
Miskien sal ek vir ’n maand by die huis wees, dalk twee maande, met moeite selfs drie. Maar dan moet ek my goed pak, in my bakkie klim en die pad iewers heen vat, al weet ek soms nie waar daardie iewers is nie.
Hoekom is dit só? Dit is ’n soort koors, wat slegs met behulp van ’n padkaart verlig kan word. Ek gebruik steeds ’n kaartboek van papier, ja.
Of reis ’n mens uit genetiese noodsaak? Bruce Chatwin, daardie geslepe, ontslape Britse reisiger met die Moleskin-notaboek in die rugsak, meen diep binne-in ons het ons ’n nomadiese impuls, die genetiese oorblyfsels van ons oeroupas en -oumas wat hoeveel duisend jaar gelede knaend agter wild of iets aan getrek het.
Ek was ’n moeilike baba. Het by tye glo vreeslik geskreeu en gehuil, veral saans. Later het oorlede Pa en oorlede Ma agtergekom as hulle my in die Volksie laai en ’n ent met my gaan ry, raak ek ná ’n ruk rustiger, hou ek op met huil. Dít het hulle my vertel.
Is ek nie eintlik maar net ’n bedorwe, 60-jarige baba wat rondry om van die dag tot dag sleur van die lewe te probeer ontsnap nie? het ek al gewonder.
Maar dit kan tog nie wees nie. Ek was seker as kind laas op vakansie: In die Valiant Suidkus toe, see, sand en die sorgelose reuk van Coppertone-sonbrandroom. ’n Helderte kom in my los wanneer die aarde voor die bakkie se neus oopvou, maar min van my reise is om van iets te ontsnap. Ek reis juis om die werklikheid meer intens te probeer beleef.
Ek het al vroegoggend in Pretoria in die koerant sit en lees hoe ’n pa, ma en hul dogtertjie die dag tevore op ’n plaas naby Lindley in die Vrystaat vermoor is. Dieselfde middag, so 4 uur en 300 km later, toe loop ek met die vermoorde dogtertjie se Jack Russel-hondjie verskrik in my arms op die verlate plaaswerf rond. ’n Plas droë bloed onder die afdak waar die boer by sy bakkie doodgeskiet is.
Daarom is ek seker meer ’n joernalis as ’n skrywer. Of dalk is ek net ’n woordsmous met ’n Hilux-bakkie wat al meer as 250 000 km op die klok het. Migdol in die ou Wes-Transvaal is min of meer al dorp in die land waardeur ek nog nie geswerf het nie.
Ek, ’n enigste kind, het begin skoolgaan op Grootfontein in die ou Suidwes-Afrika, waar Pa ’n predikant was. Oral op die plase het San-mense gewoon. Boesmans, ’n naam wat hulle hulself ook noem. Oerswerwers.
Die Boesman-kinders was my speelmaats wanneer ons by mense in die distrik gekuier het. Ek kan steeds tot by 10 in die !Kung-taal tel. Die kinders se ouers het as arbeiders vir die plaasboere gewerk, maar op ’n dag sou Nanni of Kuma nie by die werk opdaag nie. By die hoekige arbeidershuisies buite sig van die opstal sou hulle ook nie wees nie.
“Nanni het weer weggeloop,” sou die boer dan met ’n sekere siniese gelatenheid sê.
Weggeloop na hulle en hul voormense se ou jagvelde in Tsumkwe naby die Botswana-grens se koers. Om weer op die Ou Manier te gaan leef. Ná ’n maand of drie sou Nanni op ’n dag weer sy verskyning op die plaas maak, berouloos, om weer trekker te dryf, draad te span en bees te werk. Kleintyd al was daar vir my iets magies, iets misterieus, aan hierdie mense se verdwynings al het ek tóé nog nie woorde daarvoor probeer vind nie.
Durf ek dit sê? Sal dit nie as appropriasie vertolk word nie? Maar Pa en Ma se troetelnaam vir my was, wel, “Boesman”.
Meer as een keer het ek al gery op die dowwe spore van ’n groep San-mans wat in die laat 1800’s in die Breekwater-gevangenis in die Kaap aangehou is. In my jongste boek skryf ek oor een so ’n reis.
Die meeste van hierdie San-mans is destyds vir veediefstal aangekeer in daardie dor, sondeurdrenkte deel van die land wat steeds Boesmanland genoem word. Brandvlei se omtes. Kenhardt. Putsonderwater. Vanwyksvlei.
Wie weet nie hoe dr. Wilhelm Bleek, ’n Duitse taalgeleerde, met die toestemming van die tronkowerhede met van hierdie gevangenes begin gesels en met behulp van sy dogter, Dorothea, en skoonsuster, Lucy Loyd, hul taal en vertellings neergeskryf het nie? In die Bleek-versameling wat in die Universiteit van Kaapstad se Jȁger-biblioteek gehou word, is honderde notaboeke en ander dokumente. Stories. Gedigte. Liedjies.
Antjie Krog het van die gedigte in Afrikaans vertaal. Soos dié een van Jantje Tooren, ofte wel //Kabbo:
ek sal bloot luister en ’n storie bespied
ek sal daarvoor sit en wag
dat dit kan insweef by my oor.
Miskien is dit min of meer wat ek doen, in die luuksheid van ’n moderne, bevoorregte lewe: ’n bakkie, gastehuise, ’n selfoon. Ek sit op plekke vir stories en wag. In kroeë. Dalk te veel in kroeë, waar jy dikwels die spoor van ’n storie optel.
En oral hou ek stil en gesels met mense en neem van die gesprekke met my selfoon se klankopnemer op. Ek praat met dokters, plaasboere, voormalige rugbyhelde, jakkalsjagters en die vrou wat die rooi vlag by die padwerke swaai – enigiemand wat ek dink ’n storie het; en dit is ons almal.
“We tell ourselves stories in order to live,” skryf Joan Didion. “We interpret what we see, select the most workable of the muliple choices. We live entirely, especially if we are writers, by the imposition of a narrative line upon disparate images.” ’n Teksvers wat ek my eie gemaak het.
Dikwels gesels ek met ouer mense, onder meer treinmense wat vir die eens trotse Suid-Afrikaanse Spoorweë gewerk het. Stokers. Drywers. Roepmanne. Ek is op soek na woorde om al die verlate treinstasies en spoorweghaltes in die land weer lewe te probeer gee.
Ek het die knaende behoefte om my mense, die Afrikaners, wie hulle ook al is, se Ou Manier van leef neer te skryf. Dit is ’n gevaarlike terrein, veral in hierdie land. Nostalgie is ’n dwelm wat jou maklik kan laat dink in die verlede was alles in die land beter as nou, wat jou die wat anders as jy is, se verwildering en swaarkry laat vergeet.
Maar ek het ook die behoefte om Die Ander te leer ken – hulle wat anders as ek doen en dink en glo. Ryszard Kapuściński, ’n ander geslepe, ontslape reisiger wie ek bewonder, het ’n boek met daardie titel geskryf: Die Ander. Die boek is deur sy reise geïnspireer.
In 2012 het ek die eerste keer in my bakkie geklim en na Nkandla, diep in Zoeloeland, gery. Oud-pres. Jacob Zuma was toe nog die president en het in ’n koerantonderhoud gesê elke Afrikaner behoort ’n Nkandla te hê, ’n soort kultuurtuiste waar hy of sy geborge voel. Ek wou gaan kyk hoe sy Nkandla lyk. Ek het vriende geword met een van sy niggies, Manji. Ek was intussen weer drie keer by Manji op Nkandla, en elke keer ry ek daar weg, en dink: Ek weet steeds byna niks van haar af nie.
Telkens word ek weer bewus van die gordyn van nie-verstaan wat tussen baie van ons in die land is.
Deesdae hou ek dikwels by kerke stil en praat met predikante. Of ek oorreed ’n koster of ’n tuinwerker om ’n deur vir my oop te sluit. In die stil skemerte van ’n kerkgebou kan jy die skemer plekke in jouself besoek. Al hoe meer het ek die behoefte om binnetoe te reis. Dit is hoekom my jongste boek se titel Die binneland in is. Maar anders as Etienne Leroux en ander skrywers kan ek dit nie Jungiaans doen nie, hierdie soeke na die self. Ek is nie literêr goed genoeg toegerus daarvoor nie. Ek doen dit met ’n padkaart in my Hilux.
Lank gelede het ek ’n aanhaling uit ’n Jorge Luis Borges-storie in ’n notaboek neergeskryf.
“A man sets out to draw the world,” skryf Borges. “As the years go by, he peoples it with images of provinces, kingdoms, mountains, bays, ships, islands, fishes, rooms, instruments, horses and individuals. A short time before he dies, he discovers the lineaments of his own face.”
Op die langpad ontdek jy deur ander jou eie menslikheid.
Ek wonder hoe lyk dit op Migdol.