Uitnodiging: Marianne Thamm lewer PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid

PEN Afrikaans nooi ons lede, ondersteuners en ander belangstellendes om te kom luister na ons jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrika.

Marianne Thamm, die bekende joernalis, analis, skrywer en dramaturg, sal vanjaar se lesing lewer. Dit sal op Saterdag 1 November om 11:00 by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasvind. 

Die lesing vorm deel van ’n lesingreeks waarmee PEN Afrikaans in 2023 begin het. Max du Preez het die eerste lesing gelewer in ’n vol saal as deel van die Woordfees se Diskoersprogram daardie jaar. Verlede jaar was die ondersoekende joernalis, Karyn Maughan, aan die woord tydens die simposium wat PEN Afrikaans by SASNEV in Pinelands aangebied het. 

“By PEN Afrikaans sien ons uit na die volgende aflewering in hierdie lesingreeks wat ons laat nadink oor ’n belangrike fokuspunt van ons organisasie en van enige demokrasie wat veelstemmigheid, kritiese denke, en ’n robuuste en vrye openbare diskoers op prys stel, naamlik media- en uitdrukkingsvryheid,” sê Catrina Wessels, bestuurder van PEN Afrikaans.

“Vir ons by die Breytenbach Sentrum sluit hierdie lesing mooi aan by die gees waarin die sentrum gestig is,” sê André Terblanché, bestuurder van die Breytenbach Sentrum. “Soos Breyten Breytenbach dit gestel het, gaan dit hier oor uitdagende skepping – ’n ware transformasieproses waar deelname, dialoog en deelwórd die kern vorm. Uitdagende skepping is egter nie moontlik sonder uitdrukkingsvryheid nie; die moontlikheid van ’n beter en meer verdraagsame toekoms berus juis op die vrymoedige uitruil van nuwe idees, beskouings en moontlikhede oor deelname. Ons sien hierdie geleentheid as nog ’n manier om kritiese denke en ongesensureerde uitdrukking te vier en te bevorder.”

Belangstellendes is hartlik welkom. Bywoning is gratis, maar ons sal dit waardeer as julle RSVP na penafrikaans@gmail.com indien julle die lesing wil bywoon, sodat ons getalle kan dophou.