Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Die jaar snel einde se kant toe en ons is saam bly dat dit op ’n hoogtepunt afsluit wat erkenning vir skryfwerk uit Afrika betref. “Let me say this has been a great year for African writing, and I’d like to accept this on behalf of all the stories told and untold, the writers heard and unheard, from the remarkable continent I’m part of. Please keep listening to us, there’s a lot more to come.” Só het die Suid-Afrikaanse skrywer Damon Galgut in sy aanvaardingstoespraak gesê nadat hy as die wenner van die gesogte Booker-prys aangekondig is. Hy ontvang die prys vir sy roman The Promise. Van harte geluk, ook aan landgenoot Karen Jennings wat die langlys gehaal het. Die wêreld se grootste literêre prys, die Nobelprys vir Letterkunde, is aan die Tanzaniese skrywer Abdulrazak Gurnah toegeken. Dit is slegs die tweede keer dat dit aan ’n swart skrywer uit Afrika toegeken is. Kyk gerus na ons resensie-oorsig vir nuusdekking hieroor. In aansluiting by Galgut se “there’s a lot more to come”: Ons beoog om in ons volgende nuusbrief inligting te deel oor ’n kortverhaalkompetisie wat ons in 2022 met die ondersteuning van PEN International sal aanbied. Intussen is die Island Prize moontlik van belang vir van ons lede. Dit is gemik op debuutromanskrywers wat ’n manuskrip in Engels wil inskryf. Inskrywings sluit 12 Desember en volledige inligting is hier beskikbaar. Wenners van die SALA-pryse aangekondig Die wenners van die SALA-pryse (“South African Literary Awards”) is op 7 November tydens ’n aanlyn seremonie bekend gemaak. Hartlik geluk aan al die wenners, veral aan dié wat vir hul bydrae tot die Afrikaanse woordkuns vereer is. Ons is bly en trots om van ons lede onder die pryswenners te sien. Die Afrikaanse wenners is soos volg: SALA-prys vir beste debuutskrywer: Lynthia Julius vir Uit die kroes K. Sello Duiker-gedenkprys: Brian Fredericks vir As die Cape Flats kon praat SALA-poësieprys: Johann de Lange vir Die meeste sterre is lankal dood SALA-prys vir literêre joernalistiek: Jean Meiring SALA-kinderboekprys: Andre Trantraal vir Keegan & Samier: Die sokkerfiasko Aanwysing van streeksdigter-laureaat (Oos-Kaap): Ronelda Kamfer vir haar digterlike oeuvre Die SALA-pryse is in 2005 deur wRite Associates in samewerking met die Departement van Kuns en Kultuur gestig. Dit is daarop gemik om literêre uitnemendheid in al ons land se amptelike tale te vier, te vereer en te bevorder. Die volledige persverklaring en die lys pryswenners is hier beskikbaar. Nuwe bestuur verkies by PEN Afrikaans se AJV Baie dankie vir die goeie deelname tydens ons algemene jaarvergadering. Die notule is hier beskikbaar. Ons kondig hier ook met trots aan dat ’n nuwe bestuur, insluitend ’n nuwe voorsitter en ondervoorsitter, by die vergadering verkies is. Bernard Odendaal en Jolyn Phillips is met die volle steun van die vergadering tot die posisies van onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter verkies. “Ek voel werklik geëerd om verkies te wees tot voorsitter van PEN Afrikaans,” sê Odendaal. “Terselfdertyd staan ek geïntimideerd deur die diep voorgangerspore op die paadjie waarlangs ek moet voortstap. Gelukkig dien ek in ’n bekwame bestuurspan, mense op wie se ondersteuning en energie staatgemaak kan word. Die inskakeling by die wêreldwye PEN-gemeenskap bly belangrik in die strewe om, hier te lande maar ook elders, skrywer- en uitgewersbelange te help beskerm en om die reg op vryheid van uitdrukking gehandhaaf of bevorder te sien. Die uitdaging om, as lid van die PEN Afrikaansspan, hierdie belange-netwerk te help versterk en uitbou, is ’n opwindende een.” “Die versterking en ontwikkeling van Suid-Afrikaanse letterkunde, meer spesifiek Afrikaanse letterkunde, is iets wat ek aktief voorstaan,” meld Phillips. “My persoonlike deelname aan die PEN Afrikaans-bestuur spruit uit my voorspraak vir die welstand van skrywersregte met betrekking tot vryheid van spraak en taalbeleid. Ek voel regtig bevoorreg om die geleentheid te hê om saam met die groter PEN-gemeenskap en bestuur hieraan te werk.” Die ander verkose bestuurslede is: Carolyn Meads Danie Marais Dibi Breytenbach Fiona van Kerwel Izak de Vries Mercy Kannemeyer PEN Afrikaans se bestuur dien telkens vir ’n termyn van twee jaar. Die organisasie is daarop gemik om ’n sentrum in stand te hou vir Afrikaanse skrywers wêreldwyd en op dié manier ’n vaste en gerespekteerde plek in die internasionale skrywersgemeenskap – soos verteenwoordig deur PEN International – te verwerf. Fokuspunte behels die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en joernalistiek, uitdrukkingsvryheid en die belange van dié wat met Afrikaanse skryfwerk gemoeid is. ROSA-kongres 2021 Die jaarlikse ROSA (Romance Writers of Southern Africa) kongres vind van 12 tot 14 November 2021 aanlyn plaas. Of jy nou voluit romanse skryf of dit net ʼn faset van jou skryfwerk is, is die kanse groot dat die opwindende program vir jou iets gaan bied. Die tema van hierdie jaar se kongres is “Togetherness” oftewel “samehorigheid” en die program is saamgestel om daardie gevoel van “ek behoort iewers” tussen skrywers te help skep. Opleiding en gesprekke vind, soos verlede jaar via webinare plaas. Hierdie jaar spog die kongres met Eden Bradley. Sy is ’n New York Times en USA Today Topverkoper en ʼn bekroonde skrywer. Haar boeke is in Duits, Frans, Roemeens, Portugees, Spaans, Italiaans, Tsjeggies, Pools, Indonesies en Japannees vertaal. Die ander internasionale spreker is Eliza Peake. Sy is ook ʼn internasionale topverkoperskrywer en mede-gasvrou van ’n gewilde podsending genaamd “The Misfits Guide to Writing Indie Romance”. Konferensiesdae is ingedeel in onderwerpe wat fokus op tradisioneel gepubliseerde skrywers en dié wat onafhanklik uitgee. Spesiale voorsiening word gemaak vir Afrikaanse skrywers en die program sluit in: Felicia Snyman, ’n bekende skrywer en ’n regsgeleerde van beroep sal praat oor regsaspekte wat vir skrywers van belang is en die lang hand wat die gereg het. Dit is veral relevant omdat skrywers hierdie jaar buitengewoon baie deurgeloop het onder groepe wat boeke elektronies steel en deel. Sophia Kapp praat oor hoe om stylvolle sekstonele in Afrikaans te skryf. Shawna-Leze Meiring gee raad oor die seksuele grense in tiener- en jongvolwasse skryfkuns. Een van ROSA se aktiwiteite is ’n mentorskapprogram vir ongepubliseerde skrywers. As jy meer hieroor wil uitvind en ook hoor hoe deelnemers dit ervaar het, kan jy na die paneel onder leiding van Sunel Combrinck se gesprek luister en ook jou vrae stel. Wêreldwyd is daar ’n toename in die lees van romantiese fantasie en die deelnemers aan ’n paneelbespreking, onder leiding van Carin Marais is: Frenette van Wyk, Madelie Human, Marie Brits. Carin Marais gesels ook oor vertaling van Engels na Afrikaans. Die hoofprogram wat in Engels aangebied word, sluit interaktiewe skryfwerkswinkels, wegbreek-sessies om met ander skrywers te netwerk, paneelbesprekings, sowel as die slyp van skryfkuns, sakevernuf vir skrywers, bemarking en publikasie-advies van plaaslike en internasionale aanbieders in. Klik hier vir meer inligting en om kaartjies te bespreek. Navrae kan gerig word aan margarethie@gmail.com. Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg: jongste verwikkelinge Die Portefeuljekomitee op Handel en Nywerheid se volgende vergaderings sal onder meer gewy word aan beraadslaging oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg, na aanleiding van die mees onlangse ronde voorleggings wat belanghebbendes ingedien het. PEN Afrikaans se voorlegging is hier beskikbaar. Die vergaderings begin hierdie week en die bedoeling is dat die Portefeuljekomitee teen die einde van die maand aandui of hulle aanvaarding van die wetsontwerp wil voorstel of nie. Tydens ’n aanlyn skrywersbyeenkoms wat mede-skrywersvereniging ANFASA op 4 November aangebied het, is die geskiedenis en kwelpunte van die wetsontwerp deur kenners belig, aan die hand van vrae en insette van die skrywers wat deelgeneem het. Een van die vrae wat ten slotte opgeklink het, is waarom daar so ’n stilte vanuit skrywersgeledere blyk te wees. Verontwaardiging en protes is volgens die sprekers en skrywers wat ingeskakel het meer aan die orde van die dag. Soos ons uittredende voorsitter Marga Stoffer in haar voorsittersverslag gesê het: “[D]aar [is] steeds baie druk deur diegene wat die huidige weergawe van die Wetsontwerp ondersteun, en die risiko bestaan dat hersienings bloot kosmeties sal wees en die Wetsontwerp nie ingrypend verander word nie. Dus: ons moet waaksaam bly, en hierteen bly saamstaan.” Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Oktober 2021 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Dit sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Daar is hierdie keer weer bydraes uit Tydskrif vir Letterkunde, met resensies deur onder andere Earl Basson, Mercy Kannemeyer en Willem Anker. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in November 2021 Ten slotte deel ons graag ’n lys van nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn. Baie geluk aan al ons lede wat nuwe boeke op die rak het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |