Gelewer deur Catrina Wessels op 14 Oktober 2026

Goeienaand almal
Baie dankie dat julle hier is. Ons besef dit is ’n vol en bedrywige deel van die jaar en dat julle ander dinge op hierdie Woensdagaand kon doen. Skedules was onlangs ekstra vol met eers Tuin van Digters, toe Aardklop, toe Woordfees, dis ’n besige tyd. Baie dankie dat julle tyd maak om vanaand saam met ons terug te kyk op ons jaar en vorentoe te kyk om nuwe projekte te help formuleer.
Soos julle weet, is PEN Afrikaans ’n skrywersvereniging wat die belange van Afrikaanse skrywers, in die wydste sin van die woord, en die Afrikaanse woordkuns wil dien en bevorder. Ons werksaamhede bestaan onder meer uit die aanbied van werkswinkels en slypskole, stellingnames en aktivisme rakende die bevordering en beskerming van taal- en ander menseregte; die bedryf van ’n webwerf rondom Afrikaanse boeke en die belange van Afrikaanse skrywers; asook die inisiëring van projekte ter bevordering van nuwe kreatiewe skryfwerk, met ’n spesiale fokus op die versterking van voorheen gemarginaliseerde stemme.
Met hierdie fokuspunte in gedagte, sluit ek graag aan by die breë oorsig wat Mercy in haar verslag oor PEN Afrikaans se bedrywighede vanjaar gegee het, en wel met behulp van ’n Powerpoint-aanbieding wat wys waarmee ons besig was.
PEN Afrikaans het vanjaar voortgegaan met bestaande projekte en ’n paar lekker nuwes bygevoeg. Ons dank, soos altyd, aan die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis wat ons bedryfsuitgawes dek en ons voortbestaan verseker. Ons waardeer julle mosie van vertroue en die ruim ondersteuning van ons as organisasie.
Ons projekte vanjaar behels:
- Artikelreekse en onderhoudreekse
Ons gaan vanjaar voort met “Die wêreld van die skrywer”, ’n reeks artikels oor verskeie onderwerpe wat met die praktyk van skryf te doen het. Enkele opmerkings oor vanjaar se artikels sover: Cliffordene Norton het ’n aangrypende persoonlike essay geskryf waarmee menige skrywer kan identifiseer, naamlik “Toe harde werk ophou werk het”, ’n besinning oor sogenaamde “skrywersblok”. Marita van der Vyver se artikel is gewy aan haar ervaring daarvan om op Substack te skryf. Substack, die gewilde aanlyn platform waarop skrywers hul werk kan publiseer, is ’n opwindende toevoeging tot “die wêreld van die skrywer” en ’n aantreklike opsie vir skrywers omdat hul daardeur ’n direkte verhouding met hul lesers kan bou, ’n ekstra inkomstestroom kan skep, en volledige kreatiewe beheer het oor wat hul daar plaas. Interessant om meer hieroor te leer, dankie aan Marita.
Ons het vanjaar ’n nuwe artikelreeks geloods genaamd “Die kuns van vertaling”, waarin ons kenners vra om te skryf oor verskeie aspekte van vertaling. Maret Blom de Wet het geskryf oor vertaling in die klaskamer, Adél van den Bergh het geskryf oor die veranderende rol van die vertaler in die era van KI-vertalings, en Eben Venter het mees onlangs geskryf oor die onderwerp van self-vertaling. Ons opregte dank aan Pharos Woordeboeke wat hierdie reeks help moontlik maak.
Ook baie dankie aan Taalgenoot vir die lekker samewerking aan die Vinnige Vrae-reeks wat ons in hierdie tydskrif aanbied. Dit is ’n reeks vrae wat ’n ander lid van PEN Afrikaans telkens beantwoord. Op dié manier kry die betrokke skrywer blootstelling, maar daar is altyd ook iets te leer oor lees en skryf, en dit bevat ook altyd die betrokke skrywer se raad aan jong skrywers.
Wat kursusse en werkswinkels betref, het PEN Afrikaans vanjaar ’n nuwe projek van stapel gestuur, naamlik: Wat soek die uitgewer? Dit was ’n reeks aanlyn gesprekke met uitgewers waarin hulle meer kom vertel het oor waarna hulle op soek is in manuskripvoorleggings en hoe jy as skrywer jou kans op sukses kan verbeter wanneer jy jou werk aan hulle stuur. Dit was baie gewilde en insiggewende sessies. Baie dankie aan almal wat hierby betrokke was, maar veral aan bestuurslede Annie Olivier en Shawna-Leze Meiring vir die idees en dryfkrag agter hierdie projek.
Dit was ook ’n plesier om vanjaar weer ’n resensiekursus aan te bied. Ons dank aan die Breytenbach Sentrum wat projekvennoot hiervoor was. Die bekende digter en resensent, Danie Marais, het die kursus in Julie daar aangebied met insette van fasiliteerders Candice Jantjies, met haar agtergrond in die kunsjoernalistiek, en Erla Diedericks, met haar uitgebreide ervaring in die skryf- en boekewêreld. Dit was ’n lekker en leersame byeenkoms wat gemik was daarop om die Afrikaanse kunskritiek en resensiekunde te bevorder, en het praktiese leiding oor resensering ingesluit.
By die afgelope Woordfees het PEN Afrikaans oudergewoonte meegewerk aan die WOW en PEN Skryfskool wat aan hoërskoolleerders die geleentheid bied om hul skryfvaardighede verder te ontwikkel. Deelnemers leer deur middel van praktiese werksessies hoe om hul idees duidelik te verwoord en hulle unieke skryfstem te ontdek. Die aanbieder was Alida Andreas, en die sessie was ’n groot sukses. Baie dankie aan WOW. Ná die sessie kry leerders nou die geleentheid om ’n opstel te skryf wat vir die WOW & PEN-opstelkompetisie ingeskryf kan word, met die moontlikheid om later vanjaar by die WOW-gala-geleentheid erkenning te ontvang.
Ons het weer vanjaar saam met die Jakes Gerwel Stigting die PEN dit neer-skrywersresidensie as ’n geleentheid aan ons lede beskikbaar gemaak. Jan van Tonder het suksesvol daarvoor aansoek gedoen. Ons dank aan die Jakes Gerwel Stigting vir hierdie waardevolle skryfkans wat hulle aan ons lede bied.
Skrywersrus was vanjaar die naam van die fasiliteit wat ons vir skrywers, uitgewers en joernaliste by die Woordfees beskikbaar gemaak het. Ons het ook ons lede genooi om ’n glasie te kom klink.
By Tuin van Digters het ons ’n paneelbespreking aangebied waartydens Bibi Burger met Veronique Jephtas, Shane van der Hoven, Pieter Odendaal en Bibi Slippers in gesprek getree het.
Wat die bevordering van die Afrikaanse letterkunde betref, is die PEN Afrikaans Vertaalfonds sekerlik een van ons vlagskipprojekte. Soos Mercy genoem het, is sewe suksesvolle aansoeke by die Vertaalfonds vanjaar aangekondig. Ek hoef nie die besonderhede daarvan te herhaal nie, maar wil graag die Dagbreek Trust spesifiek bedank vir die ondersteuning van die PEN Afrikaans Vertaalfonds sedert sy totstandkoming in 2017. Dit het al baie wonderlike vertalings opgelewer en die Afrikaanse letterkunde buite ons landsgrense bevorder.
Hier volg omslae van enkele vertalings wat deur die Vertaalfonds gefinansier is, en op hierdie foto kan ons sien hoe die Vertaalfonds onlangs tydens die Frankfurt Boekebeurs by Jonathan Ball Uitgewers se stalletjie sigbaar was. Dit is uitstekende blootstelling by die voorste internasionale boekebeurs; baie dankie daarvoor.


Jaarlikse lesing oor uitdrukkingsvryheid
Jaarlikse lesing oor uitdrukkingsvryheid is nog ’n projek op ons jaarprogram. Dit is hierdie jaar vir die eerste keer via Zoom gelewer en Lourensa Eckard was aan die woord. Dit was ’n uitstekende lesing wat nou op ons YouTube-kanaal beskikbaar is en ook op LitNet te lees is. Baie dankie.
Eksterne evaluering van Die onsigbare kind-projek
PEN International het PEN Afrikaans se aanbieding van die Die onsigbare kind-projek gekies as die onderwerp van ’n eksterne evaluring van die projek, wat ook deur verskeie ander PEN-sentrums in ander wêrelddele aangebied word.
Tans onderneem dr. Chrischar Rock, verbonde aan die Onderwysdepartement van Stellenbosch Universiteit, ’n evaluering van ons implementering van die projek en die mate waartoe dit die gewenste doelwitte bereik het en wyses waarop ons daarop sou kon voortbou of verbeter. Die doel van die projek is om lees- en skryfvaardighede te bevorder, die temas in die verhaal met leerders te behandel ten einde empatie en selfstandige denke te bevorder.
Ons het nog boeke en planne wat met hierdie wonderlike projek verband hou en dit is vir ons ’n eer dat PEN International PEN Afrikaans se hantering en aanbieding van hierdie projek uitgesonder as ’n voorbeeld van hoe die projek geïmplementeer kan word en die onderwerp van ’n eksterne evaluering gemaak het.
PEN-kongres in Kaapstad
Dit is ’n plesier om hier die goeie nuus te deel dat die internasionale PEN-kongres in 2029 in Kaapstad gaan plaasvind.
PEN Afrikaans werk die afgelope jaar saam met PEN Eritrea en PEN South Africa aan ’n bod om die internasionale PEN-kongres in Suid-Afrika aan te bied. Dit sal ’n historiese geleentheid wees omdat PEN Eritrea die eerste PEN-sentrum in bannelingskap sal wees wat die PEN-kongres aanbied. Boonop was daar in die byna 100 jaar van PEN-kongresse nog net twee wat op die Afrika-kontinent aangebied is. PEN Afrikaans en PEN South Africa sal PEN Eritrea se plaaslike vennote wees om die PEN-kongres in Kaapstad aan te bied.
Ons is verheug dat die bod suksesvol was. Dit is deur die raad van PEN International goedgekeur en daarná ook deur die algemene vergadering van PEN International tydens die onlangs PEN-kongres wat aanlyn plaasgevind het.
Dit is voorwaar ’n opwindende vooruitsig en ’n groot onderneming. Idees en betrokkenheid is welkom. Ons sien uit daarna om hierby betrokke te wees en om saam te werk daaraan om die (Suid-)Afrikaanse letterkunde by so ’n aansienryke internasionale saamtrek in die kollig te plaas.
KI
Nog iets wat in die vooruitsig is, is ’n saamtrek oftewel dinkskrum oor kunsmatige intelligensie en die boekbedryf. Die beweegrede vir so ’n byeenkoms word mooi saamgevat deur Annie Olivier, een van ons bestuurslede en ook algemene bestuurder van Jonathan Ball Uitgewers:
“Dit voel my ons moet almal saam help dink oor die pad vorentoe – skrywers, uitgewers en medewerkers. En ’n weiering om met KI te werk/engage, is nie die antwoord nie. Dit is ongelooflik kragtig en ongelooflik goed – ons kan dit nie ignoreer nie.”
Hierdie aanhaling kom uit ’n e-pos wat sy aan my gestuur het en wat ek met haar toestemming deel. Die aanhaling som die situasie goed op, en is aan myself ook ’n herinnering, want ek is soms lus om KI eerder te ignoreer. Dis nie iets waaroor ek persoonlik baie positief voel nie, maar soos Annie tereg uitwys: ignoreer is nie ’n gangbare opsie nie.
As skrywersvereniging is dit in die eerste instansie belangrik dat ons kyk dat enige nasionale KI-beleid ons lede se belange dien en in ag neem, maar ons wil ook die geleentheid skep vir rolspelers in die boekebedryf om saam te sit en oor verskeie aspekte van KI en skrywerskap en die boekebedryf te gesels met die oog op die pad vorentoe. Ons beoog om hierdie byeenkoms saam met PEN South Africa aan te pak. Voorlopige beplanning is dat dit by Media24 in Kaapstad sal plaasvind, waar ’n groot skerm in die konferensielokaal virtuele deelname ook moontlik sal maak. Ons sal ons lede op hoogte hou.
Op daardie noot, nooi ek julle graag om ons nuusbrief te lees, ons sosialemedia-platforms dop te hou en met ons in gesprek te tree oor ons bedrywighede, stellingnames en moontlike nuwe projekte vir die toekoms.
Ek is dankbaar om te kan terugkyk op ’n goeie jaar vir PEN Afrikaans. Ons is nie ’n groot organisasie nie, maar ons is een van die aktiewe PEN-sentrums in die internasionale netwerk. Ons vier volgende jaar PEN Afrikaans se 15 bestaansjare. En ons groei. Sedert ons vorige jaarvergadering het ons ledelys vanaf 85 lede in 2025 na 96 lede in 2026 gegroei. Ons het met byna 13% gegroei.
Mag ons hierop voortbou en sinvolle projekte saam aanpak. Baie dankie aan almal vir die belangstelling en deelname, veral aan ons borge wat dit moontlik maak. Hartlik dankie ook aan PEN Afrikaans se bestuur, en spesifiek ons onbaatsugtige staatmaker van ’n tesourier, Izak de Vries, ondervoorsitter, Bibi Burger, en voorsitter, Mercy Kannemeyer.