Nuusbrief: November 2026

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
PEN Afrikaans ken lewenslange lidmaatskap aan dr Francis Galloway toe
 
Tydens PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering van 2026 het die vergadering van lede eenparig besluit om lewenslange lidmaatskap aan dr Francis Galloway toe te ken, as erkenning van haar volgehoue toewyding aan PEN Afrikaans en sy doelstellings.
 
Die bestuur van PEN Afrikaans sê graag baie geluk en baie dankie aan Francis Galloway.
 
Lees gerus by hierdie skakel die voorstel vir erelidmaatskap wat aan die vergadering voorgehou is en op grond waarvan sodanige lidmaatskap aan Francis Galloway toegeken is.
 
Notule en verslae: PEN Afrikaans se AJV 2026
 
Baie dankie aan almal wat PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering op Woensdag, 14 Oktober, bygewoon het. Daar is teruggekyk op ’n jaar en vorentoe gekyk na nuwe projekte, met dank aan ons projekvennote, finansiers en lede.
 
Klik gerus hier vir die volgende dokumente wat met die algemene jaarvergadering verband hou:

– Die notule van die vergadering
– Voorsittersverslag
– Bestuurdersverslag
 
Izak de Vries, ons tesourier, se verslag oor PEN Afrikaans se finansies is vervat in die notule van die vergadering. Enige vrae daaroor kan gerig word aan penafrikaans@gmail.com.
 
Wenners aangekondig: Woordtrofees 2026


 
Die wenners van die Toyota Stellenbosch Woordfees se Woordtrofees-toekennings vir 2026 is bekend. Die wenners is Maandagaand 2 November tydens ’n geleentheid by die Adam Small-teaterkompleks in Stellenbosch bekroon.
 
Die Woordtrofees vereer jaarliks kunstenaars wat uitnemend presteer het by die fees. 
 
Die volledige lys van wenners is by hierdie skakel beskikbaar.
 
Vergun ons die geleentheid om skryf- en boekverwante vererings uit te sonder. Baie geluk aan Dianne Albertze wat vereer is met die Woordtrofee vir Beste prestasie in kunsjoernalistiek (INK-feeskoerant), aan Vihann van Rooyen wat vereer is vir Beste teks (nuutgeskrewe of verwerking) vir Markus (en die brandblusser op die derde verdieping) en aan die volgende wenners van die EasyEquities Skrywersfees-boekpryse: 
– Topverkoper: Fiksie (Etienne van Heerden: Diereriem)
– Topverkoper: Niefiksie (Frans de Villiers: Die Geskiedenis van Braaibroodjies)
– Topverkoper: Leefstyl (Louis Jansen van Vuuren: Biltong en Dior)
– Topverkoper: Poësie (Danie Marais: Ek is nie Danie)

Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Oktober 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in November 2026
 
Baie geluk aan ons lede wat in November, betyds vir die Kerskous, nuwe boeke op die rakke het! Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte:
– Hartlik welkom aan Jerome Coetzee wat sedert ons vorige nuusbrief by PEN Afrikaans aangesluit het.
– Lourensa Eckard het vanjaar ons jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid gelewer. Die teks én video van hierdie boeiende lesing is hier beskikbaar.
– A.M. Holder het mees onlangs ons stel #Vinnigevrae in Taalgenoot beantwoord. Lees gerus haar antwoorde in die jongste uitgawe van Taalgenoot hier. 

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans