
“Ek het lankal immigreer na ’n kamer in my kop / Vandaar hou ek versigtig die wêreld om my dop…”
Ek is nog op laerskool en ek hoor hierdie woorde op ’n CD in my Tannie se rooi Jetta, en Amanda Strydom sing vir my in my eie taal: Immigreer na binne, na die kamer in jou kop…
En haar woorde hou my vas. Haar woorde klim deur die venster na ’n kamer in my hart waar al my drome gaan wegkruip het – want daar was nie plek vir stories in die stof en sukkel en stom geloof van my grootwordjare nie.
So my eerste drome was net op papier.
In harde potlood, krapgeskryf in ’n rooirug A5 Croxley – elke ding wat agter my oë kom raas het. Ek, ’n miergod met die son in my hand wat oordeel oor die kolonies wat oor my vensterbank onder die glaslens deur migreer. Lang gedigte oor die kudus en bosbokke en rooibokke wat op en af teen die tuindraad paradeer om in te breek, deur die vensters te spring en elke bokridder wat my pa gemonteer het te kom terugsteel. Lofredes oor die teraardestelling van die taksidermie, in ’n grafhoop onder ’n kameeldoring, en ’n bobbejaan in ’n leesbril wat uit ’n ashoop-huisgenoot voordra en die seën uitspreek …
Daar is baie tyd vir te veel dink op ’n plaas.
Dit was towerkrag. Om die donker te kon herskryf. Om armoede in rykdom te kon omskep… Permanente transaksies in my kop tussen wat die oë sien en wat die hart glo…
Hierdie was my eerste pogings om ons doodgewone plaashuis mitologies te maak. Kort stories waarmee ek die ruimtes rondom my wou herskryf, inkleur en meer maak.
Hierdie was jare voor ek langs die kampvuur van Teater kon sit, of enigsins geweet het wat dit was. Stories het op skerms gehoort, of in papier. Hoe moes ek weet, diep in die hart van Limpopo, dat sulke magiese spasies in hierdie wêreld bestaan?. Storieboorde. Die laaste regte magic.
Teater is toorkuns. Dit weet ek vandag vir ’n feit. Een ruimte wat met die kwas van lig en asem die ganse heelal kan versit, verskeie heelalle, tientalle kere per dag. Hoe die magiese krag van ’n mensehand fyn kant oor jou oë kom trek, en ons almal sit in die donker en droom dieselfde droom.
In 2017 skryf ek Nêrens, Noord-Kaap, in potlood, op papier, en ons debuteer in Julie van daardie jaar by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. ’n Doodgewone storie oor drie doodgewone broers wat poog om die waarheid te praat en niks meer nie. Baie van myself, my gesien, my stories, is op die verhoog in my werk. Partykeer is dit so diep versteek ek weet nie altyd waar die waarheid ophou en die fiksie begin nie – soos ’n veldblom ourobouros met sy eie pyn in sy mond. Maar die woorde moet uit, en vergestalt in ruimte.
In my geval, eers op die verhoog. Die verhoogstuk Nêrens, Noord-Kaap speel uit in ’n reeks monoloë deur die drie Adendorff-broers: Frans, Ronnie en Andries. Hierdie is ’n produksie waar die woorde wêrelde inkleur in die gehoor se kop, en ek wou daarom die ruimte waarin dit afspeel so gestroop en eenvoudig as moontlik hou. Die drie broers staan apart van mekaar, en speel na voor, selfs wanneer daar met mekaar gepraat word. Daar is geen rekwisiete of meubels nie. Niks wat in die pad kan staan van suiwer storievertel nie. Elke aand, elke opvoering leer ek iets nuut by die akteurs, soos hoe die draai van ’n frase die kleur van die lig self kan verander. Want mens kyk nie teater net met jou oë nie.
Toe ons deur kykNET genader is om die verhoogstuk vir televisie te omskep, het ek geweet daar is groot werk wat voorlê. Ek het grootgeword met skerms, maar nou moet ek die storie in ’n nuwe ruimte in droom.
Die teaterteks is ongeveer sewentig bladsye lank. Die hele storie in mikrokosmos. Ek het geweet ek wil nie te veel verander aan die ruggraat van die verhaal nie, so hier was geleentheid om diep in die karakters in te klim. Om realisme na te jaag is om ’n hele wêreld te wil skep, so ek wou die doek so wyd as moontlik span om met fyner kwasse daarop te kan verf.
Teater is baie nader aan boeklees as aan televisie. ’n Gehoorlid wat in die ouditorium sit se verbeelding kry vlerke buite die vier mure van die verhoog. Die ruimte wat die storieverteller met lig en klank en woord skep, vorm die beelde in jou kop, maar uiteindelik is die ruimte waarin die verhaal afspeel ’n samevloeiing van die toneelstuk en die gehoorlid se eie unieke verbeelding.
Op televisie sien jy egter nie jou eie weergawe van ’n plek, voorwerp, of gebeurtenis nie, maar presies wat ek, as die skrywer/regisseur, wil hê jy moet sien. Hierdie was vir my ’n beduidende uitdaging in die verwerking vanaf verhoogstuk na die uiteindelike draaiboek wat ons verfilm het. Hoe verskuif mens die ruimte van magies na realisties? Hoe maak jy spasies van klip en grond en gras wat voorheen net in jou kop geblom het? Hoe kommunikeer jy aan die produksiespan presies watter plaashuis die verhaal moet huisves, teen watter berghang die skape moet wei ?
Dit was amper soos ’n ommekeer van my kleintyd, die etlike ure wat ons die Noord-Kaap platgereis het op soek na die doodgewone, die alledaagse, die regte ruimte om die karakters in lewe te gee: om mitologie te gaan soek in die stene en kokerwoude van die Noord-Kaap.
In Niewoudtville het die landskap met ons gepraat. Hier was spasie vir ’n storie om in te geskied. ’n Ruimte wat vra vir mitologie.
Een dag op stel kruip ons weg vir die son. Ons skiet in die Gannabos, die grootste kokerwoud in die wêreld. Die kokerbome sulke halfmens-gode met hulle papiervelle en geel vingers, onbeskut teen die wind en weer en reg vir openbaring – rye en rye soos ’n vetplant bataljon – en iets gaan sit in my.
Ek het nog baie om te leer van die ruimtes rondom my: om te kan raaksien sonder om te wil inkleur, om te luister na die grond.
Die drome moet maar aanhou kom, ek sal hulle neerskryf … al skryf ek nie meer in Croxley-boekies nie.
