Toe harde werk ophou werk het – Cliffordene Norton

“I am a woman of results; not excuses.” – Ma Norton

Ek ken Shonda Rhimes se TED-praatjie, “My year of saying yes to everything”, woord vir woord. As ek my oë toemaak, hoor ek die druppel water wat val en uitkring: die klank wat jou laat weet: ’n TED-praatjie gaan nou begin.

Die volle agtien minute en vier-en-veertig sekondes van Shonda se praatjie spreek tot my. Sê ja.

  • As ’n geleentheid opdaag – sê ja.
  • As jy kan leer by iemand – sê ja.
  • As iemand jou vra om hul manuskrip te lees – sê ja.

Ek glo harde werk kan jou lewe verander. En toe ek dapper genoeg was om aan myself te erken ek wil ’n skrywer wees, was dit my plan van aksie: werk hard. Ek het altyd geglo harde werk maak jou ’n beter skrywer.

Tot ek nie kon skryf nie.

My werksetiek se komvandaan

Ek het grootgeword met sterk, onafhanklike vroue. Met vroue wat glo dat hul hande vir niks verkeerd staan nie. Vroue wat nie altyd die geleentheid gekry het om hul hart of hul drome te volg nie, want die etenstafel nodig brood.

Vroue wat hard gewerk het en steeds hard werk om seker te maak die volgende generasie kan hul drome volg.

  • Onafhanklik.
  • Hardwerkend.

Eienskappe waarop ek trots is. Eienskappe waaraan ek ’n groot deel van my identiteit koppel.

Maak nie saak wat nie; werk harder.

Werk harder, altyd harder

Dit het my goed gedien.

Ek het tien boeke geskryf en vier gepubliseer. Ongeveer negentig kortverhale geskryf, waarvan meer as veertig die lig gesien het. Ek het ’n loopbaan opgebou waarop ek trots is. Ek het my droom bewaarheid: ek is ’n gepubliseerde skrywer.

Toe skryf ek in vir my meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns. My doel was eenvoudig: ek wou verstaan hoe ’n roman aanmekaar gesit word. Ek wou die struktuur bemeester. Ek wou beter word.

Maar onder daardie doel was daar ’n stiller, meer eerlike begeerte: Ek wou ’n beter skrywer wees.

Wees ’n beter skrywer – hoe?   

My getroue antwoord: Werk hard. En werk nog harder.

Enige skrywer weet skryf is harde werk.

Dit is tik, tik, tik. Ure se gebuk oor ’n rekenaar. Notaboeke vol halfgevormde sinne wat dalk, net dalk, iets werd kan word. Dit is herskryf. Twyfel. Skrap. Oorbegin.

Dit is die eindelose vrae:

  • Hoekom?
  • Wat as ek …?
  • Wat kort hier?
  • Hoekom daai karakter en nie die een nie …?

En êrens, altyd, daardie weerlose hoop – dat iemand eendag die storie sal liefhê soos wat jy het.

Ek het begin skryf aan my tesis-manuskrip. Skaaf en skuur. Elke tweede week, het ek notas en notas gemaak van my studieleier se terugvoer. Ek het skrywersonderhoude gekyk en skryfkunsboeke gelees. Ek het dagboek gehou oor hoe om te verbeter, dagboek gehou van sinne waarvan ek hou en hulle ontleed. Elke swak sin in my boek het ek oor en oor geskryf.

Toe sterf die projek in my hande.

Halfpad deur die jaar het my tesisroman in my hande gesterf. Dis moeilik om daardie ervaring te verduidelik aan iemand wat dit nog nie beleef het nie. Dit was ’n projek waaroor ek opreg opgewonde en passievol was – en ek begryp steeds nie ten volle wat die dood veroorsaak het nie.

Toe hierdie projek gesterf het, het dit my laat twyfel aan alles: my vermoë, my skryfproses, my talent.

Ek het nog steeds gesit en werk. Nog steeds sinne geskryf. Nog steeds hoofstukke herskryf wat ek vir niemand sou wys nie. Maar my manuskrip het gesterf – soos iets wat uitasem raak.

Dit het my twee weke geneem om vir my studieleier te sê: die projek werk nie.

Maar vir my was dit nie dat dit “soms” nie werk nie. Ek het twee jaar lank aan hierdie manuskrip beplan. Ek het doelbewus nie ’n woord geskryf voordat ek reg was nie, want ek het geweet hoe maklik ’n projek vir my kan doodgaan as ek te vinnig begin.

Hierdie storie was persoonlik. Belangrik.

Om te faal was nie ’n opsie nie.

So ek het harder gewerk.

Faal is nie ’n opsie nie

Ek het myself gedwing om te sit en te skryf, al wou niks kom nie. Ek het die inleiding van Marina Keegan se The Opposite of Loneliness: Essays and Stories gelees. Die inleiding is deur Anne Fadiman, ’n Amerikaanse essayis en verslaggewer, en is ’n skryfkunsles in die kleine. ’n Les vol van die beste skryfraad wat ek ooit raakgelees het.

Dit het nie gehelp nie.

Ek het weer begin lees – nuwe skrywers, nuwe style. Ek het uiteindelik verstaan hoekom lesers so mal is oor V.E. Schwab. Ek het vir Sarah J. Maas nóg ’n kans gegee, en besef: sy is nie vir my nie. Ek het An-Mari do Carmo se Toe als groen was weer van begin tot einde gelees.

Ek het alles gedoen wat ’n toegewyde skrywer behoort te doen.

“Kom ons neem ’n blaaskans,” het my prof voorgestel.

Nee. Nee. Nee.

’n Blaaskans het vir my soos luiheid geklink. Soos opgee. Soos die teenoorgestelde van alles wat my tot hier gebring het.

Maar teen daardie punt was ek moeg op ’n manier wat ek nie kon wegwerk nie. Ek het eers gehuil wanneer net my honde daar was.

Die ommeswaai

Dit was eers maande later dat die waarde van hierdie woorde, op pad na die Aardklop-gronde, my getref het. Ek het in my kar gesit en na Kendrick Lamar se “Die Hard” geluister. Toe die lied eindig, het ’n video outomaties begin speel – ’n onderhoud met die Amerikaanse sanger, Lauryn Hill.

Sy het gepraat oor druk. Oor mense wat wou hê sy moet weer musiek maak, weer produseer, weer lewer.

“Ek het geluister,” het sy gesê. “Vir ’n rukkie. Ek het musiek geskep, maar dit was nie my beste nie. En dit was nie my beste nie, want daar is geen diepte en ervaring daarin nie.”

Ek het die video drie keer geluister.

Later, in die parkeerarea, het ek dit weer gespeel. Dit het gevoel asof ek iets hoor wat ek lankal geweet het, maar nie wou erken nie.

Daardie aand het ek aan ’n aanhaling gedink wat ek jare tevore neergeskryf het.

“How vain it is to sit down to write when you have not stood up to live! Methinks that the moment my legs begin to move, my thoughts begin to flow…” – Henry David Thoreau in sy joernaal, Augustus 19, 1851

En toe het ek myself begin vra:

  • Wanneer laas het jy geskryf vir die lekker daarvan?
  • Wanneer laas was skryf nie ’n prestasieprojek nie?
  • Wanneer laas het jy ’n boek gelees sonder om dit te ontleed?

Die antwoorde was ongemaklik.

Harde werk is een bestanddeel

Ek het besef ek het probeer om ’n beter skrywer te word deur net harder te werk – en in die proses het ek ophou leef.

Ek het alles behandel as oefening. Alles as voorbereiding. Alles as iets wat my beter moes maak.

Maar stories werk nie so nie.

Jy kan nie ’n storie ryp dwing nie.

Om as skrywer te groei, moet jy as mens groei. As jy die een afsny, sny jy die ander af. En dit was wat ek gedoen het. Ek het my lewe ingeruil vir my werk, en toe gewonder hoekom my werk leeg voel.

Soms gaan die storie werk, soms gaan dit nie werk nie. Soms skryf jy die storie vir jouself: net vir jouself, en ander kere skryf jy die storie vir jouself en vir ander.

Net vir die lekker

Die besef was eenvoudig, maar nie maklik nie: harde werk beteken nie jy moet jouself uitput nie.

Ek het begin lees sonder die doel om te leer – net om te geniet. Ek het myself toegelaat om nie elke sin te ontleed nie. Ek het begin skryf sonder die druk om goed te wees.

Ek het weer begin leef.

Lang artikels gelees omdat dit my interesseer. Gesprekke gevoer sonder om dit as “materiaal” te sien. Stil geraak sonder om skuldig te voel.

By Aardklop 2025, tydens ’n gesprek oor verlies in tienerboeke – ’n tema van my jeugboek Hoe haal ek nou asem? – het Constant van Graan my gevra: wat is volgende vir my?

Drie dae tevore sou my antwoord anders gewees het. Meer gestruktureerd. Meer indrukwekkend. Meer gefokus op uitsette.

Maar toe was my antwoord eenvoudig:

Ek wil ’n bietjie meer leef.

Miskien is dit die deel van skryf wat ons nie graag erken nie. Dat dissipline belangrik is – maar nie genoeg nie. Dat tegniek nodig is – maar nie alles is nie.

Jy kan nie net beter skryf nie. Jy moet ook beter waarneem. Beter voel. Beter leef.

Want uiteindelik kom stories nie net van werk af nie.

Hulle kom van ervaring. Van stilte. Van dinge wat tyd neem om te ryp.

En dalk is dit die geheim: jy word nie ’n beter skrywer deur meer te skryf nie, maar deur meer te leef.

Ek is nog steeds besig om dit te leer.

Maar vir nou, is dit genoeg.

Bronne

[TED]. (2016, Maart 9). My year of saying yes to everything | Shonda Rhimes [Video]. YouTube. https://www.youtube.com/watch?v=gmj-azFbpkA&t=125s

[Penguin Random House Canada]. (2012, September 6). Uittreksel: The Portable Thoreau. https://www.penguinrandomhouse.ca/books/307579/the-portable-thoreau-by-henry-david-thoreau/9780143106500/excerpt

Cliffordene Norton (Foto: Verskaf)