Algemene jaarvergadering 2022: Voorsittersverslag – Bernard Odendaal

Voorsittersverslag: Algemene jaarvergadering op 26 Oktober 2022

  1. Inleidend

Die opheffing van die inperkingsmaatreëls wat getref is ter bestryding van die covid-19-pandemie van voorverlede en verlede jaar, het die lekkerte meegebring dat verrigtinge waar mense in persoon teenwoordig kan wees, vanjaar met entoesiasme hervat kon word. PEN Afrikaans se bestuur kon byvoorbeeld weer ’n slag van aangesig-tot-aangesig vergader, terwyl digitale tegnologie bestuurslede wat nie fisies teenwoordig kon wees nie, aanlyn kon laat deelneem.

Opvallend was hoe byvoorbeeld kunstefeesbesture landwyd weer die wiele aan die rol moes kry ná die onsekerhede, tot vroeg vanjaar toe, oor of die fisiese feesaanbiedings moontlik gaan wees. Die gevolg was dat sulke geleenthede as ’t ware opgestapel was in die afgelope maande. Vir PEN Afrikaans het dit teweeggebring dat ons bestuurder, Catrina Wessels, en ons bestuurslid Fiona van Kerwel, in die afgelope drie tot vier weke ons nie net by PEN International se 88ste jaarlikse kongres te Uppsala in Swede moes gaan verteenwoordig nie, maar saam met ander PEN Afrikaans-bestuurslede moes help om items by die Tuin van Digters-fees te Wellington en by die Woordfees op Stellenbosch te organiseer en/of aan te bied.

Die covid-19-tydperk het PEN Afrikaans, soos baie ander instansies, egter ook ’n bietjie digi-wys gemaak. Op die trant van 2020 en 2021 het ons geleer om kursusse, soos vanjaar s’n oor die afronding, versorging en verpakking van manuskripte om dit afgestem op spesifieke lesersteikenmarkte en aantreklik aangebied vir uitgewers te kry, aanlyn aan te bied. Die winste van sodanige aanbieding is dat dit goedkoper kan geskied, en dat deelname van mense van ver moontlik is – soos ook hierdie aanlyn algemene jaarvergadering bewys.

  • Skrywer-, literator- en joernaliskollegas wat ons in 2022 ontval het

Voordat ek die lig kortliks laat val op die belangrikste bedrywighede wat ons as bestuurslui tot dusver vanjaar namens PEN Afrikaans onderneem het, is dit gepas om die skrywer-, literator- en joernaliskollegas wat ons vanjaar ontval het, te gedenk:

  • Prof. Jacques van der Elst, gerekende Afrikaanse literator wat ’n belangrike bydrae gemaak het tot die bevordering van Afrikaans, onder meer in sy hoedanigheid as voormalige uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taalraad
    • Die jeugboek- en jongvolwassenefiksieskrywer Derick van der Walt
    • Ronel Nel, vryskutjoernalis, digter, romansier en kinderverhaalskepper
    • Johan van Wyk, digter, dramaturg, prosaïs en literator
    • De Waal Venter, digter, jeugverhaal- en kortverhaalskrywer, radiodramaturg en vertaler
    • Fred Mouton, bekende en geliefde spotprenttekenaar
    • Leopold Scholtz, gerespekteerde koerantman, skrywer en historikus
    • Marzanne Le Roux-Van der Boon, romansier en liefdesromanskrywer
  • Literêre pryswenners

Die teenkant van die verliesmunt is die ryke oes aan Afrikaanse boek- en resensiepryse wat weer eens vanjaar toegeken kon word. Die lewenskragtigheid van die Afrikaanse literatuur- en joernalistieksisteme, te midde van beperkende en selfs bedreigende politieke en maatskaplik-kulturele faktore, spreek al duidelik uit hierdie toekennings wat jaarliks gemaak kan word.

  • S.J. Naudé ontvang die UJ-prys én die Hertzogprys vir prosa vir sy kortverhaalbundel Dol heuning.
  • Ashwin Arendse en Frederik de Jager ontvang gesamentlik die UJ-debuutprys: Arendse vir sy digbundel Swatland en De Jager vir sy essays en rubrieke in Man op ʼn fiets êrens heen.
  • Arendse verower ook die Eugène Maraisprys vir Poësie, en De Jager die Eugène Maraisprys vir Prosa vir hulle genoemde bundels gedigte, en essays en rubrieke.
  • Die Scheepersprys vir Jeugliteratuur word toegeken aan Fanie Viljoen vir Offers vir die vlieë.
  • Die Alba Bouwerprys vir Kinderliteratuur gaan aan Jaco Jacobs vir Die boekwinkel tussen die wolke.
  • Prof. H.P. van Coller ontvang die N.P. van Wyk Louwmedalje vir sy ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van die Afrikaanse letterkunde.
  • Die Protea Boekhuisprys vir niefiksie word toegeken aan Carel van der Merwe vir Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen.
  • Die toonaangewende taalkundige en leksikograaf  Rufus Gouws ontvang die Jan H. Maraisprys ter erkenning van sy bydrae ten bate van akademiese Afrikaans.
  • Die volgende persone het ATKV-Woordveertjie-toekennings ontvang:
  • Prys van prosafiksie: Gerda Taljaard vir Vier susters
  • Prys vir poësie: Daniel Hugo vir Klinkklaar
  • Prys vir dramateks: Henque Heymans vir Oom Bey, my pa
  • Prys vir spanningslektuur: Rudie van Rensburg vir Hartedief
  • Prys vir niefiksie: Nicol Stassen vir Van Humpata tot Upingtonia
  • ATKV-Woordwystoekenning aan Alex Duffey en Susan Roets vir die samestelling en redigering van die tweetalige Kunswoordeboek / Arts Dictionary
  • Prys vir liefdesromans: Helene de Kock vir Elisabet se oorlog
  • Prys vir romanses: Dina Botha vir Die Kersfeeslysie
  • Pryse vir kinderboeke in verskillende kategorieë: Liz de Villiers, Jaco Jacobs, Peti Troskie, Daniëlla van Heerden en Jacolet van den Berg
  • Die volgende persone is ontvangers van kykNET-Rapportboekpryse vir 2022:
  • Gerda Taljaard vir fiksie (Vier susters)
  • Nicol Stassen vir niefiksie (Van Humpata tot Upingtonia)
  • Ronelda Kamfer vir ’n debuut- of tweede prosawerk (Kompoun)
  • Francois Smith vir ’n verfilmbare werk (Die getuienis)
  • Die kykNET-Rapportpryse vir Boekresensent van die Jaar is in drie kategorieë toegeken vir uitnemende Afrikaanse resensies van Afrikaanse boeke. Vanjaar se wenners is:
  • Fiksie: Charl-Pierre Naudé
  • Niefiksie: Jean Meiring
  • Langer resensies: Izak de Vries  
  • Die digter Lynthia Julius is aangewys as die algehele wenner van die 2022 Woordfeeskortverhaalkompetisie, en Clinton V. Du Plessis as die wenner van die Afrikaanse afdeling van die 2022 AVBOB-poesiëkompetisie.
  • Bevorderingsinisiatiewe met betrekking tot kreatiewe skryfwerk

Catrina Wessels, PEN Afrikaans se bestuurder, sal in haar verslag ietwat meer besonderhede verskaf, maar ons as bestuur is trots om te kan sê dat ons vanjaar voluit kon voortgaan met skryf- en leesbevorderingsinisiatiewe.

  • Ons jaarlikse kortverhaalkompetisie het honderde inskrywings gelok;
  • ons kon, soos voorheen, die Woorde Open Wêrelde-been van die Woordfees ondersteun;
  • die jaarlikse skywersresidensie, wat in samewerking met die Jakes Gerwel Stigting onderneem word, kon op Somerset-Oos plaasvind;
  • ons kon die huldiging van Antjie Krog tydens die Tuin van Digters-fees by die Breytenbachsentrum op Wellington finansieel moontlik maak;
  • ’n artikelreeks getiteld “Die wêreld van die skrywer” het gereeld in ons nuusbrief verskyn;
  • met die steun van die Trust vir Afrikaanse Onderwys, word vanjaar die vertaling en buitelandse publikasie van twee Afrikaanse boeke befonds, naamlik Dalene Matthee se Kringe in ’n bos in Arabies en Irma Venter se Minder as niks in Albanees.

’n Buitengewone geleentheid ter bevordering van literêre vertaalwerk het opgeduik na aanleiding van die ontstellende en verwerplike militêre inval deur Rusland in die Oekraïne sedert vroeg vanjaar. PEN Afrikaans het dié inval ten sterkste veroordeel én ook duidelik ons teleurstelling uitgespreek in die SA regering se weiering om resolusies in die Verenigde Nasies te steun wat die Russe se optrede aldaar kritiseer en veroordeel. As verdere blyk van ons meelewing met die Oekraïeners, het ons grepe uit nuusbriewe van PEN Oekraïne, waarin uitgebreide inligting oor die oorlog aldaar verskaf is, in ons eie nuusbrief opgeneem en aan PEN Afrikaans-lede versprei. Tog het die bestuur, soos ook enkele van ons ander lede getuig het, gevoel dat dié blyke van meelewing miskien nie genoeg is nie. Daarom is besluit om vir die nuusbriewe van die tweede helfte van vanjaar ’n rubriek te loods waarin, in Afrikaanse vertaling, Oekraïense gedigte oor die oorlogbelewenis verskyn, meermale met konteksskeppende notas daarby. Die akademici en digters Mellet Moll en Jerzy Koch, asook die Afrikaanssprekende onderwyser werksaam in die Oekraïne, Eben Victor, het ingestem om sulke vertalings vir ons waar te neem.

Enkele grepe uit Mellet Moll se vertaling van Sergei Zhadan se gedig “Neem net die belangrikste”, die eerste in die reeks plasings, lui soos volg:

Neem net wat die belangrikste is. Neem die briewe.

Neem net wat jy kan saamdra.

Neem die Jesusbeelde en die borduurwerk, neem die silwerware,

neem die houtkruis en die goue afbeeldings.

[…]

Ons sal nooit weer ons hoekwinkel sien nie.

Ons sal nooit weer uit daardie opgedroogde put drink nie.

Ons sal nooit weer die gesigte van bekendes sien nie.

Ons is voortvlugtiges. […]

[…]

Die son sal ’n vlek op die venster van ’n goedkoop trein wees,

verby cholera-kuile wat met kalk bedek is.

Daar sal bloed onder vroue se hakke wees,

moeë wagte by grensposte bedek met sneeu,

’n dooie posman met leë sakke,

’n priester met ’n ongelukkige glimlag wat aan sy ribbes hang,

die stilte van ’n begraafplaas, die geraas van ’n bevelspos,

en ongeredigeerde lyste met die name van dooies,

so lank, dat daar nie genoeg tyd sal wees

om jou eie naam daarin te soek nie.

  • Standpuntinnames m.b.t. wat PEN Afrikaans voorstaan

Die kulturele posisie van Afrikaans, die ideale daarvoor (spesifiek as literêre en joernalistieke instrument) en die regte en waardigheid van Afrikaanse skrywers, uitgewers, literatore en joernaliste is aspekte waarvoor PEN Afrikaans sig uitgesproke beywer. Die volgende voorbeelde uit die jaar tot dusver dien as bewyse hiervan:

  • Ons het ons, saam met talle ander Afrikaanse kultuurorganisasies, uitgespreek teen die voorgestelde naamsverandering van die Afrikaanse Taalmonument – ’n oorweging waarvan die Departement van Sport, Kuns en Kultuur intussen klaarblykllik afgesien het.
  • Ook oor die verskraling van die aktualiteitsprogramme-aanbod op RSG vroeër vanjaar, is ’n vermanende verklaring deur ons uitgereik.
  • Oor die onregmatige verspreiding van e-boeke, waardeur skrywers se inkomste uit hulle skeppende werk bedreig is, is sterk standpunt ingeneem, onder meer deur mede-bestuurslid Dibi Breytenbach tydens ’n paneelgesprek op RSG se program “Oor skrywers en boeke”.
  • Helaas het PEN Afrikaans se beywering, saam met ander belanghebbende en kundige instansies, om die aanvaarding te verhoed van die (hersiene) Wysigingswet op Outeursreg wat al sedert verlede jaar in die parlement aangevoor word, nie die gewenste resultaat opgelewer nie. Catrina sal in haar bestuursverslag ietwat meer hieroor sê.
  • PEN Afrikaans het sig vroeër vanjaar ook ondubbelsinnig uitgespreek teen aanvalle op skrywers vanweë hulle uitgespreekte sosiaal-politieke en/of religieuse beskouings. Die ernstige aanranding van Salman Rushdie vroeër vanjaar in die VSA,  was die direkte aanleiding tot dié verklaring.
  • Opspraakwekkend was die publikasie van ’n koerantrubriek deur Hennie van Coller in Volksblad, waarin hy vervreemdende en selfs kwetsend geagte uitlatings oor die uitbeelding van identiteitskwessies en van gesinsverhoudings in Afrikaanse kinder- en jeugboeke gemaak het. Die bestuur van PEN Afrikaans het ’n nuusverklaring uitgereik waarin ons ons met die strekking van, byvoorbeeld, die Hertzogpryswenner S.J. Naudé se repliek op dié rubriek vereenselwig het. Ons het daarby beklemtoon dat ons by uitstek die strewe na ’n inklusiewe Afrikaans en inklusiewe Afrikaanse letterkunde onderskryf. Insluiting van minderheidsgroepe is ’n wesenskenmerk van die etos van PEN International, die internasionale organisasie waarvan PEN Afrikaans deel vorm. Vandaar ook dat ons as bestuur dit verblydend vind dat die nuut saamgestelde Letterkundekommissie van die SA Akademie groter identiteitsdiversiteit vertoon as in die verlede.

B.J. (Bernard) Odendaal

Voorsitter: PEN Afrikaans