PEN Afrikaans vier vanjaar Internasionale Moedertaaldag deur digters aan die woord te stel. Jolyn Phillips, bekroonde digter, dosent en bestuurslid van PEN Afrikaans, het ’n oorspronklike gedig vir die geleentheid geskryf, wat sy hier onder voorlees.
Die gedig “Prometheus is my pa se naam” gaan oor die tema van moedertaal en betrek ook ander digters se werk as intertekste by dié besinning oor die geskiedenis en posisie van Afrikaans.
Prometheus is my pa se naam
Nou dat ek die outobiografieë klaar gelees’t ma van jou geskiedenis
nou dat slapende honde wakker skrik van die ceremic hondjies wat kroes
bars in die oond van te veel lugborrels in’t; is die sleutels van die museums
ewe skielik weg, die registers van die koloniale oorsee gebottel,
geraamtes in kaste wat jy kan om blaai van al ma se aanvangdae
en die wysvinger knetter van die moeilikheid.
Sien ek hoe ma in die aande eina-eina van veerpenne uit die sye uithaal
die tampon vol ink uithaal en in die drom brand met jou hare, net ingeval
iemand jou toor. Ma sit deesdae oopbybelblaadjies en twakpille swai,
o stroomop geliefde ma jy’s nóg stroomop nóg bedonnerd
Sien hoe jy die mengmis omskoffel en jy’s klaar met die proteas
van die kaap af, hulle wil nie hier groei nie, al maak jy wat
hulle vrek, hulle wil net hardkoppig teen kranse, daar houtblomme word
en veldbrande hulle veras sê jy’s klaar met inheemse blomme
Sien die sponstong van my haal die slimmense aan
ek word al die dinge wat ek skrywe mengels, radbraak
ek word aangehaal, ingelê, uitgehaal, ingelê,
they don’t build schools anymore Peter Tosh
my oerbrein praat en ek stuur ’n e-pos maak’tie
sintaksis op ’n werksdag nie, hoe kan jy daar dig
hier die spraakkuns se eer in jou studiegids onhandig
wie is jou Shakespeare to your Sir Francis Bacon…
Die swaai van een klank, bollamakies van elke bagatelle
die albatros ma sou ek al die albatrosse kon afhaal
die goree van jou nek afhaal, wat nie sonder roes
kan ek die vuur halsnoere van jou nek afhaal, al’lie apartheidsweë
van good neighbourlyness uitvee. Wat sal van jou oorklink?
Wat is huis sonder ’n moeder wat sou die taal wees sonder oorlog?
Sou ek jou rug vir jou afwas om die melkbosboom wat sweepsel
teken van al die skuld kan ontsmet en ’n famous actress het vir my gesê
guilt is not a feeling it is a social construct, taal is not an organ it is a social contract
die alwyne tap nie meer nie die vetplante ly honger van die droogte want die reën kom in die
somer vir Johannesburg en ma ’t baie foto’s in die album veral die een in die arms wat
hardloop van ’n suster in skoolkleure en haar broer wat moet Hektor staan vir die kinders that
are seen and not heard in 1976 en die bullet is die klank wat jy maak vir die kinders in
Sharpeville, Soweto, Modderdam Road,’n bullet ’n dag Mayibuye
die trigger as jy praat en die taalles van die bord afskryf, sê sjibbolet ma
die tale het baie plek vir jou in die flaai-, tsotsi-, scamto-,
Afrikaanse illegal aliens verdrink nog undocumented
ondergronds as ’n mynkind tot by tien kan tel is hy lucky
want die mooie sandheuwels is gif ma en een aangesteekte
metjiestokkie sê Jozi Gold en Egoli is Chernobyl die ballerina
wat dans gif dans met die haarwrong op die kop
het jy geweet jy is besig dood te gaan sê die koerante
jy word afgedank, ingesê en word minder
Die domino effek van demokrasie val om
bars uit sy nate in weergawes van Griekse stelsel
in Afrika wat maak dit nog hier en jy’t ons alles geleer mos ma
handjies vou buig jou kop dankie vader vir ons voedsel…
jy kan mos alles dra met die blinddoek op met staal op die wip plank
Ek loop deur Brixton se gentrified strate
Jakarandas wat die digkuns vol lê
het jy geweet Langenhoven wat sal
word van die blou van ons se hemel?
Digter ons hand se naam is Prometheus…
In die oggende as my hond so snuf die stront
van ander honde en terug WhatsApp pis
sien ek mense dwaal in die mensgemaakte botaniese tuin
en hulle hande gryp na die lug wat die reën inhou en hulle koppe vra
genade en ek verstaan hulle nie die tale wat hulle praat die Afrikaanse tale
af in Collins straat waar dit nog ruik na gisteraand se lockdown
staan eve op die hoek haweloos met ’n ontwerpersrok van moerkoffiesak
die bloos in die wange van houtskool, die skoene van egte leer
haar hak wat uitsteek en sy stink na reukwater en sy’t nie geld
vir rekonsiliasie of ’n terapeut nie ‘n oorskietplukker loop sy verby 20c’e
in die straat. Die opgetooide o stroomop geliefde sê sjibolet noudat slapende
ceremic honde breek in die smeltkroes en die kanon se bullet in homself afgaan
sê net vir my waar, waar is my pa? Wanner hy die brood en die seep huis toe bring
sê net vir my sonder jou wraakagtige stilte hoe lank
sê net vir my wat is sy naam nou weer- gee vir my die adres, naam, van,
geboorte datum en ID, laat ek hom kan Google
dit is deesdae so maklik om iemand te krymet 5G
Jou pa se naam is Prometheus
Die son sit bo op ons
Jy ken jou pa hy is ’n drinker
Let there be peace in the valley en al die stukke van goete
ek kom by binnelandse sake en as ek my naam moet opgee
ek kom by binnelandse sake, lang gestaan in die lyn
jaag hulle my weg ek het nie al die informasie nie, gin ginter
kan so baie ma’s het nie dit is nie soos mans nie, een ma kan baie kinders dra
maar baie ma’s aan een kind, onmenslik, loop speel
En elke keer dan staan Eve daarbuite ontwerperbergie
Sy lag met haar bordjie wat sê: Eve was framed…
Breyten Breytenbach, internasionaal gevierde digter, skrywer en visuele kunstenaar, lees hier onder ’n aangrypende gedig oor moedertaal voor. Dit is “wanneer jy die moedertong”, gedig 6.9 in sy bundel Op weg na kû. Die opname is gemaak by die bekendstelling van die bundel by The Book Lounge en word hier gedeel met die vriendelike vergunning van die digter, en met dank aan Albert du Plessis.
Gedig 6.9
wanneer jy die moedertong
in my mond laat verdor
neem jy die wêreld weg
verduister jy my geheue
maak jy dat ek as vreemdeling
en sonder ’n eie paar skoene
die toekoms moet ondergaan
wat ek nie meer fatsoeneer nie
nog net interpreteer
nie betree nie
wanneer jy die taal
van my wegneem
ruk jy die hart uit my drome
om dit te vervang
met die mondmaniere
van ’n tong wat nog net
die blinde werk van miere kan doen
wanneer jy my as massasyfer liasseer
om soos ’n gefuikte papegaai
te pik-pik na sy nabootsing
maak jy dat ek ’n weesmens is
in die leë huis van my vaders
sonder taal om my afwesigheid weer te gee
Internasionale Moedertaaldag, ’n inisiatief van UNESCO, is in 1999 aangekondig en word sedert 2000 jaarliks op 21 Februarie gevier. Dit is gemik op bewusmaking van kulturele en taaldiversiteit en die bevordering van veeltaligheid. Die belangrikheid van hierdie oogmerke is onbetwisbaar in die lig daarvan dat daar elke twee weke ’n inheemse taal uitsterf.
PEN International, die grootste skrywersvereniging in die wêreld, wil dié dag gebruik om nie net die belangrikheid van die behoud en diversiteit van die wêreld se taalkundige erfenis te benadruk nie, maar om ook ’n stem te gee aan skrywers, vertalers en ander wat hulself met trots in hul moedertaal uitdruk. PEN International se Vertaal- en Taalregtekomitee het gedigvoorlesings van verskillende PEN-sentrums vanoor die wêreld byeengebring en sal dit op hul webwerf beskikbaar maak.
Hierdie viering is in lyn met PEN International se Girona-manifes oor taal, wat onder meer meld dat taalverskeidenheid ’n wêrelderfenis is wat waardeer en beskerm moet word. Dit erken ook die persoonlike verbintenis en meld dat mense leer praat in die hart van ’n gemeenskap wat aan hulle lewe, taal, kultuur en identiteit skenk.
PEN Afrikaans herdenk Internasionale Moedertaaldag met groot waardering aan die digters vir hul deelname, en die besef dat die wêreld armer is wanneer die behoud en beskerming van moedertale verwaarloos word.
PEN Afrikaans is ’n skrywersvereniging wat die Afrikaanse skryfgemeenskap internasionaal verteenwoordig deur lidmaatskap van PEN International.