Nuusbrief: Oktober 2022

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
 
Wenner van die Woordfeeskortverhaalkompetisie aangekondig
 
Lynthia Julius is as algehele wenner van die 2022 Woordfeeskortverhaalkompetisie aangekondig by die bekendstelling van die sewende US Woordfeeskortverhaalbundel in Stellenbosch op 10 Oktober. Sy wen R30 000 geborg deur Du Toitskloof Wyne vir haar storie “Plat lê soos ’n Minora blade”. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, het prysgeld van R5 000 ontvang. (Klik hier om te sien wie die ander 22 kortverhaalskrywers is wat vanjaar se bundel gehaal het, en hier om meer oor die Woordfees se kortverhaalprojek te lees.)
 
“Uit 366 verhale word daar net één wenner gekies, en vanjaar s’n is van die oorspronklikste wat ek al gelees het. Dis as ’t ware ’n Nagmaal wat plaasvind, maar op ’n heel anderster manier. Lynthia slaag daarin om uiteenlopende temas saam te voeg in ’n styl wat wissel van humor tot patos,” sê Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is.
 
Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.

 
(Foto’s: Jeremeo le Cordeur)

Oor die betekenis van hierdie erkenning het Lynthia Julius gesê: “Toe ek klein was het ek altyd vir die kinders gesê: ‘Vat my handtekening, want dit gaan eendag baie werd wees.’ Ek het my handtekening op bome, hulle arms en in hulle boeke gemaak en niemand het my kop toe gevat nie. Toe ek by die bekendstelling gevra word om die boeke vir die argief te teken het ek aan die 7-jarige Lynthia gedink en sy het gesmile. Die kompetisie het haar weer ’n platform gegee om haar handtekening te kan maak, want daar is mense wat dink dis iets werd.”
 
Baie geluk, Lynthia! 

Vir dié wat dit misgeloop het: klik gerus hier om die boeiende artikel te lees wat Lynthia onlangs vir ons artikelreeks gelewer het.
 
PEN Afrikaans by Tuin van Digters en die US Woordfees 2022
 
Dankie aan almal wat bygedra het tot “Digter wordende”, ’n huldigingsitem vir Antjie Krog wat PEN Afrikaans by Tuin van Digters aangebied het. Pieter Odendaal het die program saamgestel en die fokus was op verse in verskillende tale. Die digters en musikante wat saam met Pieter deelgeneem het, is: Jolyn Phillips, Frazer Barry, Deniel Barry, Jerzy Koch, Alfred Schaffer, Shirmoney Rhode en Mbongeni Nomkonwana.  


 
Dat digkuns oor die naweek van 7 – 8 Oktober in Wellington weer vlerke en lugtyd gekry het, is gewis, en is welkom. Baie dankie aan Francois Lötter en die Breytenbach Sentrum dat opbetaalde lede van PEN Afrikaans die fees weer gratis kon bywoon. Dit was inderdaad ’n fees.
 
Dit was ook ’n plesier om by die Toyota US Woordfees (10 – 16 Oktober) die volgende te kon aanbied:
– ’n WOW-slypskool vir aspirantskrywers. Die deelnemers het behoorlik geborrel van storie-idees en die lus om meer oor skryfwerk te leer. Dankie aan die Woordfees se WOW-projek;
– die PEN Afrikaans Skrywerskamer, waar mense deur die loop van die fees kon inloer vir koffie, tee en plek om rustig te sit. Dit was goed om julle daar te sien.  

Algemene jaarvergadering 2022
 
Ons herinner almal dat ons algemene jaarvergadering op 26 Oktober om 18:00 via Zoom plaasvind en ons nooi weer ons lede en ander belangstellendes hartlik uit om dit by te woon. Laat weet ons asseblief by penafrikaans@gmail.com indien jy belangstel om die vergadering by te woon en dus die Zoom-skakel wil ontvang. Die agenda kan hier afgelaai word.
 
Almal is welkom, maar slegs opbetaalde lede sal stemgeregtig wees. Vul asseblief ’n volmagvorm in om ’n ander lid te magtig om jou stem waar te neem indien jy nie die vergadering kan bywoon nie. Laai die vorm hier af en stuur die voltooide vorm teen 25 Oktober na ons e-posadres bo.
 
Poësie uit Oekraïne

Hiermee nog ’n gedig van Sergei Zhadan, uit die Engels vertaal deur Mellet Moll. Die Engelse vertaling (deur V Tkacz & W. Phipps) verskyn in: Zhadan, S. (2019). What we live for, what we die for. New Haven, Connecticut: Yale University Press.

 

Oorfone
 
Sasha, ’n stil dronkaard, ’n esoterikus, ’n digter,
het die hele somer in die stad deurgebring.
Toe die skietery begin, was hy verbaas –
hy het die nuus begin kyk, toe opgehou daarmee.
Hy stap in die stad rond met oorfone aan,
luister na goue oues,
terwyl hy oor uitgebrande motors struikel,
opgeblase liggame.
 
Dit wat sal oorleef uit die geskiedenis
van die wêreld waarin ons geleef het
sal die woorde en musiek van ’n paar genieë wees
wat desperaat probeer het om ons te waarsku,
wat probeer verduidelik het, maar niks kon verduidelik
of enigeen kon red nie;
hierdie genieë lê in begraafplase
en uit hul ribbekaste
groei blomme en gras.
Niks anders sal oorbly nie –
net hul musiek en liedjies, ’n stem
wat jou dwing om lief te hê.
 
Jy kan kies om nooit hierdie musiek af te skakel nie.
Luister na die kosmos, maak jou oë toe.
 
Dink aan walvisse in die see in die nag.
Hoor niks anders nie.
Sien niks anders nie.
Voel niks anders nie.
Behalwe, natuurlik, om die reuk te kry,
die reuk van lyke.
 
Die wêreld van die skrywer

 

Mercy Kannemeyer is aan die woord in die nuwe artikel in ons artikelreeks genaamd “Die wêreld van die skrywer”.
 
Klik op hierdie skakel om die artikel te lees waarin sy uitwei oor die skryf van dramas. Dit kom nadat verskeie deelnemers aan ons afgelope aanlyn kursus spesifiek belanggestel het in dié onderwerp, wat ook vir Mercy na aan die hart lê. Lekker lees.
 
Nog ’n uitvloeisel van die aanlyn kursus is hierdie video waarin verskeie Afrikaanse skrywers besin oor of en hoe hulle vir spesifieke teikenmarkte skryf. Klik en kyk dit op ons YouTube-kanaal.
 
Nuwe voorsitter en lede van die Letterkundekommissie
 
Ons deel graag hier die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns se aankondiging van die nuwe voorsitter en twee nuwe lede van die Letterkundekommissie. Die nuwe voorsitter is Willie Burger van die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria en die nuwe lede is die bekende skrywers Valda Jansen en Bettina Wyngaard.   
 
Die Letterkundekommissie vir die termyn van September 2022 tot September 2025 is soos volg saamgestel:
 
Prof Willie Burger (voorsitter)
Dr Marni Bonthuys
Prof Marius Crous
Prof Thys Human
Me Valda Jansen
Dr Amanda Marais
Prof Hein Viljoen
Prof Andries Visagie
Me Bettina Wyngaard
 
Die SA Akademie is verheug dat twee bekroonde skrywers met ’n besondere kennis van die Afrikaanse literatuur en wat aktief aan die literêre wêreld deelneem, beskikbaar is om in die Letterkundekommissie te dien. Valda Jansen se roman, Hy kom met die skoenlappers, verskyn in 2016, maar van haar gedigte is reeds in 1989 opgeneem in I Qabane Labantu, ’n versamelbundel van versetpoësie met Ampie Coetzee en Hein Willemse as redakteurs, en daarna ook in 1990 in die versamelbundel Optog. Van haar gedigte verskyn ook in Groot verseboek. Bettina Wyngaard se debuut, Troos vir die gebrokenes, is in 2010 met die Jan Rabie Rapport-prys bekroon. Sy publiseer ook vier fiksieboeke waaronder die misdaadromans Vuilspel en Slaafs. Sy skryf vir LitNet en is ook ondervoorsitter van die Andrew Murrayprysfonds.
 
Die Raad het ook veranderinge aan die Letterkundekommissie se reglement goedgekeur wat kontinuïteit in die samestelling sal bewerkstellig sonder dat die kommissie se werksaamhede benadeel word. Dit is gedoen deur beperkings te plaas op die tydperke wat kommissielede mag dien, en ook op die termyne van voorsitters. ’n Verdere wysiging is aangebring in die reglement van die gesogte Eugène Maraisprys met ’n bepaling dat hierdie prys voortaan om die beurt aan prosa in een jaar en poësie/drama die volgende jaar toegeken word vir werk wat gedurende die vorige twee jaar gepubliseer is.
 
Wenners van die kykNET-Rapportpryse aangekondig

Die Covid-pandemie en grendeltyd het skitterende gevolge vir die Afrikaanse boek ingehou, te oordeel na die kreatiwiteit, diepte en reikwydte van titels wat vanjaar meegeding het om die kykNET-Rapportpryse. Die wenners betrek van ’n herverbeelding van die plaasroman tot die skeibrekers van die Dorslandtrek tot charismatiese lekepredikers tot vroue in opstand teen die patriargie.

Die pryse, wat altesaam R1 miljoen beloop, is Saterdagaand 24 September 2022 op ’n glansgeleentheid in die Mount Nelson-hotel in Kaapstad oorhandig. Die bekroonde digter Ronelda Kamfer, wie se eerste roman Kompoun in twee kategorieë benoem is, is aangewys as wenner van die Jan Rabie-Rapportprys vir debuut- en tweede prosawerke.
 
Altesaam sewe pryse is toegeken – naas die Jan Rabie-Rapportprys ook pryse vir Afrikaanse romans, niefiksie en ’n werk met filmpotensiaal, en drie pryse vir Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke. Die prysgeld beloop R300 000 elk vir romans en niefiksie, R155 000 elk vir die filmprys en die Jan Rabie-Rapportprys, en R30 000 elk vir die drie resensiepryse. Dit is die negende jaar dat die kykNET-Rapportpryse toegeken word.
 
Op dieselfde geleentheid is aangekondig dat die filmprys voortaan as die kykNET-Rapport Herman Binge-prys bekend staan, ter erkenning van die reusebydrae van die ontslape filmmaker en boekliefhebber Herman Binge die afgelope nege jaar as keurder en tot die Afrikaanse film- en boekbedryf as geheel.
 
Die wenners van die boekpryse is:
– Fiksie (romans): Gerda Taljaard vir Vier susters (Penguin)
– Niefiksie: Nicol Stassen vir Van Humpata tot Upingtonia (Protea Boekhuis)
– Debuut en tweede prosawerke: Ronelda Kamfer vir Kompoun (Kwela)
– Film: Francois Smith vir Die getuienis (Tafelberg)  

Die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar word in drie kategorieë toegeken vir uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke. Vanjaar se wenners is:
– Fiksie: Charl-Pierre Naudé vir “Dekonstruksie as gebundelde terrorisme” oor Die wrede relaas van Vuilgat en Stilte deur Aryan Kaganof in Beeld/Die Burger/Volksblad, 27 September 2021. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/dekonstruksie-as-gebundelde-terrorisme-20210926
– Niefiksie: Jean Meiring vir “Goldblatt ’n vreemde, fiere eik van ’n vrou” oor Op soek na Saartjie deur Dominique Malherbe in Beeld/Die Burger/Volksblad, 17 Mei 2021. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/goldblatt-n-vreemde-fiere-eik-van-n-vrou-20210516
– Langer resensies: Izak de Vries se resensie van Die kleinste ramp denkbaar deur Francois Smith, LitNet, 6 April 2021. https://www.litnet.co.za/die-kleinste-ramp-denkbaar-deur-francois-smith-n-resensie/   

Baie geluk aan die wenners van hierdie prestigeryke pryse!
 
Maandelikse resensie-oorsig

 
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in September 2022 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.  
 
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
 
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
 
Nuwe Afrikaanse boeke in Oktober 2022
 
Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.

Ten slotte deel ons die goeie nuus dat Kobus Burger onlangs aangestel is as die nuwe programbestuurder van RSG. Die openbare reaksie op programskuiwe vroeër vanjaar het duidelik gewys hoeveel RSG vir die Afrikaanse medialandskap en vir haar luisteraars beteken. Mag die stasie van krag tot krag gaan. Lees hier ‘n onderhoud met Burger.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans