![]() |
| Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Dit is ’n bedrywige en meestal feestelike maand met Tuin van Digters om die draai, sowel as Aardklop en die Toyota Stellenbosch Woordfees wat wink. Ons deel graag verskeie datums en uitnodigings in hierdie nuusbrief. Teken asseblief die datums aan en sluit by ons aan. Tuin van Digters: 11 en 12 September 2026 Die jaarlikse Tuin van Digters-fees is ’n hoogtepunt op die jaarprogram en die kans vir liefhebbers van gesproke en geskrewe digkuns om saam te vertoef in die Breytenbachsentrum op Wellington se Digterstuin en na ’n wye verskeidenheid gesprekke, gedigte en musiekitems te luister. Die volledige feesprogram is hier beskikbaar. Dit sluit Vrydagaand se program ter verering van Joan Hambidge as feesdigter in, ’n eer wat met haar sewentigste verjaarsdag saamval. Veels geluk! As jy jou ledegeld vir die jaar betaal het, kan jy as betaalde lid van PEN Afrikaans die fees gratis bywoon. Daar sal ’n ledelys by die ingange tot die fees wees om gratis toegang te fasiliteer. Kontak ons by penafrikaans@gmail.com as daar vrae oor ledegeld-fakture of -betalings is. PEN Afrikaans lewer oudergewoonte ’n bydrae tot die Tuin van Digters-feesprogram. Dit is hierdie keer ’n paneelbespreking waartydens Bibi Burger vanaf 15:15 op Saterdag 12 September in gesprek sal tree met verskeie digters oor hul skryfwerk. In die paneelbespreking Ek’t ons’t, gesels Veronique Jephtas, Pieter Odendaal, Bibi Slippers en Shane van der Hoven met Bibi oor die self as bron van ervaring, herinnering en verbeelding, maar ook oor die mens in verhouding met ander. PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering 2026 Sluit asseblief op 14 Oktober om 18:00 via Zoom by ons aan vir ons organisasie se algemene jaarvergadering. Daar word nie vanjaar ’n nuwe bestuur verkies nie, maar daar sal gestem word oor die toekenning van erelidmaatskap. Opbetaalde lede is stemgeregtig, maar almal is welkom om die vergadering by te woon en meer te hoor oor PEN Afrikaans se jaar, ons missie en visie en werksaamhede. Die vergadering sal ongeveer een uur duur. Lede word hartlik uitgenooi om besprekingspunte vir die agenda voor te stel deur dit voor die einde van September te stuur na penafrikaans@gmail.com. Jaarlikse lesing oor uitdrukkingsvryheid ![]() Ons kondig graag aan dat Lourensa Eckard vanjaar PEN Afrikaans se lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid sal lewer. Teken asseblief die datum aan en sluit by ons aan vir hierdie geleentheid, ’n instelling op ons jaarkalender wat vanjaar vir die eerste keer via Zoom aangebied word. Dit is dus waarlik ’n toeganklike en openbare lesing oor ’n saak wat deel is van die grondslag en beweegrede vir ons organisasie, en dié van ons moederorganisasie PEN International, naamlik die stand van media- en uitdrukkingsvryheid. Lourensa Eckard is ’n joernalis, veldaanbieder vir Carte Blanche en die aanbieder van die aktualiteitsprogram ‘In Gesprek met Lourensa Eckard’ op kykNET. Almal is welkom op 29 September om 18:00 via Zoom. Bywoning is gratis. RSVP asseblief by penafrikaans@gmail.com om die Zoom-skakel te ontvang. Die kuns van vertaling: ’n Artikelreeks Eben Venter is aan die woord in die jongste aflewering van ons artikelreeks oor die kuns van vertaling. Hierdie reeks word met die vriendelike ondersteuning van Pharos Woordeboeke, ’n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers, aangebied. Venter is die skrywer van wydbekroonde en vertaalde romans, en is ook ’n kenner op die gebied van selfvertaling. Hy skep nie net sy eie kreatiewe skryfwerk, soos sy jongste roman Decima, in twee tale nie, maar het ook ’n DPhil van die Universiteit van Queensland oor ’n teorie van selfvertaling verwerf. Ons het hom gevra om oor die onderwerp van selfvertaling te skryf en deel graag sy boeiende artikel hier. Skrywersrus by die Woordfees 2026 PEN Afrikaans sien uit daarna om weer vanjaar ’n lokaal by die Woordfees beskikbaar te stel waar skrywers, joernaliste en deelnemers aan die fees se boekeprogram kan kom vertoef. Daar sal koffie en tee wees, kragpunte, Wi-fi, genoeg sitplek. Die ure en die datums word onder aangedui. Op Saterdag 3 Oktober tussen 14:00 en 16:00 sal daar ’n paar ekstra versnaperinge beskikbaar wees en die kans vir PEN-lede om ’n glasie te klink. Ons hoop ons sien van julle daar. Ons verdere deelname aan die Woordfeesprogram is die WOW & PEN-Skryfskool waarna ons elke jaar uitsien. Meer inligting daaroor is hier beskikbaar: https://woordfees.co.za/program/wow-pen-skryfskool/ Onderteken ’n petisie en ’n ope brief aan die president van Eritrea: PEN dring aan op bewyse dat 12 joernaliste lewend is PEN International en PEN Eritrea werk die afgelope maande saam met verskeie ander PEN-sentrums aan ’n veldtog wat saamval met die 25 jaar-herdenking van ’n skokkende en tragiese gebeurtenis: die arrestasie van minstens 12 skrywers en joernaliste van Eritrea wat sedertdien nooit weer gesien is nie. Ons wil graag in hierdie nuusbrief ons lede en ondersteuners aanmoedig om die veldtog te ondersteun deur enersyds die petisie te onderteken (sien skakel onder) en andersyds teen 11 September te laat weet indien jy jou naam wil toevoeg tot ’n ope brief aan president Isaias Afwerki van Eritrea. Nduko O’Matigere, aan PEN International verbonde as hoof van die Afrika-streek, verduidelik as volg: “As you know, 18 September 2026 will mark a quarter-century since at least 12 Eritrean writers and journalists were arbitrarily arrested and disappeared into prison, simply for speaking out. It happened in 2001, when President Isaias Afwerki shut down all independent media and crushed calls for peaceful reform, as the world’s attention was drawn elsewhere after the September 11 attacks. Since then, our colleagues have been held in secret—without charge, without trial, and without contact. Eritrean authorities continue to refuse to say where they are or whether they are even alive. Today, they are collectively among the world’s longest detained and disappeared writers and journalists. PEN International, PEN Eritrea in Exile, and a host of other PEN Centres initiated the global Proof of Life Campaign to demand accountability from President Isaias Afwerki. You can read more about the campaign here Today, we invite you to join this open letter by adding you signature as an expression of endorsement and solidarity. Please join our campaign and encourage other writers, journalists, publishers, artists, and defenders of human rights in your Centres and beyond to add their voice by adding their names to the open letter. Please reply to this letter stating if you would like your name and where you are signing from (country) added to the list of signatories by 11 September 2026.” Laat weet ons asseblief by penafrikaans@gmail.com as jy die ope brief wil onderteken. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Augustus 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in September 2026 Baie geluk aan ons lede wat in September nuwe boeke op die rakke het! Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie welkom aan nuwe lede Dit is altyd lekker om die nuusbrief af te sluit met ’n lys van nuwe lede wat by ons aangesluit het. Baie welkom aan: – An-mari do Carmo – Karin Holtzhausen – Mercia S Burger – Riëtte van der Wat Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |

