Voorsittersverslag: Algemene jaarvergadering (aanlyn) op 8 Oktober 2025

- Inleidende oorsig
Dit was weer eens ’n jaar vol projekte en aktiwiteite vir PEN Afrikaans.
Soos in vorige jare kan ek ook sê dat ons werksaamhede klaarblyklik iets is waarop PEN Afrikaans trots kan wees. Ons ondervoorsitter, Mercy Kannemeyer, kon, soos verlede jaar, na aanleiding van ervarings by PEN International se jaarlikse hoofkongres, getuig van die kennelike agting wat PEN Afrikaans geniet by die hoofbestuur van dié organisasie asook by afgevaardigdes van ander PEN-sentra. Die komplimente wat sy en haar mede-afgevaardigde van PEN Afrikaans, Fiona van Kerwel, ontvang het, betref die sukses van projekte soos ons ondersteuning van inisiatiewe om Afrikaanse boeke in ander tale vertaal en gepubliseer te kry, Die Onsigbare Kind-projek (’n leesprojek waarvan Catrina en ons mede-bestuurslid Fiona van Kerwel aan die stuur van sake staan), en die verantwoordelike, stimulerende bestuur van ons PEN-sentrum.
Iets van hierdie agting spreek uit die feit dat Mercy aangewys is as tussentydse sekretaresse van PEN International se Young Writers Committee – maar ook dat daar by die kongres gepraat is oor die moontlikheid om die PEN International-kongres van 2027 in Suid-Afrika te laat plaasvind, met PEN South Africa en PEN Afrikaans as gesamentlike gasheerinstansies.
Al dié blyke van agting kom elkeen van ons bestuurslede toe, asook elkeen van u wat as lede van PEN Afrikaans ons bedrywighede moontlik maak. Sonder die bydraes van elke bestuurslid, met ons bestuurder Catrina Wessels en ons tesourier Izak de Vries as die bedrywigste van al ons bestuurslui, sou ek nie bostaande dinge kon noem nie.
En ek het tot dusver maar net die oortjies van die seekoei van wat PEN Afrikaans se bedrywighede als behels, vermeld. Oor die verskeidenheid daarvan sal u net hierna meer by Catrina en Izak hoor. Betreffende spesifiek vanjaar wil ek graag nog die seepgladde afhandeling noem van die kortverhaal- en gedigkompetisie wat as bydrae tot die Afrikaans Amptelik 100-vieringe deur ons geloods is. Drie instansies het dié projek vir ons help moontlik maak: die beleggingsmaatskappy Kruger Internasionaal as ruimhartige borg, asook die webtuistes LitNet en Versindaba, wat ruimte vir die publikasie van onderskeidelik die gekeurde kortverhaal- en gediginskrywings beskikbaar gestel het. U ken reeds die uitslae van die twee kompetisies. Tog wil ek weer die drie wenners in elke kategorie noem:
Kortverhale
- Eerste plek: “Bargoens” deur Gerda Taljaard
- Tweede plek: “Al die voëls het neste begin” deur Charl-Pierre Naudé
- Derde plek: “En vergewe ons ons wonde” deur Mercia S Burger
Gedigte
- Eerste plek: “my taal, no ghap” deur Keith Oliver Lewis
- Tweede plek: “evolusie” deur Gerda Taljaard
- Derde plek: “’n oorsprong” deur Ilse van Staden
Opvallend was ook weer bestuurslede se talle optredes by kunste- en literatuurfeeste, boekbekendstellings, skryf- en lees-bevordering-geleenthede, en dergelike. Soos ’n groot aantal ánder lede van PEN Afrikaans. Ons kan die genoemde pluimpies van PEN International in die hoede steek van almal in ons geledere wat op eiesoortige wyses bydra tot die energieke beoefening en viering van die Afrikaanse lettere en breër kunste- en geesteslewe.
- Skrywer- en joernaliskollegas wat ons in 2025 ontval het
PEN Afrikaans gedenk met hartseer, maar terselfdertyd met dankbaarheid en bewondering vir hulle loopbaanbydraes, die volgende skrywer- en joernaliskollegas wat ons sedert ons vorige algemene jaarvergadering op 16 November 2024 ontval het:
- Breyten Breytenbach, wêreldklas digter, skrywer, visuele kunstenaar en denker wat in velerlei opsigte ’n monumentale kulturele bydrae gelewer het, heengegaan op 24 November verlede jaar;
- Joha van Dyk, bekend as jeugverhaalskrywer, op 2 Februarie vanjaar (sy het in 2023 verskyn in PEN Afrikaans se reeks video’s oor skryf en lees);
- Athol Fugard, op 8 Maart in die ouderdom van 92 – ’n reus van die Suid-Afrikaanse teaterwêreld wat ons verloor het;
- Johann de Lange, herhaaldelik bekroonde Afrikaanse digter, bloemleser, kritikus en kortverhaalskrywer, op 27 Maart;
- in Aprilmaand Crystal-Donna Roberts, bekend as aktrise, aanbieder en skrywer (ook sy het in daardie 2023-reeks video’s van ons oor skryf en lees opgetree);
- Pienkes du Plessis, oorlede op 19 Mei, ’n getroue PEN Afrikaans-lid wat as skrywer veral met sy humoristiese jagstories bekendheid verwerf het;
- op 24 Junie Johan Bakkes, ’n sonderlinge skrywer, reisiger en ’n vriend vir vele;
- op 30 Julie die veelsydige Pirow Bekker, veral bekend as digter en kortverhaalskrywer;
- op 6 Augustus Madelein Rust, ’n geliefde mens en skrywer, wat jare lank moedig met terminale kanker voluit bly voortleef en -skryf het;
- laastens, op 23 Augustus, Wilhelm Jordaan, ’n geliefde en gerekende figuur in die joernalistiek (veral as rubriekskrywer) en in die akademie, maar ook as gepubliseerde digter en skrywer.
- Literêre pryswenners
Aan die blyenuuskant van die munt is die ryke oes aan Afrikaanse boek- en resensiepryse – digby dertig van hulle – wat weer vanjaar toegeken kon word. Sulke toekennings getuig, op klinkklare wyse, van die lewenskragtigheid wat die Afrikaanse literatuur- en joernalistieksisteme bly kenmerk.
In PEN Afrikaans se gereelde maandelikse nuusbriewe word die besonderhede van sulke toekennings vermeld, en ek gaan hulle dus nie hier lys nie. Ingrid Winterbach, met haar roman Onrus op Steynhoop, Gaireyah Fredericks met haar verhaalbundel Een voet innie kabr en Charmaine Africa met haar niefiksiewerk Amma is uit te sonder daarvoor dat hulle werke herhaaldelik bekroon is:
- Winterbach met die Universiteit van Johannesburg-prys vir ’n fiksiewerk, die ATKV-Woordveertjie vir Prosa én die kykNET-Rapport-prys vir Fiksie;
- Fredericks met sowel die Universiteit van Johannesburg as die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se pryse vir debuutwerke (laasgenoemde bekend as die Eugène Marais-prys) – vir die genoemde boek, waaraan sy gewerk het tydens die Jakes Gerwel Stigting se “PEN dit neer”-skrywersresidensie in samewerking met PEN Afrikaans; en
- Africa met sowel die ATKV- as die kykNET-Rapport-pryse vir Niefiksie.
Daarby sonder ek graag ook die bekroning uit van die werk van twee van ons bestuurlede, naamlik met prestigeryke Afrikaanse poësiepryse:
- Lynthia Julius wat met haar bundel Kinderlê die ATKV-Woordveertjie vir Poësie ingeoes het, en
- Danie Marais wat beloon is met Netwerk24/kykNET/Rapport se Breyten Breytenbach-prys vir Digkuns vir sy bundel ek en jy bestaan nie.
Ons hartlike gelukwense gaan aan al dié genoemde én ongenoemde prystoekenningontvangers!
- Standpuntinnames m.b.t. wat PEN Afrikaans voorstaan
Die kulturele posisie van Afrikaans, die ideale daarvoor (spesifiek as literêre en joernalistieke instrument) en die regte en waardigheid van Afrikaanse skrywers, uitgewers, literatore en joernaliste is aspekte waarvoor PEN Afrikaans hom uitgesproke beywer.
Vandaar dat die sluiting van die koerante Volksblad en Beeld, en die besluit verlede jaar om die Sondagblad Rapport in die toekoms slegs aanlyn beskikbaar te maak vir intekenaars, deur PEN Afrikaans uitgesonder is as ontwikkelings wat baie betreurenswaardig is. Vanjaar moes die droewe nuus volg dat die laaste uitgawe van Vrye Weekblad op 28 Maart sou verskyn. In ’n verklaring is ook dié ontwikkeling deur PEN Afrikaans as ’n enorme verarming van die Afrikaanse medialandskap en ’n gevoelige slag vir die openbare diskoers getipeer.
Sedert verlede jaar is ’n groot gebeurtenis in die hersiening van ons land se kopieregwetgewing op die aktualiteitsagenda – ’n hersiening wat die regte en oorlewingskrag van sowel skrywers en uitgewers ernstig bedreig. Die protesaksie teen die aanvaarding van sodanige wetgewingshersiening is nie net finansieel deur PEN Afrikaans ondersteun nie, maar ook by wyse van ’n petisie wat ons opgestel het en wat wyd gedeel is. Intussen is ’n uiters bekwame regspan onder leiding van die intellektuele goedereregsfirma Adams & Adams op die been gebring – ’n span wat deurbrake behaal het wat daarop uitgeloop het dat die saak oor dié wetswysigingsontwerp op 21 en 22 Mei vanjaar voor die Konstitusionele Hof verskyn het. PEN Afrikaans is een van ’n groep belanghebbendes wat, in samewerking met die Adams & Adams-regspan, as ’n amicus curiae of “vriend van die hof” tot die saak toegelaat is.
Dit is maar die derde keer dat ’n wetsontwerp op hierdie manier voor die Konstitusionele Hof beland het. Ons wag op die uitspraak van die Konstitusionele Hof en hoop dat bepaalde dele van die wetsontwerp ongrondwetlik bevind sal word.
Uiteraard gaan die voorbereiding en deelname aan so ’n kritieke, tegniese en omvangryke hofsaak met aansienlike regskoste gepaard – en PEN Afrikaans het reeds bygedra wat ons as organisasie kon. ’n Uitnodiging is wel gerig aan ons lede en ondersteuners om as individue tot die Konstitusionele Hof-regskoste by te dra – en oor die reaksie daarop is ons besonder dankbaar.
Maar ook die welsyn en vryheid van skrywers, uitgewers en joernaliste elders in die wêreld gaan PEN Afrikaans aan. Vandaar dat die bestuur van PEN Afrikaans besluit het om onlangse verklarings te ondersteun wat deur PEN International uitgereik is oor die konflik in Gasa, iets wat toenemend as ’n volksmoordsituasie aldaar bestempel word.
In ’n opvolgverklaring is die volgehoue aanvalle op joernaliste wat vanuit Gasa verslag doen, en wat neerkom op die mees ekstreme vorm van sensuur, ten sterkste deur die bestuur van PEN Afrikaans veroordeel. Ons oordeel dat hierdie joernaliste, die getuies wat eerstehands nuus oor die voortslepende volksmoord in Gasa waarneem en rugbaar maak, sistematies verwyder en gewelddadig vernietig word. Die koerant The Guardian het berig dat, volgens Gasa se mediakantoor, 237 joernaliste sedert Oktober 2023 daar gedood is, terwyl die Komitee vir die Beskerming van Joernaliste, ’n onafhanklike Amerikaanse organisasie, die getal gevalle joernaliste aldaar op 186 stel. Dit is in die openbare belang dat joernaliste vrylik en veilig oor oorloë en konflikte moet kan verslag doen. Daarom veroordeel PEN Afrikaans die aanvalle op die joernaliste ten sterkste.
In soortgelyke lig moet die verklaring gesien word waarin PEN Afrikaans die onlangse sluipmoord op die onkreukbare regspraktisyn en toegewyde landsburger Bouwer van Niekerk betreur en veroordeel het. Die moord op Van Niekerk is voorafgegaan deur soortgelyke brutale aanvalle, waarvan ons lede via die mediadekking daaroor weldeeglik kennis geneem het. Sulke moorde verteenwoordig onses insiens laakbare aanvalle op ’n grondwetlike demokrasie waarin korrupsie geen plek behoort te hê nie en waarin regspraktisyns, geregsdienaars, joernaliste, skrywers en fluitjieblasers sonder vrees vir vergelding en geweld hul werk moet kan doen om sulke vergrype aan die kaak te stel. Bouwer van Niekerk was die seun van professor Anton van Niekerk, ’n gereelde rubriekskrywer, afgetrede professor van filosofie by die Universiteit van Stellenbosch, en ’n getroue en gewaardeerde lid van PEN Afrikaans.
- Ter afsluiting
Dit was vir my niks minder as ’n eer en ’n voorreg om langer as ’n dekade op die bestuur van PEN Afrikaans te kon dien nie – die afgelope vier jaar in die voorsitterstoel. Ek is oortuig daarvan dat die huidige bestuurslede wat hulle bereid verklaar het om voort te dien, sowel as die lede wat hulle beskikbaar verklaar het om tot die bestuur toe te tree, die trotse PEN Afrikaans-vaandel met kundigheid en toewyding die toekoms in sal dra.
Met opregte dank en beste wense!
B.J. (Bernard) Odendaal
Bestuursvoorsitter: PEN Afrikaans