Die nasionale brein het suurstof nodig, en joernaliste is die rooibloedselle – Max du Preez

Die gevestigde edik dat die media altyd ‘binne hoorafstand’ van hulle gehoor moet wees, is die resep vir confirmation bias en onkunde, het MAX DU PREEZ op 10 Oktober in PEN Afrikaans se eerste van ’n lesingreeks oor uitdrukkingsvryheid by die Woordfees gesê. Hier is ’n verkorte verwerking van sy lesing.

Ek sit verlede Saterdag voor my televisiestel en probeer vasstel wat presies in Israel en Gaza aangaan.

Ek het CNN, BBC World, Sky News en Al Jazeera tot my beskikking vir regstreekse nuus uit die konflikgebied.

Ek spring maar tussen die kanale rond, want elkeen verteenwoordig die land waarin dit gevestig is en elkeen het sy eie agenda en vooroordele.

Die aanbieders en verslaggewers is almal professioneel en doen hulle bes om objektief oor te kom. Maar hier is die probleem: CNN, BBC en Sky vra die Amerikaanse en Europese politici, militêre kenners en akademici vir hulle ontleding en skakel oor na hulle verslaggewers in Israel. Die onderburgemeester van Joodse Jerusalem kry sommer 20 minute, want sy is fotogenies en kan goed Engels praat. Die kanale kry selfs gewone Israeli’s via Zoom in die hande.

Maar jy moet Al Jazeera toe gaan vir die menings van politici en kenners uit die Midde-Ooste, en hulle verslaggewers is nie net in Israel nie, maar in Gaza, die Wesoewer en Jerusalem. Wanneer hulle Zoom-onderhoude doen, is dit met mense wat in Gaza vasgekeer is, of met akademici uit die Arabiese wêreld en met afvalliges uit Israel.

Terwyl die Al Jazeera-joernalis Youmna ElSayed regstreeks op lug was, is die Palestina Tower-gebou reg agter haar deur ’n Israelse missiel getref.

Ek het toe meestal by Al Jazeera gehou, maar dan moes ek deurentyd onthou dat Al Jazeera in Qatar gevestig is. Qatar is nie ’n demokrasie nie; dit is ’n Arabiese monargie. Qatar het boonop historiese bande met Hamas.

So, die vraag is nie of die aanbieders van CNN, BBC en Sky en inderdaad Al Jazeera met hulle mooi hare en spierwit tande professioneel optree nie, die vraag is of hulle buite hulle eie dampkring kan dink. Hulle lees die goed gestruktureerde sinne bekwaam van die autocue af, maar wie is die mense aan wie se menings en ontledings hulle my blootstel?

Bevestigingsvooroordeel

Dit is nie ’n vreemde verskynsel in die media nie, allermins hier by ons in Suid-Afrika.

As iets nuuswaardigs gebeur, sal PowerFM, byvoorbeeld, of Newzroom Afrika of Sowetan die ANC of die EFF-politici en swart akademici se menings gaan opsoek. RSG of Afrikaanse koerante sal hulle onmiddellik na Solidariteit of AfriForum wend, of na die DA of Vryheidsfront Plus of Afrikaanssprekende kenners en akademici, meestal wit.

Dit is die confirmation bias in aksie – bevestigingsvooroordeel.

Soms gaan dit oor taal, wat my laat dink aan die Britse buitelandse korrespondent Edward Behr se vertelling van ’n TV-verslaggewer wat in 1964 in die Kongo aan ’n groep mishandelde Belgiese nonne geskreeu het: “Anyone here been raped and speaks English?”

Maar eintlik gaan dit oor ’n ander verskynsel, iets wat Afrikaanse mediakollegas oor die jare telkemale aan my opgedis het en inderdaad nog ’n doktrine by veral Afrikaanse media is: Jy moet binne “hoorafstand” van jou lesers en kykers en luisteraars bly.

In teorie is dit tog ’n goeie idee: Moenie jou primêre constituency vervreem nie; moenie goed aan jou publiek opdis wat hulle laat wegloop nie. Dit is heeltemal verstaanbaar dat ’n Afrikaanse Sondagkoerant week in en week uit bal-vir-bal-kommentaar op die liefdeslewe en geestes- en fisieke gesondheid van die oud-rugbyspeler Derick Hougaard gaan verskaf en City Press dieselfde met die socialite Khanyi Mbau doen.

Maar weg van celebrities, sport en vermaak af, is dit ’n dodelike doktrine. Dit is die resep vir bevestigingsvooroordeel, vir onkunde en misverstand.

Ons as joernaliste se taak is nie om net vir die publiek te sê wat hulle graag wil hoor nie, maar wat ons werk op die grond vir ons sê hulle behoort te weet.

Ons is nie net beroepsmense nie; ons is aktiviste vir ’n gesonde, ingeligte openbare mening, die hartklop van demokrasie. As dit jou nie geval nie, word ’n maatskappywoordvoerder of gaan doen PR.

Ons is soos die dokters in die trauma-eenheid van ’n staatshospitaal, nie soos plastiese chirurge of dermatoloë in privaat praktyk nie.

’n Nuwe stem word gebore

Ek het my joernalistieke loopbaan by Die Burger begin en was kort daarna ’n lid van die begin-redaksie van Beeld. Dit was ’n goeie leerskool en aanvanklik ’n lekker ervaring, maar nadat ek parlement toe en later Namibië toe gestuur is met die aankoms van die VN in ons ou kolonie, het dit gou versuur.

Ek het net agt jaar lank kon uithou, en daar was wedersydse verligting toe ek in 1982 bedank het. Ek kon maar net nie, ek wóú maar net nie binne hoorafstand van “my mense” en van die Nasionale Party, die Broederbond, die NG Kerk en die generaals bly nie.

My pad het toe via die Financial Mail en Sunday Times na Business Day geloop, maar ek was nie van my kroniese siekte genees nie: Ek kon maar weer net nie binne hoorafstand van die lesers – meestal Engelssprekende kapitaliste en kwasi-liberaliste – bly nie.

Die breuk het gekom toe ek deel van Van Zyl Slabbert se inisiatief in 1987 was om ’n simboliese ontmoeting tussen die ANC leierskap-in-ballingskap en Afrikaanse meningsvormers in Dakar te reël as ’n poging om ’n klimaat vir ’n onderhandelde skikking te bevorder.

Dit was die skerp negatiewe reaksie van die Suid-Afrikaanse koerante, veral die Afrikaanses, op die inisiatief wat daartoe gelei het dat Slabbert en Beyers Naudé my langs die swembad van ons hotel in die snikhete Ouagadougou uitgedaag het om ’n onafhanklike Afrikaanse koerant te stig.

Só is Vrye Weekblad in 1988 gebore. “Die Nuwe Stem vir ’n Nuwe Suid-Afrika” het ons verklaar, lánk voor “die Nuwe Suid-Afrika” ’n gonswoord geword het. Ons motto was: “Ons steek niks weg nie.”

As ek nou terugkyk op die ses jaar wat Vrye Weekblad die gedrukte koerant oorleef het, glo ek die bydrae wat ons met kultuur en kuns en taal gemaak het, groter was as met die politiek. Met mense soos oorlede Andrea Vinassa, oorlede Ryk Hattingh en alles-behalwe-oorlede Chris du Plessis aan die stuur het ons letterlik vir die eerste keer in Afrikaans wêreldgehalte-kopie oor kuns en musiek en kulturele tendense gepubliseer: Afrikaans en Suid-Afrikaans, maar ook internasionaal. Dit was in die bedompige 1980’s en vroeë 1990’s ’n ietwat vreemde konsep dat Afrikaners ook wêreldburgers kan wees. Ons loslittigheid, baanbrekende bladontwerp en gebruik van Afrikaans sonder ’n borstrok was pionierswerk.

Maar ja, dit was ’n politieke koerant met ’n politieke missie. Ons rolmodelle was Don Quixote, die gonzo-joernalis Hunter S. Thomson en Ché Guevara, met Jopie Fourie op die side.

Ons politiek was onbeskaamd anti-apartheid, pro-bevryding, pro-demokrasie en pro-menseregte – nou nie juis hoe ek die heersende gees onder veral wit Afrikaanssprekendes in daardie stadium sou beskryf nie.

’n Leidende Afrikaanse verligte van daardie tyd, ná 1994 en steeds naby aan die ANC, het my kom sien. Julle skrik mense af met julle radikaliteit, was die boodskap. Julle gaan veel verder kom as julle suiker om die pil sit, as julle eerder rondom die Demokratiese Party mobiliseer. Die Afrikaners is nie reg vir julle boodskap nie. Julle is nie binne hoorafstand van julle mense nie.

My ou kollega Tinus Horn het ’n skildery gemaak wat dit goed uitbeeld: Ek staan poedelnakend daar onder die Vrye Weekblad-mashoof met net ’n groot pen in my hande wat my skaamte bedek, en die skildery heet: Moordbende Episode 396. Week ná week is ons voorblaaie gedomineer deur stories oor politieke moorde, vergiftigings, ontvoerings, marteling, dirty tricks en aanhouding sonder verhoor. Nie aangename leesstof oor jou Post Toasties nie.

Ons keuse was om eerder vrede te maak met ’n kleiner leserskorps en knaende bankrotskap as om die waarheid verder te verdoesel of te versuiker. Condonation through soft condemnation. Dit was ’n kritieke oomblik in ons geskiedenis, ’n tyd dat die volle werklikheid van apartheid ontbloot en geboekstaaf word. Dit was ons taak om uit te wys wat in die land aangaan sodat niemand agterna kan sê: Maar ons het nie geweet nie.

Spoiler alert: Hulle het dit toe anyway gesê. Maar toe FW de Klerk ná sy verskyning voor die Waarheidskommissie weereens op ’n internasionale perskonferensie verklaar dat hy nie van Vlakplaas en die BSB geweet het nie, kon ek opstaan en voor al die kameras vir hom sê: Meneer, ons het dan al die inligting en beëdigde verklarings by jou persoonlik laat aflewer; ek en Van Zyl Slabbert het jou in jou kantoor kom sien en vertel van Dirk Coetzee, Eugene de Kock, Lothar Neethling, Ferdi Barnard, Eddie Webb, Wouter Basson, Calla Botha, Staal Burger, Joe Mamasela en ander.

Dr. Mengele en Die Hofsaak

Vir dié wat nie weet nie: Ons einde is bewerkstellig deur apartheid se eie Dr. Mengele, genl. Lothar Neethling, hoof van die polisie se forensiese afdeling. Ons het onthul dat hy gifstowwe en doepas voorberei het om anti-apartheidaktiviste te vermoor of te verdoof. Hy het ons vir laster gedagvaar en regter Johann Kriegler het in ons guns bevind, maar die ouballies van die appèlhof het besluit hulle weet nie wie om te glo nie en Kriegler se beslissing omgedraai. Ons het toe vir Neethling R90 000 en die staat miljoene aan regskoste geskuld, en moes in Februarie 1994 ons deure sluit. Ons weet almal nou ná al die getuienis voor die Waarheidskommissie dat ons beriggewing 100% korrek was.

Daar is iets poëties daaraan dat die ergste sondes en vergrype van die apartheidstaat deur Afrikaanse joernaliste in Afrikaans oopgevlek is. Dalk was dit die hoë prys werd wat ons moes betaal.

In 2018 het die mediahuis Arena Holdings my gevra om Vrye Weekblad as deel van hulle stal te laat herleef. Ek was teësinnig, want ek het ’n rustige, kreatiewe lewe gehad en ek en my bankbestuurder was vir ’n verandering goeie vriende. Maar die ou Calvinisme het aan my geknaag, en die idee was aantreklik: 24 jaar ná bevryding was daar maar min progressiewe stemme in Afrikaans oor; die Afrikaanse media se bui was dat die land ’n mislukte staat word en dat net die Solidariteit Beweging en die DA dit kan red. En Media24 se nuusmonopolie is ongesond, het ek gevoel.

Die voordeel wat Vrye Weekblad 2.0 gehad het, was dat ons nie apartheidbagasie gehad het nie. Ons kon op die reputasie en prestige van die oorspronklike koerant bou en ons kon met groter vryheid en legitimiteit vir skoon en effektiewe regering veg en Afrikaans se saak stel.

Egskeiding

Die huwelik tussen ons en Arena was nie ’n harmonieuse een nie. Hulle het gedink hulle gaan geld uit die Boere maak; ons was weer daarop gefokus om die hoorafstand tussen ons en Afrikaanse lesers ’n bietjie te rek; om gehalte-joernalistiek te pleeg eerder as om wins na te jaag; om die verlammende swartgalligheid te temper; om konstitusionalisme te onderskraag.

Presies ’n jaar gelede dié week het ons Suid-Afrikaanse sakelui met diep sakke gekry om ons te finansier, en toe het Vrye Weekblad begin blom: Vrye Weekblad 3.0. Vandag is dit ’n lewensvatbare onderneming met ’n invloedryke teenwoordigheid en ’n baie lojale en groeiende leserskorps. Ons gaan aan binnekort ’n betaalmuur in werking stel en ons hoop om binne twee jaar daarna gelyk te breek.

Ons sal altyd ’n Afrikaanse karakter hê, maar ons is nou ook volledig in Engels beskikbaar, en ons Engelstalige leserstal groei baie vinnig.

Natuurlik is daar plek vir Media24 se Afrikaanse publikasies, selfs vir Solidariteit se Maroela Media. Maar daar is ook beslis ’n plek vir ’n koerant vir meer kieskeurige Afrikaanse lesers; vir ’n blad wat nie oor celebrities en gister se skokkende misdaad of sosiale skandale skryf nie; wat kan vermaak én serebraal prikkel; wat nie net op die Afrikaanse ervaringswêreld fokus nie.

Daar is ’n ryk geskiedenis van dié soort publikasies in die Weste wat naas die tabloids en daaglikse nuuskoerante bestaan, en daar is geen rede waarom Suid-Afrika en Afrikaans dit nie ook moet hê nie: The New Yorker, Vrij Nederland, The Atlantic, Mother Jones, De Groene Amsterdammer, Politico, Rolling Stone, The Spectator, De Correspondent, The New Statesman en vele meer.

Ek verwag nie dat Die Burger of Beeld of Rapport of Maroela Media profiele oor mbaqanga-musikante of restaurantresensies oor die shisa nyama in Kayamandi moet plaas nie, maar hulle moet darem sorg dat hulle lesers weet wat mbaqanga en shisa nyama is. Hulle kan gerus Steve Hofmeyr en Karlien van Jaarsveld se wel en wee volg, maar wit Afrikaanse lesers behoort darem ook te weet van die bestaan van Cassper Nyovest en Black Coffee.

En vir elke Kallie Kriel, Helen Zille en Flip Buys is daar ’n Mcebisi Ndletyana, ’n Njabulo Ndebele en ’n Songezo Zibi wat vir ’n mening of ontleding gevra kan word.

Jy kan binne “hoorafstand van jou mense” bly en terselfdertyd sorg dat jou lesers en luisteraars regtig weet wat in die land en in die verskillende gemeenskappe aangaan.

’n Redakteur kan in sy of haar redaksionele kommentaar gerus maar binne hoorafstand van die lesers bly, maar die verslaggewing moet op die feite, al die feite, fokus. En van kritieke belang is dat die media stemme en menings van buite die eie taal- of ideologiese kring moet reflekteer.

So een maal ’n week straf ek myself en lees die kommentare onderaan Netwerk24, News24 en Maroela, ook Daily Maverick en Politicsweb. Die onkunde, kleinsieligheid en bevooroordeeldheid is absoluut verstommend.

Is dít die mense van wie ons binne hoorafstand moet bly?

Nog ’n vraag: Hoe is dit dat dié soort dom, reaksionêre twak nie ook in Vrye Weekblad se kommentaarseksie voorkom nie?

Gee die brein genoeg suurstof

Ons in Suid-Afrika het die vryste media op die vasteland, en wat ons Grondwet en wetgewing betref, is ons van die vryste in die wêreld. Dit is, saam met ons onafhanklike regbank, die sterkste pilaar van ons demokrasie en oop gemeenskap.

Ons joernaliste is die rooibloedselle van die nasionale liggaam. Ons moet sorg dat die brein genoeg suurstof kry en ons moet infeksies beveg.

Ek sou wou byvoeg dat ek nie glo dat ons daardie vryheid ten volle benut nie. Ons klein span ondersoekende joernaliste in Suid-Afrika is van die beste in die hele wêreld, maar die res van ons grawe nie diep genoeg nie; ons is nie energiek en verkennend genoeg nie; die spieëls wat ons vir ons publiek ophou om hulle self en hulle omgewing gereflekteer te sien, is nie groot en helder genoeg nie.

Ons moet almal veel meer doen as om net binne hoorafstand van ons eie mense te wees.

Te veel van ons dink ons het ons werk gedoen as ons daagliks uitwys hoe vrot die ANC en die regering is en hoe ons land ’n mislukte staat aan’t word is. Vrot regering = vrot land = vrot nasie.

Daar is hopeloos te min wat die ongelooflike, bruisende energie in die burgerlike samelewing weerspieël, die vele aksies van weerstand teen misbruik, korrupsie en armoede en van self inspring en mobiliseer, van mekaar help.

Ons lewe in ’n uiters opwindende tyd in ons land, maar ons in die media wil eintlik net vir ons publiek sê hoe neerdrukkend en vervalle dit alles is.

Die media-akademikus Lizette Rabie doen met reg ’n oproep op Suid-Afrikaanse media om meer op “konstruktiewe joernalistiek” te fokus.

Ons by Vrye Weekblad neem ons voor om voortaan in die komende 10 jaar heelwat meer konstruktief te wees eerder as om net die verval te dokumenteer.

****

Die lesing is ook hier op Vrye Weekblad beskikbaar:

https://www.vryeweekblad.com/menings-en-debat/2023-10-13-die-nasionale-brein-het-suurstof-nodig-en-joernaliste-is-die-rooibloedselle/