![]() |
| Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Rus in vrede, Bettina Wyngaard (1971 – 2026) Die bestuur van PEN Afrikaans betreur Bettina Wyngaard se afsterwe op 24 Julie as ’n groot verlies. Haar spore loop diep. Ons sal haar onthou vir haar aandeel as bekroonde skrywer, regskenner, kommentator en aktivis – en ook vir haar besonderse bydrae tot PEN Afrikaans. Dit sluit die geskiedkundige Trippel-7-skryfprojek in wat PEN Afrikaans onder Bettina se leiding en met ondersteuning van PEN International in 2016 aangepak het en waaroor Bettina geskryf het: “Sewe dae, sewe dorpe, sewe skrywers, 1 400 km, 174 deelnemers – dis die getalle, maar die syfers vertel net ‘n baie klein deeltjie van die storie. Die kameraderie, die absolute toegewydheid van die Magnificent 7, die entoesiasme waarmee ons oral ontvang is, die talent wat ons sien gedy het, die wete dat ons in daai mense se lewens ‘n verskil kon maak … dit alles sal my nog lank bybly.” (Sien hier: https://penafrikaans.org.za/trippel-7-is-inderdaad-meer-as-gelukkige-nommer/) Kerneels Breytenbach, voormalige voorsitter van PEN Afrikaans wat nóú met Bettina saamgewerk het toe sy op die bestuur en as ondervoorsitter gedien het, deel die volgende herinneringe: “Die bestuur van PEN Afrikaans het uit die staanspoor besef dat ’n behoorlike kommunikasiebasis vir sy lede sou geskep moes word. Ons bevind ons in die digitale era. Naas Steenkamp het voorgestel dat ons ’n dinkskrum hou met Theuns Eloff van die Dagbreektrust, en my aangeraai om iemand te nooi met wie hy in sy sake-omswerwinge te make gehad het: Bettina Wyngaard. Sy had ’n juridiese agtergrond en het vir die Anglikaanse kerk groot klippe uit die pad kon rol. Bettina het ons dinkskrum bygewoon en in die daaropvolgende twee jaar my anker in die stormagtige waters van boekepolitiek geword. Sy was een van ons verteenwoordigers op PEN International se jaarvergadering in Kanada, waar haar Anglikaanse konneksies haar nuwe netwerke kon help bou. Ek sal haar altyd onthou vir haar unieke benadering tot liefdadigheidswerk. Sy het in Grabouw gewoon, en het te hore gekom van die boek-behoeftes van die Dennegeur-skool net om die draai van Liquifruit se fabriek. Sy het ’n groot skenking by ’n weldoener in Tokai bekom, ek het by uitgewers ’n teenprestasie gekry, en so het Dennegeur een Vrydag ’n uitgebreide biblioteek ontvang. Ná ons termyne by PEN Afrikaans verstryk het, het ons samewerking voortgegaan. Sy het begin speurromans skryf, en toe ek gevra is om keurverslae daaroor te skryf, het ek die kans aangegryp. Bettina was in baie opsigte ’n vreeslose mens. Op ’n dag ry sy saam met my van ’n vergadering in Stellenbosch af. By ’n verkeerslig kom klop ’n bedelaar met ’n horrelvoet by my venster. Ek maak die venster oop en gee vir hom ’n paar rand. Net daar betig Bettina my in baie ferm taal. Gee kos, as jy byderhand het, maar nie geld nie. Die bedelaars werk vir ’n sindikaat en sien net ’n klein persentasie van die geld wat hulle kry. En sy gee my ’n uitgebreide uiteensetting van die werk wat sy as juris gedoen het. Ek het Bettina Wyngaard se sagte sy gesien, en haar harde sy. Ek onthou haar met dankbaarheid. Haar dood is in verskeie omgewings ’n groot verlies.” Mercy Kannemeyer, tans voorsitter van PEN Afrikaans, skryf: “Ek is ontsaglik dankbaar vir Bettina wat die weg gebaan het vir vroue soos ek. Vroue wat nie op hulle bek geval is nie. Vroue wat vreesloos by elke deur instap. En vroue wat hul tuiste in Afrikaans kon vind. Onmisbaar. Sag. Al was die wêreld hard. Bettina sal saam met die groot name onthou word. Mag sy in vrede rus.” Hierdie huldiging is ook hier op ons webwerf beskikbaar. Luister gerus ook na hierdie episode van Skrywers en boeke. PEN Afrikaans kondig met trots suksesvolle Vertaalfonds-aansoeke op Vrouedag aan ![]() PEN Afrikaans het met trots op Vrouedag die volgende lot suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds aangekondig. Dit is werke wat die perspektief en belewenis van vroue voorop stel en deur vertalings in Nederlands, Frans en Albanees ook uitvoerprodukte van die (Suid-)Afrikaanse letterkunde word. Die volgende vier vertalings sal na afloop van die jongste ronde aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds gefinansier word: – ’n Nederlandse vertaling van Lady Anne deur Antjie Krog (De Arbeiderspers) – ’n Franse vertaling van Plunder deur Antjie Krog (Cheyne Éditeur) – ’n Nederlandse vertaling van Elisabet se oorlog deur Helene de Kock (Uitgeverij Den Hertog) – ’n Albanese vertaling van Swartval deur Martin Steyn (Ombra GVG) Lady Anne deur Antjie Krog, wat oorspronklik in 1989 verskyn het, het Krog se eerste Hertzogprys aan haar besorg en word steeds as ’n hoogtepunt in haar oeuvre beskou. In haar resensie van dié “uitmuntende bundel” meld Louise Viljoen hoe interessant dit is dat die aktualiteit in die bundel bewerkstellig word deur die gebruik van ’n historiese figuur, Lady Anne Barnard: “Krog gebruik hierdie vrou met haar sonderlinge geskiedenis as reisgenoot terwyl sy haar eie tyd en ruimte, Suid-Afrika vandag, verken.” Sy meld ook hoedat daar gelet kan word op “die wyse waarop die vroue hulleself bevind en maneuvreer binne verskillende magsverhoudinge: tussen heerser en onderdrukte, tussen man en vrou, tussen kunstenaar en kunswerk.” Die blote feit dat Krog ’n vrou as onderwerp van haar postmoderne epos gekies het, maak ’n stelling oor die belangrikheid van geslagskwessies te midde van die stryd om rassegelykheid in Suid-Afrika, meld Viljoen elders. De Arbeiderspers, ’n afdeling van die Nederlandse uitgewersgroep Singel Uitgeverijen, beoog om die Nederlandse vertaling in September 2026 te publiseer. Robert Dorsman, die bekende en gerespekteerde vertaler, wat onder meer onlangs Krog se Binnerym van bloed vertaal het, sal die vertaling saam met Jan van der Haar behartig. Van der Haar en Dorsman het saam al meerdere digbundels van Krog in Nederlands vertaal. Krog se gewildheid en aansien onder Nederlandse lesers blyk ook uit die toekenning van die Gouden Ganzenveer-prys aan haar in 2018. Sy was die eerste nie-Nederlandstalige persoon wat met dié kultuur- en literatuurprys vereer is vir haar uitsonderlike bydrae tot die Nederlandse taal en kultuur. Ook in Frankryk kan lesers na ’n nuwe Krog-publikasie uitsien. Cheyne Éditeur, ’n bekende Franse uitgewery wat in kontemporêre digkuns spesialiseer, het suksesvol aansoek gedoen vir ’n subsidie om Plunder deur Antjie Krog in Frans te vertaal. Georges Lory, wat bekend is as vertaler van onder andere Breyten Breytenbach, Krog en J.M. Coetzee, sal die vertaling behartig en die beoogde publikasiedatum is in Januarie 2027. Plunder het in 2022 verskyn en is tegelykertyd in Engelse vertaling uitgegee as Pillage (vertaal deur Karen Press). In hierdie bundel is die digter haar eie liggaam, ouderdom, familie, taal en ander skrywers se werk treffend aan’t “plunder”. Die bundel verken temas soos sterflikheid en intertekstualiteit en “al die bekende temas van vrouwees” aldus Joan Hambidge. Dit het die UJ-prys sowel as die Hertzogprys verower en is in resensies as ’n kragtoer en as meesterlik beskryf. Elisabet se oorlog deur Helene de Kock sal na verwagting in Oktober 2027 in Nederlandse vertaling by Uitgeverij Den Hertog verskyn. Die roman het in 2021 by Human & Rousseau verskyn en in 2022 aan De Kock ’n ATKV-Woordveertjie besorg. Dit is ’n liefdesroman wat teen die agtergrond van die Tweede Wêreldoorlog vertel hoe die hoofkarakter, Elisabet Uys, teen die sosiale verwagtinge van die dag indruis deur haar verlowing aan ’n welgestelde boer te verbreek en te reis na die oorloggeteisterde Londen. Die roman ondersoek temas soos liefde, onafhanklikheid, identiteit, familie, verlies en oorlog. Elisabet worstel nie net met die werklikheid van oorlog nie, maar ook met haar eie innerlike stryd om vryheid en geluk. Robert Dorsman sal vir die Nederlandse vertaling van hierdie bekroonde roman verantwoordelik wees. Uitgeverij Den Hertog bestaan al meer as 100 jaar en fokus primêr op die Christelike mark. Helene de Kock debuteer in 1978 met Soete dwaling en daar het sedertdien al meer as 50 boeke uit haar pen verskyn. Sy het ook ’n doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Ombra GVG, een van die voorste uitgewers in Albanië, het suksesvol aansoek gedoen vir finansiële ondersteuning om ’n Albanese vertaling van Swartval deur Martin Steyn uit te gee. Dit sal na verwagting in November 2026 verskyn. Die vertaler is Sidita Dano, wat ook Steyn se vorige twee spanningsromans in Albanees vertaal het, sowel as ’n uitgebreide lys boeke deur ander skrywers, insluitend Marita van der Vyver en Jeffrey Archer. Swartval word deur Willie Burger beskryf as ’n “meesleurende verhaal” wat hy verslind het omdat dit “met soveel vaart bly voortsnel en omdat die karakters veelkantiger raak en die leser bly boei.” Dit vertel die storie van die ontvoering en aanhouding van Claire Winters, wat as ontkleedanser werk. “Die boek se stofomslag waarsku dat dit nie vir sensitiewe lesers bedoel is nie. Neem hierdie waarskuwing ernstig op, maar moenie die boek afskryf daaroor nie. Want geweld teenoor vroue, die emosionele aftakeling wat dit meebring en die uitwerking daarvan op ons samelewing en diegene wat die misdade en moorde moet oplos, kan nie genoeg beklemtoon word nie,” skryf Maryke Roberts in haar resensie. Hierdie vertaling dra nie net by tot die verdere toetrede van Afrikaanse spanningsromans tot die internasionale verhoog nie, maar ook tot relevante en nodige gesprekke oor geslagsgebaseerde geweld. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis. Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar. Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/ Hierdie aankondiging is ook op ons webwerf beskikbaar: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-kondig-met-trots-suksesvolle-vertaalfonds-aansoeke-op-vrouedag-aan/ Dankie ook aan AJ Opperman en Netwerk24 vir die beriggewing hieroor: https://www.netwerk24.com/kunste/boeke/boeke-oor-vroue-op-pen-afrikaans-se-vertaallys-20260810-0514 Tuin van Digters 2026 PEN Afrikaans sien uit na die Tuin van Digters-fees wat volgende maand in Wellington plaasvind. Dit is vir ons ’n eer om oudergewoonte ’n paneelbespreking by die fees te kan aanbied en te kan bevestig dat opbetaalde lede van PEN Afrikaans die fees weer gratis mag bywoon, met groot dank aan André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum. Julle name sal op ’n lys by die ingang wees. By voorbaat baie geluk aan Joan Hambidge wat vanjaar by die fees gehuldig sal word en boonop haar sewentigste verjaarsdag daar sal vier. Meer oor die fees: (Die inligting is ook hier beskikbaar.) Digter, skrywer, resensent, essais en akademikus prof. Joan Hambidge word vanjaar by die 15de Tuin van Digters-fees by die Breytenbach Sentrum op Wellington gehuldig. Die fees, alom bekend as die Tuiste van Afrikaanse Digkuns, word van 11 tot 12 September 2026 rondom die tema “Menswaardig” gehou. “Dis ‘n voorreg om prof. Hambidge se verrykende betrokkenheid op soveel terreine van die Afrikaanse digkuns en letterkunde in die kollig te mag plaas. Daarby word sy 70 jaar oud op 11 September vanjaar, toevallig maar baie gepas op die eerste dag van die Tuin van Digters-fees,” vertel André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum. As deel van die huldigingsprogram sal daar onder meer toonsettings van Hambidge se gedigte gehoor kan word. Prof. Karen de Wet van die Universiteit van Johannesburg sal die huldigingsrede lewer. Haar oeuvre strek oor by die 40 publikasies, beginnende met die bundel “Hartskrif” waarmee sy in 1985 gedebuteer het. Dit sluit ook vier romans en die eerste internet-roman in Afrikaans (“Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het”, in 2001) in. Sy het onder meer die Eugene Marais-prys vir haar tweede bundel, “Bitterlemoene” (1986) ontvang, en is vroeër vanjaar vir die Hertzogprys benoem vir haar mees onlangse bundel “Asindeton” (2025). Prof. Hambidge se akademiese loopbaan het in 1980 as dosent aan die destydse Universiteit van die Noorde begin, waarna sy in 1992 by die Universiteit van Kaapstad aangesluit het. Daar het sy onder meer ’n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aangebied as professor in Afrikaanse taal en letterkunde, en is aangestel as genoot van die Hofmeyr-leerstoel. Sy het in 2021 afgetree. Die keuse van “Menswaardig” as vanjaar se feestema, saam met die subtema van “100% handgemaak” is doelbewus “pro-mens” te midde van die kunsmatige intelligensie revolusie. So sê Bibi Slippers, wat vanjaar vir die eerste keer vir die Tuin van Digters-program verantwoordelik is. “Deur gesprekke en ander aanbiedings sal vrae gevra word wat ons denke stimuleer oor wat dit beteken om mens te wees, en hoe digkuns hierdie unieke menslikheid uitdruk en help vorm,” sê sy. Slippers verduidelik dat daar verskeie betekenisse binne die woord “Menswaardig” opgesluit is, wat met vrug ontgin kan word. “Mens” vier alles rondom menslikheid; “waar” spreek tot die strewe en verbintenis tot waarheid, “waardig” dui op die waarde van die geskrewe woord en hoe dit ons tyd en aandag waardig is. “En dan natuurlik “dig”, die digkuns, waaroor die hele fees gaan,” voeg sy by. “Die subtema van “Handgemaak” dui op beliggaamdheid, en die feit dat ons as mense liggame het wat dinge sintuiglik ervaar, en ook ons liggame gebruik om kuns te skep.” Onder die hoogtepunte op die program is die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys. Die prys word beurtelings aan ’n Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Vanjaar sal ’n Engelse digter bekroon word. Benewens die huldigingsprogram aan dr. Hambidge is gesprekke met twee Hertzogpryswenners, Johan Myburg en Tom Dreyer, oor hul jongste bundels reeds bevestig. Daarby sal die Mengelmoesdigters, wat onder leiding van wyle Diana Ferrus ontstaan het, ‘n groepsvoorstelling van gedigte onder die tema “Die stoel langsaan” aanbied rondom temas van herinnering en nalatenskap, behoort en verlies, en die voortbestaan van stemme binne ’n gemeenskap. Kortlyste: Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse ![]() ![]() ![]() ![]() Die kortlyste vir die Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse is pas aangekondig. Dié pryse, wat tans altesaam R1,4 miljoen beloop, word jaarliks toegeken vir Afrikaanse boeke en resensies wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Vyf boekpryse is op die spel: ’n fiksieprys (vir romans), ’n niefiksieprys, die Breyten Breytenbach-prys vir digkuns, die Herman Binge-prys vir ’n werk met filmpotensiaal en die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke. Twee resensiepryse word ook toegeken. “Daar was groot wins vir Afrikaans in 2025,” sê die sameroeper van die pryse, Hettie Scholtz. “Die kruin van vanjaar se inskrywings het getuig van genre-tergende, waagmoedige boeke van besonder hoë literêre gehalte. In elkeen van die kategorieë het die skrywers op die kortlyste met uitsonderlike vakmanskap ritme en kadens uit die taal getoor en dit vernuftig verruim. “By die digkuns was dit veral opvallend hoe aandagtig daar met taal omgegaan is. ’n Verrassing was ook die vars bries van diaspora-letterkunde wat verder bewys lewer dat Afrikaans ’n lewendige taal is wat kan deelneem aan die kontemporêre gesprek in die Suid-Afrikaanse en wêreldletterkunde.” Hartlik geluk aan al die benoemdes! Lees die volledige persverklaring hier. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Julie 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief by penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Augustus 2026 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Erla Diedericks, wie se nuwe roman, Jagspinnekop, tydens die PEN dit neer-residensieprogram in KwaNojoli vorm gekry het. Die publikasielyste kan hierin Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: Baie dankie aan almal wat op 25 Julie die resensiekursus bygewoon het wat PEN Afrikaans in samewerking met die Breytenbach Sentrum aangebied het. Dankie aan die aanbieder, Danie Marais, op wie se kundigheid, insig en entoesiasme ’n mens kan reken, en fasiliteerders Candice Jantjies en Erla Diedericks vir hul waardevolle insette. Dit was ’n lekker en leersame oggend en daar is kopstukke oor resensies gepraat. ![]() Ons “Wat soek die uitgewer?”-gespreksreeks het tot ’n einde gekom. Baie dankie aan die aanbieders en deelnemers vir die verhelderende gesprekke oor die plaaslike uitgewersbedryf en watter praktiese stappe skrywers kan neem om hul kanse op ’n publikasie-aanbod te verbeter. Ons maak in die toekoms hopelik weer so. Lees gerus in die tussentyd die uitgewersonderhoude op LitNet. Annie Olivier het sedert ons vorige nuusbrief die stel vrae beantwoord. Die onderhoud is hier beskikbaar. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |






