PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering – aanlyn
Dinsdag 19 Oktober 2021 om 18:00
Ek begin graag, soos gebruiklik, my verslag deur PEN Afrikaans se gelukwensinge oor te dra aan alle skrywers wat sedert die begin van vanjaar bekroon is vir publikasies wat in Afrikaans verskyn het. Ek noem van hulle op:
- Die Hertzogprys vir drama is vanjaar toegeken aan Nicola Hanekom vir In glas.
- Die Eugène Maraisprys vir ’n eerste of tweede bellettristiese werk is toegeken aan Jolyn Phillips vir haar digbundel Bientang.
- Die Tienie Hollowaymedalje vir Kleuterliteratuur is toegeken aan Fanie Viljoen (skrywer) en Tumi K. Steyn (illustreerder) vir Die dag toe die draak kom.
- Die UJ-prys word toegeken aan Willem Anker, vir sy roman Skepsel. Met hierdie uitsonderlike werk het Willem ook die ATKV-Prosaprys en die kykNET-Rapportprys vir Fiksie ingepalm.
- Ryan Pedro ontvang die 2021 UJ-debuutprys vir sy digbundel Pienk ceramic-hondjies.
- Die wenner van NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd is Simoelégri deur Jaco Fouché. Die tweede prys is toegeken aan Die getuienis deur Francois Smith en die derde prys aan Eugene X deur Kirby van der Merwe.
- Die kykNET-Rapport-Filmprys is toegeken aan Sidney Gilroy vir Middernag.
- Die Jan Rabie-Rapportprys gaan aan Anton Roodt vir sy satiriese debuut Weerlose meganika.
- Die kykNET-Rapport-Niefiksieprys is toegeken aan Stephanie Vos en Stephanus Muller (samestellers) vir Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949–1981. Hierdie werk het ook die ATKV-Woordveertjie vir Niefiksie gewen.
Die ander wenners van ATKV-Woordveertjies is soos volg:
- Die Prys vir Spanningslektuur is gewen deur Die versoeking van Thomas Maas deur Chris Karsten.
- Die Prys vir Poësie gaan aan Die meeste sterre is lankal dood deur Johann de Lange.
- Die Prys vir Romanses gaan aan Liefste rooikop deur Elize Davies.
- Die wenner van die Prys vir ’n Liefdesroman is Kanaän deur Sophia Kapp.
- Die wenners van die ATKV-Kinderboektoekennings sluit in Jaco Jacobs vir Moenie die melk vergeet nie en Oupa Zombie; André Trantraal vir Keegan en Samier: Die sokker-fiasko; De Wet Hugo vir Grilgrypers 6: Die geheim van die spookwerf en Fanie Viljoen vir Offers vir die vlieë.
- En les bes, die wenner van South African Book Awards se prys vir fiksie – d.w.s. die boek waarvoor boekhandelaars gestem het – is Deon Meyer se Donkerdrif.
Ons is verheug dat daar erkenning gegee word aan uitnemende boekresensies. Die wenners van vanjaar se kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar is:
- Vir fiksie: Nathan Trantraal vir “Kaaps-debuut systap genre en gender” oor Innie Shadows deur Olivia M. Coetzee
- Vir niefiksie: Deon Maas se “Anton Goosen se eerlikheid is skáárs” oor Anton Goosen: Liedjieboer deur Hanlie Retief
- Vir ’n langer resensie: Charl-Pierre Naudé vir sy LitNet Akademies-resensie-essay oor Die nuwe Afrikaanse prosaboek, saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk.
Veels geluk aan al die wenners!
Ons gelukwensing ook aan Abraham de Vries, wat ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Pretoria ontvang het.
****
Elsa Joubert, wat verlede jaar op 14 Junie oorlede is, sou vandag haar 99ste verjaardag gevier het. Ons dink vanaand weer met waardering aan haar, en bring ook hulde aan die volgende persone wat sedert ons vorige jaarvergadering oorlede is en wie se literêre nalatenskap steeds ons lewens verryk:
- Die geliefde skrywer, vertaler en gewaardeerde lid van PEN Afrikaans, Christine Barkhuizen-Le Roux, is op 18 November verlede jaar oorlede.
- Margot Luyt, een van ons erelede sedert 2016, is op 19 Januarie vanjaar oorlede.
- Die Hertzogpryswenner en uitgewer Petra Müller Grütter is op 25 Junie oorlede. Sy was vyf-en-tagtig jaar oud.
- Die digter Rosa Smit is op 20 Julie aan Covid-verwante oorsake oorlede in die ouderdom van 76.
- Prof. J.C. (Jaap) Steyn, gerekende akademikus en skrywer, is op 6 September in die ouderdom van 83 oorlede.
- Die legendariese dramaturg Pieter Fourie is op 12 September in die ouderdom van 81 oorlede. Hy was een van die mees bekroonde dramaturge in Afrikaans en het in 2003 die Hertzogprys vir drama vir sy oeuvre ontvang. Hy was ook digter en kunste-administrateur.
****
Twee van ons grootste uitdagings, waaroor ek ook in vorige jaarvergaderings verslag gedoen het, bestaan steeds, naamlik die Wysigingswet op Outeursreg en die onregmatige verspreiding van e-boeke. In beide gevalle gaan dit oor intellektuele goedere, wat die kern raak van skrywers se aktiwiteite: Skrywers skep intellektuele goedere, en hulle verdien hul inkomste daaruit.
Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg is steeds ’n bedreiging, en ons besware daarteen bly steeds geldig. Die belangrikste beswaar – en beslis nie die enigste een nie – is dat die Wetsontwerp toelaat dat skrywers se tekste sonder toestemming of vergoeding aangewend kan word vir opvoedkundige gebruik. Oor die afgelope vier jaar het ons bly protesteer d.m.v. voorleggings, briewe, en as lid van die Kopiereg-koalisie van Suid-Afrika. Hoewel president Ramaphosa die Wetsontwerp terugverwys het na die parlement om die problematiese aspekte aan te spreek, is daar steeds baie druk deur diegene wat die huidige weergawe van die Wetsontwerp ondersteun, en die risiko bestaan dat hersienings bloot kosmeties sal wees en die Wetsontwerp nie ingrypend verander word nie. Dus: ons moet waaksaam bly, en hierteen bly saamstaan.
Die verspreiding van roofkopieë van e-boeke bly ’n probleem en het veral verlede jaar aan die begin van die pandemie baie toegeneem. Ons sien ook met sekere sosiale media, veral Telegram, dat daar ’n skrikwekkende gebrek aan respek vir skrywers se intellektuele eiendom is en dat outeurs se werk grootskaals en onwettig versprei word. Ons sal almal – skrywers, uitgewers, lesers, taalwerkers, kortom, almal wat omgee vir boeke, en veral vir Afrikaanse boeke – moet saamstaan om dit stop te sit.
PEN Afrikaans het verlede jaar in April ’n baie goeie bewusmakingsprojek via sosiale media van stapel gesit om saam te val met Wêreldboeke- en kopieregdag. Die inisiatief, waaraan ’n hele klompie skrywers (baie van hulle lede van PEN Afrikaans) deelgeneem het, is uitstekend ontvang en het goeie blootstelling geniet. Ek dink dit was deels weens die positiewe toon van die deelnemers. Vanjaar het ons weer die kollig op kopiereg laat val in ’n kort artikel. Die beskerming van ons skrywers se intellektuele goedere bly egter iets waaraan ons deurlopend aandag moet skenk. Enersyds moet ons die algemene publiek bly opvoed en inlig sodat daar ’n groter bewustheid is van wat kopiereg is, waarom dit belangrik is dat dit gerespekteer word, en wat ’n kopieregoortreding is. Andersyds moet daar opgetree word teen diegene wat hulself moedswillig en met opset skuldig maak aan diefstal van skrywers se kopiereg en skrywers sodoende van hulle inkomste beroof.
****
Die bevordering van diversiteit m.b.t. gepubliseerde Afrikaanse tekste bly ’n prioriteit. Die afgelope jare is daar definitief meer skrywers van kleur wie se werk gepubliseer word, en word ons letterkunde verruim deur die wêrelde wat oopgeskryf word. Dit is ook verblydend dat daar die afgelope paar jaar verskeie sterk debute verskyn het in streeksvariëteite van Afrikaans, wat die Afrikaanse taal en letterkunde verder verryk. Wat ook positief is, is dat die werk by verskillende uitgewerye en drukname verskyn. Verskeie van hierdie skrywers is besig om ’n sterk oeuvre op te bou; sommige skrywers begin ook om internasionaal hulle merk te maak.
M.b.t. die ontwikkeling van nuwe stemme en skrywersontwikkeling in die algemeen doen PEN Afrikaans ook sy deel, op ons eie of in samewerking met vennote. Ons bied die afgelope paar jaar saam met die Jakes Gerwel Stigting ’n skrywersresidensie aan om vir skrywers die geleentheid te bied om vir ’n maand rustig in Somerset-Oos saam met ’n klein groep kollegas aan hulle manuskripte te werk. Baie van hierdie manuskripte is intusssen gepubliseer. Ook via ons aanlyn skryfkursusse verlede jaar en vanjaar glo ons dat ons waardevolle geleenthede aan skrywers kon bied en ’n bydrae kon lewer op die gebied van skrywersontwikkeling.
****
Dit was vir my ’n absolute voorreg om die afgelope ses jaar op die bestuur van hierdie wonderlike organisasie te kon dien – as bestuurslid, ondervoorsitter en sedert Oktober 2017 as voorsitter. Ek bedank my kollegas op die bestuur oor hierdie periode vir hulle wonderlike werk. Hoogtepunte wat vir my uitstaan oor hierdie tydperk is die volgende:
- Die totstandkoming van die PEN Afrikaans Vertaalfonds, met die ondersteuning – finansieel en andersins – van die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Dit is iets waaroor ek ongelooflik dankbaar is, en waarop ons trots is, aangesien dit so belangrik vir Afrikaans as literêre taal en vir Afrikaanse skrywers is dat werk in vertaling verskyn.
- PEN Afrikaans se petisie teen die Wetsontswerp op Outeursreg in 2018. Meer as 3 000 individue (insluitend JM Coetzee, Athol Fugard, John Kani, Marlene van Niekerk, Breyten Breytenbach) en 125 organisasies het die petisie onderteken en dit is verskeie kere genoem in die stryd teen die Wetsontwerp.
- PEN Afrikaans se webwerf is in Desember verlede jaar bekendgestel. LitNet het goedgunstiglik voorheen ons inligting gehuisves, maar ’n eie webwerf is vir PEN Afrikaans noodsaaklik om inligting oor ons werksaamhede te deel, ons inhoud te argiveer en ons sigbaarheid as organisasie te bevorder. https://penafrikaans.org.za/
- Samewerking met die Jakes Gerwel Stigting: Ons samewerking met die Jakes Gerwel Stigting behels skrywersresidensies waarvoor skrywers aansoek doen. Dit is ’n voorreg om met die Stigting saam te werk, en die samewerking het al verskeie publikasies tot gevolg gehad.
****
Ten slotte wil ek soos altyd ons dankbaarheid uitspreek aan die Trust vir Afrikaanse Onderwys vir hulle finansiële ondersteuning wat dit vir ons moontlik maak om ’n aktiewe vereniging met internasionale aansien te wees, en wat die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik maak.
PEN Afrikaans het in die afgelope paar jaar lekker en sinvol met verskeie organisasies saamgewerk. In hierdie konteks wil ek veral dankie sê aan die Jakes Gerwel Stigting, die Woordfees, WOW, die Tuin van Digters en die Kopiereg-koalisie.
Ek bedank graag my kollegas op PEN Afrikaans se bestuur. Dankie aan ons ondervoorsitter, Danie Marais, en ons twee tesouriers, Naomi Bruwer en Izak de Vries, vir hulle harde werk, tyd en ondersteuning. Izak het vanaf Januarie vanjaar by Naomi oorgeneem, nadat sy baie jare lank ons tesourier was. Ons ander bestuurslede – Bernard Odendaal, Carolyn Meads, Charl-Pierre Naudé, Fiona van Kerwel, Izak de Vries, Jolyn Phillips – het almal die afgelope jaar weer eens aktief tot ons projekte bygedra en ek wil vir hulle almal baie dankie sê. Dit was ’n voorreg om met hulle saam te werk, en ek waardeer hulle toewyding, tyd, harde werk en wonderlike gesindheid.
Catrina Wessels, PEN Afrikaans se bestuurder, is PEN Afrikaans se enigste personeellid – en sy doen ’n hele span mense se werk. Groot dank aan haar vir haar werk, kreatiwiteit, inisiatief en deeglikheid. Catrina is vir PEN Afrikaans goud werd.
Laastens: dankie aan die ondersteuning en deelname van ons skrywers. Dankie vir die vertroue wat julle in my gestel het om julle te verteenwoordig. Ek glo en vertrou dat PEN Afrikaans dit in die toekoms toenemend sal regkry om die volle spektrum van Afrikaanse skrywers te verteenwoordig, op ’n sinvolle wyse sal bly bydra tot die belange van alle Afrikaanse skrywers, en as organisasie sal groei om ook sodoende meer te kan vermag.
Met dank
Marga Stoffer