Nuusbrief: Maart 2026

View this email in your browser
Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Oor die plaaslike kunste- en medialandskap
 
Maart 2026 blyk ’n maand van noemenswaardige veranderinge in die plaaslike medialandskap te wees. Showmax, die aanlyn stromingsdiens van Multichoice, se sluiting is aangekondig. Dit is ’n slag vir die reeds krimpende mark vir plaaslike kykstof, ook in Afrikaans. Showmax was bekend as ’n platform wat vryheid gebied het aan vervaardigders om vars en vernuwende inhoud te skep. In ’n nuusberig betreur plaaslike vervaardigers die staking van die diens en meld die vervaardiger Etienne Fourie: “Ek wil graag in Afrikaans werk en Suid-Afrikaanse stories vertel, maar dit raak byna onmoontlik.”
 
e.tv se onverwagse besluit om die gewilde Afrikaanse telenovella Kelders van geheime te kanselleer, ongeag die tweemiljoen kykers wat dit lok, dra by tot die kommerwekkende prentjie.
 
In ’n rubriek wat in Rapport verskyn het, neem Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, bestek op van die stand van sake in die Afrikaanse kunste- en medialandskap. Faasen maak belangrike punte oor die brose stand van die Afrikaanse kunste, deels te wyte aan apatie en ’n gebrek aan staatsondersteuning. “Ons moet begin om soos mense op te tree wat iets het om te verloor,” is die slotsom wat Faasen hier bereik. Ons nooi ons lede om saam met ons te dink en te praat oor maniere om juis dit te doen.
 
Lees die stuk gerus hier as jy nog nie het nie.
 
Op ’n meer positiewe noot: die eerste uitgawe van Die Papier het op Vrydag 6 Maart verskyn. Die Papier is ’n nuwe Afrikaanse koerant wat weekliks sal verskyn. Dit sal Suid-Afrikaanse en internasionale nuus dek, sowel as inhoud oor vermaak, leefstyl, sport, skolenuus en sakenuus. “Die Papier sal diskoers oor verskillende standpunte bevorder tot voordeel van ’n ingeligte lesersgemeenskap. Ons voel sterk oor ’n vrye media in ’n regverdige samelewing,” sê die redakteur, Barnard Beukman, in ’n redakteursbrief. Verdienstelike oogmerke; ons beste wense vergesel dié nuwe publikasie!
 
Ses skrywers is gekies vir die 2026 PEN dit neer-residensieprogram


Baie geluk aan die groep van ses skrywers wat gekies is om vanjaar se PEN dit neer-residensie by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis by te woon.

A’Eysha Kassiem, David Mann, Jan van Tonder, Rezina Habtemariam, Unathi Slasha en Xueting Yang sal van 30 April tot 10 Mei in Paulet Huis in KwaNojoli (voorheen Somerset-Oos) in die Oos-Kaap tuisgaan.

Te danke aan die samewerking tussen die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans en PEN South Africa is hierdie jaarlikse residensie ’n internasionale saamtrek wat ook deelname van buitelandse PEN-sentrums insluit. Hierdie skrywersverenigings is almal verbonde aan PEN International, die voorste internasionale skrywersvereniging wat letterkunde en vryheid van uitdrukking vier en bevorder.

As lid van PEN Afrikaans het Jan van Tonder, die skrywer van geliefde romans soos Is SagieIs weer SagieRoepman en Die verevrou, suksesvol aansoek gedoen om een van die plekke in die skrywershuis te vul.

David Mann, Unathi Slasha en A’Eysha Kassiem sal PEN South Africa verteenwoordig.

Rezina Habtemariam is verbonde aan PEN Eritrea. PEN Eritrea is een van die PEN-sentrums wat weens die onderdrukkende omstandighede in hul tuisland genoop is om in ballingskap te funksioneer.  

Habtemariam is ’n skrywer en navorser wat internasionale swart poëtika en die wesenlikheid van tegnologie ondersoek. Sy is die besturende redakeur van die tydskif Logic(s), projekbestuurder van Africa Poetry Digital Portal en besoekende navorser aan die Universiteit van Washington.

Xueting Yang is ’n Chinees-gebore illustreerder en skrywer wat in Oslo, Noorweë, gebaseer is. In haar werk beeld sy alledaagse oomblikke uit met sensitiwiteit en subtiele tekens van magiese realisme.   

“Baie geluk aan die skrywers!” het die Jakes Gerwel Stigting as deel van die aankondiging van die suksesvolle aansoekers gesê. “Ons hoop dat die ononderbroke skryftyd in ons tuiste van stories, Paulet Huis in KwaNojoli, in die geselskap van ander skrywers van heinde en verre, verrykend sal wees. Ons sien uit daarna om julle skryfreis te volg!” 

Baie geluk ook van PEN Afrikaans, en vergun ons ’n spesiale woord van gelukwensing aan Jan van Tonder. Mag dit ’n goeie en produktiewe skryfverblyf wees.

Sien ook die berig hieroor hier.
 
Inskrywings ingewag: Toyota Stellenbosch Woordfees-kortverhaalkompetisie
 
Inskrywings vir die Toyota Stellenbosch Woordfees-kortverhaalkompetisie sluit op 1 April 2026. Stuur gerus kortverhale voor dan in! In die Toyota Stellenbosch Woordfees-kortverhaalkompetisie, wat al deur die jare ’n literêre instelling geword het, is daar geen voorgeskrewe tema nie. Jy kan skryf net waaroor jy wil én dalk R30 000 ryker word as jy die wenverhaal lewer. Elke skrywer wie se verhaal vir die kompetisie se bundel gekeur word, ontvang R5 000. Die prysgeld word toegestaan deur EasyEquities.
 
Vind inskrywingsriglyne by hierdie skakel: https://woordfees.co.za/woordfeeskortverhaalbundel/
 
Die kuns van vertaling: ’n artikelreeks

 
PEN Afrikaans maak graag bekend dat, na afloop van die onderhoudreeks oor vertaling wat ons in 2024 aangebied het, ons die projek “Die kuns van vertaling” vanjaar uitbrei na ’n artikelreeks waarin kenners van die vertaalteorie en -praktyk sal skryf oor spesifieke onderwerpe wat met vertaling te doen het.
 
Hierdie artikelreeks word deels moontlik gemaak deur Pharos Woordeboeke, ’n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers en ’n vertroude naam waar dit by woordeboeke kom. Pharos bedryf ook PharosAanlyn, ’n eenstopversameling algemene en vakwoordeboeke wat jou help om effektief in Engels, Afrikaans, Afrika- en ander tale te kommunikeer.
 
Die eerste artikel in hierdie reeks, wat kwartaalliks ’n nuwe toevoeging sal kry, is deur Maret Blom de Wet, ’n dosent wat aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands verbonde is. Sy skryf oor die vertaler, oftewel bemiddelaar, in die klaskamer. Lees dit gerus hier.
 
Fakture vir ledegeld en welkom aan nuwe lede
 
Fakture vir 2026 se ledegeld sou die meeste van ons lede al bereik het. Indien jy teen einde volgende week nog nie jou faktuur ontvang het nie, maar tog ’n betaalde lid van PEN Afrikaans wil wees, kan jy ons asseblief in kennis stel by penafrikaans@gmail.com. Die bedrag, wat van belasting aftrekbaar is, bly R300.00. Ons doen graag ’n beroep op jou om weer vanjaar by ons aan te sluit en, as jy nog nie ’n lid is nie, om een te word.
 
Saam kan ons meer doeltreffend optree soos mense met iets om te verloor. Ons beywer ons vir die Afrikaanse letterkunde en joernalistiek, die bevordering van die plaaslike kunste- en boekebedryf, die regte van skrywers, sowel as uitdrukkingsvryheid en persvryheid hier en elders.
 
Op daardie noot sê ons hartlik welkom aan Cliffordene Norton, skrywer van jeugromans, kortverhale en rubrieke, wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het.
 
Uitnodiging na die Afrika-streekvergadering van PEN International se komitee vir jong skrywers


 

Die Afrika-streekvergadering van PEN International se komitee vir jong skrywers (“YWC” – Young Writers Committee) is geskeduleer vir Saterdag 28 Maart van 12:00 – 14:00.
 
Die vergadering sal verteenwoordigers en lede van Afrika-PEN-sentrums en opkomende jong skrywersnetwerke byeenbring om ’n ruimte te skep om te gesels, te koördineer en projekte en inisiatiewe te bespreek en te beplan. Die vergadering het ook ten doel om samewerking tussen PEN-sentrums in Afrika en die YWC te versterk deur geleenthede vir gesamentlike projekte en streeksigbaarheid vir jong skrywers te identifiseer.
 
Tydens die vergadering sal daar oor die nuus, behoeftes en prioriteite van PEN-sentrums en jong skrywers regoor Afrika gepraat word. Daar sal aandag geskenk word aan die literêre en kulturele kontekste en die stand van sake met vryheid van uitdrukking soos dit jong skrywers raak.   
 
Laat weet gerus by penafrikaans@gmail.com as jy die skakel wil ontvang om dit by te woon.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Maart 2026
 
Baie geluk aan ons lede wat in Maart nuwe boeke op die rakke het! Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Hartlik geluk aan Jana Luther met die verskyning van En nog WAT – Uit die woordeskat van Afrikaans.
 
Om die 100ste bestaansjaar van die WAT te herdenk, het sy 100 rubrieke gekies uit die versameling rubrieke wat sy sedert 2018 vir taalliefhebbers skryf.
 
“In haar rubrieke het Jana lesers oor jare bemagtig met nuwe woorde, insig gegee in die betekenis van bestaande woorde, laat gesels oor die moontlike nuwe betekenisse van woorde en uitgedaag om te dink oor die konteks waarin woorde gebruik word. Die publikasie van hierdie bundel in 2026 is ’n belangrike merker in die eeufeesviering van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en ’n beduidende byvoeging tot die bewaring en viering van Afrikaans.” — Johanna van Eeden, Netwerk24
 
Lees hier meer oor die bundel.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans