Vertaling skep ruimte in ’n taal. Dit laat osmose van mensekennis tussen kulture plaasvind. As jy alleen maar in jou eie taal bly hang, lei dit tot benoudheid en oordrewe engheid. (Gerrit Komrij, 2002)
Vertaling is gimnastiek vir ’n taal. (Gerrit Komrij)
Foto: Brenda Veldtman
Vertaling en vertalings is ’n dinamiese manier om dit wat buite jou lê, toe te laat om intens en genuanseerd die “ek” te beïnvloed. Jy ervaar iets wat van jou en jou ervaring verskil. Daar is skielik ’n karakteristieke weerstand van iets of iemand wat nie binne jou selfkennis val nie – hierdie ligte weerstand lok jou via taal uit om jou innerlike kaart aan te pas. Byvoorbeeld:
“Hoeveel keer het sy oor die prourand gehang om deur ’n hol bamboes te kyk na die seetuine in die buitebaai – die droomgesig in gekleurde koraal verstar.” (Die tienduisend dinge, Maria Dermoût, vertaal deur Ena Jansen, p 15)
Eintlik het ons nie meer ’n keuse nie. Vanweë globalisasie is die wêreld reeds inmekaar geweb. Ons weef daagliks aanhoudend tussen tale en kulture deur wat nie ons s’n is nie, want hermeties-geseëlde grense bestaan nie meer nie. Filosowe pleit dat mens nie aggressief moet wegdraai of stagneer nie, maar ’n fikse, veelsydige burgerskap moet aankweek. Ons moet ons lossny van veilige magsentrums en die vasklouery aan ’n sogenaamde universaliteit verander in ’n soektog na heerlike pluriversaliteit. “Die vermoë om met verskille saam te leef, is vanuit my oogpunt, die belangrikste uitdaging van die 21ste eeu,” sê Stuart Hall.
Hoe skep en oefen ons hierdie vermoë om verskille nie as konfronterend te ervaar nie, maar verrykend? Deur te vertaal en vertalings van literêre werke te lees. Tekste uit inheemse kulture anders as jou eie bring ’n verskuiwing in jou oordeelsvermoë, jou waardestrukture, in hoe jy die wêreld sien teweeg.
“Die Wind (dit is nou die Wind se seun) was voorheen ’n man. Toe word hy ’n voël. En hy het gevlieg, terwyl hy nie langer geloop het soos hy voorheen geloop het nie; want, hy ( ) was vlieënde …” (Bleek, 1911, p.107)
Hoe op aarde?! Verryk staan jy skielik te midde van die daaglikse saaiheid van die internet…
Daarom word vertaling beskou as ’n politieke daad – ’n doelbewuste interaksie om ’n bestaande stand van sake te verander. Om ’n literêre vertaling te lees, is ook ’n politieke daad. Ons identifiseer meestal tydens die leesproses met iets of iemand en beleef die teks vanuit ’n persoonlike perspektief. Vertalings gooi dié leesproses omver. ’n Boesmanteks sonder enige sentrale individu stel jou lesend bloot aan meervoudig leef, as mede-bestaner: mede-wind, mede-hamerkop, mede-eland, mede-boom, mede-mens…
Inheemse literêre tekste is veral geskik om hegemoniese opvattings te verbrokkel. So kan Nederlands baat by die invloed van die inheemse in Afrikaans, en Afrikaans kan baat deur Nederlandse vertalings van tekste anders as uit Engels en so toegang kry tot die letterkundes van, byvoorbeeld, Oos-Europa en die Ooste. Vir feministe neem vertaling ’n sentrale posisie in omdat dit eensydig-intellektuele praktyke blootlê en nuwe kennis in grensgebiede skep.
*
By UWK het ons oor die jare verskeie vertalingsprojekte afgehandel waarvan twee betrek kan word by die gesprek oor die verhouding tussen Nederlands en Afrikaans. In 2004 is vertalings van gedigte wat as klassieke en belangrike werke deur inheemse moedertaalsprekers geïdentifiseer is, in Afrikaans vertaal. 98% van die gedigte, geskryf in isiXhosa, isiZulu, Sesotho, Sepedi, Setswana, Tshivenda, Xitsonga, Siswati en isiNdebele, is nog nooit voorheen vertaal nie en verskyn in die bundel Met Woorde soos met Kerse wat by Kwela verskyn het met die ondersteuning van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans asook “ruim finansiële steun van die Nederlandse Ministerie van Onderwys, Kultuur en Wetenskappe.”
Van hierdie gedigte is onlangs opgeneem in bloemlesings vir skole, asook gebruik in ’n opvoering by die Suidoosterfees waarby ook moedertaalsprekers betrek is, en wat gelei het tot ’n klomp video’s waarop die inheemse tale met Afrikaans gekombineer word. Die hoop is dat hierdie tekste deel van die Afrikaanse poëtiese diskoerse word, dat hulle inhoud en tegnieke ‘n verryking bring wat kan lei tot epistemiese verskuiwings en ‘n meer gegronde betrokkenheid by ons kontinent se tale. Deur middel van ‘n literêre fees soos Winternachten in Den Haag is van hierdie gedigte voorgelees in isiZulu en Nederlands.
Die tweede projek is die vertaling van uitgesoekte gedigte van drie vroulike Nederlandse digters van kleur in Afrikaans. Daar is alreeds ‘n aktiewe uitruiling tussen digters in Kaaps met die Nederlandstalige Radna Fabias, Babs Gons en Simone Atangana Bekono d.m.v. optredes by taalfeeste en by wyse van akademiese navorsing. Alhoewel meer as 60 boeke reeds uit Nederlands in Afrikaans vertaal is, was onder hulle, tot onlangs, nie ’n enkele boek geskryf deur ’n persoon van kleur nie en net vier deur vrouens. Voeg hierby dat nie een van die boeke vertaal is deur ’n persoon van kleur nie, dan bring hierdie UWK-projek ’n rits van eerstes.
Die idee agter die projek is om studente te stimuleer om aan vertaling as ’n bydraende aktiwiteit tot hulle eie ervaring en skep van poësie te dink, maar veral om ’n soort “inspuiting” in die Afrikaanse poësie te gee van die maniere waarop jong Nederlandse digters skryf oor die reeds bekende problematiek van kleur, geslag, liggaam, identiteit en kolonisasie. Dit is veral die vorm, die “hoe”, wat interessant kan wees vir ons hier plaaslik.
By die manier of styl word bedoel ons wil graag kyk hoe Radna Fabias gebruik maak van “the painful paradox through repetition (while renouncing it) in the form of a pounding anaphora”. Die leser word energiek deur die ruimte geslinger deur ongereelde stansabreuke, enjambemente en narratiewe trajektors wat vars en onvoorspelbaar voel. Die ritme is vry maar vasberade en die versreëls aan die linkerkant van die bladsy word beantwoord deur versreëls aan die regterkant in ’n soort fugavorm. Soms vind ’n aflos plaas waar die hoofitem deur verskeie ander “spelers” vorentoe geneem en aangegee word. Fabias se sterk stem zigzag deur tyd en ruimte en wys hoe geweld verskans word agter wit vrygewigheid.
In Babs Gons word gekyk na hoe die “spokenword” op papier gestalte kry sonder om seggingskrag in te boet. Simone Atangana Bekono se tegniek van groot “sweeping epistolary poems” word bestudeer.
Een van my eie waarnemings tydens die vertaling van die werk van Tom Lanoye, is hoe moeilik dit was om ironie in Afrikaans te vertaal. Met die dramas moes die stemtoon dit meestal doen; dit was moeilik om die taal self met ironiese funksie aan te wend. Tydens bogenoemde vertaalproses, was dit weer eens moeilik met die variant van algemene Afrikaans, maar skielik is dit wonderlik maklik in Kaaps, asof Kaaps ’n ingeboude ironie in sig omdra!
*
Dan wil mens altyd ere bring aan die vertalers van poësie. Nie verniet nie sê Abû Utmân al-Jâhiz:
If translated, the very essence of poetry is destroyed. . . . Poetry cannot be translated, should not be translated, because, when translated, its music, rhythm and poetic structure disappear, its whole beauty fades away, and nothing really worth admiring is left; in point of fact, translated poetry ends up by becoming plain prose. . .
Robert Dorsman, wat my destyds as ’n onbekende digter diep in die platteland kom opsoek het om my werk te vertaal en my later by Poetry International staan gemaak het, het oor die jare vir bladsye lieflikhede gesorg saam met digter Jan van der Haar as mede-vertaler. Hier is ’n paar voorbeelde uit die onlangse bundel Plundering:
sluk jou hart af, my lief /ons eet spriet (neem het ervan, lieveling / wij eten jonge sla-ui)
die inkarteling van jou naeltjie /die liglek van larinks (de rimpeling van je navel /de schaduwval van adamsappel)
Robert Dorsman: jou gedig “dis wanneer ek weg van jou is” = wanneer ik niet bij je ben. Eigenlijk staat daar in het Nederlands: dit/het is wanneer ik weg van jou ben. Maar ‘weg van jou’ betekent ‘lief wees voor’. ‘dis’ is anglisisties, it is. Dus op twee levels soek ons na die juiste vertaling, die juiste ewewig, dus word dit: wanneer ik bij je vandaan ben. Jan en ek wil nie beweer dat die vertaling noodwendig ‘beter’ is as die oorspronkelike.
koelbloedige woestaard /tussen al die dunkoppige vernielers en internet-verseildes (koelbloedige woesteling / tussen al die zultkoppige vandalen en internetjunks)
dikmaaghaas galop lampoot (hangbuikhaas rent hompelend)
Robert: Een van my gunsteling gedigte is “treinreis Groningen-Amsterdam”, omdat dit vir die vertalers naby is, hulle ken die landskap, die sfeer. Die gedig op haarzelf is weer eksotiserend, omdat die digter die landskap beskryf met/deur haar ‘vreemde oë.’ Dit maak dit voor die vertalers weer ‘vreemd’, en hierdie vertaling van hierdie gedig is dan een hoogtepunt van vertaalprosesmatig besig wees.
ons ander het verander in die do-gooders /die performers die uitreikendes die opdressers /die ydeles die voorgeërs /die podium-diere die youtubers /die deemoedige kakskrywers (wij de anderen zijn veranderd in gutmenschen / de performers de uitslovers de pauwen /de ijdeltuiten de aanstellers /de podiumtijgers de influencers /de lullige flutschrijvers
Voeg hierby die onverbeterlike Alfred Schaffer wat in staat is om taal wat nie taal is nie, wat nuwe taal wil wees, nogtans te ver-taal:
(Onderstreepte woorde bestaan nie in Afrikaans nie, vetgedrukte woorde word nie op dié manier in Afrikaans verbind of gebruik nie.)
ons hoor dit nie ons probeer van mekaar wegstammel
deur handgooiende hatery deur botmakende selfomhalsings
en die waan dat elkeen se onvervu(a)lde
verhemelte net vir die self glief
ons bly in die graan-roggelende kore van duiwe in-tuur
stiks ontkannend dat ons slymlywende lewe heelalwyend
van hartkleur wil wees – (ons behoort uitgeroei te word lief
as sintuiglose haatdorwende gierskytende bokse
goedskikse fokkals)
we horen het niet we proberen van elkaar weg te stammelen
door handgooiend gehaat door botmakende zelfomhalzing
en de waan dat ieders onvervuld-vervallen
verhemelte alleen voor het zelf glieft
we blijven in het graan-rochelende koren van duiven turen
stiks ontkannend dat ons slijmlijvende leven heelalwijdend
van hartskleur wil zijn – (we behoren uitgeroeid te worden liefste
als zintuigloze haatdorvende gierschijtende dozen
goedschikse verkloters)
: ek hu ’n onnamaakbare boom my egbindelik benaamde? haar
bedagse asemblossing op my skouers ek’s jags op haar aflaat haar tong in my
oor pluk ’n brandende lont deur my harskings vryvuurwirrkaatsend vlaamtasbaarste my. goddin
Sleutelwoorde: vergras vermier verwolk verswartwitpens //Kabbo landskapverinniging
enkelmensvel-opgee-end
: ik huw een niet na te maken boom mijn echtbindelijke
benaamde? haar overdagse ademblossing op mijn schouders ik geil op haar
aflaat haar tong in mijn oor trekt een brandende lont door mijn harsens
vrijevuurweerkaatsend vlaamtastbaarste mijn. goddin
Sleutelwoorden: vergrassen vermieren verwolken verzwartwitpensen //Kabbo
landschap-verinniging enkelmensenhuid-afzwerend
*
’n Gesprek met die voorsitter van die Nobelpryskomitee dekades gelede bly my by. Op ’n vraag hoe die komitee weet waar briljante werk gelewer word, sê hy: Die komitee hou die Nederlanders dop. Hulle bevolking is wyd verspreid, ook na rare gebiede, hulle het ’n uitstekende en energieke vertaalkultuur wat maak dat hulle dikwels eerste buitengewoon briljante werke optel.
** En diegene wat Literêre vertalings lees