PEN AFRIKAANS BESTUUR (2021–2023)
Voorsitter: Bernard Odendaal
Bernard Odendaal is ’n digter, letterkundige en voormalige direkteur van die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Sy debuutbundel Onbedoelde land verskyn in 2007, waarná ’n rubriekbundel in 2016 die lig sien (Woorde hul storie sien ken) en sy tweede digbundel Nootvat. Kwashaal. Stapel in 2021 verskyn. In 2015 ontvang hy ’n ATKV-SA Akademie-prys vir gehaltenavorsingsartikels in Afrikaans.
Ondervoorsitter: Jolyn Phillips
Jolyn Phillips is ’n digter, skrywer, akademikus, musiek- en teatermaker. Sy ontvang in 2018 die NIHSS-prys vir beste fiksie vir haar debuutkortverhaalbundel, Tjieng Tjang Tjerries, en die UJ-Debuutprys vir haar Afrikaanse digdebuut, Radbraak. Hierná volg haar bundel Bientang (2020), waarvoor sy die Eugène Maraisprys ontvang. Sy doseer Afrikaanse metodiek, letterkunde en vertaalteorie aan die Universiteit van Johannesburg.
Verkose bestuurslede
Carolyn Meads
Carolyn Meads is fiksie-uitgewer by Kwela Boeke, ’n druknaam van NB-Uitgewers. Sy was voorheen redakteur by Queillerie, en ook by Umuzi. Sy het nagraads Afrikaans en Nederlands asook joernalistiek studeer. Haar loopbaan het in die boekjoernalistiek begin en sy was onder meer die besturende redakteur van die literêre webtuiste Books LIVE voordat sy die skuif na die uitgewerswese gemaak het. Enkele van haar kortverhale is al gepubliseer.
Danie Marais
Danie Marais is ’n digter, musiekresensent en rubriekskrywer. Hy werk tans by die Woordfees as koördineerder van publisiteit en die filmfees. Hy is voormalige bestuurder en ondervoorsitter van PEN Afrikaans. Sy debuutbundel In die buitenste ruimte verskyn in 2006 en word met drie pryse bekroon: die Eugène Marais-prys 2007, die UJ-Debuutprys 2007, die Ingrid Jonker-prys 2007. Daarná verskyn Al is die maan ’n misverstand (2009), Solank verlange die sweep swaai (2014) en die rubriekbundel Pruimtwak & Skaduboksers (2015). In 2015 word die Cordis Trust se Orde van die Beiteltjie aan hom toegeken vir sy deurlopende ywer in die bevordering van areas van die Afrikaanse woordkuns.
Dibi Breytenbach
Dibi Breytenbach is as skrywer bekend vir spanningsromans. Daar het al twee drieluike uit haar pen verskyn. Die eerste bestaan uit Heiliger, Saliger en Vrediger, en die tweede uit Dowe gode, Blinde gode en Stom gode. Sy is ’n regsgeleerde met meer as twintig jaar ervaring in die strafregstelsel, waar sy veral by kindersake betrokke is.
Fiona van Kerwel
Fiona van Kerwel is projekbestuurder van die Woordfees se WOW-projek (Woorde open wêrelde). Om leerders en opvoeders se horisonne te verbreed, bied WOW in skole en gemeenskappe kreatiewe programme aan wat gerig is op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste.
Izak de Vries
Izak de Vries is ’n skrywer, fotograaf en joernalis. As skrywer is hy veral vir sy kortverhale bekend. Bundels uit sy pen is: Kom slag ’n bees (1998) en Byna liefde (2008). Hy het al Afrikaanse letterkunde doseer, as redaksionele bestuurder by LitNet gewerk, en het uitgebreide ervaring in die uitgewersbedryf: as uitgewer, uitgewerskonsultant en later ook bemarkings- en kommunikasiebestuurder. Tans is hy weer aan LitNet en susterwebwerf Voertaal verbonde.
Mercy Kannemeyer
Mercy Kannemeyer is ’n skrywer, teatermaker, regisseur, navorser, meningsvormer en gespreksfasiliteerder. Sy lewer meningstukke en resensies vir onder meer LitNet, Vrye Weekblad, Taalgenoot, Stilet en Klyntj.com. Kortverhale uit haar pen is in verskeie bloemlesings opgeneem. Sy werk tans aan haar debuutkortverhaalbundel.
Bestuurder: Catrina Wessels
Catrina Wessels is bestuurder van PEN Afrikaans. Sy werk ook as literêre agent en kopieregkonsultant in die uitgewersbedryf.