Nuusbrief: April 2026

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Kunsmatige intelligensie: Kommentaar ingewag op Nasionale Konsepbeleid en ’n voorstel vir ’n skrywersberaad
 
Die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë het die Nasionale Konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie (KI) op 10 April gepubliseer. Skriftelike voorleggings oor die KI-beleid word tans ingewag en belanghebbendes moet teen die sperdatum van 10 Junie van hulle laat hoor.  
 
Die bestuur van PEN Afrikaans het reeds besluit dat ons ’n voorlegging sal voorberei en teen die sperdatum indien. Ons nooi graag ons lede om met ons in aanraking te kom oor spesifieke punte wat julle wil oordra of aspekte wat julle wil belig. Kontak ons gerus by penafrikaans@gmail.com.
 
Die konsepbeleid is hier beskikbaar om af te laai. Lees gerus ook hierdie nuusberig oor die publikasie van die wetsontwerp.
 
Gegewe die baie idees en invalshoeke oor KI en skrywerskap, het die PEN-bestuur by ’n afgelope bestuursvergadering voorlopig besluit om ’n afsonderlike projek te loods waardeur ons hoop om ‘n verskeidenheid skrywers se stemme oor KI te laat hoor.
 
Ons wil graag skrywers vra om oor aspekte van KI te besin en te skryf, en ons beoog om die meningstukke by verskillende mediaplatforms te laat verskyn om groter diskoers en besinning hieroor aan te moedig. Kontak ons asseblief indien jy belangstel om ’n stuk vir hierdie reeks te skryf.
 
Die Universiteit van die Vrystaat ken ’n eredoktorsgraad aan Ingrid Winterbach toe
 
Op 15 April 2026 het die Universiteit van die Vrystaat (UV) ’n eredoktorsgraad in letterkunde aan dr. Ingrid Winterbach toegeken, ter erkenning van ’n oeuvre wat deurlopend vorm gee aan hoe Afrikaans gepraat, onthou en ontwikkel word.
 
Die graad is tydens ’n gradeplegtigheidseremonie op die Bloemfontein-kampus toegeken deur visekanselier en rektor, prof. Hester C. Klopper, wat Winterbach beskryf het as ’n skrywer wie se invloed verder as boekrakke strek tot in die kulturele lewe van Suid-Afrika.
 
Haar romans, wat in tale soos Nederlands, Frans en Bulgaars vertaal is, het Afrikaans na internasionale literêre ruimtes geneem. Terselfdertyd bly haar werk gegrond op die teksture van die Suid-Afrikaanse lewe, die teenstrydighede en stiltes daarvan, en die soeke na betekenis daarvan.
 
Baie geluk aan Ingrid Winterbach. Dit is welverdiende erkenning.
 
Sien gerus die volledige aankondiging hier.  
 
Jaco Jacobs vier 300 boeke en 25 jaar as kinderboekskrywer

Die skrywer Jaco Jacobs vier ’n uitsonderlike prestasie waarvoor ons graag hier ‘n hoed lig. Sy 300ste boek verskyn volgende maand!
 
In ’n artikel wat hier beskikbaar is, vertel Jaco:
 
“Ek skryf in die eerste plek om stories te vertel. Kinder- en jeugboeke is my passie, en daarom is verreweg die meeste van my skryfwerk in dié genre. Ek skryf stories oor kinders en jong mense, vir kinders en jong mense. Ek probeer die soort stories skryf wat ek self kleintyd en as tiener graag gelees het – snaakse stories, grillerige stories, avontuurbelaaide stories, stories wat jou vermaak. Ek skryf omdat ek glo stories en gedigte is belangrik, dat dit jou anders na die wêreld kan laat kyk en dat dit ons ’n unieke geleentheid gee om onsself in ander mense se skoene te plaas.”
 
Ons deel graag ook, met toestemming, die teks en foto wat Jaco op Facebook geplaas het ter herdenking van hierdie groot mylpaal. Baie geluk ook aan Miemie du Plessis, die veteraan kinderboekuitgewer met wie Jaco al so lank ’n pad stap.  

 
“Ongeveer 25 jaar gelede het dié neongroen telefoon op ‘n dag gelui. Ek was ‘n student in my derde jaar van ‘n kommunikasiekundegraad en het in ‘n piepklein eenmenswoonstel gebly. Toe ek antwoord, vra die stem aan die ander kant: ‘Wie ís jy, Jaco Jacobs?’ Dit was Miemie du Plessis, ‘n uitgewer aan wie ek ‘n manuskrip vir ‘n kinderboek voorgelê het.
 
Dit is nou 25 jaar later. Volgende maand verskyn my 300ste boek. Kan julle raai wie is die uitgewer?
 
Luister gerus hier na ‘n onderhoud wat Ilse Salzwedel met my vir RSG gevoer het om te gesels oor 25 jaar en 300 boeke. Dit is altyd heerlik om met Ilse te gesels – ek weet nie hoe sy dit regkry om ‘n onderhoud altyd so seepglad te laat vloei nie. https://omny.fm/…/skryw…/skrywers-en-boeke-15-maart-2026
 
Kortlyste aangekondig: Akademiepryse 2026
 
Dit is vanjaar die derde agtereenvolgende jaar dat die kortlyste van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se literêre pryse vooraf bekendgemaak word. Die vier kortlyste vir die 2026-inskrywings is pas aangekondig en weerspieël die rykdom en diversiteit van kontemporêre Afrikaanse skryfwerk.
 
Die SA Akademie se literêre pryse dien as belangrike erkenning van uitnemendheid en as aansporing vir Afrikaanse skrywers om voort te gaan om gehaltewerk in hul moedertaal te lewer. Vanjaar is altesaam 75 inskrywings vir die vier pryse ontvang.
 
Klik hier vir die volledige persverklaring wat die kortlyste insluit.
 
Hartlik geluk aan al die benoemdes!
 
Die wêreld van die skrywer: artikelreeks

 
Baie dankie aan Cliffordene Norton, bekende skrywer van jeugromans en kortverhale, vir die jongste artikel in ons artikelreeks, Die wêreld van die skrywer.
 
Sy deel onder meer daarin:
 
“Ek glo harde werk kan jou lewe verander. En toe ek dapper genoeg was om aan myself te erken ek wil ’n skrywer wees, was dit my plan van aksie: werk hard. Ek het altyd geglo harde werk maak jou ’n beter skrywer.
 
Tot ek nie kon skryf nie.”
 
Lees die artikel hier.
 
Moontlike borgskap van ’n ander lid se ledegeld
 
Fakture vir 2026 se ledegeld is uitgestuur. Baie dankie aan almal wat reeds betaal het!
 
Na aanleiding van ’n voorstel wat tydens ons algemene jaarvergadering van 2024 gemaak is, nooi ons graag vanjaar weer ons lede om die ledegeld te borg van dié lede wat nie hul ledegeld kan bekostig nie. Laat weet ons asseblief by penafrikaans@gmail.com as jy:’n borgskap van R300 beskikbaar sal stel, ofvir so ’n borgskap in aanmerking wil kom. Dit sal as vertroulik hanteer word.
 
Die agtergrond vir hierdie versoek is dat daar enersyds behoeftige skrywers is wat nie die ledegeld kan bekostig nie, en andersyds ook die behoefte is om meer én jonger lede na ons organisasie te trek. Ons nooi ons lede uit om by te dra tot hierdie inisiatief indien jul dit goeddink.
 
Maandelikse resensie-oorsig
 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Maart 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief by penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in April 2026
 
Baie geluk aan ons lede wat in April nuwe boeke op die rakke het! Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte:
– Baie geluk aan Theo Kemp met die skrywersresidensie in Switserland waarvoor hy gekies is. Sien hier meer inligting daaroor.
Ingrid Jones het mees onlangs ons stel #VinnigeVrae in die Taalgenoot beantwoord. Lees die tydskrif hier.
– Die kortlyste vir die Tafelberg-Jeugboekpryse is onlangs aangekondig. Hartlik geluk aan die skrywers wat die kortlyste in twee kategorieë gehaal het! Die finaliste in die kategorie vir lesers 8 tot 12 jaar is Marion Erskine, Aniel Karsten en Brigette Langford. In die kategorie vir tiener- of jongvolwassenemanuskripte vir lesers ouer as 13 jaar is die finaliste: François Bloemhof, Sandy Schoeman en Marita van der Vyver. Die wenners word eersdaags aangekondig.
– Die Suidoosterfees vind van 29 April tot 3 Mei by die Kunstekaap plaas. Klik hier vir die volledige program. Dit sluit oudergewoonte die Jakes Gerwel-gespreksreeks oor ‘n wye verskeidenheid boeke en onderwerpe in.  

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans