![]() |
| Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Wenners aangekondig: Akademiepryse 2026 ![]() Sedert ons vorige nuusbrief het die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die wenners van die gesogte Akademiepryse vir 2026 aangekondig. Hartlik geluk aan almal wat vanjaar met hierdie prestigepryse vereer word! – Die Hertzogprys vir Poësie word toegeken aan Tom Dreyer vir Nou in infrarooi. – Die Eugène Maraisprys vir Poësie word toegeken aan Lynthia Julius vir Kinderlê én toegeken aan Alwyn Roux vir weerskyn. – Die LW Hiemstraprys vir Niefiksie word toegeken aan Bun Booyens vir Troep: die dinge wat hulle saamdra. – Die SA Akademieprys vir vertaalde werk word toegeken aan Naòmi Morgan vir die vertaalde werk Ons wag vir Godot. – Die SA Akademieprys vir Drama word vanjaar toegeken aan die akteur Tobie Cronjé wie se loopbaan oor meer as 50 jaar strek. Dit is een van die SA Akademie se toppryse vir die kunste wat toegeken word vir ’n lewenslange bydrae tot drama in Afrikaans en kan gevolglik ook net eenmalig aan ’n persoon toegeken word. – Die wenners van die Deleen Bekkerprys vir die beste rolprentdraaiboek in Afrikaans is Jason Jacobs en Devon Delmar vir Carissa. Baie geluk aan al die wenners en benoemdes. Die volledige aankondiging is hier beskikbaar: https://www.litnet.co.za/persverklaring-aankondiging-van-die-suid-afrikaanse-akademiepryse-vir-2026/ Wenners aangekondig: LAPA Uitgewers se Jeugromankompetisie 2025 ![]() Die wenboeke vir LAPA Uitgewers se Jeugromankompetisie vir 2025 is op 14 Mei 2026 tydens die eerste toekenningseremonie in etlike jare by die Drostdyteater in Stellenbosch bekendgemaak. Die wenners is soos volg: – 1ste plek: Fanie Viljoen se Die seun met die swaeltjie – 2de plek: Zelda Bezuidenhout se Die Tusseninners – 3de plek: Jacolet van den Berg se Die Fluisteraar Baie geluk! Uitnodiging: Gesprekke met uitgewers PEN Afrikaans nooi graag ons lede en ander belangstellendes om deel te neem aan drie aanlyn byeenkomste waartydens uitgewers van fiksie, niefiksie en kinder- en jeugboeke hul perspektiewe en wenslyste kom deel. In hierdie aanlyn sessies kan skrywers kom wenke kry oor hoe om hul kanse op ’n publikasie-aanbod te vergroot. Hoe lyk ’n goeie manuskripvoorlegging? Watter elemente moet dit bevat? Watter tendense of faktore speel tans ’n noemenswaardige rol in die onderskeie uitgewers se publikasiebesluite? Verskeie uitgewers sal kom saamgesels en daar sal tyd wees om aan hulle vrae te stel. Teken solank die datums aan. Lede van PEN Afrikaans kan hierdie sessies gratis bywoon, terwyl ander belangstellendes teen R100 per sessie kan inskakel. Om jou plek te bespreek by penafrikaans@gmail.com is in beide gevalle belangrik. Nie-lede wat al drie sessies wil bywoon, kan teen dieselfde koste (R300) vir die jaar by PEN Afrikaans aansluit en by die sessies inskakel. Die aansoekvorm is hier beskikbaar: https://penafrikaans.org.za/aansoekvorm/. Meer besonderhede oor die sprekers sal nader aan die tyd gedeel word. Hou gerus ons sosialemedia-platforms daarvoor dop. Die kuns van vertaling: artikelreeks Dit is ’n plesier om hierdie maand ’n nuwe artikel in ons artikelreeks “Die kuns van vertaling” te deel. In hierdie bydrae skryf Adél van den Bergh, MA-student in Vertaling aan die Universiteit Stellenbosch, oor die veranderende rol en agentskap van die vertaler in die era van vertaling deur GKI (generatiewe kunsmatige intelligensie). Die artikel is hier beskikbaar. Baie dankie aan Adél, en aan Pharos Woordeboeke, wat as borg van hierdie artikelreeks verskeie relevante onderwerpe onder ons aandag help bring. New Contrast x Ethics Lab: Oproep vir voorleggings Die literêre joernaal New Contrast, in vennootskap met die Ethics Lab aan die Universiteit van Kaapstad, nooi voorleggings vir ’n spesiale uitgawe uit. Hulle is op soek na nuwe spekulatiewe fiksie, vanuit Afrika, wat worstel met etiese vrae rondom die saamleef met nuwe en toekomende tegnologieë. Skrywers kan tot 15 Julie 2026 voorleggings indien wat oor die volgende temas kan handel: – Afrofuturisme, Afrika-futurisme en Tegnologiese Etiek: Hoe verbeel Afrika-spekulatiewe fiksie toekomste wat deur KI, biotegnologie en kubernetika gevorm word? Wat gebeur wanneer tegnologie nie neutraal is nie, maar aan mag, identiteit en weerstand gekoppel is? Watter soort toekoms ontstaan wanneer hierdie stories vanuit Afrika-perspektiewe vertel word? – Inheemse Kennisstelsels en die Toekoms: Wat as die toekoms nie deur die verlede gevorm word nie, maar daaruit gebou word? Hoe kan voorouerlike wysheid of oerkennis ons begrippe van tegnologie vandag vorm? Hoe kan inheemse benaderings tot kennis en etiek globale diskoers oor outomatisering, biotegnologie en digitale bewussyn herformuleer? – Klimaattoekomste, Solarpunk en Oorlewing: Hoe verbeel skrywers vanuit Afrika die lewe in ’n veranderende klimaat? Hoe lyk oorlewing, aanpassing en weerstand in hierdie toekomste? – Die Liggaam, Verbetering en Identiteit: Soos tegnologieë soos genetiese redigering of neurale inplantings deel van ons lewens word, hoe hervorm dit wat dit beteken om mens te wees? Hoe kan narratiewe vanuit Afrika vrae oor identiteit, outonomie en transformasie ondersoek? Die oproep meld: “Voorleggings hoef nie netjies in enige van hierdie strominge te pas nie. Hierdie vrae is bloot wegspringpunte. Verras ons! Ons stel belang in werk wat risiko’s neem, met vorm speel en iets nuuts verbeel.” Werk kan in Engels, Afrikaans en isiXhosa ingeskryf word, in die volgende genres: fiksie (1 500–3 000 woorde), poësie (tot 3 gedigte per voorlegging), essays en kreatiewe nie-fiksie (1 500–3 000 woorde), kritiese resensies (tot 1 500 woorde), grafiese novelle/strokiesprent (tot 4 bladsye) en illustrasies/kunswerke (tot 3 beelde per voorlegging). Werk wat nie in die bostaande kategorieë val nie, kan steeds ingedien word, tesame met ’n motivering van waarom dit oorweeg behoort te word. Die skakel waar voorleggings ingedien kan word is tesame met die volledige inligting hier beskikbaar: https://www.newcontrast.net/nc-x-ethics-lab/ Nuwe sosialemedia-profiele: Afrikaanse Taalkunde- en Letterkundevereniging (ATLV) Die Afrikaanse Letterkundevereniging, ’n vereniging wat in 1984 gestig is en deur die jare verskeie letterkundiges in die voorsitterstoel gehad het, het in 2025 uitgebrei om akademici en navorsers wat fokus op taalkunde en verwante vakdissiplines, soos opvoedkunde en kultuurstudies, in te sluit. Die vereniging sal steeds tweejaarliks ’n kongres aanbied en kongresbydraes in hul vaktydskrif en mondstuk, Stilet, publiseer. Die agtergrond vir die uitbreiding van die ALV tot die Afrikaanse Taalkunde- en Letterkundevereniging, word in hierdie LitNet-artikel weergegee: https://www.litnet.co.za/nuwe-vakvereniging-vir-afrikaans/ Die ATLV het onlangs nuwe sosialemediablaaie op die been gebring. Besoek gerus hierdie skakels en volg hul blaaie om op hoogte te bly van die ATLV se bedrywighede ter bevordering van die Afrikaanse letterkunde en taalkunde en aanverwante dissiplines: Facebook: https://www.facebook.com/profile.php?id=61573487093692 Instagram: https://www.instagram.com/atlv_afrikaans/ LinkedIn: https://www.linkedin.com/company/afrikaanse-taalkunde-en-letterkundevereniging/ Ons wens die ALTV alles van die beste toe en sien uit om meer oor jul werksaamhede te leer. Wêreldpersvryheidsdag Wêreldpersvryheidsdag is op 3 Mei herdenk en PEN International benut vanjaar dié geleentheid om bewusmaking te skep oor die lot van Oekraïense joernaliste wat deur Russiese owerhede in die Russiese Federasie en in Russies-besette gebiede van Oekraïne aangehou word. PEN eis die onmiddellike en onvoorwaardelike vrylating van alle joernaliste, en moedig die internasionale gemeenskap aan om pogings te verskerp om diegene wat daarvoor verantwoordelik is, aanspreeklik te hou. Ten minste 26 Oekraïense joernaliste bly in aanhouding in die Russiese Federasie en in die Russies-besette gebiede van Oekraïne. Baie staar lang tronkstraf in die gesig op polities gemotiveerde aanklagte, insluitend “terrorisme”, “verraad” of “sabotasie”. Terugvoer van Oekraïense joernaliste wat voorheen uit Russiese aanhouding vrygelaat is, dui op ’n patroon van ernstige menseregteskendings in aanhouding, soos marteling, langdurige aanhouding sonder kontak en mense wat eenvoudig verdwyn. Sulke dade kan neerkom op oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom en vind steeds plaas in ’n klimaat van straffeloosheid. Die risiko’s waarmee joernaliste in Oekraïne te kampe het, strek veel verder as aanhouding. Sedert die begin van die volskaalse inval in Februarie 2022 is ten minste 22 joernaliste en mediawerkers dood terwyl hulle hul professionele pligte uitgevoer het. Ander werk steeds onder uiterste druk, met herhaalde aanvalle op media-infrastruktuur en verminderde toegang tot noodsaaklike hulpbronne wat onafhanklike verslaggewing verder ondermyn. Op Wêreldpersvryheidsdag mobiliseer PEN International sy wêreldwye netwerk om op te tree. Die organisasie doen ’n beroep op sy lede en ondersteuners om hul regerings aan te spoor om die vrylating van joernaliste te verseker, onafhanklike monitering van aanhoudingsomstandighede te verseker, oortreders aanspreeklik te hou en volgehoue ondersteuning aan Oekraïense media te bied. PEN International doen ook ’n beroep op die publiek om in solidariteit te staan met aangehoudene Oekraïense joernaliste deur hul sake te versterk en persvryheid wêreldwyd te verdedig. Terwyl die Russiese Federasie se oorlog teen Oekraïne voortduur, bly die versekering van die veiligheid van joernaliste en die beskerming van onafhanklike verslaggewing noodsaaklik om die publiek se toegang tot inligting te beskerm en fundamentele vryhede te handhaaf. Klik op hierdie skakel vir volledige inligting en aanbevole stappe: https://www.pen-international.org/our-campaigns/world-press-freedom-day-2026 Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in April 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Mei 2026 Baie geluk aan ons lede wat in Mei nuwe boeke op die rakke het! Dit sluit in: Carel van der Merwe, Elsa Winckler, Cas Vos en DeWet Bisschoff. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – Die Nasionale Konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie is herroep nadat dit aan die lig gekom het dat dit, weens die gebruik van kunsmatige intelligensie in die opstel daarvan, verskeie foute bevat. ’n Mens kan dié nuus as verskeie dinge beskryf, soos ’n voorbeeld van bitter ironie, van swak dienslewering, van ’n tragikomiese wending, maar wat duidelik is, is dat die Suid-Afrikaanse samelewing beter verdien as die onbeholpe kortpaaie en onwaarhede wat oor ’n belangrike saak aan ons opgedis is. Wanneer ’n nuwe weergawe beskikbaar is, sal die bestuur van PEN Afrikaans opnuut daaraan aandag skenk. – Op ’n meer positiewe noot: Baie geluk aan die wenners van Jonathan Ball Uitgewers se Tafelberg Jeugboekpryse 2026! In die kategorie vir fiksie vir tieners of jong volwassenes ouer as 13 jaar is die wenner Marita van der Vyver vir Twee halwes maak ’n hele. Die wenner in die kategorie vir kinderboeke vir 8 tot 12-jariges is Brigette Labuschagne vir Bleeksiele kan brul. Die volledige aankondiging is hier beskikbaar. – Hartlik welkom aan Sjaka Septembir en Gareth Davies wat sedert ons vorige nuusbrief by PEN Afrikaans aangesluit het! Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |


