Die verleiding en verskrikking van Substack – Marita van der Vyver

Ek is eintlik nog ’n nuweling in die enorme wêreldwye poel van Substack. Die feit dat ek tot dusver  kop bo water hou, is waarskynlik bloot te danke aan my inherente versigtigheid. Ek het ’n paar jaar lank op die oewer gestaan en bedrewe swemmers dopgehou voordat ek uiteindelik agt maande gelede genoeg moed bymekaar geskraap het om ook in te spring.

Dit was ’n skrikwekkende sprong. Ek is ’n tegnologiese idioot, weet niks van programmering nie en amper so min van rekenaars, en die gedagte dat ek nou op my eie ‘inhoud’ moet skep op ’n aanlyn platform, was byna genoeg om my terug te jaag na die bekende veiligheid van die oewer. (Waar die beste stuurmanne mos altyd staan en kommentaar lewer.) En tog is daar ook iets verslawends aan die adrenaliengedrewe opwinding wat ek ervaar elke keer as ek ’n rubriek op Substack publiseer.

Soos ’n ander Substack-skrywer dit gestel het, dis soos om weekliks stoksielalleen ’n outydse dorpskoerant uit te gee. Jy is redakteur, verslaggewer, sub, fotograaf, bladuitlegkunstenaar, bemarker, alles waaraan jy kan dink, op eie houtjie. ’n Vreesaanjaende, onweerstaanbare uitdaging vir ’n skrywer wat as joernalis opgelei is en lank gelede by ’n outydse papierkoerant gewerk het. Waarlik ’n geval van Publish and be damned, want as jy eers daardie knoppie gedruk het om jou ‘koerant’ na jou Subscribers se elektroniese posbusse te stuur, kan jy dit nie terugroep of uitwis nie. Jy kan wel tik- of taal- of feitefoute korrigeer in die kopie wat jou Followers daarna op Substack kan lees, maar die Subscribers kry die eerste rou weergawe.

En net om dit vir nuwelinge duidelik te maak: Subscribers of intekenaars is jou getrouste lesers, sommige van hulle is selfs bereid om te betaal om jou rubrieke per e-pos te ontvang, terwyl Followers of volgelinge minder betrokke is. Ek is byvoorbeeld self ’n Follower van ’n hele skare Substack-skrywers, maar ’n Subscriber van ’n veel kleiner groepie. Dié wat ek volg, is soos ’n smorgasbord vol lekkernye waaraan ek na willekeur kan peusel. Dié waarop ek ingeteken is, is stapelvoedsel waarsonder ek nie kan klaarkom nie.

Maar daardie onvermydelike tikfoute in selfs wêreldbekende skrywers se Substack-rubrieke, en die unieke stem van elke skrywer, is juis wat dit onderskei van al die ‘perfekte’ en generiese KI-skryfsels wat so onkeerbaar soos onkruid in die internet groei.

Nogtans probeer ek natuurlik om my dorpskoerant so aantreklik en flatervry as moontlik te publiseer, want my naam en my skryfreputasie is op die spel. Dit sou ongetwyfeld vir my makliker gewees het om in Afrikaans te skryf, maar ek het besluit om dit hoofsaaklik in Engels te doen. Soveel meer grammatikale gate waarin ek kan val en spelfoute wat my kan pootjie. Waarom wou ek ’n moeilike ding nog moeiliker maak?

Daar is verskeie redes, soos die feit dat heelwat van my fiksielesers nie Afrikaans verstaan nie en my boeke in vertalings moet lees, asook die bitter persoonlike rede dat my man en kinders en Franse familie en vriende nie my Substack-rubrieke sou kon lees indien ek dit in Afrikaans geskryf het nie. ’n Ewe belangrike oorweging is dat ek graag my leespubliek wil uitbrei, en ’n wêreldtaal gee my eenvoudig wyer toegang. En ek wil oefen om beter in Engels te skryf omdat ek daaraan dink om my volgende boek terselfdertyd in Afrikaans én Engels te skryf – eerder as om dit eers in Afrikaans te skryf en daarna te laat vertaal.

Maar ek het van my eerste plons in Substack se poel vir my Afrikaanse lesers belowe dat ek soms ook Afrikaanse rubrieke sal skryf. Omdat ek wil, omdat ek moet, omdat ek nie sonder Afrikaans kan skryf of lewe nie.

Die eerste Substack-publikasies wat my ’n paar jaar gelede van ’n geïnteresseerde oewerkyker in ’n geesdriftige Subscriber verander het, was trouens in Afrikaans. Wemar Strydom (knaap.substack.com) het begin om uitverkore bydraers se queer erotiese briewe te deel. As byna bejaarde straight(erige) vrou is ek beslis nie die teikengehoor nie, maar baie van die briewe is goed geskryf, of in elk geval beter as die deursnee Afrikaanse erotika wat ek tot dusver op die internet raakgelees het (vol grillerige verkleinwoordjies soos broekie en koekie en boudjies), en enigiets wat goed geskryf is, is genoeg om my belangstelling te prikkel. Miskien is prikkel nie die regte werkwoord in hierdie konteks nie, maar ek lees steeds gereeld knaap se briewe (deesdae knaap vol 3 genoem) ter lering en vermaak.

Nog ’n Suid-Afrikaner wat ek behoort te bedank op my lang paadjie tot by my eie Substack-bydraes, is die digter Karin Schimke (Love Letter). Sy het in 2022 ’n gereelde ‘liefdesbrief’ begin skryf, vir haar dogter wat pas die huis verlaat het, en deel deesdae hierdie brief met byna ’n duisend intekenaars op Substack. Ek en Karin het in die openbaar oor briewe begin gesels toe sy by die Franschhoek Literary Festival in 2022 ’n onderhoud met my gevoer het oor my nie-fiksieboek, A Long Letter to My Daughter (’n Baie lang brief aan my dogter), en ons het hierdie gesprek voortgesit toe ons mekaar laas jaar weer by ’n boekfees in Kaapschehoop raakloop. Dié keer het sy ’n praatjie gelewer, spesifiek oor Substack, en dit was dalk net die finale stamp wat ek nodig gehad het om pens en pootjies in die Substack-poel te spring.

Karin het intussen genoeg Paid Subscribers (betaalde intekenaars) versamel om haar in staat te stel om ’n deel van haar dogter se buitelandse studiegeld te betaal. Vir my was dit ’n deurslaggewende brokkie inligting. Nie dat ek verwag om ooit ryk te word deur op Substack te skryf nie, maar vir vryskutskrywers soos ek is daar nie veel opsies oor om sakgeld te verdien nadat die meeste van die koerante en tydskrifte waarvoor ek jare lank rubrieke en essays geskryf het, van die toneel verdwyn het nie. Ek het in November laas jaar my eerste rubriek op Substack geskryf en sedertien skryf ek elke week of tien dae nog een.**

Aanvanklik het ek nie eens ’n betaal-opsie bygelas nie. Ek wou bloot ’n klompie gereelde gratis intekenaars werf om te kyk of ek die pas sou kon volhou. Die grootste verrassing was dat enkele intekenaars my binne ’n maand of twee laat weet het dat hulle bereid sou wees om te betaal om my skryfwerk te lees. (In Substack-taal word dit ’n Pledge genoem.) Aangesien Substack se betaalstelsel nog nie aan Suid-Afrikaanse bankrekenings gekoppel is nie, skryf die meeste Suid-Afrikaners steeds gratis, met die lokmiddel van Pledges vir die blye dag wanneer hulle betaalde intekenaars sal kan aanvaar.

Sodra dit moontlik word, sal ons waarskynlik baie meer Suid-Afrikaners in hierdie poel aantref. Intussen publiseer Jen Thorpe reeds ’n gereelde lys van Suid-Afrikaanse Substack-bydraes (South African Writers’ Pub Hub) wat elke maand langer word. Die laaste een wat ek gesien het, vir 27 April tot 19 Mei, het byna 400 bydraes ingesluit, onder alfabetiese afdelings van Arts & Culture tot Travel & Food, met enigiets van Business tot Poetry tot my persoonlike gunsteling, Personal Essay & Memoir, tussenin gerangskik.

Suid-Afrikaanse Substackers wat in die buiteland woon of buitelandse bankrekeninge het, kan natuurlik betaalde intekenaars aanvaar. Toe Substack my ná presies twee maande in die poel inlig dat ek die Top 100 Rising in Literature bereik het, was ek dankbaar dat ek die moeilike besluit geneem het om in Engels te skryf, want daar was slegs Engelse bydraers op hierdie wêreldwye trefferlys. Maar laat ek net gou weer verduidelik: Dis nie noodwendig skrywers met derduisende Subscribers nie, daar is ’n afsonderlinge Literature-lys waar jy die heel bekendste name sal vind. Rising in Literature beteken bloot dat jy die vinnigste opgang maak, die meeste nuwe Subscribers in ’n beperkte tydperk gekry het. En soos ek myself moes herinner om nie deur die dak te vlieg van naiëwe opgewondenheid nie, as jy met geen intekenaars begin en binne twee maande ’n paar honderd kry, is dit nie só ´n prestasie om in hierdie Top 100 te beland nie.

Nogtans. Ek sou jok as ek sê ek was nie in my noppies nie. Dit het my oortuig dat ek dit dalk kon waag om betaalde intekenaars te begin werf. Dis nou ses maande later en ek het meer as 500 intekenaars, waaronder ´n klompie betaaldes, en ’n hele paar volgelinge wat ’n finansiële lassie maak deur vir my virtuele koffie te koop(https://buymeacoffee.com/maritassubstack). Onbereikbaar ver van Margaret Atwood (nr 4 in Rising in Literature) se 167 000 intekenaars – maar om op dieselfde lys as Atwood te wees is darem al iets.

En die lekkerste nuus het ek laas week gekry, toe Substack laat weet dat ek steeds stadig maar seker opkruip in daardie gesogte lys, want in Januarie was ek verheug om nr 86 te wees en nou is ek sowaar nr 69. As ek elke ses maande so twintig plekke boontoe kan skuif, sal Mies Atwood oor haar skouer moet begin loer.

Nee, in alle erns, tot dusver is ek maar net te bly dat ek nog nie soos ’n klip gesink het in hierdie massiewe internasionale poel nie. Dankbaar dat ek ’n manier gevind het om rubrieke te skryf, vir ’n klein maar waarderende gehoor wat vir my gereeld terugvoer gee. En bowenal opgewonde oor al die nuwe skrywers wat ek steeds op Substack ontdek.

**My bydraes kan onder ’n taamlik verbeeldinglose (maar maklik onthoubare) titel opgespoor word: Marita’s Substack (https://maritavandervyver.substack.com)

Marita van der Vyver (Foto: Verskaf)