![]() |
| Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Jaarverslae en ’n nuwe bestuur: Oor PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering 2025 Baie dankie aan almal wat PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering op 8 Oktober via Zoom bygewoon het. Ons het groot waardering vir julle deelname en betrokkenheid, veral omdat tyd kosbaar is en skedules vol. Dit was goed om soveel van julle aanlyn te sien. Dit het meegebring dat ons byeenkoms ’n behoorlik gekonstitueerde vergadering was, met ’n kworum verteenwoordig, wat die verkiesing van ’n nuwe bestuur kon behartig. Hartlik dankie, ook in hierdie nuusbrief, aan die uittredende bestuur en veral die uittredende voorsitter, Bernard Odendaal, vir uitstekende en onbaatsugtige bydraes oor jare heen. Lees gerus die verslae wat by die algemene jaarvergadering gelewer is, sowel as die notule van die vergadering: Voorsittersverslag Bestuurdersverslag Notule van die vergadering Baie geluk aan die nuutverkose bestuur! Die aankondiging wat ons ná die vergadering versprei het, volg hierná, en is ook hier op ons webwerf beskikbaar. PEN Afrikaans kondig nuwe bestuur aan PEN Afrikaans kondig graag aan dat ’n nuwe bestuur, insluitend ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter, op 8 Oktober tydens die organisasie se algemene jaarvergadering verkies is. Dié ledevergadering, wat aanlyn plaasgevind het, het vir Mercy Kannemeyer en Bibi Burger elk met ’n volstrekte meerderheidstem tot onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van PEN Afrikaans verkies. “Dit is ’n ongelooflike voorreg en eer om as voorsitter verkies te word,” sê Kannemeyer. “Dit is ’n groot taak – en een wat ek nie ligtelik opneem nie. My opregte dank aan die lede wat hulle vertroue in my plaas. Ek sien uit na ’n termyn vol aksie, en toegewydheid tot die woord in al sy vorme.” “Ek besef ek is jonk – ek word amper 31 – maar ek het baie by die uittredende voorsitter, prof. Bernard Odendaal, geleer in my termyn as ondervoorsitter. Ek sien uit daarna om die werk voort te sit! En met hierdie bestuur aan my sy voorsien ek net hoe ons van krag tot krag gaan.” Bibi Burger sê die volgende oor haar verkiesing tot ondervoorsitter: “PEN Afrikaans doen fantastiese werk vir Afrikaanse literatuur en vir literatuur in die algemeen, so dit is vir my ‘n groot eer om as ondervoorsitter verkies te word. Ek is dankbaar en opgewonde om saam met die res van die bestuur te werk.” Die ander verkose bestuurslede is (alfabeties): Annie Olivier Candice Jantjies Erla Diedericks Fiona van Kerwel Izak de Vries Michèle Meyer Ruchelle Lombard Shawna-Leze Meiring Die bestuur dien vir ’n termyn van twee jaar waarná daar weer ’n bestuursverkiesing sal plaasvind. Die uittredende bestuur en voorsitter, Bernard Odendaal, is tydens die jaarvergadering bedank vir hul toegewyde en impakryke diens aan PEN Afrikaans. “Dit was vir my niks minder as ’n eer en ’n voorreg om langer as ’n dekade op die bestuur van PEN Afrikaans te kon dien nie – die afgelope vier jaar in die voorsitterstoel,” het Odendaal tydens die vergadering gesê. “Ek is oortuig daarvan dat die huidige bestuurslede wat hulle bereid verklaar het om voort te dien, sowel as die lede wat hulle beskikbaar verklaar het om tot die bestuur toe te tree, die trotse PEN Afrikaans-vaandel met kundigheid en toewyding die toekoms in sal dra.” Uitnodiging: Marianne Thamm lewer PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid PEN Afrikaans nooi hartlik ons lede, ondersteuners en ander belangstellendes om te kom luister na ons jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrika. Marianne Thamm, die bekende joernalis, analis, skrywer en dramaturg, sal vanjaar se lesing lewer. Dit sal op Saterdag 1 November om 11:00 by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind. Die lesing vorm deel van ’n lesingreeks waarmee PEN Afrikaans in 2023 begin het. Max du Preez het die eerste lesing gelewer in ’n vol saal as deel van die Woordfees se Diskoersprogram daardie jaar. Verlede jaar was die ondersoekende joernalis Karyn Maughan aan die woord tydens die simposium wat PEN Afrikaans by SASNEV in Pinelands aangebied het. ’n Opname van Karyn Maughan se boeiende lesing is hier beskikbaar, terwyl Max du Preez se verhelderende stuk hier te lees is. PEN Afrikaans sien uit na die volgende aflewering in hierdie lesingreeks wat ons laat nadink oor ’n belangrike fokuspunt van ons organisasie en van enige demokrasie wat veelstemmigheid, kritiese denke, en ’n robuuste en vrye openbare diskoers op prys stel, naamlik media- en uitdrukkingsvryheid. Sluit gerus by ons aan. Bywoning is gratis. Wenners: ATKV-Woordveertjies 2025 Die wenners van die ATKV-Woordveertjies is sedert ons vorige nuusbrief aangekondig. Met dié gesogte toekennings wil die ATKV uitnemendheid en kreatiwiteit rondom die Afrikaans woordkuns vereer. Ons sê hartlik geluk aan al die wenners. Dit sluit in: ATKV-Prosaprys: Onrus op Steynshoop – Ingrid Winterbach (Human & Rousseau) Prys vir Poësie: Kinderlê – Lynthia Julius (Queillerie) Prys vir Romanses: ’n Kersfeeskomplikasie – Dina Botha (Romanza) Prys vir Spanningslektuur: Al wat tel – Irma Venter (Tafelberg) Prys vir Niefiksie: Amma – Charmaine Africa (Tafelberg) Prys vir Dramateks: Stinkhout – Philip Rademeyer Wenners: Netwerk24 kykNET Rapport-boekpryse en -resensiepryse 2025 Die gesogte Netwerk24 kykNET Rapport-pryse is aan die einde van September toegeken. Altesaam vyf boekpryse en twee resensiepryse met ’n totale prysgeld van R1,4 miljoen was op die spel. Daar is sewe pryswenners aangewys vir skryfwerk wat gedurende 2024 verskyn het. Dit sluit in: Nathan Trantraal en sy ma, Charmaine Africa. Trantraal het die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke ontvang vir sy grafiese roman Die man wattie kinnes vang, terwyl Africa vanjaar se niefiksieprys wen met haar memoir Amma. Die hooffiksieprys is gewen deur Ingrid Winterbach vir haar roman Onrus op Steynshoop, terwyl Danie Marais die eerste Breyten Breytenbach-prys vir digkuns ontvang het vir sy bundel Ek en jy bestaan nie. Die werk met die meeste filmpotensiaal was PJO Jonker se debuutroman Die Onsigbare. Vanjaar se wenners van die Netwerk24 kykNET Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar is: – Fiksie: Paul Kammies: “Nathan Trantraal se graphic novel oo hoe Bruin seuns ’n wound asse gift gegie is” oor Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal, in Klyntji, 15 Julie 2024. – Niefiksie: Willie Burger: “Daar is nie iets soos ’n ‘mooi dood’ nie” oor Sing, Mamma, sing deur Theresa Papenfus in Plus 50, Junie/Julie 2024. PEN Afrikaans wens almal hartlik geluk toe en ons is verheug om van ons lede en onlangse bestuurslede se name hier te sien. Baie geluk aan een en elk! Lees die volledige persverklaring hier. ’n Gesamentlike verklaring van PEN Afrikaans en PEN South Africa oor staatsbefondsing van kunstefeeste Ons deel hier ’n verklaring wat PEN Afrikaans saam met PEN South Africa uitgereik het en nooi julle graag uit om dit op sosiale media te deel of via e-pos onder minister Gayton McKenzie se aandag te bring, indien julle daarmee saamstem. Luister gerus ook hier na ’n onderhoud met Cornelia Faasen, die uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaans Teater-inisiatief, oor staatsbefondsing van die kunste. Faasen is saam met Christo van der Rheede (KKNK se voorsitter), professor Siphiwo Mahala (National Arts Festival se voorsitter) en Peter Tladi (die stigter van die Joy of Jazz-fees) aangewys as die woordvoerders van ’n groepering feeste wat met die minister in gesprek probeer tree oor hierdie belangrike aangeleentheid. Ons staan in solidariteit met hul pogings en hul saak. Die 91ste internasionale PEN-kongres: ’n Verslag deur Mercy Kannemeyer “Die 91ste kongres van PEN International het vanjaar vanaf 2 – 5 September in Kraków, Pole plaasgevind. Onder die tema “Freedom of Words, Words of the Free” het afgevaardigdes van PEN-sentrums regoor die wêreld by die ICE Kraków Kongressentrum byeengekom vir vier dae van besprekings, beplanning, verkiesings, drome vir die pad vorentoe en gedeelde solidariteit,” skryf Mercy Kannemeyer in haar verslag oor vanjaar se internasionale PEN-kongres. Sy en Fiona van Kerwel het PEN Afrikaans daar verteenwoordig. Lees gerus Mercy se volledige verslag hier. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in September 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Oktober 2025 Baie geluk aan ons lede wat in Oktober nuwe boeke op die rakke het. Dit sluit in: Irma Venter, Fanie Viljoen en Rudie van Rensburg. Ons is saam bly oor die nuwe pennevrugte. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: Hartlik welkom aan Shane van der Hoven en Shawna-Leze Meiring wat sedert ons vorige nuusbrief by ons aangesluit het. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |
