“An author’s economic independence and autonomy is central to freedom of expression and encourages a diversity of voices.” – aanhaling uit PEN International se Outeursreg-manifes
Vrydag, 23 April, is Wêreldboeke- en kopieregdag. Dit is ’n UNESCO-inisiatief wat gemik is op die viering en bevordering van boeke en die kopiereg wat dit onderlê. Die meerderheid hutsmerke en vierings sal aan boeke gewy word, en dit is goed so, maar kopiereg word nie verniet daarmee saam genoem nie. Dit gee skrywers vryheid en maak boeke moontlik.
In die jaar wat PEN International sy honderste bestaansjaar vier, wat toevallig ook die jaar is waarin Suid-Afrika se kopieregwetgewing waarskynlik wel hersien sal word na rampspoedige vorige probeerslae, is dit gepas om te fokus op dié organisasie se benadering tot kopiereg.
Ter agtergrond: PEN International is die grootste en oudste skrywersorganisasie ter wêreld. PEN is in 1921 in Londen gestig en het oor die afgelope eeu uitgebrei tot ’n invloedryke organisasie met meer as honderd sentra wat tale en lande op alle vastelande verteenwoordig. PEN beywer hom veral vir die bevordering van letterkunde as saambindende faktor tussen mense – ondanks politieke wrywing of internasionele verskille – en vir gelykheid, vryheid van uitdrukking en die uitruil van inligting.
PEN International sê in sy kopiereg-manifes dat hy hom beywer vir die beskerming van die outeursreg van alle skrywers oral ter wêreld. Die organisasie se uitgangspunt is dat wanneer skrywers ekonomies selfstandig is, is vryheid van uitdrukking moontlik en word ’n diversiteit van stemme aangemoedig – wat op sy beurt weer demokrasie bevorder. Wanneer skrywers nie betaling vir hulle kreatiewe werk ontvang nie, word die werk van waarde ontneem en verloor skrywers die vermoë om ’n inkomste te verdien en sodoende ’n bestaan te maak. Om ’n skrywer se intellektuele eiendom sonder billike vergoeding te gebruik en sonder dat ’n legitieme kopiereguitsondering dit toelaat, is diefstal. Deesdae word die regte van individue wat kopieregwerke skep meer as vantevore bedreig, weens nuwe tegnologie, wetgewing en beleide.
In PEN International se kopiereg-manifes verklaar die organisasie die volgende:
- Die skrywer is die eienaar van die morele regte en kopiereg in enige werk wat hulle skep vir die volle periode van kopiereg. (In Suid-Afrika is dit tot 50 jaar na die skrywer se dood.)
- Kopiereg sluit in die volgende gebruik van die werke: reproduksie (analoog of digitaal), aanpassings (insluitend vertalings), publikasie, opvoering en digitale gebruik (wat insluit uitsending van werke oor alle digitale kanale en op alle digitale platforms).
- Die outeur se morele regte sluit die reg in om as outeur van die werk erken te word. Die omgekeerde is egter ook waar: d.w.s. dit is ook die outeur se reg dat outeurskap van ’n werk wat deur iemand anders geskep is nie aan hom/haar toegeskryf word nie. Verder is dit ook die skrywer se morele reg dat sy/haar werk nie onderwerp word aan enige aanpassings of ander verkleinerende/beledigende hantering wat hulle reputasie as skrywer sal benadeel nie.
- Outeurs moet die reg hê om vrylik handel te kan dryf in die kopiereg in hulle werke.
- Dit is die outeur se keuse om ’n fooi te vra vir die gebruik van sy/haar werk.
- PEN International erken dat daar gevalle is waar regerings dit in die openbare belang mag ag om wette te maak waarin uitsonderings tot skrywers se eksklusiewe regte in die werk wat hulle geskep het tot stand kom. Sulke uitsonderings mag egter nie die legitieme morele en ekonomiese regte van die outeur onregverdig benadeel nie. (Een voorbeeld is werk wat nie beskikbaar is in formate wat vir gesiggestremdes toeganklik is nie. In sulke gevalle moet wetgewing daarvoor voorsiening maak dat dit beskikbaar gemaak kan word in ’n geskikte formaat sonder dat dit as ’n kopieregoortreding beskou word. Nog ’n voorbeeld is hofuitsprake, wetgewing, regulasies e.d.m. wat vrylik beskikbaar behoort te wees; reproduksie van hierdie werke behoort nie ’n oortreding van kopiereg te wees nie. In hierdie gevalle is die uitsonderings se beweegrede van groot openbare belang, dit is beperk tot spesifieke gevalle en daar is nie onredelike benadeling van die kopiereghouer nie.)
- Outeurs se ekonomiese belang in die werke wat hulle skep sluit in alle bestaande en potensiële markte vir hulle werke.
- Die stelsels wat gebruik word om digitale werke te beskerm (“Digital Rights Management”, of DRM-stelsels) moet deur kopieregwetgewing ondersteun word om dit vir kopiereghouers moontlik te maak om hulle regte uit te oefen. In leketaal beteken dit dat PEN International ’n beroep doen op regerings om te verseker dat hulle kopieregwetgewing ook produkte soos e-boeke en luisterboeke beskerm, sodat skrywers se werk nie vrylik digitaal versprei kan word sonder dat die skrywer beheer daaroor het en vergoeding vir sy werk ontvang nie.
- Digitale reproduksie van werke wat aan kopiereg onderhewig is (en nie onderworpe aan uitsonderings is soos in die voorbeelde by nommer 6 hierbo nie), en sonder die toestemming van die outeur, is roof. Regerings behoort wetgewing in plek te hê wat geskikte strafmaatreëls bevat om roof te bekamp en terselfdertyd te verseker dat wettige toegang tot werke nie belemmer word nie.
In die oploop na die hersiening van ons land se kopieregwetgewing, was en is dit duidelik dat negatiewe assosiasies met kopiereg aangevuur word deur diegene wat ’n agenda vir die verslapping van kopieregbeskerming dryf.
Daar is byvoorbeeld die wanopvatting dat kopiereg onnodig beperkend is en vooruitgang belemmer.
As dit die geval is, moet ’n mens wonder waarom ’n progressiewe organisasie soos PEN International, wat juis letterkunde as gemeengoed en die uitruil van idees wil bevorder, outeursreg so sterk sal steun. Die antwoord is dat dit onontbeerlik is vir skrywers en vir die markte waarin skrywers werk. ’n Doeltreffende en gebalanseerde outeursregstelsel demp nie innovasie nie, maar moedig kreatiwiteit aan en gee vryheid. Die verband tussen die skrywer se ekonomiese vryheid en vryheid van uitdrukking is reeds genoem. ’n Skrywer is natuurlik ook vry om te kies om nié ’n fooi te vra vir sy of haar werk nie. Die kopieregstelsel laat dit toe. Die outeur is die hoeksteen van kopiereg en so hoort dit ook, want sonder hom of haar was daar geen werk om te beskerm, te lees en te geniet nie. Ons onthou en vier dit op Wêreldboeke- en kopieregdag.
Bron
https://pen-international.org/who-we-are/manifestos/the-pen-international-copyright-manifesto
Marga Stoffer
Voorsitter: PEN Afrikaans