkom of die rol van die vertaler sodoende verander na dié van ’n post-redigeerder. Die post-redigeerder redigeer dikwels die vertaling ná die vertaalprogramme (hetsy dit rekenaargesteunde vertaalstelsels, masjienvertaalstelsels of GKI-programme is) dit uitgevoer het. Hoewel die spesifieke rol van die post-redigeerder nie hier bespreek word nie, kan daar geargumenteer word dat die vertaler (as ’n post-redigeerder) agentskap op só ’n wyse uitoefen en sodoende agentskap oor die vertaling het.
In die verlede het vertalers ’n meer sentrale rol beklee in die tradisionele pen-en-papiervertaling en ’n groter agentskap in die vertaalproses gehad. Met die digitalisering van die wêreld en die dinamiese aard van tegnologie, vertaling en selfs die definisie van “die vertaler”, verander die rolle en agentskap van die vertaler deurlopend – en des te meer in die GKI-era.

Bronnelys
Baker, M. 2006. Translation and Conflict. Eerste uitgawe. Londen: Routledge.
Berneking, S. 2016. A Sociology of Translation and the Central Role of the Translator. The Bible Translator. 67(3):265–281.
Buchanan, I. 2010. Oxford dictionary of critical theory. Oxford: Oxford University Press.
Buzelin, H. 2011. Agents of translation, in Y. Gambier & L. van Doorslaer (reds.). Handbook of Translation Studies. Tweede uitgawe. Amsterdam: John Benjamins. 6–12.
Chen, B. & Lee, R.K.-W. 2025. Unmasking Implicit Bias: Evaluating Persona-Prompted LLM Responses in Power-Disparate Social Scenarios, in Proceedings of the 2025 Conference of the Nations of the Americas Chapter of the Association for Computational Linguistics: Human Language Technologies. 1075–1108.
Kong, H., Ahn, Y., Lee, S. & Maeng, Y. 2024. Gender Bias in LLM-generated Interview Responses. arXiv.1–10.
Lottering, E. 2025. ’n Verkenning van die redigeerder se rol in praktyk: ’n Gevallestudie van Folio Online. Navorsingswerkstuk, Universiteit Stellenbosch.
Milton, J. & Bandia, P. (reds.). 2009. Agents of translation. Amsterdam: John Benjamins.
Pickering, A. 1993. “The Mangle of Practice: Agency and Emergence in the Sociology of Science.” American Journal of Sociology 99 (3): 559–589.
Pym, A. 2011. “The Translator as Non-author, and I am Sorry about that”, in Claudia Buffagni, Beatrice Garzelli and Serenella Zanotti (reds.). The Translator as Author: Perspectives on literary translation. Berlin: LIT Verlag. 31-43.
Ruokonen & Kaisa Koskinen (2017) Dancing with technology: translators’ narratives on the dance of human and machinic agency in translation work. The Translator. 23(3): 310–323
Schäffner, C. 2020. Translators’ roles and responsibilities. The Bloomsbury Companion to Language Industry Studies. 63–90.
Tredoux, L. 2025. Die agentskap van ’n vertaler in die veld en produksienetwerk van literêre vertaling: ’n Gevallestudie. Ongepubliseerde magister-tesis. Stellenbosch: Universiteit Stellenbosch.
Wolf, M. 2007. Introduction: The emergence of a sociology of translation, in M. Wolf & A. Fukari (reds.). Constructing a sociology of translation. Amsterdam: John Benjamins. 1–36.