Beste lede en vriende van PEN Afrikaans Skrywersresidensies Dit is ’n plesier om hierdie maand drie skrywersresidensies onder julle aandag te bring: Die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans en PEN South Africa wag tans aansoeke in vir ’n skrywersresidensie wat van 5 tot 25 Junie by die Stigting se pragtige Paulet Huis in Somerset-Oos sal plaasvind. Aansoeke sluit 17 Maart. Slegs PEN-lede kom in aanmerking vir hierdie residensie. Die inligting is hier op ons webwerf beskikbaar. Skrywers wat in 2023 vir ’n maand lank rus en vrede nodig het om tyd aan kreatiewe skryfwerk in enige genre te bestee, kan nou aansoek doen vir Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywerskap op Cradock. Aansoeke sluit 30 Maart. Klik hier vir meer inligting. Ons het ook inligting ontvang oor ’n skrywersresidensie in Saoedi-Arabië. Die Saoedi-regering wil graag twee Suid-Afrikaanse skrywers uitnooi vir ’n maandlange skrywersverblyf waarvan alle kostes gedek sal word. Skrywers van enige genre is welkom. ’n Publikasierekord is ’n vereiste. Stuur jou CV of skrywersprofiel na Nicolas Lategan by Nicolas@ltn.co.za om in aanmerking te kom, of kontak hom vir meer inligting Die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg word provinsiaal oorweeg Die Wes-Kaapse openbare sittings oor die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg het op Dinsdag 7 Maart met ’n byeenkoms in Kaapstad afgesluit. PEN Afrikaans het teen die sluitingsdatum van Vrydag 10 Maart ons voorlegging aan die betrokke komitee ingedien. Ons het ook al vir die Nasionale Raad van Provinsies en die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer ’n skriftelike voorlegging laat kry ten einde skrywers se stemme te laat hoor. Ons sien uit daarna om ook in ander provinsies aan die proses deel te neem. Izak de Vries sal namens PEN Afrikaans ’n mondelinge voorlegging doen by die openbare sitting wat vir 17 Maart in Gqeberha geskeduleer is. Hartlik dankie aan Izak. Lees meer oor die proses en die brandpunte in die volgende artikels oor die openbare sittings: Gys Visser – LitNet: https://www.litnet.co.za/die-wysigingswetsontwerp-op-outeursreg-cab-die-dreigende-gevaar-wat-sa-se-kunste-kan-knak/ Jana Breytenbach – Netwerk24: https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/wetsontwerp-op-outeursreg-kry-teenkanting-uit-talle-oorde-20230308 Pam Saxby – Daily Maverick: https://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2023-03-06-the-copyright-amendment-bill-process-may-have-been-scuppered-by-a-procedural-blunder-in-the-provinces-but-it-limps-on-regardless/ In memoriam: Martie Preller Martie Preller, skrywer van onder meer die geliefde Babalela-boeke, is op 5 Maart oorlede. Ons betreur haar afsterwe en betuig ons simpatie aan haar familie en vriende. Sy was, aldus Jaco Jacobs, “iemand wat in die oerkrag van stories geglo het.” Lees gerus by hierdie skakels aangrypende huldigings van dié merkwaardige skrywer. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/martie-preller-skrywer-van-geliefde-babalela-boeke-sterf-20230306 https://www.litnet.co.za/hulde-aan-wyle-martie-preller-sy-het-gedoen-wat-sy-moes-doen/ Die wêreld van die skrywer Ons is bly om hierdie maand weer ’n nuwe artikel in ons artikelreeks “Die wêreld van die skrywer” te kan deel. Baie dankie aan Churchil Naudé wat op ons uitnodiging in sy artikel besin oor die verband tussen hip-hop, volksmusiek en poësie. Hy deel ook insigte oor die skryf daarvan. Lees die artikel hier. Klik hier om die reeks artikels te bekyk. Nuwe artikels verskyn kwartaalliks. Fakture vir ledegeld Fakture vir 2023 se ledegeld is verlede week klaar uitgestuur. Laat weet gerus indien jy nie ’n faktuur ontvang het nie, maar tog ’n betaalde lid van PEN Afrikaans wil wees. Baie dankie aan dié wat reeds ledegeld betaal het. Ons waardeer die ondersteuning opreg. Maandelikse resensie-oorsig Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Februarie 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com. Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak. Nuwe Afrikaanse boeke in Maart 2023 Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Ten slotte: Skakel gerus op Donderdag 16 Maart om 16:00 in vir ’n virtuele byeenkoms van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Werkgemeenskap Potchefstroom. Wannie Carstens sal tydens dié byeenkoms praat oor die tema: “Kom ons droom – Afrikaans in 2043”. Klik hier vir die Zoom-skakel en ander besonderhede. Ons voeg ons stem by dié van ons kollegas wat kritiek uitspreek teen die verengelsing van die Wes-Kaapse polisiediens, wat onlangs neerslag gevind het in die vereiste dat verklarings by die polisie slegs in Engels afgelê kan word. So ’n reëling sal duidelik mense se toegang tot geregtigheid belemmer. Ons is dit eens dat die taalbeleid van die Wes-Kaapse polisiediens dringend hersien moet word om geregtigheid vir gewone burgers te verseker. Lees hier meer. Vriendelike groete Catrina Wessels Bestuurder: PEN Afrikaans |