Nuusbrief: Desember 2025

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2026 toegeken

 
SP Benjamin is aangewys as die ontvanger van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs vir 2026.
 
Hierdie gesogte skrywersbeurs word tweejaarliks toegeken. Die doel daarvan is om ’n belowende Afrikaanse skrywer in staat te stel om vir ’n jaar lank sonder finansiële sorge navorsing te doen en aan ’n kreatiewe skryfprojek in Afrikaans te werk.
 
Hartlik geluk aan SP Benjamin en alles van die beste met die skryfprojek!
 
Benjamin is bekend as ’n vreeslose, vernuwende stem in die Afrikaanse letterkunde, en uiteindelik was dit hierdie oorspronklikheid wat die beoordelaars oortuig het om sy voorstel bo die talle ander verdienstelike inskrywings te bekroon, volgens die persverklaring wat hier beskikbaar is: https://www.litnet.co.za/persverklaring-jan-rabie-marjorie-wallace-skrywersbeurs-2026-toegeken/.
 
Sien ook: https://www.litnet.co.za/jan-rabie-marjorie-wallace-skrywersbeurs-2026-n-onderhoud-met-donovan-lawrence/.
 
Aansoeke vir die PEN dit neer-residensie 2026 is nou oop
 
Met die PEN dit neer-residensieprogram nooi die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans en PEN South Africa skrywers en digters met geldige PEN-lidmaatskappe om aansoek te doen vir hierdie skrywersresidensie wat onverstoorde skryftyd in die kreatiewe en inspirerende ruimte van Paulet Huis waarborg. PEN is ’n internasionale organisasie wat skrywers se regte wêreldwyd beskerm en bevorder.

  
Jaarliks word PEN-skrywers van ander lande ook in KwaNojoli verwelkom, wat bydra tot die besonderse dinamika van die groep skrywers onder een dak.
 
Ten tyde van die aansoek is die lidmaatskap nie verpligtend nie, maar dit sal van die skrywer verwag word om ’n lid te word indien hy/sy goedgekeur word. Skryf asseblief aan penafrikaans@gmail.com om meer te wete te kom oor wat so ’n lidmaatskap inhou en wat die proses behels.
 
Datums vir 2026
Sluitingsdatum: 30 Januarie 2026
Aankondiging: 27 Februarie 2026
Residensie: 20 April tot 10 Mei 2026
Doen hier aansoek: https://jgf.org.za/af/residensies/#PENditNeer
 
Artikelreeks: Die wêreld van die skrywer

 
In die nuwe aflewering in ons artikelreeks “Die wêreld van die skrywer” deel Karen de Wet, professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit van Johannesburg, op ons uitnodiging haar gedagtes oor bloemlesings en die Afrikaanse poësie.
 
Lees haar artikel gerus hier: https://penafrikaans.org.za/na-groot-poskaarteboek-gedagtes-oor-antologiee-en-die-afrikaanse-poesie-karen-de-wet/
 
 ’n Verklaring oor Kindle Translate
 
In ’n onlangse gesamentlike verklaring deur die Europese Skrywersraad en die Europese Raad vir Verenigings van Literêre Vertalers spreek dié twee organisasies, wat meer as 260 000 vertalers en skrywers verteenwoordig, hul ernstige kommer uit oor Amazon se aankondiging van Kindle Translate, ’n KI-gedrewe vertaaldiens wat beloof om gratis en binne enkele dae publiseerbare vertalings van boeke te genereer.
 
Die verklaring kan hier afgelaai word.
 
’n Deel van die skrywe lees:
 
“[T]he ease with which translators seem to be removed from the translation process in favour of AI services and tools is incredibly worrying and should be a wake-up call for all players in the global book sector.
 
Writing a book takes intense labour time, life-long development of craft, and highly professional skills and creativity. The same applies to the translation of a book: the skills, crafts and expertise of translators are instrumental in the creation of high-quality translations, which respect the writer’s sense of storytelling and style as well as enrich the reader’s experiences.
 
AI does not translate, it merely generates textual material and most AI models have been unlawfully trained on copyright-protected works without consent, attribution or remuneration of the writers and translators.”
 
Naas die genoemde etiese besware is daar bedenkinge oor die gehalte van masjiengegenereerde vertalings wat ernstige reputasieskade vir skrywers kan inhou.
 
By PEN Afrikaans vier en erken ons die belang en waarde van vertaling. Sien gerus ons reeks “Die kuns van vertaling” op ons webwerf.  Ons beoog om dié reeks in die nuwe jaar voort te sit met insette van kundiges oor ’n reeks onderwerpe wat met vertaling te doen het.
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in November 2025 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Desember 2025
 
Baie geluk aan ons lede wat in Desember nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
 
Ten slotte is dit baie lekker om aan die einde van ’n jaar te kan welkom sê aan die volgende nuwe lede:
– Caren Kearley
– DeWet Bischhoff
– Theresa de Necker

Ons sien uit om 2026 saam tegemoet te gaan. Mag dit ’n vreugdevolle feestyd vir almal wees.
 
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans