![]() |
| Beste lede en vriende van PEN Afrikaans PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering 2026 Sluit asseblief by ons aan vir ons organisasie se algemene jaarvergadering hierdie Woensdag, 14 Oktober, om 18:00. Daar word nie vanjaar ’n nuwe bestuur verkies nie, maar daar sal gestem word oor die toekenning van erelidmaatskap. Opbetaalde lede is stemgeregtig, maar almal is welkom om die vergadering by te woon. Die vergadering sal op Zoom plaasvind en ongeveer een uur duur. RSVP asseblief by penafrikaans@gmail.com om die Zoom-skakel te ontvang. Klik gerus hier vir die volgende belangrike dokumente wat met die algemene jaarvergadering verband hou: – Agenda van die vergadering – Notule van verlede jaar se vergadering – Volmagvorm om in te vul indien jy nie self kan inskakel nie. Ons vra dat lede asseblief wel ’n volmagvorm invul en terugstuur om te verseker dat ons ’n kworum bereik. Volmagvorms kan gestuur word na penafrikaans@gmail.com. Opname: jaarlikse lesing oor uitdrukkingsvryheid Dit was ’n plesier om te luister na Lourensa Eckard wat ons jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrika aangebied het. Baie dankie vir die helder en deeglike terugvoer uit die veld! Eckard is ’n joernalis, veldaanbieder vir Carte Blanche en die aanbieder van die aktualiteitsprogram ‘In Gesprek met Lourensa Eckard’ op kykNET. Dankie aan AJ Opperman vir die beriggewing oor die lesing. Dit is hier beskikbaar. Die opname van die lesing is by hierdie skakel beskikbaar en die teks sal eersdaags ook aanlyn beskikbaar wees. Rus in vrede, Linda Rode (1937 – 2026) Die bestuur van PEN Afrikaans betreur die heengaan van Linda Rode, skrywer, vertaler en samesteller van kinderboeke wat vir haar kundigheid en haar warm menslikheid onthou sal word. Ons lig ’n hoed vir haar groot bydrae en diep spore en ons deel hier, met sy toestemming, Kerneels Breytenbach se woorde ter huldiging van haar: “Dis met groot hartseer dat ek verneem het van die afsterwe van Linda Rode. ’n Vrou wat nooit haar eie basuin geblaas het nie, maar wat sedert die jare tagtig ’n vormende invloed gehad het op soveel dinge wat in die Afrikaanse kultuur gebeur het. Sy was die een wat my op ’n dag gebel het, toe ek nog Die Burger se boekeredakteur was, om my aan te moedig om meer aandag aan kinder- en jeugboeke te gee. As kinders nie op vroeë stadium die groot wonder van die verbeeldingswêreld betree via boeke nie, sal hulle dit ook nie as volwassenes kan of wil doen nie. Van daardie oomblik af was ek altyd bewus van haar werk – as vertaler van kinder- en jeugboeke vir Human & Rousseau, Tafelberg en Kwela, en klankbord vir uitgewers, as vormende gees vir skrywers. Titels soos Raai hoe lief is ek vir jou, Mamma het ’n eier gelê, Moet nooit vir ’n beer lag nie, Fabels van Esopus, Goue lint, my storie begint, en Stories suid van die son. Onder baie meer. Linda Rode se naam was die stempel van gehalte en goeie oordeel. Male sonder tal het sy gedien op beoordelaarspanele van literêre pryse en mens oortuig met haar ewewigtige siening en groot begrip vir die dinge waarmee skrywers besig is. Baie van my uitgewerkollegas sal kan getuig van daardie oproep wat mens skielik in moeilike tye kry, van Linda wat raad gee en jou moed inpraat. Dit was ’n voorreg om haar te geken het; dis met groot dankbaarheid wat ek aan haar en haar vriendskap terugdink. My gedagtes is by haar man, Erwin, en hul seun Konrad en dogter Frauke.” Lees gerus ook hier op Netwerk24. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in September 2026 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Oktober 2026 Baie geluk aan ons lede wat in Oktober nuwe boeke op die rakke het! Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie welkom aan nuwe lede Dit is altyd lekker om die nuusbrief af te sluit met die nuwe lede wat by ons aangesluit het. Hartlik welkom aan: – Angie Noll – Antoinette Crous Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |
