Algemene jaarvergadering 2025: Bestuurder se verslag

Bestuurdersverslag gelewer by PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering (8 Oktober 2025 | 18:00 via Zoom)

Inleidend

Om te kan terugkyk op nog ’n jaar saam met PEN Afrikaans is ’n voorreg en ’n eer. Dit is ’n organisasie wat sy lede, soos ek, en sy bestuurslede na aan die hart lê. Die bestuurslede is almal vrywilligers wat hul tyd en kundigheid te midde van baie ander persoonlike én professionele verpligtinge afstaan ter wille van die bevordering van die Afrikaanse skryfkuns in allerlei sfere.

Hierdie jaarverslag is dus ’n tyd vir dankie sê en vir ’n hoed lig aan ons lede, bestuurslede en befondsers wat ons werksaamhede moontlik maak. Wat die befondsing betref, is dit in die eerste instansie die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis wat met hul ruim finansiële ondersteuning PEN Afrikaans se bedryfsuitgawes dek en ook die bestaan van die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik maak en só die Afrikaanse letterkunde in die buiteland bevorder. Baie dankie, soos altyd, aan die Trust vir hul wonderlike ondersteuning.

Ek bedank ook ons uittredende bestuur en veral ons voorsitter, Bernard Odendaal, wat dié rol met soveel deeglikheid, kundigheid, onbaatsugtigheid en finesse oor die afgelope twee bestuurstermyne vervul het. Hy is ’n staatmaker en ’n raakvatter. Dankie, Bernard.

Dieselfde geld vir ons tesourier Izak de Vries, wat altyd gereed staan om te help en wat deurgaans ’n klomp werk namens PEN Afrikaans verrig.

Vergun my asseblief om nog een ander uittredende bestuurslid uit te sonder: Danie Marais, ’n voormalige bestuurder en ondervoorsitter van PEN Afrikaans en ’n bestuurslid wie se insette en diens oor jare ’n groot bydrae gelewer het tot die vestiging en groei van PEN Afrikaans. Dankie, Danie. Ons sal jou mis, maar sal jou gelukkig nog onder ons lede kan tel. Baie dankie ook aan die res van die bestuur. Dit was ’n plesier om met julle saam te werk.

Wat ons hier vir en in Afrikaans doen, is belangrik.

Plaaslik het die Afrikaanse Taalraad se peiling oor die stand van Afrikaans onlangs aangetoon dat daar ’n afwaartse neiging in min of meer al die taaldomeine is waarop hulle gefokus het, in sommige meer opvallend as in ander. Die kunste- en boekewêreld is van die sfere waarin Afrikaans nog sterk blyk te staan. Is dit wel die geval? En, indien wel, vir hoe lank kan dit aanhou terwyl die aantal Afrikaanssprekendes en Afrikaanslesendes krimp? Ons beplan om in die toekoms ’n gesprek te reël waarin ons van naderby kyk na hoe dit met Afrikaanse boekebedryf gaan. Dit sal met verwysing na marktendense en die Taalraad se bevindings geskied. Hou gerus ons nuusbriewe daaroor dop.

Ons kyk ook wyer

Tog is PEN se werksaamhede nie net op ons eie taal en ons eie letterkunde gemik nie. Die PEN-handves wat elke lid onderskryf wanneer hy of sy deel van dié organisasie word, kyk juis verder en verklaar onder meer dat letterkunde geen grense eerbiedig nie en in weerwil van politieke of internasionale woelinge gemeengoed tussen mense moet bly.  

Verder: PEN-lede behoort te alle tye die invloed tot hul beskikking te gebruik om goeie begrip en onderlinge respek tussen volkere te bevorder; hulle onderneem om hul uiterste bes te doen om rasse-, klasse- en nasionale haat te besweer, en om die ideaal van een mensdom wat in vrede in een wêreld woon, na te streef.

Hierdie ideaal voel tans baie ver weg gegewe die aaklige dinge wat in die wêreld aan die gang is. Daar is oorloë en ellende. Daar is algehele verwoesting en grootskaalse lewensverlies in Gasa. Kenners bevestig dit is ’n volksmoord wat voor ons oë op sosiale media en in ander dekking afspeel. Onverdraagsaamheid en polarisasie vier hoogty. Daar is sluipmoorde. Daar is grootskaalse verbanning van boeke in Amerika, wat tog ’n oop en vry samelewing behoort te wees.  

In ’n wêreld vol geweld, sensuur en onderdrukking, raak die rol en belang van ’n organisasie soos PEN al hoe belangriker. In ’n wêreld waarin empatie ontbreek, raak die rol van letterkunde al hoe belangriker.

Ons nooi julle om saam met ons te dink oor PEN Afrikaans se rol en potensiaal in hierdie land en in hierdie wêreld waarin ons leef.   

Werksaamhede

In ons werksaamhede vanjaar het ons weer op die plaaslike sowel as die internasionale probeer fokus. Dit is vir PEN Afrikaans ’n saak van erns om Afrikaanse skrywers en skryfwerk in internasionale verband te kan verteenwoordig en bevorder.

’n Konkrete vergestalting hiervan is die bywoning van die internasionale PEN-kongres, waarna Bernard in sy verslag verwys het en waaroor Mercy sal verslag doen in ons nuusbrief. Dan is daar ook die vertalings wat deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds word en waardeur die Afrikaan letterkunde in die buiteland bevorder word. Vroeër vanjaar se sluitingsdatum het die volgende drie suksesvolle aansoeke opgelewer:

  • ’n Nederlandse vertaling van Binnerym van bloed deur Antjie Krog (De Arbeiderspers)
  • ’n Italiaanse vertaling van Die swye van Mario Salviati deur Etienne van Heerden (CH3 Press)
  • ’n Albanese vertaling van Jungu Josh: Die goue kalbas deur Constant van Graan (Ombra GVG)

Die volgende sluitingsdatum vir aansoeke is 15 November en ons sien uit om te sien watter aansoeke daardie ronde oplewer.  

Omdat ons met die geskrewe woord gemoeid is, is dit ook vir ons lekker om voort te gaan met artikelreekse en onderhoudreekse wat op Afrikaanse skrywers en hul werk fokus.

Ons artikelreeks Die wêreld van die skrywer het vanjaar voortgegaan. Nathan Trantraal, Keith Oliver Lewis en Gerda Taljaard het vanjaar se artikels tot dusver gelewer.

Nathan Trantraal het ’n persoonlike essay geskryf oor grafiese romans en die skep van sulke meer visuele tekste, terwyl Keith Oliver Lewis besin het oor erkennings, invloede en inspirasie in die skryfproses, met verwysing na die gedig waarmee hy ons gedigtekompetisie ter viering van Afrikaans Amptelik 100 gewen het, naamlik: “my taal, no ghap”. Mees onlangs het Gerda Taljaard se besinning oor gotiese elemente in die Afrikaanse letterkunde verskyn. Besoek gerus ons webwerf om hierdie boeiende artikels te lees.  

Ons het ook ’n onderhoudreeks in Taalgenoot genaamd “Vinnige vrae”. In elke aflewering kry ’n ander lid van PEN Afrikaans kans om ’n stel vrae te beantwoord oor hul skryfwerk, werkswyse, belangstellings, ensovoorts. Hierdeur leer ken lesers nie net die betrokke skrywer beter nie, maar die antwoorde bevat dikwels ook brokkies goeie raad en perspektief aan jong of voornemende skrywers. Die geliefde en produktiewe skrywers Anzil Kulsen, Elsa Winckler en Fanie Viljoen was sover vanjaar aan die beurt.

By die afgelope Tuin van Digters-fees het PEN Afrikaans ’n paneelbespreking oor die feestema “wanatoe” gehou, en deelnemers gevra om te besin oor die toekoms van die Afrikaanse poësie, met spesiale aandag aan nuwe wisselwerkings en temas en stemme wat die digkuns vorentoe dra. Die gehoor kon luister na insette en gedigte van ’n wonderlike paneel wat met Danie Marais in gesprek getree het, naamlik Diana Ferrus, Keith Oliver Lewis, Ryan Pedro, Klara du Plessis en Alwyn Roux.

Nog ’n fokuspunt was die afsluiting van die Kyk hoe ver het ons gekom-skryfkompetisies wat PEN Afrikaans aangebied het om ’n honderd jaar van Afrikaans as amptelike taal te vier. Ons betuig ons dank teenoor alle deelnemers, die waardige wenners, die kundige beoordelaarspanele en die borg, Kruger Internasionaal, wat dit moontlik gemaak.

Van ’n skryfkompetisie na ’n skrywersresidensie: Opbetaalde lede van PEN Afrikaans kon weer vanjaar aansoek doen om in die Jakes Gerwel Stigting se Paulethuis tuis te gaan om aan ’n goedgekeurde skryfprojek te werk. Jolyn Phillips en Erla Diedericks het suksesvol aansoek gedoen om PEN Afrikaans se twee plekke in die huis te vul, en daar was ook deelname van PEN South Africa en van ’n Noorweegse skrywersvereniging wat aan PEN Noorweë verbonde is. Die doel van die groter samewerking met ander PEN-sentrums is om meer wisselwerking, blootstelling en literêre kruisbestuiwing onder deelnemers te probeer aanmoedig, wat ook tot die plaaslike skrywers se voordeel strek. Die Jakes Gerwel Stigting maak hierdie residensie moontlik en ons sê baie dankie aan hulle vir die wonderlike geleentheid.

Soos Bernard genoem het, was ’n groot gebeurtenis vanjaar dat die Konstitusionele Hof die saak oor die grondwetlikheid van bepalings van die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg aangehoor het. Tans is PEN Afrikaans betrokke by gesprekke oor die volgende, strategiese stappe rondom die Wysigingswetsontwerp. Hierdie fase staan los van die regsaak, waarvan die uitspraak moontlik hierdie jaar nog sal kom. PEN Afrikaans sal aanhou deelneem en saampraat as verteenwoordiger van die skrywersgemeenskap, ’n groep wat direk deur ons land se kopieregregime geraak word.

PEN Afrikaans gaan voort met ’n maandelikse nuusbrief, resensie-oorsig en die bywerking van ons webwerf, sosialemedia-platforms en ons portaal op LitNet. Ons nuusbrief sluit altyd ’n lys in van die Afrikaanse boeke wat daardie maand verskyn en word gekombineer met relevante nuus rakende, onder meer, ons aktiwiteite, die breër letterkundetoneel, die toekenning van literêre pryse, die uitgewerswese, taalpolitiek, persvryheid en sensuur.

In die vooruitsig

Die volgende werksaamhede is nog in die vooruitsig:

  • Ons jaarlikse lesing oor die stand van uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrikaanse. Die skrywer, kommentator en ondersoekende joernalis, Marianne Thamm, sal vanjaar se lesing lewer en wel op Saterdag 1 November om 11:00 by die Breytenbach Sentrum. Ons nooi alle lede en belangstellendes om by ons aan te sluit hiervoor.  

Ons beoog ook groter samewerking met die Breytenbach Sentrum aan ander projekte, en het die moontlikheid genoem om ’n resensiekursus daar aan te bied. Ons ondersoek ook die moontlikheid van ’n aanlyn gespreksreeks oor vertaling in samewerking met PEN South Africa.

Verder is daar potensiaal vir nuwe projekte in Namibië, soos slypskole, gesprekke en voorleesbyeenkomste. Een van ons lede, Francois Lötter, ’n oudjoernalis en voormalige bestuurder van die Breytenbach Sentrum, het laat weet dat hy bereid is om vir ons ’n verteenwoordiger daar te wees, en dit is iets wat ek graag hier aan ons lede noem en voorstel dat die nuwe, verkose bestuur verder bespreek.

  • Nog iets wat in die pyplyn is vir volgende jaar, is ’n opwindende aanlyn werkswinkel van PEN Afrikaans en PEN Nederland waartydens jong skrywers touwys gemaak sal word oor die skep en publiseer van digitale “zines”. Die idee is dat die sessie en die skryfwerk wat daaruit voortvloei, op interessante en kreatiewe maniere sal fokus op die koloniale geskiedenis en bande tussen Nederland en Suid-Afrika en hoe dit in die onderskeie letterkundes neerslag vind.
  • PEN Afrikaans sal tydens die Toyota US Woordfees (11 – 19 Oktober) nogmaals ’n WOW-slypskool vir hoërskoolleerders aanbied, wat vanjaar spesifiek op die skryf van opstelle sal fokus, asook ’n spesiale opleidingsessie met Afrikaans-onderwysers wat in samewerking met die WOW-projek en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement aangebied sal word. Ons sien uit daarna en sê dankie vir die geleentheid aan Woorde Open Wêrelde, hier verteenwoordig deur Fiona van Kerwel wat ook op ons bestuur dien.  

WOW is ook ons vennoot in die aanbied van Die onsigbare kind-projek waarmee ons al ’n aantal jare besig is. Vir hierdie projek het ons ’n Moemin-storie in Afrikaans en isiXhosa laat vertaal, in boekvorm uitgegee, en by skole aangebied om met leerders die temas te behandel en hul lees- en skryfvaardighede ’n hupstoot te gee. Ons aanbieding van die projek is so positief ontvang dat Fiona van Kerwel op PEN International se uitnodiging ook na die internasionale kongres gegaan het om ander PEN-kollegas te gaan vertel hoe ons dit aangepak het.

Dit is vir PEN Afrikaans belangrik om ook jong skrywers en lesers met ons werksaamhede te bereik. Baie dankie aan Mercy Kannemeyer wat ons sentrum verteenwoordig op PEN International se nuutgestigte Young Writers Committee.

By ons algemene jaarvergadering van verlede jaar was daar die voorstel dat bestaande lede voortaan die keuse kan hê om ’n ekstra persoon se ledegeld te betaal om sodoende ’n jong, opkomende skrywer se ledegeld te borg. Ek is bly om te sê dat ons vanjaar dit geïmplementeer het en reeds ’n paar nuwe lede op dié manier kon verwelkom, danksy die ruim bydraes deur ons ander lede.

Ons is ’n lede-organisasie en ons wil ’n inklusiewe en dinamiese organisasie wees wat met ons projekte sinvol bydra tot die bevordering van die Afrikaanse skryfkuns.

Ek sê baie dankie aan julle almal wat deurlopend daartoe bydra.

Catrina Wessels