Die 91ste kongres van PEN International het vanjaar vanaf 2 – 5 September in Kraków, Pole plaasgevind. Onder die tema “Freedom of Words, Words of the Free” het afgevaardigdes van PEN-sentrums regoor die wêreld by die ICE Kraków Kongressentrum byeengekom vir vier dae van besprekings, beplanning, verkiesings, drome vir die pad vorentoe en gedeelde solidariteit. Uit 193 aktiewe PEN-sentrums het 89 sentrums die kongres bygewoon, en PEN Afrikaans, verteenwoordig deur myself en Fiona van Kerwel, was een van hulle.

Voor die kongres amptelik begin het, het die Young Writers Committee ’n voorlesingsaand aangebied waartydens jong skrywers hul werk kon aanbied. Die aanbieding is gevolg deur ’n paneelbespreking getiteld “New Voices, Shared Future” waar ons as jongmense oor die stand van die woordkuns in ons sentrums (en lande) kon gesels en reflekteer.
Op die eerste dag van die kongres, het verskeie komitees byeengekom om op hul jaar te reflekteer, en belangrike werk vir die volgende jaar uiteen te sit. Ek was natuurlik deel van die Young Writers Committee se vergadering, waar ons gefokus het op sentrums se projekte vir jongmense, publikasiegeleenthede vir jong skrywers, mentorskapsprogramme, en die vestiging van ’n statuut vir ons jong komitee.
Die amptelike openingseremonie het later by Kino Kijów plaasgevind, met die deelname van die Poolse skrywer en Nobelpryswenner Olga Tokarczuk, die bekende Kanadese outeur Margaret Atwood, en die Turkse skrywer en president van PEN International, Burhan Sönmez.
Die dag is afgesluit met ’n verwelkomingsfunksie wat deur die burgemeester van Kraków, Aleksander Miszalski, aangebied is.
Die derde dag van die PEN International-kongres het gefokus op die formele verrigtinge van die organisasie. Die dag is geopen met ’n verwelkoming deur die president van PEN International en die plaaslike gasheer, PEN Pole, wat die belangrikheid van die vergadering en die rol van PEN in die bevordering van uitdrukkingsvryheid onderstreep het. As deel van die oggendprogram is die simboliese Leë Stoel #1 (Empty Chair) bekendgestel – ’n gedenkgebaar aan ’n skrywer wat nie vry is om aan die kongres deel te neem nie. Elke sessie is met ’n “Empty Chair” geopen. Hierna is ’n In Memoriam-geleentheid gehou om hulde te bring aan lede van PEN wat oor die afgelope jaar oorlede is. Van PEN Afrikaans se kant af was Breyten Breytenbach, Pienkes du Plessis, Hans du Plessis en Mellet Moll op die In Memoriam-lys.
Die formele deel van die vergadering het gevolg, met ’n inleiding tot die prosedures, bevestiging van die wettige sameroeping van die vergadering, en die goedkeuring van die agenda en notules van die vorige byeenkoms. Die uitvoerende direkteur van PEN International, Romana Cacchioli, het daarna haar jaarverslag voorgelê, wat insigte verskaf het oor die organisasie se aktiwiteite en prestasies. Dit is opgevolg deur die finansiële verslag van die internasionale tesourier, Eric Lax. Daar is ook spesifiek aandag gegee aan die situasie in Pole, met die voorlegging van ’n verslag oor vryheid van uitdrukking in die land, wat besondere relevansie gehad het in die konteks van die kongres se ligging.
Na die verslae is inligting gedeel oor die verkiesings wat by die kongres sou plaasvind. Verkiesings is gehou vir die internasionale sekretaris, verskeie raadslede, ’n lid van die soekkomitee, ’n internasionale vise-president, en lede van die Writers for Peace Committee en die Young Writers Commitee. PEN Afrikaans het ’n benoeming vir die voorsitterstoel van die Young Writers Commitee ondersteun, deur die aanbeveling van Ayi Renaud Dossavi van PEN Togo.
Die tweede sessie van die dag het gehandel oor voorgestelde wysigings aan die organisasie se grondwet en statute. Daarna was ’n paneelbespreking oor “Literatuur ken geen grense nie”. Hierdie gesprek het gefokus op die universele aard van literatuur en hoe dit grense tussen tale en kulture kan oorbrug.
Teen die einde van die middag is die eeufees-uitstalling van PEN Pole amptelik bekendgestel – ’n historiese oorsig van die Poolse sentrum se bydraes tot die organisasie en die breër literêre wêreld. Die formele verrigtinge is daarna amptelik afgesluit. Die aandprogram is voortgesit by die Internasionale Kultuursentrum, waar die Poolse PEN ’n spesiale geleentheid aangebied het onder die titel “PEN in the Age of Anxiety”. Lig is gewerp op die hedendaagse uitdagings waarmee skrywers, kunstenaars en intellektuele wêreldwyd gekonfronteer word, veral in ’n era van politieke onstabiliteit, sensuur en digitale bedreigings.
Die vierde dag van kongres het voortgegaan by die ICE Kraków Kongressentrum. Daarna het die aandag verskuif na die voorstel van nuwe sentrumsvir aansluiting by PEN International, asook voorstelle vir verandering in die status van bestaande sentrums, en die totnietmaking van sentrums wat nie meer met PEN International se strukture strook nie.
Een van die mees betekenisvolle oomblikke was die voorlesing van die Klimaatmanifes deur Jennifer Clement. Hierdie dokument sit PEN se verbintenis tot klimaatsgeregtigheid en die rol van literatuur in die hantering van die ekologiese krisis uiteen. Die manifes is opgevolg met ’n diepgaande paneelbespreking onder die tema “Toekomsverbeelding: PEN, Literatuur en Klimaatsverantwoording”. Deelnemers het gereflekteer oor hoe skrywers en kunstenaars kan bydra tot die vorming van ’n volhoubare toekoms te midde van ekologiese en sosiale uitdagings. Dit is noodsaaklik dat ons by PEN Afrikaans ook oor die klimaat begin besin.
Daarna was die aanbieding van resolusies, waarin afvaardigings belangrike standpunte ingeneem en besluite geneem het wat rigtinggewend vir PEN se toekomstige werk sal wees.
Die aandprogram het voortgegaan in ’n meer informele, maar ewe betekenisvolle sfeer. Die “Free the Word”-poësiegeleentheid is by die kroeg HEVRE aangebied, waar digters van regoor die wêreld hul werk gedeel het in ’n atmosfeer van kreatiewe uitdrukking en internasionale samehorigheid. Hierna het ’n sosiale byeenkoms gevolg, ook by HEVRE, wat deelnemers die kans gegee het om op ’n ontspanne manier met mekaar te netwerk en te gesels.
Die dag is afgesluit met ’n spesiale geleentheid deur PEN Pole, getiteld “Free Word and Free Eastern Europe”, wat by die Manggha Museum plaasgevind het. Hierdie byeenkoms het gefokus op die unieke uitdagings en prestasies van skrywers en denkers uit Oos-Europa, met besondere aandag aan die streek se geskiedenis van sensuur, politieke druk en die strewe na vryheid van uitdrukking.
Die vyfde dag van die PEN International-kongres het voortgegaan by die Konvensiesentrum met die vierde sessie van die Algemene Vergadering. ’n Panelbespreking met die tema “Die Vryheid om te Publiseer: Weerstand, Risiko en Radikale Verbeelding” het daarop gevolg. Hierdie sessie het die uitdagings belig wat skrywers en uitgewers in die gesig staar wanneer hulle weier om hul stemme te laat onderskep of selfs te laat stilmaak. Die gesprek het ook die kreatiewe maniere verken waarop vryheid van publikasie, selfs onder uitdagende omstandighede, bewaar kan word.
Paneelbesprekings oor “Kulturele Uitwissing” en “Inheemse Literatuur en Kultuur in Globale Gesprekke” het gevolg. Hierdie besprekings het die noodsaaklikheid beklemtoon van inheemse stemme en ervarings in internasionale literêre en kulturele kontekste om sodoende ’n meer inklusiewe en diverse letterkundige-wêreldgemeenskap te bevorder.
Die dag en die kongres is formeel afgesluit met ’n geselligheid aangebied deur Villa Decius, waar deelnemers die geleentheid gehad het om op die week se gesprekke te reflekteer.
Laastens, PEN Afrikaans speel ’n kernrol in die bevordering van Afrikaans as ’n lewendige, dinamiese taal binne ’n wêreldwye konteks. Deur sy aktiewe betrokkenheid by die internasionale PEN-netwerk, bring PEN Afrikaans ’n unieke perspektief van Suid-Afrika en die Afrikaanse kultuur na ’n globale gehoor. Hierdie verbintenis help om die taal nie net te bewaar nie, maar ook om dit in ’n wêreld waar taal en kultuur vinnig verander, relevant te hou.
Daar is ’n dringende noodsaaklikheid om die mure rondom Afrikaans af te breek – dié wat die taal dikwels beperk tot ’n spesifieke groep of sosiale konteks. Om ’n meer inklusiewe toekoms te bewerkstellig, moet Afrikaans oopgemaak word vir almal wat dit wil gebruik en waardeer, ongeag hulle agtergrond. PEN Afrikaans speel ’n belangrike rol daarin om hierdie inklusiwiteit aan te moedig en sodoende ’n taalomgewing te skep wat die rykdom en diversiteit van die Afrikaanse gemeenskap weerspieël.
PEN Afrikaans word hoog aangeslaan in die internasionale PEN-familie en word in dieselfde asem genoem as groter, gevestigde sentrums soos PEN America, PEN Canada en English PEN. Hierdie assosiasie, geskoei op hoe goed PEN Afrikaans bestuur word, versterk nie net die beeld en invloed van Afrikaans nie, maar bied ook geleenthede vir kulturele uitruiling, samewerking en ondersteuning oor grense heen. Die groter PEN-sentrums het tydens kongres in gesprekke aangedui dat hulle graag met ons sal wil saamwerk, veral PEN America. Die werk wat PEN Afrikaans doen, is nie net betekenisvol nie, maar lok ook die belangstelling van ander kultuursentra en belanghebbendes. Deur skrywersregte te bevorder, kreatiewe platforms te skep en taalkwessies te ondersteun, inspireer PEN Afrikaans ander om soortgelyke inisiatiewe te begin en deel te neem aan die bevordering en viering van taal en literatuur.
Een van die kenmerke wat PEN Afrikaans onderskei, is die kwaliteit van bestuur in ons organisasie. PEN Afrikaans staan soos ’n paal bo water uit van die ander sentrums in Afrika. As gevolg hiervan, is dit noodsaaklik dat ons bande met ander Afrika-sentrums bou om ons ervaringe te deel, hulp te verleen waar nodig, en sodoende te wys dat Afrikaans op die kontinent met ander tale en mense in ander kontekste kan hande vat. Hierdie kongres het opnuut bevestig – Afrikaans het vlerke, en PEN Afrikaans is groter as Suid-Afrika.





