
Tydens PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering van 2026 het die vergadering van lede eenparig besluit om lewenslange lidmaatskap aan dr Francis Galloway toe te ken, as erkenning van haar volgehoue toewyding aan PEN Afrikaans en sy doelstellings.
Hier volg die voorstel wat tydens die algemene jaarvergadering deur Catrina Wessels aan die vergadering voorgehou is en op grond waarvan sodanige lidmaatskap aan Francis Galloway toegeken is.
Die bestuur van PEN Afrikaans sê graag baie geluk en baie dankie aan Francis Galloway.
“Voorstel vir erelidmaatskap: Dr Francis Galloway
Dit is vir my ’n voorreg om ’n voorstel vir die toekenning van erelidmaatskap van PEN Afrikaans aan dr Francis Galloway aan die vergadering voor te hou, vir julle oorweging en ’n stemming hierná via Zoom se peilingsfunksie.
Eerstens, erelidmaatskap kan volgens die grondwet van PEN Afrikaans in twee kategorieë toegeken word:
- Lewenslange lidmaatskap word deur die Kongres [die vergadering van lede] aan ’n gewone lid of ’n gewese gewone lid toegeken as erkenning van volgehoue toewyding aan die Vereniging en sy doelstellings.
- Ere-lidmaatskap word aan ’n persoon toegeken wat nie ’n gewone lid van die Vereniging is nie, as blyk van waardering en erkenning vir die persoon se bydrae in die belang van PEN Afrikaans.
In hierdie geval is LEWENSLANGE LIDMAATSKAP die aangewese voorgestelde verering, want Francis Galloway is inderdaad tans ’n lid van PEN Afrikaans en was deur die jare aan PEN Afrikaans verbonde as lid en as hardwerkende bestuurslid.
Francis Galloway het haar loopbaan begin as dosent in Afrikaanse letterkunde, daarná het sy as navorser en toe as akademiese uitgewer gewerk, waarná sy ’n dosent in Uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria geword het. Sy is ’n kenner en navorser van die Suid-Afrikaanse letterkundesisteem en uitgewersbedryf. Sy het kennis van hoe hierdie sisteme nie abstrak is nie, maar konkreet inwerk op skrywersbelewenisse en -loopbane. Haar diepgaande literêr-biografiese studie van Breyten Breytenbach se lewe en werk is die mees sprekende voorbeeld hiervan.
Francis Galloway is ’n letterkundige, ’n redakteur, ’n leser, ’n opskrywer en boekstawer, ’n navorser wie se werk deur die jare bygedra het tot die studie van die Afrikaanse letterkunde, en konkreet ook tot PEN Afrikaans se bedrywighede bygedra het. Sy is ‘n getroue lid, voormalige bestuurslid, en het baie kennis oor wat PEN (nie net PEN Afrikaans nie) deur die jare vir skrywers doen/gedoen het.
In haar bestuurstermyn was sy ’n aktiewe en betrokke bestuurslid. Sy het byvoorbeeld gewerk aan van ons vorige prysbenoemings, wat besonder uitgebreide voorleggings is wat baie werk verg om saam te stel.
Ek stel voor dat die vergadering lewenslange lidmaatskap aan Francis Galloway toeken en ek maak nou ’n peiling beskikbaar vir julle stemming oor hierdie saak.”