Kyk, ek breek my ma se hart daagliks en steek die Jirre diep in die oog, van ek is ’n dief. Ek erken dit. Ek is ʼn kleptomaan. Ek “ghip”, soos hulle in Kimberley sê. Maar ek kan nie skuld aanvaar vir dié sonde van my nie. Is waar ek vandaan kom wat maak laat ek so moet steel en die agste gebod keer op keer breek. Julle kan my nie kwalik neem nie. Nie as die mense in die Noord-Kaap lopende gedigte en kortverhale is nie. Nie as die Afrikaans wat hier gepraat word, prammelk is nie.
Hier gebruik hulle nie die woord “aborsie” nie. Hulle sê: “Haar liggaam is nog tempel, maar haar baar is begraafplaas.” Jy het nie Vigs in die Noord-Kaap nie, nee. Jy het “die aap se stert getrap”. As jy ’n godsman is, word jy “’n Wi-Fi password van Jerusalem” genoem. Jy vra nie “Is ek da’ mal?” nie. Jy vra: “Abba ek da’ ’n koedoe?” Begin verstaan julle nou hoekom ek ’n dief moet wees? Hoe kan ek al die goed hoor en hulle nie deel van my skryfwerk maak nie?
Kyk nou byvoorbeeld die dag toe een van my ma se pasiënte by die kliniek hier in Kimberley vir haar sê: “Suster, Suster is baie beklagtelik.” My ma verduidelik my toe lag-lag dat dit beteken iemand is aspris en kla baie. Laat ons nie vergeet van Noord-Kapenaars se gunsteling nie: “Lip naai.” Iemand post op ’n dag op Facebook: “In die Noord-Kaap sal jy moet baie kondome hê, want jy word aanmekaar gestuur om te loop naai.” Dit het my laat dink aan die een oom wat met kleingeld winkel toe gekom het om ’n blikkie Doom te koop. Die kassier lig hom toe in sy geld is te min vir die Doom. Die oom maak sy muntstukke bymekaar en loop huis toe om nog geld te loop haal. Toe hy terugkom, sê die kassier sy geld is nog steeds nie genoeg nie. Waarop die oom toe antwoord: “Da’ moet die vlieë maar lip naai tot end van die maand.” So vra ek op ’n dag ’n man (wat ek weet ek ’n karakter in my werk gaan maak) hoe sal mens “lip naai” in Engels sê. Hy het toe pas vir ’n oom gesê: “My oom, lip naai tog.” En is baie belangrik om die “oom” in daai sin by te sit, anders het jou ma jou nie maniere geleer nie. Die lopende kortverhaal antwoord toe: “Go and sex.” En ons lag, van party goed hier moet jy liewer nie verengels nie.
Ek dink nou nog aan die oom in Upington wat die kerk ingekom het met sy sewe rye spore, voor die altaar gaan kniel en toe sy gwaai by die kers brand gemaak het, net om weer uit die kerk te stap. Solikke goed kan jy nie opmaak nie. Solikke goed soebat jou jy moet hulle steel. En ek wil rêrig nie so ’n sondaar wees nie, maar hoe da’ anders? My ma vertel my die een oom het, toe hulle nog jeug geloop het, gebid: “En Jirre, hou Jy die stuurwiel vas, laat onse broer net die ratte moet change.”
As ek vir my oorlede oupa gesê het “Dêdda, ek trou”, sal hy gevra het: “Moet wat?” Ons ‘moet’ vir ‘met’. Nes ons ‘van’ vir ‘want’. Eendag is ek by ’n fees in die Wes-Kaap en ek sê vir iemand ek wil nou al rêrig terug Noord-Kaap toe. Die mens wil toe by my weet wat ek so haastig Noord-Kaap toe is, van daar gaan da’ niks aan nie. My antwoord was eenvoudig: “Die grond roep my.” Hier lê stories en gedigte in onse Afrikaans wat ek net in die Noord-Kaap sal kry. Ek maak my ore groter as ek hier is. Ek word stiller en ek luister net. Veral by die kliniek. Daar is nie beter joernaliste as die anties wat by die kliniek sit op ’n Maandagoggend nie.
Desembermaand staan rook ek buite in my ouma se jaart in Springbok. Twee ooms stry toe in die pad verby en, kyk, nou moet jy luister, van jy weet daar is nie vir ’n stry in Namakwaland nie. Die een sê toe vir die ander een: “Jou onsigbare, aanrandende kontsekjeent.” Goud. Ek het die jackpot hier geslat. Ek luister aandagtig. Daardie vier woorde het ’n lewe van broers wees opgesom. Die twee stryendes ís broers en die een wat so gesê het, het daai woorde vir sy ouer broer gesê wat besig is om blind te word en hom al die jare geslat het toe hulle grootgeword het.
Ons buurvrou in Kimberley kom op ’n Sondagoggend baie ongelukkig by ons huis aan. Sy was weg met vakansie en met die terugkom kry hulle ’n kobra in haar huis. Sy sê vir my ma: “My maat, daai slang het my huis ’n gastehuis gemaak vir drie weke en hy het nie eens ’n deposito neergesit nie. Ek sien reeds my Dove-seep is kleiner, so hy’t gewas met my seep. Ken jy? Is goed ek het nie Desembermaand my DSTV betaal nie, anders het hy dit ook lê en kyk.” Ons kraai van die lag buite en ek hardloop in om ’n nota daarvan op my foon te maak. Solikke goed kan ek nie opmaak nie en dit moet onthou word.
Die taal wat hier gepraat word, die woorde wat gebruik word, maak my die mens wat ek vandag is. My bestaan lê vasgevang in die Afrikaans wat hulle hier praat. Ek kry nou nog snaaks vir die een antie wat ek kwaad gemaak het. Sy sê toe vir my: “Jou ewige, groot kont soos ’n wasklip.” Hier is vloek nie vloek nie. Dis deel van die idioom. Dis deel van die leefwêreld.
Iemand het eenkeer vir my gesê: “Jou skryfwerk se krag lê in waar jy vandaan kom.” Ek verstaan nou goed wat die mens bedoel het. Dis in die twee broers wat in Namakwaland stry. In die Doom wat moet lip naai tot end van die maand. In die stories van die anties by die kliniek terwyl ons vir? die dokter wag. Dit vloei uit die Wi-Fi passwords van Jerusalem. Jy kry dit in beklagtelikes soos my ma. ’n Ander leefwêreld ken ek nie. ’n Ander Afrikaans het ek nie in grootgeword nie. Vra my waffer soort skrywer ek is en ek sê vir jou ek is een wat ly aan kleptomanie. Vra my hoe my skryfproses begin en ek sê vir jou dit begin by in die Noord-Kaap afluister. Ek is die dief wat Terry Pratchett van praat: “The thief, as will become apparent, was a special type of thief. This thief was an artist of theft. Other thieves merely stole everything that was not nailed down, but this thief stole the nails as well.”
Ek steel sinne en woorde. Ek steel beelde. Ek steel idiome. Ek steel vloek. Ek steel gebeure. Ek breek die agtste gebod, maar is vir rêrig nie my skuld nie. En ek wil nie ’n sondaar wees nie, maar hoe sal ek die kuns van Afrikaans wat hulle in my provinsie praat, net so by my laat verbygaan en dit nie deel met die res van die land nie? Nee kyk, daai is sonde. Daai is literatuur se hart breek. Daai is om die poësie diep in die oog te steek. Hoe sal ek die poorte van die hemel sien as ek dít moet doen? My suster se vriendin sê op ’n dag, terwyl ons in Kimberley sit wyn drink: “Al verskil tussen die hemel en die hel is, in die hemel drink hulle sauvignon blanc en in die hel drink hulle mampoer.” Ek wil mis ook die ewigheid ingaan met ’n glasie sauvignon blanc! Ek sien nie kans vir mampoer nie.
So sê die internet: Kleptomania: An impulse control disorder that results in an irresistible urge to steal. It occurs more often in women.
Of daar pille vir my steel-gees is, weet ek nie. Ek weet net ek steel nie so baie as ek in Bloemfontein is nie. Maar laat daai bordjie net wys “Welkom in die Noord-Kaap”, da’ begin breek ek gebooie lyk is tande. En nie waffer een nie, die agste een. My vingers hou nie op jeuk as dit kom by die Afrikaans wat ons hier praat nie. En my ma is brake fluid van die Anglikaanse kerk: Sy brand wierook en vat nagmaal vir haar klo-goed se sondes. So, is nie reg laat ek so aspris is nie, maar ek dink ek sal dié een sondetjie vergewe word. Ek sal my steel-goijna op my bors vat oor ek nie anders kan nie. Ek is ’n digter, van ek is ’n dief. Ek skryf, van ek is ’n dief. Sien die sonde maar oor, van ek belowe ek sal julle literatuur gee wat julle lank sal onthou. Laat die sauvignon blanc my tog ook toekom; en die mampoer – laat die mampoer my verbygaan.