Bestuurdersverslag: Algemene jaarvergadering op 19 Oktober 2023
Op 20 Oktober 2012, d.w.s. môre 11 jaar gelede, is PEN Afrikaans se eerste algemene ledevergadering gehou. Die sentrum was toe vars uit die oond in ’n nuwe gedaante: die destydse Pretoria PEN is geherkonstitueer as ’n sentrum wat vir spesifiek Afrikaanse skrywers, joernaliste, uitgewers en woordmense in hul volle diversiteit ’n tuiste wou wees – ongeag van geografiese ligging. Die naamsverandering van die sentrum is die vorige maand by die internasionale PEN-kongres goedgekeur.
Daar is op LitNet foto’s van die eerste ledevergadering waarna ek onlangs gekyk het – pragtig vasgevang deur Naomi Bruwer.
Daar sien ’n mens foto’s van mense wat opdaag, omgee, betrokke is, en waarvan ’n aansienlike hoeveelheid steeds onder ons (gelukkig groeiende) ledetal tel.
Kyk ’n mens terug op PEN Afrikaans se vordering oor die afgelope elf jaar, is dit duidelik dat daardie kontinuïteit ook vooruitgang bevorder het, aangesien dit die organisasie se mandaat en bedrywighede help groei het om via PEN International vastrapplek te kry vir Afrikaanse skrywers in ’n internasionale verband.
Die Trust vir Afrikaanse Onderwys het die afgelope klomp jare nie net ons voortbestaan verseker deur ons bedryfsuitgawes te dek nie, maar hulle het ook deur hul finansiële steun die PEN Afrikaans Vertaalfonds moontlik gemaak.
PEN International het ons nie net as ’n nuwe sentrum verwelkom nie, maar ons aktief betrek by verskeie projekte wat hulle ook finansieel moontlik gemaak het. Ons is in gereelde kontak met die span by PEN International en met kollegas by ander PEN-sentrums.
Vroeër vanjaar het Nduko O’Matigere, hoof van PEN International se Afrika-streek, ook by ons besoek afgelê en een van ons bestuursvergaderings kon bywoon en saam dink en beplan aan byvoorbeeld die skrywersresidensie wat ons in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting aanbied en waarby daar vanjaar ’n volle vier PEN-sentrums betrokke was, naamlik PEN South Africa, PEN Malawi, PEN Duitsland en PEN Afrikaans.
Uit die sterk aansoeke wat ons ontvang het, is Gaireyah Fredericks en Tertius Kapp gekies om saam met verteenwoordigers van die ander sentrums te gaan tuisgaan in die Jakes Gerwel Stigting se pragtige Paulet-huis op Somerset-Oos om aan hul skryfprojekte te werk.
Ons sien uit daarna om weer volgende jaar hierdie residensiegeleentheid aan ons lede te bied.
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds is nog ’n projek waardeur Afrikaanse skrywers en letterkunde met die buiteland in interaksie tree. Dit is ’n fonds waarby buitelandse uitgewers twee maal per jaar kan aansoek doen vir vertaalsubsidies om vertalings van Afrikaanse werke uit te gee. Daar is twee sperdatums per jaar: 15 Mei en 15 November.
Die Mei-sperdatum het twee suksesvolle aansoeke opgelewer: ’n Franse vertaling van Alles het niet kom wod deur Nathan Trantraal (LansKine Editions) sowel as ’n Albanese vertaling van Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen (Ombra GVG) – die eerste vertaling van ’n distopiese jeugroman wat deur die Vertaalfonds befonds word.
Wat die November-sperdatum betref, is daar reeds een sterk aansoek ontvang wat saam met enige ander aansoeke in die tweede helfte van November oorweeg sal word.
Verskeie Nederlandse vertalings wat deur die jare deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds is, is aan die begin van 2023 aan SASNEV se Nederlandse biblioteek in Pinelands geskenk en kan daar gelees word. SASNEV is ’n gevestigde en dinamiese kultuursentrum vir die Nederlandse taal en letterkunde, wat ook deur hul werksaamhede die bande tussen Afrikaans en Nederlands verken.
Ons het vanjaar voortgegaan met ons artikelreeks, Die wêreld van die skrywer.
In hierdie artikels, wat kwartaalliks verskyn, vra ons skrywers om te besin oor onderwerpe wat met die praktyk van skryf te doen het. Lede kan gerus laat weet as daar voorstelle is van onderwerpe of bydraers.
Die drie artikels van 2023 tot dusver, is deur Churchil Naudé, Antjie Krog en Dana Snyman gelewer en dit was opvallend dat dit wyd byval gevind het op ons sosialemedia-platforms.
In Naudé se artikel skryf hy oor die verband tussen hip-hop en poësie. Hy deel ook wenke oor die skryf daarvan. In Krog se artikel is die fokus op die belang van vertaling en die mense wat hulle daarmee bemoei, met verwysing na vertaling tussen Nederlands en Afrikaans. Dana Snyman skryf in sy artikel oor reisverhale as genre en dink na oor waarom soveel mense daarby aanklank vind.
In Taalgenoot, gaan ons voort met “Vinnige vrae” – ’n stel vrae wat telkens aan ’n ander lid van PEN Afrikaans gerig word, vir wie die tydskriflesers dan beter leer ken.
Vanjaar was Andries Bezuidenhout, Azille Coetzee, Dibi Breytenbach en mees onlangs Etienne van Heerden aan die woord.
Taalgenoot is as digitale tydskrif deel van Netwerk24 se aanbod aan intekenaars.
PEN Afrikaans het vanjaar weer ’n aanlyn resensiekursus aangebied waardeur ons poog om in die Afrikaanse boekjoernalistiek terug te ploeg.
Ons het die bekende resensent Jonathan Amid gevra om die kursus aan die beoordeling van genrefiksie toe te wy. Die fokus was primêr op spanningsromans en deelnemers het vooraf Rudie van Rensburg se spanningsroman Dwelm ontvang om te resenseer. Ons dank aan NB-Uitgewers. Dit was goed om te sien hoe die deelnemers na afloop van die kursus hul resensies en besprekings gepubliseer het en só ook bygedra het tot die groter boekgesprek.
Grepe uit die aanlyn kursus is op ons YouTube-kanaal beskikbaar gemaak vir enigeen om te luister.
Daar is op dieselfde kanaal ook ’n reeks video’s beskikbaar gemaak om met die herdenking van Jeugmaand saam te val. Die jong skrywers Ashwin Arendse, Joha van Dyk en Crystal-Donna Roberts praat in die video’s boeiend oor hul onderskeie skryfreise, die waarde van lees, van representasie in literatuur, en die krag van taal, spesifiek Afrikaans, as gereedskap in ’n skrywer se arsenaal.
Die doel van die video’s is om vir jong skrywers en lesers ’n boodskap te bring oor die wêrelde wat deur skryf en lees oop kan gaan. Die video’s kan vryelik gebruik word in skole of geletterdheidsprojekte.
Die onsigbare kind-projek is vir ons ’n hoogtepunt van 2023 wat ons lees- en skryfprojekte betref.
Dit was ons voorreg om Die onsigbare kind, ’n Moemin-verhaal deur die gevierde Finse skrywer Tove Jansson, in Afrikaans en isiXhosa te laat vertaal en in boekvorm uit te gee met die vergunning en ondersteuning van PEN International en Moomin Characters.
Die boeke het pas by ons gewaardeerde uitgewersvennoot Human & Rousseau, ’n druknaam van NB-Uitgewers, verskyn en is nou beskikbaar om aangeskaf te word.
Daar is egter ook ’n skole-komponent aan dié projek. PEN Afrikaans sal, in samewerking met WOW (Woorde open wêrelde) die boek na geselekteerde Afrikaanse en isiXhosa-skole in die Wes-Kaap neem om die leerders se liefde vir lees en skryf ’n hupstoot te gee, en die temas met hulle te behandel.
Die onsigbare kind gaan oor ’n verskrikte en letterlik onsigbare dogtertjie wat stelselmatig weer haar stem vind en haar plek in die wêreld opneem. Sy kan floreer danksy die geborgenheid en vriendelikheid wat sy in die Moehuis vind. Die belangrikheid van inklusiwiteit, verdraagsaamheid en respek bly uiters relevante temas in ’n wêreld waar kinders en veral dogters nie altyd sigbaar, veilig en bemagtig voel nie.
PEN International het verskeie PEN-sentrums genooi om Tove Jansson se bekende kortverhaal te vertaal en aan plaaslike leerders beskikbaar te maak om tot ’n liefde vir lees by te dra – en ons is bly om een van daardie sentrums te wees. Ons van mening dat hierdie universele verhaal tot elke kind kan spreek en dat almal die reg het om met respek en waardigheid behandel te word.
As deel van die Tuin van Digters-fees by die Breytenbach-sentrum in Wellington, die sogenaamde tuiste van die Afrikaanse digkuns, het PEN Afrikaans ’n sessie aangebied waartydens digters hul werk voorgedra het, asook dié van hul voorgangers om in te skakel by die feestema van “Lewende woorde”.
Ons het tydens die US Woordfees (7 – 15 Oktober) nogmaals die PEN Afrikaans Skrywerskamer ingerig en bestuur, ’n WOW-slypskool vir hoërskoolleerders aangebied en ook aan die Woordfees se Diskoers-program deelgeneem. Laasgenoemde het behels dat Max du Preez die eerste lesing in ons beoogde jaarlikse lesingsreeks oor media- en uitdrukkingsvryheid gelewer het.
Die beplanning is dat die lesing se spesifieke onderwerp, skrywer en venue jaarliks vasgestel sal word. Dit was lekker om by die Woordfees te begin, maar ons sien uit daarna om dit in die vervolg ook by ander byeenkomste of in ander dele van ons land aan te bied.
’n Verkorte weergawe van Max se lesing sal by ons volgende nuusbrief ingesluit wees.
Dankie aan almal wat ons nuusbrief lees en deel. Dit sluit altyd ’n lys in van al die Afrikaanse publikasies wat daardie maand verskyn en word gekombineer met relevante nuus rakende, onder meer, ons aktiwiteite, die breër letterkunde, literêre pryse, die uitgewerswese, taalpolitiek, persvryheid, sensuur en beleidsrigtings wat skrywers raak.
Op daardie noot moet ons meld dat die kommerwekkende Wysigingswetsontwerp op Outeursreg vanjaar nogmaals deur ’n ronde openbare sittings is – hierdie keer voor die provinsiale wetgewers. PEN Afrikaans het by wyse van skriftelike en mondelinge voorleggings hieraan deelgeneem om skrywers se stemme te laat hoor.
Ongelukkig het ’n meerderheidstem van die Nasionale Raad van Provinsies die wetsontwerp met slegs baie geringe wysigings goedgekeur. Daardie klein veranderinge sal nou waarskynlik deur die Nasionale Vergadering goedgekeur word, waarná die wetsontwerp weer by die president sal draai om te besluit of hy dit hierdie keer sal onderteken of na die Konstitusionele Hof sal verwys weens onsekerheid oor die grondwetlikheid van sekere bepalings daarin.
Ons hou steeds duime vas dat daar omdraaikans is en dat die grootskaalse verswakking van outeursreg wat deur die wetsontwerp voorgestel word, nié ’n realiteit sal word nie.
Daarmee saam bly die aanhoudende gerondstuurdery van ongematigde e-boeke op sosiale media ’n groot kopsorg vir skrywers en uitgewers. Skrywers se inkomste ly daaronder, dit is op verskeie maniere onwettig, en die oortreders se skaamteloosheid is verbysterend.
Alhoewel ons, ten slotte, met dankbaarheid kan terugkyk op ’n goeie jaar, bly dit duidelik dat daar werk te doen is, projekte aan te pak is en samewerking na te streef is ter wille van die Afrikaanse woordkuns.
Dankie aan die uittredende bestuur vir die goeie samewerking tydens hierdie bestuurstermyn en aan ons finansiers en vennote wat ons werksaamhede moontlik maak. Dankie aan ons lede vir die deelname en ondersteuning, die kontinuïteit én die vooruitgang.
Ons hoop om daarop voort te bou en oor jare terug te kyk op vanjaar se algemene jaarvergadering met die wete dat die organisasie sedertdien ver gevorder het.
Catrina Wessels