Hierdie is (vir my) ’n anderste tipe rubriek. As ’n kranige teaterganger, leser van dramas en iemand wat pas haar MA in Drama en Teater afgehandel het, wil ek graag meer oor die skryf van ’n drama uitwei. By die afgelope aanlyn skryfkursus aangebied deur PEN Afrikaans, was daar by party kursusgangers belangstelling in juis die skryf van dramas.
Dis altyd vir my so ’n groot vreugde wanneer mense my oor drama en teater uitvra. Ek gesels graag oor verskillende toneelstuksoorte, karakterontwikkeling, tematiek, en hoe om te begin met die skryf daarvan. Deesdae verskaf dit my ure se genot om na jong of nuwe skrywers se vrae en gedagtes oor die skryf van dramas te luister.
Tydens die pandemie is ons ongelukkig grootliks van dramaopvoerings en teaterbywoning ontneem. Knap na die aankondiging van COVID-19, skryf ek in ’n nogals optimistiese rubriek op LitNet (25 Maart 2020) die volgende:
“Dit is maklik om nou in sak en as te sit. Dit is maklik om te moan oor die moeilike tyd wat voorlê. Dit is maklik om terug te sit en niks te doen nie. Dit is tog so maklik om nou ook uit te freak. Dit is maklik om iemand of iets te soek om te blameer. Dit is maklik om klein duiweltjies, soos aantygings oor wie en wat se skuld dit is, toe te laat om nugter oordeel te beïnvloed. Dit is maklik om nie verantwoordelikheid te neem nie.
Nou is dit egter nie die tyd vir maklik nie. Nou is dit die tyd om skouer aan die wiel te draai. Nou is dit die tyd om kreatiewe oplossings te soek. Nou is dit die tyd om mekaar te omarm (nie letterlik nie, asseblief tog!) en die las vir mekaar ligter te maak. Nou is dit die tyd om hande vuil te maak (hou tog net die hand sanitiser naby!) en nie toe te laat dat die kiem ons bedryf versmoor nie”.
Net gou ’n kantnota: By nabetragting weet ek glad nie waarvan ek praat in terme van die “klein duiweltjies” nie! Ek het lekker gegiggel toe ek dit weer lees en probeer onthou waarvan ek gepraat het.
Ek stel in die einste kort rubriek op LitNet voor dat kunstenaars nou (dis nou Maart 2020) die tyd moes gebruik om meer te skryf, meer te skep, en saam moet besin oor hoe die kreatiewe bedryf gered kon word. Min het ek op daardie stadium geweet hóé erg dinge later nog sou word. Aan die begin van die pandemie was dit lekker om te dink dat ek vir drie weke in my huis kon bly om aan idees te dink. Natuurlik het die inperking nie by drie weke gebly nie, en ek het begin worry. Ek kon later nie meer met my optimisme volhou nie.
Vrae wat deur my kop gemaal het, het te doen gehad met hoe ek gaan oorleef. Nie net finansieel nie, maar ook emosioneel. Ek kort teater en die kunste om my aan die lewe te hou, letterlik en figuurlik. Ek kort ’n kreatiewe uitlaatklep, ek kort ruimte om al die idees wat deur my kop maal, te distilleer, ek kort mense. Verdere vrae was oor of dit dieselfde sou wees as ons teater aanlyn aanbied. Iewers binne my het ek oor hierdie opsie getwyfel, want aanlyn teater kompeteer met flieks met dikwels gróót begrotings. En dan het ek ook gewonder oor teatergangers. Almal het nie toegang tot aanlyn teater nie; vir baie mense beteken teater ’n lekker uitstappie, of ’n leerervaring of net so ’n bietjie ontvlugting. Teater is waar talle van die samelewing se vraagstukke en uitdagings onder die vergootglas geneem kan word.
En hier is ons nou. Dis Oktober 2022 en ons is (hopelik!) aan die ander kant van die pandemie uit. Feeste is weer aan die gang. Teaterstukke word weer gemaak. Kunstenaars het nou weer meer geleenthede. Die tyd voel ook nou weer reg om bietjie oor die skryf van dramas te besin – iets wat ek al te graag doen.
Hiermee ’n paar riglyne vir die skryf van dramas:
Lees lees lees. Lees soveel dramawerke as wat jy kan. Lees alles. As jy nie weet waar om te begin nie, lees die volgende:
Who’s Afraid of Virginia Woolf? Deur Edward Albee
“Master Harold”… and the Boys deur Athol Fugard
Angels in America deur Tony Kushner
The Return of Elvis Du Pisanie deur Paul Slabolepszy
Woza Albert! Deur Percy Mtwa, Mbongeni Ngema, en Barney Simon
Staande ovasie deur Herschelle Benjamin, Igna Botha, Veronique Jephtas en Marcel Spaumer
Die dag is bros en Sandton City grootdoop deur Wessel Pretorius
Ken jou teikengehoor.
As jy weet vir wie jy skryf, sal die sinne maklik kom. Hoe leer jy jou teikengehoor ken? Neem waar hoe verskillende gehore reageer. Hou hulle dop. Luister fyn.
Takel onderwerpe wat aan jou bekend is, of as jy navorsing doen, doen dit deeglik. Daar is niks so ongemaklik soos om ’n teks te lees wat feitelik verkeerd is nie – behalwe, natuurlik, as dit die punt van die stuk is.
Wees eerlik.
Dis maklik om op te merk wanneer ’n skrywer nie eerlik is nie. Jy kan nie vir ’n gehoor jok nie. Dit bring my by my volgende punt.
Moenie jou gehoor onderskat nie.
Al het jy hoe deeglik navorsing oor jou teikengehoor gedoen, weet jy nog altyd nie 100% wie die mense is wat op die einde van die dag in jou gehoor gaan sit nie.
Skep karakters met genoeg agtergrond.
Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Wat wil hulle hê? Waarmee sukkel hulle? Wat is hulle innerlike en uiterlike konflik? Skryf vir elke karakter ’n karakterbybel waarin jy hulle DNS oopskryf.
Geniet dit.
As jy dit nie geniet nie, hoekom moet die kyker of leser dit geniet? Een van die toneelstukke waarby ek betrokke was, en wat ek seker die heel meeste geniet het, was Ekstra large, asseblief? Die toneelstuk handel oor vier vroue wat buite ’n bekende klerewinkel protesteer omdat die winkel nie klere in hulle onderskeie groottes aanhou nie. Die teks is deur die betrokke geselskap gegeneer, en ek het die regie en finale redigering van die teks behartig. Dit was net ’n lekker, ligte proses en omdat dit ’n komedie was, het daar gedurende die repetisieproses en tussen opvoerings heeltyd nog grappe bygekom. Sodoende was die teks elke keer vars, en die span en gehore was deurgaans vermaak.
Moenie bang wees om oor te begin nie.
As iets nie werk nie, werk dit nie. Jy as die skrywer weet wat jy wil sê, so moenie precious wees oor jou idees en werk nie. Don’t be afraid to kill your darlings. Die oomblik wanneer jy te precious gaan raak, is die oomblik wanneer jy jou eie kreatiwiteit gaan blok. My verwerking van Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie het by die sewe of agt manuskripweergawes gaan draai. Ek het spesifieke idees gehad van hoe ek wou hê die stuk moes uitspeel, maar sodra repetisies begin het, kon ek agterkom dat van die dialoog nie werk nie. Dan pas ’n mens dit aan. Dis ’n voortdurende proses.
’n Paar korter tips:
- Vermy lang sinne.
- Konflik is alles.
- Proeflees en redigeer.
- As jy dramas wil skryf, moet jy dramas kyk.
Nou ja, toe, begin skryf. ’n Dramateks is nooit die finale produk nie; so, jy kan die skrywery maar net so wel geniet.