Om te skryf vir die outjie daar agter in die klas – Jaco Jacobs

Hoe skryf ’n mens vir die skolemark?

Op die oog af is dit ’n heel eenvoudige vraag, en tog is my eerste reaksie, ná ’n bietjie dinkwerk, om my skouers op te trek en te sê: Ek weet nie regtig nie.

Ja, ek het, in opdrag van uitgewers of samestellers, oor die jare al heelwat tekste vir opvoedkundige boeke geskryf – kortverhale, gedigte, niefiksie – en ek is dankbaar dat my boeke soos Suurlemoen!, Vis en tjips, Perfek, Liefde laat jou Rice Krispies anders proe en ’n Goeie dag vir boomklim by baie skole voorgeskryf is en/of op nasionale voorskryflyste verskyn. Maar maak dit my ’n kenner van die voorgeskrewe mark en voorgeskrewe tekste? Allermins.

Uit ’n skrywersoogpunt moet ’n mens dalk eerder afskop met die vraag: Hoekom skryf ’n mens vir die skolemark? Wel, die voor die hand liggende antwoord is natuurlik dat voorgeskrewe boeke gewoonlik heelwat beter verkoop.As ’n Afrikaanse kinder- of jeugboek nie voorgeskryf word nie, het dit gewoonlik nie ’n baie lang rakleeftyd voordat dit uit druk gaan nie. Suurlemoen!, byvoorbeeld, het in 2007 reeds verskyn, maar is tans in sy 19de druk en vaar volgens Nielsen se verkoopstatistiek steeds goed, iets wat beslis nie sou gebeur het as die boek net in die algemene handel verkoop is nie.  

Maar het ek Suurlemoen! geskryf met die oog op die skolemark en goeie verkope? Nee, glad nie. Ek wou bloot ’n storie vertel oor twee beste pelle wat besluit om ’n rockgroep te begin, en dan hul hart op dieselfde meisie verloor. Die meeste van my voorgeskrewe boeke is glad nie in die eerste plek vir die voorskryfmark geskryf nie.  

Ek het op ’n klein Karoodorpie grootgeword, hoofsaaklik ’n boeregemeenskap. ’n Hele paar van my die ouens in my klas het op laerskool al geweet hulle wil ná skool gaan boer. Skape, trekkers en bakkies (en later meisies) was waarin hulle belang gestel het. Poësie, drama en letterkunde was vir die meeste van hulle ’n straf en ’n marteling. Ek onthou een klasmaat het ’n geluid soos ’n sterwende bees agter in die klas gemaak elke keer as hy die woord “poësie” hoor, en dan die res van die Afrikaansperiode op sy arms gelê terwyl die arme juffrou ons probeer help het om kop of stert van Opperman, Van Wyk Louw en Eybers uit te maak.

Toe ek later jare vir kinders begin skryf, het ek teruggedink aan daardie klasmaat van my. Ek het gewonder: Hoe skryf ’n mens die soort storie – of selfs die soort gedig – wat ’n tiener soos daardie laat regop sit en aandag gee?

In ’n sekere sin is dít die uitdaging wat ek steeds aan myself as skrywer stel, elke keer as ek by my rekenaar kom sit.

Ek skryf in die eerste plek om stories te vertel. Kinder- en jeugboeke is my passie, en daarom is verreweg die meeste van my skryfwerk in dié genre. Ek skryf stories oor kinders en jong mense, vir kinders en jong mense. Ek probeer die soort stories skryf wat ek self kleintyd en as tiener graag gelees  het – snaakse stories, grillerige stories, avontuurbelaaide stories, stories wat jou vermaak. Ek skryf omdat ek glo stories en gedigte is belangrik, dat dit jou anders na die wêreld kan laat kyk en dat dit ons ’n unieke geleentheid gee om onsself in ander mense se skoene te plaas.

Wat prosa betref, glo ek jy begin nie skryf voor jy ’n sterk storielyn het nie – en jy beter sorg dat die storie vinnig uit die blokke kom en aanhou om ’n stywe pas te handhaaf, anders gaan jou jong leser doodeenvoudig belangstelling verloor. Ek glo in stories wat die karakters (en dikwels ook die teikenleser) se leef-, taal- en ervaringswêreld so getrou as moontlik weerspieël en dit die heeltyd in gedagte hou. Dit is waarom ek maar min gespin is wanneer dit kom by debatte oor “Engfrikaans” of jeugboeke wat nie in suiwer Afrikaans geskryf is nie. My karakters moet soos regte kinders en tieners praat. Die issues waarmee hulle worstel of die uitdagings wat oor hul pad kom, moet dinge wees waarmee die leser kan identifiseer, dinge wat belangrik is in sy leefwêreld of wat hy interessant vind … anders gaan hy kort voor lank weer op sy arms lê.

’n Paar jaar gelede het my uitgewer my gevra om ’n bloemlesing met gedigte vir tieners saam te stel. Ek het dadelik ingestem – hier was immers my kans om te kyk of ek ’n klompie gedigte kon bymekaarsit wat my klasmaat van destyds se siening oor poësie kon verander. My uitnodiging aan digters was: Stuur vir my gedigte wat spesifiek vir tieners geskryf is – maar nie gedigte oor tieners nie; ek soek gedigte wat vanuit tieners se perspektief geskryf is, gedigte wat genuine voel. Die reaksie was oorweldigend. Die boek, Toulopers, en sy opvolger, Sterkykers, is wyd voorgeskryf, en dit is natuurlik lekker. Maar die lekkerste was toe ’n boekhandelaar my op ’n dag vertel het hoe tieners gereeld daardie twee boeke met hul eie sakgeld kom koop. Jip, digbundels. Daarom haal ek my hoed af vir die digters wie se werk in daardie twee bundels verskyn, en natuurlik vir onderwysers wat dapper genoeg is om leerders in die klas aan eietydse poësie bekend te stel.

Aan watter vereistes moet jou boek voldoen om ’n goeie kans te staan om voorgeskryf te word? Ek weet eerlikwaar nie. ’n Uitgewer by ’n opvoedkundige uitgewery sal jou waarskynlik kan sê. Wanneer ’n mens spesifiek vir ’n opvoedkundige uitgewery skryf, is daar gewoonlik streng voorskrifte en riglyne waarby jy moet hou. Voorskrifte ten opsigte van dinge soos taalgebruik, temas, lengte, en dies meer. ’n Lekker uitdaging soms, maar die resultaat kan nogal ietwat bloedloos wees.  Mag jy byvoorbeeld die woord “snot” gebruik as jy spesifiek met die (laerskool)voorskryfmark voor oë skryf? Verkieslik seker nie. Ek, aan die ander kant, het al die woord “Snotzilla” in die titel van ’n boek gebruik, en agterna het ek gehoor van onderwysers wat groot pret met Professor Fungus en die skrikwekkende Snotzilla in die klas gehad het.

Hoe lank moet ’n voorgeskrewe boek min of meer wees? ’n Kenner van die opvoedkunde sal waarskynlik weet, maar ek het nie ’n benul nie. Wat ek wel weet, is dat baie jong mense deesdae sukkel om te lees. Party sukkel spesifiek met Afrikaans omdat hulle dit as eerste of tweede addisionele taal lees. Ander sukkel bloot omdat hul leesvermoë bedroewend swak is. ’n Tiener wat sukkel om te lees, word kort voor lank ’n tiener wat lees háát. Beesbulk-en-kop-op-die-arms-haat. En dit is die rede waarom ek boeke soos Vis en tjips en Perfek geskryf het – boeke met eenvoudige woordeskat en kort sinne wat maklik lees, met illustrasies en lirieke en dagboekinskrywings tussenin om die teks effe minder skrikwekkend te maak, met stories oor tienerkarakters wat tipiese tienerdinge doen en (hopelik) nie die leser onderskat nie. Ek is dankbaar dat mense wat voorgeskrewe werk kies na hierdie boeke gekyk en besluit het om dit in skole te gebruik, maar dit is nie waarom ek dit in die eerste plek geskryf het nie. Ek het dit vir dáái outjie (of meisie) geskryf, die een daar agter in die klas.

Ek reken dit is veel meer pret – vir die skrywer, die leser én die onderwyser wat uiteindelik die teks in die klas moet behandel – as die proses andersom kan werk as by tradisionele opvoedkundige uitgewerye. Met ander woorde, as ’n boek nie spesifiek vir die skolemark geskryf is nie, maar gekies word omdat ’n onderwyser of voorskryfspan reken dit sal jong lesers boei en vermaak en hulle lief maak vir lees en letterkunde. Dit is waarskynlik waarom soveel skole deesdae self klasleesboeke kies, eerder as om op nasionale lyste staat te maak.

Al hoe meer uitgewers besef gelukkig hoe waardevol aanvullende materiaal kan wees, daarom stel baie van hulle deesdae studiegidse en ander leermateriaal beskikbaar wat onderwysers en leerders kan gebruik wanneer hulle ’n boek in die klas behandel. As skrywer sal jy jouself waarskynlik ’n guns doen om met jou manuskrip aan te klop by ’n uitgewery wat wel ’n teenwoordigheid in die skolemark handhaaf, en sulke aanvullende materiaal ontwikkel. Nog ’n manier hoe skrywers waarde aan hul werk kan toevoeg, wat die voorskryfmark betref, is skolebesoeke. ’n Skrywer wat bereid is om skole te besoek en oor sy/haar werk te praat, kan baie help om leerders – en onderwysers – se entoesiasme oor ’n boek aan te wakker.

So, om terug te kom na die vraag: Hoe skryf ’n mens vir die skolemark? Is daar ’n resep of ’n stel reëls wat jy kan volg om die kans te verbeter dat jou werk voorgeskryf word?

Nee, ek weet nie regtig nie. En ek weet ook nie of dit regtig so goed is vir ’n skrywer om dit wel te weet nie.

Ek glo jy moet in die eerste plek nie te hard probeer om ’n “voorgeskrewe boek” te skryf nie. Vergeet van reëls oor taalgebruik en voorskrifte oor temas en taboes en die lengte van die teks. Vertel ’n storie en doen dit so goed as wat jy kan, sonder om jou jong gehoor te onderskat, met geloofwaardige karakters vir wie jy omgee en vir wie jou leser hopelik sal omgee. Skryf ’n gedig wat jóú in jou tienerjare aan die hart sou gryp, sou laat huil of sou laat lag het. Respekteer jou leser, áltyd.

As jy in jou doel slaag, is daar wel ’n kans dat jou skryfwerk, met die hulp van ’n goeie uitgewery se bemarkingspan, die aandag sal trek van onderwysers wat op soek is na ’n lekker klasleesboek, of dalk selfs ’n keuringspaneel wat nuwe werk moet voorskryf.

En wie weet, dalk gryp jou storie of gedig daardie outjie (of meisie) agter in die klas se verbeelding aan; dalk laat dit hom glimlag of selfs hardop lag; dalk is dit so na aan sy leefwêreld dat hy nie anders kan as om dit ’n kans te gee nie.

Dalk laat dit hom selfs opkyk in die letterkundeklas.

Vir meer kan ’n skrywer tog kwalik vra.