Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Die nasionale brein het suurstof nodig, en joernaliste is die rooibloedselle – Max du Preez (Foto: Anton van Niekerk) Op 10 Oktober het die veteraanjoernalis, analis en kommentator Max du Preez die eerste lesing in ons beoogde lesingreeks oor media- en uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrika gelewer. Dit het deel uitgemaak van die Toyota US Woordfees se Diskoersprogram. Baie dankie aan Max vir die boeiende en vermaaklike lesing. Ons het hom genooi om te praat oor die verskillende gedaantes van Vrye Weekblad teen die agtergrond van uitdagings vir uitdrukkingsvryheid waarmee hulle deur die jare te doen gekry het. Wat is die stand van sake met mediavryheid deesdae? Lees ’n verkorte weergawe van die lesing hier. Dit is ook hier in Engels beskikbaar. Algemene jaarvergadering 2023 PEN Afrikaans se algemene jaarvergadering het op 19 Oktober via Zoom plaasgevind. Baie dankie aan al ons lede wat die vergadering self bygewoon het of deur middel van ’n volmagvorm hul stem laat hoor het. Klik hier vir: Die notule van die vergadering Die voorsittersverslag Die bestuurdersverslag ’n Nuwe bestuur is tydens die vergadering verkies. Al die verkiesbare kandidate is elk met ’n sterk meerderheidstem tot die bestuur verkies, sowel as Bernard Odendaal en Mercy Kannemeyer tot die posisies van voorsitter en ondervoorsitter. Die ander verkose bestuurslede is: Danie Marais Dibi Breytenbach Fiona van Kerwel Izak de Vries Lynthia Julius Ruchelle Lombard Baie geluk en hartlik dankie aan almal vir die bereidwilligheid om op die bestuur te dien. PEN Afrikaans se bestuur dien telkens vir ’n termyn van twee jaar. Die organisasie is daarop gemik om ’n sentrum in stand te hou vir Afrikaanse skrywers wêreldwyd en op dié manier ’n vaste en gerespekteerde plek in die internasionale skrywersgemeenskap – soos verteenwoordig deur PEN International – te verwerf. Fokuspunte behels die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en joernalistiek, uitdrukkingsvryheid en die belange van dié wat met Afrikaanse skryfwerk gemoeid is. Wenners van die Salas aangekondig en FAK-Jaap Steyn-prys aan Philip de Vos Hartlik geluk aan die wenners van die Suid-Afrikaanse Letterkundepryse, oftewel die Salas. Lees hier meer daaroor. Diana Ferrus is vir haar lewenswerk vereer, in dieselfde jaar waarin die Tuin van Digters haar as feesdigter gehuldig het en sy haar sewentigste verjaarsdag vier. Baie geluk aan dr. Ferrus. Ander Sala-wenners sluit die jeugskrywer Annelie Ferreira en die digter en skrywer Philip de Vos in. De Vos is ook in Oktober deur die FAK vereer met die Jaap Steyn-prys vir die bevordering van letterkunde. Gerhard Pretorius, kommunikasiehoof van die FAK, meen: “Sy werk is ’n sprekende bewys van die ongelooflike kreatiwiteit wat die Afrikaanse taal bied. Die FAK is werklik trots om die bekende digter op 84-jarige ouderdom nog te kan vereer as ’n baanbreker en inspirasie vir duisende.” Baie geluk aan Philip de Vos met die welverdiende erkenning. Video: Met apologie en dank Vir dié wat dit misgeloop het, deel ons graag ’n kort video van PEN Afrikaans se programitem by Tuin van Digters 2023. In “Met apologie en dank” het ons ’n aantal digters gevra om in versvorm op hul voorgangers se werk te reageer. Daar was onder meer reaksies op werk deur Ronelda Kamfer, N.P. van Wyk Louw, Petra Müller, SEK Mqhayi, Robert Frost en C.M. van den Heever. Ons het ook geluister na van die eerste KI-gedigte in Afrikaans, wat uiteraard ook uit voorgangers se werk put. Dankie aan die deelnemers, sommige in lewende lywe en ander via video-opname, en aan Gizela Conradie vir die saamstel van die kort video wat hier gekyk kan word. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Oktober 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in November 2023 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: – Ons betuig ons meegevoel aan die naasbestaandes van Mariël le Roux, skrywer van deernisvolle romans wat tot ’n wye lesersmark spreek. Sy is op 10 November ná ’n kort siekbed oorlede. – Baie welkom aan die volgende nuwe lede: Lynthia Julius, Ruchelle Lombard en Ruan Fourie. Ons is bly om julle onder ons lede te tel. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |