
“Stil broers, daar gaan ’n Lady verby,” skryf Mercy Kannemeyer, voorsitter van PEN Afrikaans, ná die hartseer nuus van dr Diana Ferrus se afsterwe op 30 Januarie 2026.
“As regisseur het ek die geleentheid gehad om saam met Lady Di te werk in die musiekgedrewe produksie “Woorde op akkoorde”. Gevestigde name soos Frazer Barry, Deniel Barry, Churchil Naude, Jolyn Phillips en Bamboesina was ook in die stuk. My senuwees was op, maar Lady Di het my onmiddellik met ope, warme arms verwelkom,” skryf Kannemeyer.
“As groentjie het sy nooit enige van my voorstelle as laf afgemaak nie. Bok vir sports. Altyd gereed met ’n staaltjie of grappie. Dit was Lady Di in die repetisielokaal. Buite, in die regte wêreld, was sy ’n mentor vir menige, ’n stem wat niemand kon ignoreer nie. Lady Di het deure wawyd oopgetrap sonder om ooit op ander te trap.”
Dr Bibi Burger, letterkundige en ondervoorsitter van PEN Afrikaans, skryf:
“Diana Ferrus het wyle Patrick J. Petersen beskryf as ’n ‘[b]aanbreker in die Swart Afrikaanse skryf’. Dr Ferrus was self ’n baanbreker, van die Swart Afrikaanse literatuur, maar ook van die Suid-Afrikaanse letterkunde in die breë. Haar gedigte oor persoonlike en kollektiewe komvandaan, miskende historiese figure en oor die alledaagse het baie lesers geraak. Haar poësie het die geskiedenis verander deur die rol wat sy gespeel het in die repatriasie van Sarah Baartman se oorskot, en haar poësie het die toekoms verander deur haar werk as mentor van vele.”
Die bestuur van PEN Afrikaans betreur Diana Ferrus se afsterwe as ’n enorme verlies.
Ons is dankbaar dat sy deur die jare betrokke was by verskeie van PEN Afrikaans se projekte, soos die herdenking van Internasionale Moedertaaldag saam met PEN International, meerdere paneelbesprekings by die Breytenbach Sentrum se Tuin van Digters, en die Trippel 7-projek in die Noord-Kaap, waarná haar terugvoer was: “Skryf is nie ’n eenmens-projek nie, skryf is lewe…”
Ons sal haar onthou. Ons dink met innige meegevoel aan haar naasbestaandes in hierdie tyd.