Die bestuur van PEN Afrikaans betreur die nuus van Bettina Wyngaard se afsterwe. Haar spore loop diep. Ons sal haar onthou vir haar aandeel as bekroonde skrywer, regskenner, kommentator en aktivis – en vir haar besonderse bydrae tot PEN Afrikaans.
Dit sluit die geskiedkundige Trippel-7-skryfprojek in wat PEN Afrikaans onder Bettina se leiding en met ondersteuning van PEN International in 2016 aangepak het en waaroor Bettina die volgende geskryf het:
“Sewe dae, sewe dorpe, sewe skrywers, 1 400 km, 174 deelnemers – dis die getalle, maar die syfers vertel net ‘n baie klein deeltjie van die storie. Die kameraderie, die absolute toegewydheid van die Magnificent 7, die entoesiasme waarmee ons oral ontvang is, die talent wat ons sien gedy het, die wete dat ons in daai mense se lewens ‘n verskil kon maak … dit alles sal my nog lank bybly.” (Sien hier: https://penafrikaans.org.za/trippel-7-is-inderdaad-meer-as-gelukkige-nommer/)

Kerneels Breytenbach, voormalige voorsitter van PEN Afrikaans wat nou met Bettina saamgewerk het toe sy op die bestuur en as ondervoorsitter gedien het, deel die volgende herinneringe:
“Die bestuur van PEN Afrikaans het uit die staanspoor besef dat ’n behoorlike kommunikasiebasis vir sy lede sou geskep moes word. Ons bevind ons in die digitale era. Naas Steenkamp het voorgestel dat ons ’n dinkskrum hou met Theuns Eloff van die Dagbreektrust, en my aangeraai om iemand te nooi met wie hy in sy sake-omswerwinge te make gehad het: Bettina Wyngaard. Sy had ’n juridiese agtergrond en het vir die Anglikaanse kerk groot klippe uit die pad kon rol. Bettina het ons dinkskrum bygewoon en in die daaropvolgende twee jaar my anker in die stormagtige waters van boekepolitiek geword. Sy was een van ons verteenwoordigers op PEN International se jaarvergadering in Kanada, waar haar Anglikaanse konneksies haar nuwe netwerke kon help bou.
Ek sal haar altyd onthou vir haar unieke benadering tot liefdadigheidswerk. Sy het in Grabouw gewoon, en het te hore gekom van die boek-behoeftes van die Dennegeur-skool net om die draai van Liquifruit se fabriek. Sy het ’n groot skenking by ’n weldoener in Tokai bekom, ek het by uitgewers ’n teenprestasie gekry, en so het Dennegeur een Vrydag ’n uitgebreide biblioteek ontvang.

Ná ons termyne by PEN Afrikaans verstryk het, het ons samewerking voortgegaan. Sy het begin speurromans skryf, en toe ek gevra is om keurverslae daaroor te skryf, het ek die kans aangegryp.
Bettina was in baie opsigte ’n vreeslose mens. Op ’n dag ry sy saam met my van ’n vergadering in Stellenbosch af. By ’n verkeerslig kom klop ’n bedelaar met ’n horrelvoet by my venster. Ek maak die venster oop en gee vir hom ’n paar rand.
Net daar betig Bettina my in baie ferm taal. Gee kos, as jy byderhand het, maar nie geld nie. Die bedelaars werk vir ’n sindikaat en sien net ’n klein persentasie van die geld wat hulle kry. En sy gee my ’n uitgebreide uiteensetting van die werk wat sy as juris gedoen het.
Ek het Bettina Wyngaard se sagte sy gesien, en haar harde sy. Ek onthou haar met dankbaarheid. Haar dood is in verskeie omgewings ’n groot verlies.”
Mercy Kannemeyer, tans voorsitter van PEN Afrikaans, skryf:
“Ek is ontsaglik dankbaar vir Bettina wat die weg gebaan het vir vroue soos ek. Vroue wat nie op hulle bek geval is nie. Vroue wat vreesloos by elke deur instap. En vroue wat hul tuiste in Afrikaans kon vind. Onmisbaar. Sag. Al was die wêreld hard. Bettina sal saam met die groot name onthou word. Mag sy in vrede rus.”