Voorsittersverslag: Algemene jaarvergadering op 19 Oktober 2023
- Inleidend
Die digi-wysmaking wat die covid-19-pandemietyd in die hand gewerk het, het ons nou al geoefen daarin om óf aanlyn óf hibried óf volledig 0in onderlinge fisiese teenwoordigheid ons aktiwiteite te kan aanbied. So kon ons op ons 25 Maart bestuursvergadering iets besonders bewerkstellig. Ons kon twee spesiale gaste, naamlik Nduko O’Matigere van PEN International, toe op besoek aan ons land, en Conrad Steenkamp van die Afrikaanse Taalraad by ons in my huis hier in Somerset-Wes verwelkom, terwyl drie bestuurslede, Izak de Vries vanuit die Oos-Kaap, Dibi Breytenbach vanuit Noord-Natal en Jolyn Philips vanuit Gauteng, aanlyn kon meedoen aan die verrigtinge. Vandaar dat ons hierdie algemene jaarvergadering sonder skroom via Zoom hou; sodoende word lede van oraloor betrek sonder die reis- en verblyfkostes wat ’n fisiese aangesig-tot-aangesig-byeenkoms sou verg.
Opvallend was hoe literêre en breër kunstefeeste volskaals op gang gebring is vanjaar, soos PEN Afrikaans as instansie én sy indiwiduele lede met vreugde kon ervaar. ’n Aantal van ons lede, waaronder bestuurslede soos Catrina Wessels, Fiona van Kerwel, Izak de Vries, Mercy Kannemeyer, Dibi Breytenbach en Danie Marais, moes byvoorbeeld in die afgelope weke bontstaan om te organiseer aan en op te tree by geleenthede soos die Etienne van Heerden-veldsoirée te Cradock, die Tuin van Digters-fees op Wellington, die Aardklop-kunstefees in Potchefstroom en die Toyota US Woordfees op Stellenbosch. Hoede gelig vir almal wat op eiesoortige wyses bydra tot ’n belewing van energieke beoefening en viering van die Afrikaanse kunste en geesteslewe, waaronder die literatuur.
- Skrywer-, literator- en joernaliskollegas wat ons in 2023 ontval het
Voordat ek die lig kortliks laat val op die belangrikste bedrywighede wat die huidige bestuur tot dusver in hierdie termynjaar namens PEN Afrikaans onderneem het, is dit gepas om die skrywer-, literator- en joernaliskollegas wat ons sedert ons vorige algemene jaarvergadering (26 Oktober 2022) ontval het, te gedenk:
- Martie Preller, skrywer van onder meer die geliefde Babalela-boeke;
- Dan Sleigh, bekroonde skrywer en geskiedkundige wat wêrelde vir sy lesers en medenavorsers ontsluit het;
- Johan Jack Smith, begaafde skrywer, musikant en redakteur van Taalgenoot;
- Schalk Schoombie, joernalis, dramaturg en skrywer;
- Trienke Laurie, digter en skilder; en
- Ian Raper, digter, skrywer en uitgewer by Rosslyn Press.
- Literêre pryswenners
Die teenkant van die verliesmunt is die ryke oes aan Afrikaanse boek- en resensiepryse wat weer eens vanjaar toegeken kon word. Die lewenskragtigheid van die Afrikaanse literatuur- en joernalistieksisteme, te midde van beperkende en selfs bedreigende politieke en maatskaplik-kulturele faktore, spreek nogeens uit hierdie toekennings wat jaarliks gemaak kan word.
- Prof. Louise Viljoen van die Universiteit Stellenbosch is onlangs aangewys as die ontvanger van die gesogte Jan H Maraisprys 2023. Sy ontvang die prys ter erkenning van haar bydrae tot die voordeel van die Afrikaanse letterkunde.
- Herhaaldelik bekroonde werke:
- Antjie Krog ontvang sowel die UJ-prys, die Hertzogprys vir Poësie as die ATKV Prys vir Poësie vir haar bundel Plunder.
- Kirby van der Merwe ontvang ook drie pryse (vir sy roman Eugene): sowel die Eugène Marais-prys vir Prosa as die kykNET-Rapport-prys vir Fiksie én die Jan Rabie-Rapport-prys vir Debuut- of Tweede Werke.
- Nóg ’n driedubbele pryswenner is Eunice Visser. Sy ontvang Die SA Akademie se LW Hiemstraprys vir Niefiksie, die ATKV se Prys vir Niefiksie én die kykNET-Rapport-prys vir Niefiksie vir haar studie Die Kaapse slawe 1652–1838.
- Jaco Jacobs is die ontvanger van sowel die SA Akademie se Scheepersprys vir Jeugliteratuur (vir sy jeugroman Dinge wat ek nie van skape geweet het nie), die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur (saam met die illustreerder Zinelda McDonald, vir die rympiesboek Moenie hierdie boek eet nie) as die ATKV-Kinderboektoekenning in die Selfleeskategorie: Graad 6 tot 7 (vir sy verhaal Tekkies).
- Chris Karsten is die wenner van sowel die ATKV-prys vir Prosafiksie as die kykNET-Rapport Herman Binge-filmprys vir sy verfilmbare roman Op pad na Moormansgat.
- An-Mari do Carmo was die ontvanger van sowel die ATKV-Kinderboektoekenning in die Selfleeskategorie: Graad 8 tot 10 as die Desmond Tutu-Gerritt Brandprys vir debuutwerk in ’n amptelike taal van Suid-Afrika (vir die verhaal Toe als groen was).
- Debuutpryse:
- Die UJ-debuutprys is toegeken aan Carien Smith vir haar kortverhaalbundel eksperimentele en wetenskapsfiksie, BOT.
- Dominique Botha wen die ander bekende debuutprys vir Afrikaanse skryfkuns, naamlik die Ingrid Jonkerprys, met haar digbundel Donkerberg.
- Enkele ander SA Akademiepryse:
- Nico Scheepers ontvang die SA Akademie se Deleen Bekkerprys vir beste draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans vir “Donkerbos. Episode 8”.
- Fanie Olivier ontvang die SA Akademieprys vir Vertaalde Werk vir Wanneer gode slaap (vertaling van die Vlaming Erwin Mortier se roman Godenslaap).
- Die SA Akademie se CL Engelbrechtprys vir Letterkunde is toegeken aan SJ Naudé vir sy verhalebundel Dol heuning.
- Wat die ATKV-Woordveertjie-toekennings vir 2023 betref, kan voorts die volgende wenners vermeld word:
- Prys vir dramateks: Ricardo Arendse vir Die halwe huis;
- Prys vir spanningslektuur: Irma Venter vir Die verkeerde vrou;
- ATKV-Woordwystoekenning aan die woordeboek N|uuki Namagowab, Afrikaans, English Woordeboek / Dictionary, met Bonny Sands en Kerry Jones as hoofredakteurs;
- Prys vir liefdesromans: Sophia Kapp vir Heimwee;
- Prys vir romanses: Corné van Rooyen vir ’n Ultimatum vir liefde; en
- pryse vir kinderboeke in verskillende kategorieë: Zuléka Smit, Johann Strauss, Cecilia Steyn, De Wet Hugo en Stephen Wallace.
- Die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar is in twee kategorieë toegeken vir uitnemende resensies van Afrikaanse boeke. Vanjaar se wenners is:
- Fiksie: Deborah Steinmair en
- Niefiksie: Theodore Rossouw.
- Rina Bester is op 8 Oktober by die bekendstelling van die Woordfeeskortverhaalbundel as algehele wenner van die 2023-kortverhaalkompetisie aangewys vir haar verhaal “Legende van die Suameer”. Sy het in haar toespraak melding gemaak van die waarde van slypskole in kreatiewe skryfwerk. Dit was vir PEN Afrikaans ’n voorreg om vanjaar as een van die donateurs te kon bydra tot die bundelpublikasie met die twee dosyn wenverhale, gekies uit ’n totaal van 374 inskrywings.
- Bevorderingsinisiatiewe met betrekking tot kreatiewe skryfwerk
Catrina Wessels, PEN Afrikaans se bestuurder, sal in haar verslag ietwat meer besonderhede verskaf, maar ons as bestuur is trots om te kan sê dat ons vanjaar voluit kon voortgaan met skryf- en leesbevorderingsinisiatiewe. Ek noem enkele hoogtepunte in hierdie verband:
- ’n aanlyn kursus oor die beoordeling van genrefiksie, gelei deur die kranige en produktiewe resensent Jonathan Amid;
- aan die einde van Jeugmaand het ons ’n reeks video’s, met Aswin Arendse, Crystal-Donna Roberts en Joha van Dyk aan die woord, bekendgestel waardeur jong skrywers en lesers tot nadenke geprikkel word oor hoe wêrelde deur skryf- en leeswerk oop kan gaan;
- ondersteuning van die Woorde Open Wêrelde-been van die Woordfees;
- die jaarlikse skrywersresidensie, wat in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting onderneem word, kon weer by die Paulethuis op Somerset-Oos plaasvind;
- die inisiëring en befondsing van die programitem “Met apologie en dank”, waarvoor ’n aantal jonger Afrikaanse digters genooi is om gedigte van digtervoorgangers asook een wat hulle in reaksie daarop self geskep het, voor te lees tydens vanjaar se Tuin van Digters-fees by die Breytenbachsentrum op Wellington;
- ’n artikelreeks getiteld “Die wêreld van die skrywer” het kwartaalliks in ons nuusbrief verskyn.
- Voorts: Na afloop van die jongste twee aansoekbeoordelingsrondes kon ons die volgende vier vertalings van Afrikaanse literêre werke uit die PEN Afrikaans Vertaalfonds finansier: ’n Franse vertaling van Chinatown deur Ronelda S. Kamfer (Éditions des Lisières), ’n Engelse vertaling van Innie shadows deur Olivia M. Coetzee (House of Anansi Press), ’n Franse vertaling van Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal (Éditions LansKine), en ’n Albanese vertaling van Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen (Ombra GVG).
- ’n Besondere projek wat ons, met finansiële steun deur PEN International en die samewerking van Human & Rousseau, van stapel kon stuur, was die vertaling in Afrikaans en isiXhosa van die Finse skrywer Tove Jansson se kortverhaal “Die onsigbare kind”. Die doel daarmee is, onder meer by wyse van samewerking met die WOW-been van die Woordfees, die wek van ’n sterker sin vir inklusiwiteit en kritiese denke oor ’n reeks temas wat met geslagsdiskriminasie verband kan hou; bykomend die bevordering van lees- en skryfvaardighede, kreatiewe denke en ’n liefde vir lees.
- Standpuntinnames m.b.t. wat PEN Afrikaans voorstaan
Die kulturele posisie van Afrikaans, die ideale daarvoor (spesifiek as literêre en joernalistieke instrument) en die regte en waardigheid van Afrikaanse skrywers, uitgewers, literatore en joernaliste is aspekte waarvoor PEN Afrikaans sig uitgesproke beywer. Die volgende voorbeelde uit die jaar tot dusver dien as bewyse hiervan:
- Naas skriftelike voorleggings deur die PEN Afrikaans-bestuur as geheel by byvoorbeeld die Nasionale Raad van Provinsies en die Noord-Kaapse en Wes-Kaapse provinsiale wetgewers in hierdie verband, het ons penningmeester, Izak de Vries, tydens die Oos-Kaapse openbare sittings oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg ’n mondelinge voorlegging namens PEN Afrikaans gelewer om te wys op die negatiewe implikasies van die wetsontwerp vir kopieregbeskerming – ’n voorlegging wat goed ontvang is deur die komitee en ook skriftelik ingedien is.
- ’n Verklaring is deur PEN Afrikaans op 15 Mei uitgereik oor die onregmatige verspreiding van Truth to Power, André de Ruyter se verslag van sy drie jaar by Eskom.
- PEN Afrikaans het, in ’n verklaring in aansluiting by dié van PEN-sentrums wêreldwyd, die tragiese dood betreur van Viktoria Amelina, ’n begaafde Oekraïense skrywer, menseregte-aktivis en ’n dinamiese lid van PEN Ukraine, in ’n Russiese missielaanval op 27 Junie.
- Tydens die pas afgelope Toyota US Woordfees het Max du Preez, alombekende redakteur van Vrye Weekblad, aktivis vir persvryheid en skrywer van niefiksiewerk,die eerste lesing gelewer in ’n reeks wat ons geïnisieer het om verskillende aspekte van media- en uitdrukkingsvryheid in die kollig te plaas. Bestuurslid Mercy Kannemeyer het die geleentheid namens PEN Afrikaans geopen en gefasiliteer.
B.J. (Bernard) Odendaal
Voorsitter: PEN Afrikaans