Ses skrywers is gekies vir die 2026 PEN dit neer-residensieprogram

Baie geluk aan die groep van ses skrywers wat gekies is om vanjaar se PEN dit neer-residensie by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis by te woon.

A’Eysha Kassiem, David Mann, Jan van Tonder, Rezina Habtemariam, Unathi Slasha en Xueting Yang sal van 30 April tot 10 Mei in Paulet Huis in KwaNojoli (voorheen Somerset-Oos) in die Oos-Kaap tuisgaan.

Te danke aan die samewerking tussen die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans en PEN South Africa is hierdie jaarlikse residensie ’n internasionale saamtrek wat ook deelname van buitelandse PEN-sentrums insluit. Hierdie skrywersverenigings is almal verbonde aan PEN International, die voorste internasionale skrywersvereniging wat letterkunde en vryheid van uitdrukking vier en bevorder.

As lid van PEN Afrikaans, het Jan van Tonder, die skrywer van geliefde romans soos Is Sagie, Is weer Sagie, Roepman en Die verevrou, suksesvol aansoek gedoen om een van die plekke in die skrywershuis te vul.

David Mann, Unathi Slasha en A’Eysha Kassiem sal PEN South Africa verteenwoordig.

Rezina Habtemariam is verbonde aan PEN Eritrea. PEN Eritrea is een van die PEN-sentrums wat weens die onderdrukkende omstandighede in hul tuisland genoop is om in ballingskap te funksioneer. 

Habtemariam is ’n skrywer en navorser wat internasionale swart poëtika en die wesenlikheid van tegnologie ondersoek. Sy is die besturende redakeur van die tydskif Logic(s), projekbestuurder van Africa Poetry Digital Portal en besoekende navorser aan die Universiteit van Washington.

Xueting Yang is ’n Chinees-gebore illustreerder en skrywer wat in Oslo, Noorweë, gebaseer is. In haar werk beeld sy alledaagse oomblikke uit met sensitiwiteit en subtiele tekens van magiese realisme.  

“Baie geluk aan die skrywers!” het die Jakes Gerwel Stigting as deel van die aankondiging van die suksesvolle aansoekers gesê. “Ons hoop dat die ononderbroke skryftyd in ons tuiste van stories, Paulet Huis in KwaNojoli, in die geselskap van ander skrywers van heinde en verre, verrykend sal wees. Ons sien uit daarna om julle skryfreis te volg!” 

Baie geluk ook van PEN Afrikaans, en vergun ons ’n spesiale woord van gelukwensing aan Jan van Tonder. Mag dit ’n goeie en produktiewe skryfverblyf wees.

Sien ook die berig hieroor hier: https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/6-skrywers-gaan-eersdaags-in-paulet-huis-tuis-20260226-0995