Algemene jaarvergadering 2026: Voorsittersverslag

Gelewer deur Mercy Kannemeyer op 14 Oktober 2026

Dit was ’n bedrywige en betekenisvolle jaar vir PEN Afrikaans, en vir Afrikaans in haar geheel. Ons het groot stemme verloor, sewe vertaalprojekte na die wêreld gestuur, ons stem laat hoor oor uitdrukkingsvryheid en kunsbeleid, en skrywers op baie maniere ondersteun. Hieronder volg die hoogtepunte van die jaar.

In memoriam

Die jaar het hartseer afgeskop met dr. Diana Ferrus (1953–2026) se afsterwe op 30 Januarie. Sy was ’n baanbreker van die Afrikaanse letterkunde en ’n mentor vir menigte. Sy was deur die jare by verskeie PEN Afrikaans-projekte betrokke: ons Internasionale Moedertaaldag-viering, paneelbesprekings by die Tuin van Digters en die Trippel 7-projek in die Noord-Kaap. Haar nalatenskap leef voort in die Mengelmoesdigters, wat onder haar leiding ontstaan het.

Op 24 Julie het ons ook afskeid geneem van Bettina Wyngaard, bekroonde skrywer, regskenner, kommentator en aktivis. Bettina was ook ’n voormalige ondervoorsitter van PEN Afrikaans.

Ruan Fourie het ook vanjaar afgesterf. Die jong digter se eerste bundel ’n Ope brief aan Dorian Grey het in 2017 verskyn.

Onlangs het ons ook afskeid geneem van Linda Rode. Linda was ’n skrywer, vertaler en samesteller van kinderboeke. Ons sal haar onthou vir haar kundigheid en warm menslikheid.

PEN Afrikaans Vertaalfonds

Die Vertaalfonds, moontlik gemaak deur die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis, is steeds een van ons trotste prestasies. Hierdie jaar is sewe vertalings in twee rondtes goedgekeur, oor genres en tale heen:

WerkTaalUitgewerVerwagte publikasie
Moerbeibos, Dalene MattheeArabiesMahrousa PublishingNovember 2026
’n Keur uit Charl-Pierre Naudé se poësieDuitsEdition RugerupMaart 2026
Moordvis, Irna van ZylBulgaarsAvianaSeptember 2026
Lady Anne, Antjie KrogNederlandsDe ArbeiderspersSeptember 2026
Plunder, Antjie KrogFransCheyne ÉditeurJanuarie 2027
Elisabet se oorlog, Helene de KockNederlandsUitgeverij Den HertogOktober 2027
Swartval, Martin SteynAlbaneesOmbra GVGNovember 2026

Die laaste vier is op Vrouedag aangekondig, met die klem op werke wat vroue se perspektief en belewenis voorop stel.

Uitdrukkingsvryheid, beleid en regte van skrywers

Dit is die kern van ons mandaat, en ons het opgetree waar dit nodig was:

  • Venesiese Biënnale: Op 13 Januarie het PEN South Africa en PEN Afrikaans ’n gesamentlike verklaring uitgereik oor minister Gayton McKenzie se kansellasie van Suid-Afrika se inskrywing (Gabrielle Goliath se Elegy). Ons het dit as sensuur en deel van ’n patroon van politieke ingryping in die kunste bestempel en ons steun vir die kunstenaar en kurator uitgespreek. Regstappe is aan die gang.
  • Kunsmatige intelligensie: Die bestuur het besluit om ’n voorlegging oor die Nasionale Konsepbeleid oor KI voor te berei. Die beleid is later herroep omdat dit weens KI-gebruik in die opstel daarvan, foute bevat het, ’n ironie wat nie verlore gegaan het nie. Ons sal aandag skenk wanneer ’n nuwe weergawe verskyn.
  • Outeursreg: Die Konstitusionele Hof het op 26 Junie uitspraak gelewer oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg. Die hof het erken dat kopiereg teen arbitrêre onteiening beskerm word en een uitsondering ten gunste van opvoedkundige inrigtings ongrondwetlik bevind. Baie ander vrae bly egter oop, en die wetsontwerp keer terug na die parlement.
  • Internasionale solidariteit: Ons het PEN International se veldtogte rondom Wêreldpersvryheidsdag (veral m.b.t. die aangehoude Oekraïense joernaliste) en die “Proof of Life”-veldtog vir die minstens 12 Eritrese skrywers en joernaliste wat sedert 2001 verdwyn het, ondersteun. Ons het lede genooi om die petisie en ope brief te onderteken.
  • Jaarlikse lesing: Lourensa Eckard het op 29 September via Zoom PEN Afrikaans se lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid, gelewer. Dit was vanjaar vir die eerste keer aanlyn en vir almal toeganklik. Dit was werklik ’n inspirerende en broodnodige lesing. Dit het ons herinner aan die krag van die woord, en dat daar nog talle joernaliste daar buite is wat die goeie stryd stry.

Ook die breër mediaklimaat het ons bekommer: die sluiting van Showmax en die kansellasie van Kelders van geheime maak werk in Afrikaans vir vervaardigers al moeiliker. Op ’n positiewe noot het die nuwe weeklikse koerant Die Papier in Maart verskyn.

Programme vir skrywers en lede

  • PEN dit neer-residensie: Ses skrywers, onder wie ons lid Jan van Tonder, het van 30 April tot 10 Mei by die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in KwaNojoli tuisgegaan, in samewerking met PEN South Africa en PEN Eritrea. Erla Diedericks se nuwe roman Jagspinnekop het tydens die PEN dit neer-residensieprogram in KwaNojoli vorm gekry.
  • Gesprekke met uitgewers: Drie aanlyn sessies (fiksie op 11 Junie, niefiksie op 9 Julie en kinder- en jeugboeke op 6 Augustus) het skrywers wenke gegee oor manuskripvoorlegging en uitgewers se besluite.
  • Resensiekursus: Op 25 Julie het ons vir die eerste keer sedert 2018 weer ’n kursus in lewende lywe by die Breytenbachsentrum aangebied.  Danie Marais was die aanbieder. Erla Diedericks en Candice Jantjies het hom as fasiliteerders bygestaan. Drie beurse vir gratis bywoning is verskaf.
  • Artikelreekse: “Die kuns van vertaling”, met ondersteuning van Pharos Woordeboeke, het bydraes van onder meer Maret Blom de Wet, Adél van den Bergh en Eben Venter opgelewer. In “Die wêreld van die skrywer” het onder andere Cliffordene Norton en Marita van der Vyver vir ons geskryf.
  • Maandelikse resensie-oorsig: Ons het dit elke maand bygehou as ’n digitale oorsig van Afrikaanse resensies en boekgesprekke.

Feeste en sigbaarheid

PEN Afrikaans het ook vanjaar by die belangrikste feeste ’n rol gespeel:

  • Tuin van Digters (11–12 September, Wellington): Die 15de fees het onder die tema “Menswaardig” plaasgevind. Prof. Joan Hambidge was die feesdigter op haar sewentigste verjaarsdag. Ons het ’n paneelbespreking, Ek’t ons’t, aangebied, en dit was ’n groot sukses.
  • Toyota Stellenbosch Woordfees: Ons het ’n spesiale skryfhoekie by die Woordfees gehad onder die naam Skrywersrus.  Ons het ook weer ondersteuning gebied vir die Woordfeeskortverhaalbundel Dis hoog tyd, wat uit ’n rekordgetal van 488 inskrywings saamgestel is. Baie geluk aan Keith Lewis Oliver wat as vanjaar se wenner aangewys is. Ons was ook betrokke by die WOW slypskole. Dankie aan Fiona van Kerwel wat dinge by WOW laat woeker.

Erkenning vir Afrikaanse skrywers

Ons het saam met die skrywersgemeenskap gevier. En om maar enkele hoogtepunte uit te lig:

  • Dr. Ingrid Winterbach se eredoktorsgraad in letterkunde van die Universiteit van die Vrystaat (15 April).
  • Jaco Jacobs se 300ste boek en 25 jaar as kinderboekskrywer.
  • Jana Luther se En nog WAT, wat die 100ste bestaansjaar van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal herdenk.
  • Die Akademiepryse-wenners, waaronder Tom Dreyer (Hertzogprys vir Poësie) en Tobie Cronjé (Akademieprys vir Drama).
  • Die wenners van die Tafelberg Jeugboekpryse en van LAPA Uitgewers se Jeugromankompetisie.
  • Die kortlyste vir die Netwerk24 kykNET Rapport Boekpryse, wat vanjaar R1,4 miljoen beloop.

Slot

Namens die bestuur dank ek ons lede, ons vennote (die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis, die Jakes Gerwel Stigting, Pharos Woordeboeke, die Breytenbach Sentrum, LitNet en PEN International) en elkeen wat bydra om hierdie woning met baie kamers, soos PEN Afrikaans, te laat bly leef.