PEN AFRIKAANS BESTUUR (2025–2027)
Voorsitter: Mercy Kannemeyer
Mercy Kannemeyer is ’n skrywer, teatermaker, regisseur, navorser, meningsvormer en gespreksfasiliteerder. Sy doseer tans Afrikaanse drama, metodologie en kommunikasievaardighede aan die Universiteit van Johannesburg. Sy lewer meningstukke en resensies vir onder meer LitNet, Vrye Weekblad, Taalgenoot, Stilet en Klyntji.com. Kortverhale uit haar pen is in verskeie bloemlesings opgeneem. Sy was voorheen ondervoorsitter van PEN Afrikaans en dien op PEN International se Young Writers Committee.
Ondervoorsitter: Bibi Burger
Bibi Burger is ’n dosent in literêre teorie en Afrikaanse literatuur by die Universiteit van Kaapstad. Voorheen was sy in hierdie rol aan die Universiteit van Pretoria verbonde. Sy het haar doktorale studie by Stellenbosch Universiteit voltooi. Haar navorsingsbelangstellings sluit die hedendaagse Suid-Afrikaanse literatuur, genderstudies en ekokritiek in.
Verkose bestuurslede
Annie Olivier
Annie Olivier is die hoofbestuurder van NB-Uitgewers, wat onlangs ingeskuif het onder Jonathan Ball-Uitgewers. Sy was voorheen ’n niefiksie-uitgewer by Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, en by Jonathan Ball-Uitgewers, totdat sy hul publikasiehoof geword het. Voordat sy die uitgewerswese betree het, was sy ’n joernalis by onder meer Rapport en Beeld.
Candice Jantjies
Candice Jantjies is ’n joernalis en skrywer. Sy werk as reklamekoördineerder by die Woordfees en Woorde Open Wêrelde en sy was voorheen ’n kunsjoernalis by Netwerk24. Sy het ’n liefde vir die uitdrukkingskrag van teaterstukke en -tekste.
Erla Diedericks
Erla Diedericks is ’n joernalis, rubriekskrywer en outeur met meer as 30 jaar ervaring. Haar bydraes het al in die meeste plaaslike tydskrifte en koerante verskyn en sy het tientalle gepubliseerde boeke op haar kerfstok, wat verskeie spanningsromans insluit. Tans skryf sy ook rubrieke vir Netwerk24 en bied sy ’n mentorskapprogram vir skrywers aan.
Fiona van Kerwel
Fiona van Kerwel is projekbestuurder van Stellenbosch Universiteit se WOW-projek (Woorde open wêrelde). Om leerders en opvoeders se horisonne te verbreed, bied WOW in skole en gemeenskappe kreatiewe programme aan wat gerig is op die bevordering van taal, letterkunde en die kunste.
Izak de Vries
Izak de Vries is ’n skrywer, fotograaf en joernalis. As skrywer is hy veral vir sy kortverhale bekend. Bundels uit sy pen is: Kom slag ’n bees (1998) en Byna liefde (2008). Hy het al Afrikaanse letterkunde doseer, as redaksionele bestuurder by LitNet gewerk en het uitgebreide ervaring in die uitgewersbedryf: as uitgewer, uitgewerskonsultant en later ook bemarkings- en kommunikasiebestuurder. Tans is hy weer aan LitNet en susterwebwerf Voertaal verbonde.
Michèle Meyer
Michèle Meyer néé De la Rey is ’n skrywer en oud-Engelsonnie van Pretoria. Sy is in 2017 aangewys as wenner van daardie jaar se US Woordfees Kortverhaalkompetisie. Verhale uit haar pen verskyn ook in die 2024 Woordfeeskortverhaalbundel en Die Nuwe Afrikaanse Prosaboek. Haar prosatekste verskyn onderskeidelik in 2023 in die bundel Hierdie Land deur Protea Boekhuis, en in 2024 in die reisbundel Draaie, swaaie en afdwaalpaaie deur Queillerie. Meyer se debuutroman, MOER, verskyn in April 2022 gepubliseer deur Protea Boekhuis. Die tweede druk verskyn vyf maande later. Haar tweede roman sal in 2026 by Queillerie verskyn. Sy het ’n versameling klippe en klim graag boom.

Ruchelle Lombard
Ruchelle Lombard is ’n uitgewer van opvoedkundige boeke. Sy het voorheen by NB-Uitgewers se druknaam Best Books gewerk en werk tans by Maskew Miller Learning. Sy het onlangs haar PhD-studie in vertaalstudies aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands voltooi, waar sy die invloed van internasionale boekebeurse op vertaalprojekte uit Afrikaans en Engels ondersoek het.

Shawna-Leze Meiring
Shawna-Leze Meiring is die besturende redakteur van Penguin Random House South Africa en LAPA Uitgewers se lys van kinder- en jeugboeke. Sy is ook die samesteller van verskeie studiegidse vir jeugromans. Sy het aan die Universiteit van Pretoria studeer, waar sy ’n graad in die Uitgewerswese en ’n MA-graad in Afrikaanse Letterkunde behaal het
Bestuurder: Catrina Wessels
Catrina Wessels is bestuurder van PEN Afrikaans. Sy werk ook as literêre agent en kopieregkonsultant in die uitgewersbedryf.