![]() |
| Beste lede en ondersteuners van PEN Afrikaans Die jaar het op ’n hartseer noot afgeskop met die nuus van dr. Diana Ferrus se afsterwe. Ons eer haar ryk nalatenskap en sluit hier onder die huldiging in wat ons ná die hartseer nuus uitgereik het. Dit is ook hier beskikbaar. Hou die sosialemedia-platforms van Laniëlle Hartzenberg, amptelike familieverteenwoordiger, dop vir besonderhede van huldigingsgeleenthede. ’n Spesiale provinsiale begrafnisdiens vind op 14 Februarie in Worcester plaas. Sien meer besonderhede hier. In memoriam: Diana Ferrus (1953 – 2026) “Stil broers, daar gaan ’n Lady verby,” skryf Mercy Kannemeyer, voorsitter van PEN Afrikaans ná die hartseer nuus van dr Diana Ferrus se afsterwe op 30 Januarie 2026. “As regisseur het ek die geleentheid gehad om saam met Lady Di te werk in die musiekgedrewe produksie “Woorde op akkoorde”. Gevestigde name soos Frazer Barry, Deniel Barry, Churchil Naude, Jolyn Phillips en Bamboesina was ook in die stuk. My senuwees was op, maar Lady Di het my onmiddellik met ope, warme arms verwelkom,” skryf Kannemeyer. “As groentjie het sy nooit enige van my voorstelle as laf afgemaak nie. Bok vir sports. Altyd gereed met ’n staaltjie of grappie. Dit was Lady Di in die repetisielokaal. Buite, in die regte wêreld, was sy ’n mentor vir menigte, ’n stem wat niemand kon ignoreer nie. Lady Di het deure wawyd oopgetrap sonder om ooit op ander te trap.” Dr Bibi Burger, letterkundige en ondervoorsitter van PEN Afrikaans, skryf: “Diana Ferrus het wyle Patrick J. Petersen beskryf as ‘n ‘[b]aanbreker in die Swart Afrikaanse skryf’. Dr Ferrus was self ‘n baanbreker, van die Swart Afrikaanse literatuur, maar ook van die Suid-Afrikaanse letterkunde in die breë. Haar gedigte oor persoonlike en kollektiewe komvandaan, miskende historiese figure en oor die alledaagse het baie lesers geraak. Haar poësie het die geskiedenis verander deur die rol wat sy gespeel het in die repatriasie van Sarah Baartman se oorskot, en haar poësie het die toekoms verander deur haar werk as mentor van vele.” Die bestuur van PEN Afrikaans betreur Diana Ferrus se afsterwe as ’n enorme verlies. Ons is dankbaar dat sy deur die jare betrokke was by verskeie van PEN Afrikaans se projekte. Dit sluit in: ons viering van Internasionale Moedertaaldag saam met PEN International, meerdere paneelbesprekings by die Breytenbach Sentrum se Tuin van Digters, en ons Trippel 7-projek in die Noord-Kaap, waarná haar terugvoer was: “Skryf is nie ’n eenmens-projek nie, skryf is lewe…” Ons sal haar onthou. Ons dink met innige meegevoel aan haar naasbestaandes in hierdie tyd. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds ondersteun nuwe vertalings na Arabies, Duits en Bulgaars PEN Afrikaans kondig met trots aan dat die PEN Afrikaans Vertaalfonds drie vertaalprojekte sal ondersteun wat die Afrikaanse letterkunde na nuwe internasionale lesers sal neem. Ná oorweging van die aansoeke wat teen die vorige sperdatum ontvang is, is besluit dat die volgende vertalings ondersteun sal word (alfabeties gelys volgens die skrywer se van): ’n Arabiese vertaling van Moerbeibos deur Dalene Matthee (Mahrousa Publishing)’n Duitse vertaling van ’n keur uit Charl-Pierre Naudé se poësie (Edition Rugerup)’n Bulgaarse vertaling van Moordvis deur Irna van Zyl (Aviana)Mahrousa Publishing, wat in 1986 gestig is en ongeveer 30 vertaalde titels per jaar uitgee, sal die Arabiese vertaling van Dalene Matthee se geliefde roman Moerbeibos na verwagting in November 2026 uitgee. Die vertaler is Karim Kilani, wat voorheen vir Mahrousa Publishing Kringe in ’n bos in Arabies vertaal het. Moerbeibos het oorspronklik in 1987 verskyn. Dit het in 1988 die ATKV-prosaprys ontvang en is in Engels, Nederlands, Duits en Sweeds vertaal. Dit is ’n roman wat ná veertig jaar steeds relevant is, maar ook besonder geliefd, skryf dr. Stefan van Zyl: “Matthee se vermoë om op ’n empatiese wyse die uiteenlopende en komplekse verhale van doodgewone mense in toeganklike, dog beeldryke, Afrikaans te kon vertel, dra grotendeels by tot die voortgesette gewildheid van hierdie bosroman.” Edition Rugerup het suksesvol aansoek gedoen vir ’n vertaalsubsidie vir ’n Duitse vertaling uit Charl-Pierre Naudé, bekroonde digter en romansier, se digkuns. Naudé het die Ingrid Jonkerprys in 1997 vir sy debuutbundel ontvang en die M-Net-prys vir Afrikaanse poësie in 2005. Naudé se digkuns geniet reeds internasionaal erkenning via inisiatiewe soos Poetry International. Hierdie vertaling sal verder bydra tot die internasionale aansien van die Afrikaanse poësie en spesifiek die sigbaarheid daarvan binne die Duitssprekende literêre wêreld. Die beoogde publikasiedatum van die Duitse vertaling is in Maart 2026 en die vertaler is Sylvia Geist. Edition Rugerup, wat ’n sterk fokus op poësie het, is bekend vir die top internasionale digters en skrywers op hul publikasielys. Die gewilde spanningsroman Moordvis, debuutroman van die ervare redakteur, joernalis en media-entrepreneur Irna van Zyl, sal na verwagting in September 2026 in Bulgaarse vertaling by Aviana Publishing verskyn. “’n Spannende leeservaring en verwikkelde storielyn. Applous vir Irna Van Zyl vir haar eerste roman,” skryf Caitlin Walsh in haar resensie. Die vertaler is Krasimira Kirova, wat voorheen vir Karolina Ferreira deur Ingrid Winterbach se Bulgaarse vertaling verantwoordelik was. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se mandaat is om internasionale blootstelling vir Afrikaanse literatuur te bevorder deur vertalings te ondersteun. Soos met vorige vertalings wat deur die Vertaalfonds gefinansier is, dek die vertaalprojekte verskillende genres en tale en stel dit die veelsydigheid en seggingskrag van Afrikaanse skryfwerk ten toon. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds word moontlik gemaak deur finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis. Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar. Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/. Gesamentlike verklaring deur PEN South Africa en PEN Afrikaans oor die kansellasie van Suid-Afrika se Venesiese Biënnale-inskrywing PEN South Africa en PEN Afrikaans het op 13 Januarie ’n verklaring uitgereik oor die minister van sport, kuns en kultuur, mnr. Gayton McKenzie, se kommerwekkende inmenging by Suid-Afrika se inskrywing vir die Venesiese Biënnale. Dit is op ons webwerf beskikbaar, in Afrikaans en in Engels, en ons sluit die Afrikaanse weergawe hier onder in. Daar is tans regstappe oor hierdie staatsingryping aan die gang. Ons hou die verwikkelinge dop. PEN South Africa en PEN Afrikaans is uiters ontsteld oor die onlangse besluit van die minister van sport, kuns en kultuur, mnr. Gayton McKenzie, om die inskrywing van die werk wat aangewys is om Suid-Afrika by die 61ste Venesiese Biënnale te verteenwoordig, te kanselleer. Volgens ’n berig deur Daily Maverick is die besluit geneem nadat die werk reeds deur ’n streng en onafhanklike kuratoriese proses gekies is, en is die redes vir die kansellasie van die inskrywing “as gevolg van inhoud wat verband hou met die dood van vroue en kinders in Gasa.” Berigte dui daarop dat minister McKenzie die betrokke kunswerk, Elegy, deur die bekroonde Suid-Afrikaanse kunstenaar Gabrielle Goliath, as “hoogs verdelend van aard” beskou as gevolg van die onderwerp daarvan en dus as onvanpas vir nasionale verteenwoordiging in die buiteland. As organisasies wat verbind is tot die verdediging van uitdrukkingsvryheid en die outonomie van skrywers en kunstenaars, is ons bekommerd oor die minister se blatante daad van sensuur. Hierdie verontrustende voorval kan egter nie in isolasie gesien word nie. In Oktober 2025 het PEN South Africa en PEN Afrikaans ’n gesamentlike verklaring uitgereik waarin ons kommer uitgespreek het oor die onttrekking van staatsteun aan groot kunste- en literêre feeste, en die gebrek aan beraadslaging met die sektor rakende hierdie besluite. Ons het destyds gewaarsku dat arbitrêre of eensydige optrede deur die departement van sport, kuns en kultuur ’n reeds brose kunste-ekosisteem skade berokken en dui op ’n minagting vir die rol wat onafhanklike kulturele instellings in ’n demokratiese samelewing speel. Die kansellasie van die Venesiese Biënnale-voorlegging versterk hierdie kommer en dui op ’n ontstellende patroon van politieke ingryping in die artistieke en kulturele lewe. Gabrielle Goliath se Elegy is gekies deur ’n komitee bestaande uit kunshistorici, kurators, kritici en ander hoogs gerespekteerde rolspelers uit die kunstesektor. In ooreenstemming met hul standpunt spreek PEN South Africa en PEN Afrikaans hul “onomwonde steun vir die kunstenaar, die kurator en hul projek uit te midde van politieke druk en pogings om vrye uitdrukking stil te maak en artistieke integriteit in gedrang te bring”. Ons doen ook ’n beroep op die departement van sport, kuns en kultuur om sigself te verbind tot die beskerming van artistieke outonomie en om te verseker dat geen kunstenaar gesensureer word vir die aanroer van menseregtekwessies of globale ongeregtighede nie. Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede Fakture vir 2026 se ledegeld sal hierdie maand uitgestuur word. Die bedrag bly R300.00 en sluit lidmaatskap van PEN International in. Ons doen ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word. Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan Pieter van Zyl, joernalis en skrywer, wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Januarie 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Sien gerus ook hier Desember 2025 se resensie-oorsig. Nuwe Afrikaanse boeke in Januarie en Februarie 2026 Baie geluk aan ons lede wat in Januarie en Februarie nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Martin Steyn, Wendy Maartens, Tosca de Villiers en Michèle Meyer, een van ons bestuurslede. Hartlik geluk aan almal. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – Aansoeke vir die PEN dit neer-residensieprogram 2026 het 30 Januarie gesluit. Dankie aan almal wat aansoeke ingedien het. Dit word tans deur verteenwoordigers van die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans oorweeg. – Bibi Slippers het ons stel vrae beantwoord vir die someruitgawe van Taalgenoot. Klik hier om die tydskrif aanlyn te lees. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |
