Om te skryf is om goeters wat jy in jou kop ronddra, te sê en dan daai goeters in iemand anders se kop te gooi sodat hulle dit kan ronddra en hopelik sodoende hul denke verbreed.
Hip-hop, of enige ander vorm van kuns, gaan vir my oor wat gesê word en hoe dit gesê word. Die uiterlike is maar net die way wat jy kies om jouself aan die wêreld aan te kondig. Die innerlike of geestelike, wat die kreatiewe proses dryf, bly dieselfde. Die dop verander net.
Om te chant op die ritme van ’n trom, soos dit al eeue lank in Afrika gebeur, is basies wat hip-hop is. In sy moderne vorm lê sy wortels in protes asook daarin om iets op ’n djitser manier as ’n ander rapper te sê. Dit lê in die sê van ’n ding soos dit gesê moet word. Daar is diegene wat nie die verpakking like waarin hip-hop kom nie; dan word dit afgeskiet as nie kunstig genoeg om as digkuns gesien te word nie. Daar is ook mense wat glad nie hierdie kunsvorm beoefen nie, maar tog besluit om dit iets belaglik soos “kletsrym” te noem sodat dit mooi in iemand se boksie kan pas. Destyds het iemand ook so besluit om bruinmense te noem wat húlle wil, sodat ’n niksseggende woord soos “kleurling” ’n hele volk tot nikswees kon verdoem. Soveel so dat as jy vandag iemand sê dat jy nie ’n kleurling is nie, dan hou hulle jou dop asof jy van Mars is, want soos ’n onnadenkende man gesê word om te dink, so sal hy dink sonder om te bevraagteken wat vir hom gesê word. Woorde dra krag en as dit deur die verkeerde tonge gesê word, kan dit tot gevaarlike gevolge lei.
Deesdae, veral in die Afrikaanse musiekbedryf, word ons sintuie oorval deur mense wat hulself as kunstenaars beskryf, maar dan ontbreek die kuns ongelukkig en net ’n naar kol hang so op jou maag. Die eerste keer toe ek Bob Dylan se “Subterranean Homesick Blues” hoor, was ek nie seker of dit rap of sing was nie en besluit toe dat dit rap is vir my. Ek hoor dit ook in die musiek van Ali Farka Touré en vele ander blues-sangers. Ek het al lank terug besef dat die grense wat ons musikaal skei maar net ’n mensgemaakte konkoksie is, soos al die ander stupid grense wat ons skei. Iemand het eendag gesê dat dit so moet wees en dan het die skape saamgestem asof hulle nie ’n sê van hul eie het nie. Die verskil tussen kuns in ’n air-conditioned-epoxyblinkvloer-kunsgallery en kuns teen ’n ou stukkende fabriek se muur is te vind in die oog van die kykers, in die oor van die luisteraars en nie op die tonge van kritici nie. Ek sê nie alles in hip-hop is mooi en goed nie.Maar wat is tog nét goed? ’n Werk hou jou aan die lewe, maar dit sorg vir ’n sieldodende daaglikse roetine. ’n Kerk belowe jou ’n mooi lewe, maar net as jy eendag dood is.
Ek begin altyd ’n gedig met ’n titel en dan bou ek rondom dit en my idees kom so in stukkies en bietjies. Vóór slimfone het ek maar altyd rondgeskud met ’n pen en ’n blaai om dinge neer te pen voor ek dit vergeet. Ek is nie altyd seker of ek dit in ’n digbundel of in die volgende rap-album gaan plaas nie, maar dit werk homself altyd somehow self uit, soos dinge maar in die natuur ook werk. Ek tob nie te veel oor die formaat waarin ek myself uitspreek nie; ek is net bly dat ek nog opsies het en dat mense die boodskap somehow ontvang.
Ek het nou die dag op Facebook rondgedwaal en kom toe af op ’n update wat ek twee jaar terug geskryf het op my wall. Ek lees en dit sê: “Die ding van iets sê is dat jy dit nie kan ontsê sodra dit klaar gesê is nie.” Ek dink toe oor die woord “sê” en dog toe dit sal ’n befokte titel vir ’n nuwe gedig wees – en toe gebeur die volgende:
die ding van iets sê is dat jy dit nie kan ontsê sodra dit klaar gesê is nie
al sê jy ook hoe sorrie, dit was gesê.
al vra jy ook hoeveel keer om verskoning
mens besef dit gewoontlik agterna
dis hoekom ek eintlik niks nou wil sê nie
maar dis ook hoekom ek net wil sê dat
watookal ek nou gaan sê ek seker alreeds gesê het
op ’n ander geleentheid
êrens in die kuberruim se donker gange
dit beteken nie dat ek niks het om te sê nie
dit beteken ook nie dat hierdie sê niksseggend is nie
want
as ek niks wou sê nie
sou ek mos nie nou hier sê wat ek besig is om te sê nie
dit beteken ook nie dat ek nooit weer iets sal sê nie
want
ek sê nogal dinge as sêdinge aan my kop kom klop
dit beteken net eenvoudig dat ek
my sê
net vir ’n oomblik sal verlê
sodat ander kan sê wat hulle wil sê
of nie wil sê nie
want
daar was al tye waar ander sêers gesê het dat ek te veel wil sê
maar eendag sal jy onder ñ sandkombers lê en niks meer kan sê nie
dis hoekom ek nie kan verstaan hoekom jy so baie praat maar eintlik niks sê nie
ek het eendag gesê dat my vel ’n default setting is
toe sê iemand
ja maar hoekom sê jy dit
toe sê ek
want mense moet dinge gesê word wat hulle nog nie weet nie
anders hoor hulle net wat ander reeds te sê gehad het
mettertyd proe ons almal dieselle
dan smaak niemand meer lekke nie
dinge moet gesê word
sodat almal wat dit hoor
nie agterna kom
en sê,
maar ek het nie gehoor wat gesê was nie …
Ek weet nie of die gedig klaar is soos hy daar sit nie, maar ons sal sien hoe hy saam my praat as ek hom op ’n later stadium herbesoek, of dalk beland hy net in die “eendag”-file. Ek gooi nooit neergeskryfde woorde weg nie, hulle word altyd deel van ’n nuwe idee. Gelukkig is deadlines nie iets wat ek op ’n daaglikse basis mee deal as dit by gedigte kom nie, want dit kan nogal die gees kill. Die leser kan wag, want almal weet oorstaankos proe altyd lekkerder die volgende dag. Jy kan nie die kreatiewe proses forseer nie; soos met seisoene is daar ’n tyd om te groei, ’n tyd om te snoei en ’n tyd om te wag. Ek het nie altyd beheer oor wat ek skryf nie; som goed weet ek glad nie waar dit vandaan kom nie, maar dan staan ek net uit die pad van die woorde en laat hulle gebeur. Ek vind dat ek beter skryf soggens voor die daaglikse roetine die nag se drome uitvee. Ek onthou nie wat het in my slaap gebeur nie, maar ek weet iets het gebeur en as ek die komper nader trek, gebeur die magic gewoontlik. Vir my is daar nie ’n blueprint of ’n “how to”-boek vir hierdie dinge nie.
Hoe meer jy lees, hoe meer sal jy kan skryf, want lees herlaai die batterye. Jy kan jou hero as inspirasie gebruik net tot ’n sekere punt, dan moet jy die tetmelk en die kruipery laat staan. Dan sal jy jou eie sê vind.