Toe ek vyf jaa oud was, het my ma my virrie eeste kee bioscope toe geniem. Ôs hette aksiefliek gekyk. Daa’s ‘n scene innie movie waa die hoofakteur deu ‘n mall gejaag wôd deu bad guys op motorbikes. Die protagonis spoed deurie skare shoppers. Ek onthou baie dydelik hoe hy een vrou soe hard ytie pad yt gestoot et, haa rooi hoëhakskoen het van haa voet af geskiet. Daai stuntvrou het net ‘n oemblik oppie skerm verskyn, maa narie film kon ekkie ophou om an haa te dink nie. Ek hettie innie protagonis belanggestel nie, die film het my mos al kla alles van hom vertel, ek was mee geïnteresseerd innie vrou mettie rooi skoene. Wat het sy vi haa familie vertel van haa mall ervaring, wat was haa storie? Ek het my ma gepla met vrae oo wat met daardie vrou gebeuret; is sy ernstig beseer, moes sy hospitaal toe, het sy ooit ytgevind wie die ou was wat haa omgestamp het? My ma, siek vi my onophoudelike gekerm, het my gesê ek moet my eie verhaal oorie vrou yt dink. Dit wassie begin van my belangstelling innie mense wattie wêreld innie agtergrond skep, die mense aan wie jy nie suppose is om aandag te gie nie.
Ek wou nog altyd vannie mense innie periferie hoor. Daarom skryf ek oo (en vi) die gemarginaliseerdes, my mense. Ek woon inne bruin gemeenskap wat tot stand geko het as gevolg vannie Group Areas Act. Die mense in my gemeenskap ko oorspronklik van verskillende gebiede, maa is met geweld yt hul hyse verwyder en gedwing om saam ’n nuwe gemeenskap te maak. Die vermenging van mense se verskillende dialekte en maniere van praat het daartoe gelei dat Kaaps die vloeiende en ever-evolving taal is wat it vedag is. Is algemien dat twie mense yt dieselle gemeenskap baie annes klink wanne hulle praat. Kaaps is ideaal vir my as skrywer omdat dit my toelaat om maklike kenmerkende karakters te skryf. Met Kaaps kan ek karakters skep wat soe individueel en uniek is, my lesers sal kan wiet watte karakter praat, deu net hul dialoog te lees.
Ek begin my proses altyd met karaktersketse omdat ie karakter se geskiedenis bepaal hoe hulle praat / klink. “Chasing” ie karakter is ’n tegniek wat ek ontwikkel et ommie skryf van ’n karakterbiografie narie next level te niem.
‘n Kort inleiding tot Chasing:
Byrie skryf vanne karakterbio gebryk ie skrywer tradisioneel hul eie stem om vrae oorie karakter te beantwoord. ’n Tipiese karakterbio lyk gewoonlik iets soes hierdie:
Naam: Mary
Van: Brandt
Bynaam: Ma Mary. Mummie
Ouderdom: 47
Plek: Jurassic Park, Kaapstad
Lengte: 1,65
Gewig: 80kg
Haarkleur: Swart – dyed
…
Omme karakter te Chase, stel ek my voo dat ek met hulle ’n onderhoud voer, sodat hulle my self kan vetel wie hulle is en wat hul storie is. Ek vra dieselle vrae as in ’n gewoone biografie, maa ek laat ie karakter innie eeste persoon / hul eie stem antwood. Die trick is om yt te brei, die karakters moet elke vraag met soveel detail as moentlik beantwoord.
’n Voorbeeld van Ma Mary se karakterskets toe ek Kinnes geskryf et:
Karakternaam: ”My naam is Mary Brandt. Mary soes Jesus se ma. Ek wiettie hoeko my ouers vi ôs ammel Biblical name gegie hettie, ôs hettie eens ’n bybel innie hys gehad ie. Ôs het net kêk toe gegaan vi funerals…”
Deu slegs daai eeste eenvoudige vraag te beantwoord, het Ma Mary se stem vi my al klaa dydeliker begin wôd – ek kon aflei dat Mary nie kêk Kaaps (’n version van Kaaps wat nader aan standaard / common Afrikaans is) praatie.
Innie Chase laat ek my karakters op tangents gaan, een vraag kan bladsye inligting ytlok. Ek het ’n lys van mee as 100 vrae wat ek aan elke karakter stel, maakie saak hoe klein hul rol issie. Sommige van my gunsteling vrae is:
Wanne laas het jy gelag – wat het jou laat lag?
Het jy ienige scars – hoe het jy dit gekry?
Beskryf jou beste vriend.
Wat is jou grootste geheim?
Ek niem my tyd ommie karakter te Chase en kan wieke spandeer omme enkele karakterprofiel te skep. Baie vannie inligting wattie karakters aan my reveal, verskyn ie innie finale teks nie, maa die oefening is steeds baie handig ommie karakters se stemme te vind.
Karakters wat dieselle demografie deel, kan steeds onderskeibare stemme hê. In Kinnes hettie lead karakters baie ooreenkomste. Beide Nicole en Rolanda is dieselle ouderdom, geslag, ras, hulle is in dieselle omgewing grootgemaak en het dieselle skole bygewoon, maa hulle praatie dieselle nie. Ek kon hul stemme definieer deu karakterwerk. Ek het Rolanda geChase en ontdek dat sy ’n obsessie met steil hare het as gevolg van haa ma wat ’n haarsalon van hul hys af bestuur. Die suksesvolste haarkappers in my gemeenskap was nog altyd deel vannie LGBTQIA+ gemeenskap, ek het my verbeel dat Rolanda grootgemaak is omring deu queer haarstyliste en kliënte wat Gayle (Kaapse queer patois) praat. Rolanda se gebryk van Gayle in Kinnes is deel van wat haa dialoog kenmerkend maak.
Nicole annie anne kant, is inne godsdienstige hyshouding mette streng kêk-suster ma grootgemaak, soe Nicole praat kêk Kaaps.
Anwaar en Derick deel oek dieselle demografie. Ek hettie inligting yt hul karakterbios gebryk – veral wat hulle oor hul kinderjare en tydverdryf gesê het – om hul stemme te onderskei. Anwaar was ’n moviekop, hulle wassie eeste mense innie skiem mette dish-decoder en sy ma het hom altyd allien byrie hys voorie TV gelos. Daai info het beïnvloed hoe ek Anwaar se dialoog geskryf het. Sy Kaaps meng Sabela (tronk / gangster Kaaps) met internasionale popkultuur; hy haal ikoniese films aan, boots bekende akteurs na en praat in aksente.
Derick het nooit ’n TV in sy hys gehad nie, in sy karakter Chase het hy my vertel dat hy en sy ma gulsige lesers was. Hierdie inligting het my in staat gestel om ’n groter, mee eloquent woordeskat vi Derick se dialoog te gebryk.
Ees as ek my veskillende karakterstemme gevind het, begin hulle oppie bladsy met mekaa kommunikee. Identifiseerders (of tags) issie woorde wat met dialoog gepaardgaan en laat die leser wiet watte karakter praat. Die mees algemene identifiseerder “sê / het gesê” wêk goed omdat it bekend is en wanne it korrek gebryk wôd, lei dit ie leser nie af vannie vloei vannie dialoog nie. It is onnodig om annie einde van elke dialoog te skryf, “sê sy / sê hy,” wan it kan eentonig en vervelig lees as dit herhaaldelik gebryk wôd. As jy net twie sprekers het, hoef jy die karakter net elke paar reëls aan te dui, maa it kan ytdagend wôd as ’n dialoog drie of mee karakters bevat.
Ek skryf aksielyne om ienige oormatige gebryk van identifiseerders op te breek. Karakters kan ’n aksie doen (gesture, beweging, een of anne fisieke aktiwiteit) om te wys watte spreker praat. Die karakter se aksie moet op dieselle lyn as hul dialoog wies en dit moet oek iets oorie karakter openbaar.
In een van Nicole se hoofstukke in Kinnes is daa ’n groeptoneel waa die popular girls op skool vi Nicole interrogate. Dit issie eeste kee dat ek my lesers voorstel annie gewilde groep, soe ek het elke karakter ’n aksie met hul dialoog gegie wat wys watse tipe mense hierdie meisies is.
“Nicole, waa was jy toe vir Derick se rap?” Tammy was besig om haar skoolrok om te rol sodat dit korter kan sit, “Hy’t die song vi jou gededicate.”
Rolanda het ’n lang strand of hair wat an haar lipgloss vassit afgetrek.“Kom Nicole, spoeg ôs nat! Hoe lank spien julle twie dan?”
Ek hettie geweet wat om te sê nie. Ek het senuweeagtig gegiggel.
Lameez het ’n bubble geblaas, die hele gang het vir ’n sekonde soes watermelon geruik. “Ek kannie gloe is nogals jy wat hom soe weg van sy vrinne hou ie.”
Aisha het na asem gesnak asof sy ’n groot discovery gemaak het. “Yoooh, is waa, nuh, ôs sien hom’ie meerie.”
Mettie aksies hierbo lee ôs dat hierdie groep meisies reëlbrekers is, hulle kou bubblegum op skool en verkort hul skoolrokke. Rolanda se hare issie vasgemaak nie en sy dra lipgloss skool toe, dit isse beskrywing wat in lyn met haa karakter is, haa estetika is mos vi haa baie belangrik. Aksielyne kan oek nuttig wies ommie karakters se interne gedagtes en begeertes yt te druk.
Soms as ’n skrywer slegs aksielyne gebryk, kan it frustrerend wies om te lees, veral assie aksie random is en nie karakterisering ontwikkel offie verhaal vorentoe beweeg ie. Om ’n goeie groepsdialoog te skryf, issit belangrik omme balans te vind tussen eenvoudige identifiseerders en aksielyne.
Ek gebryk oek my aksielyne om subteks te wys wanne ek my karakter ’n aksie laat doen wat in stryd is met wat hulle in hul dialoog sê. Mense verbaliseer ie altyd wat hulle dink nie, soms sê ôssie wat ôs eintlik bedoel nie. As mense se gesproke woorde in real life nie betroubaar issie, dan moet ek dieselle reël toepas mettie dialoog in my skryfwêk.