Aansoeke ingewag: Jakes Gerwel Stigting en PEN-skrywersresidensie 2023

Die Jakes Gerwel Stigting, PEN Afrikaans en PEN South Africa wag tans graag aansoeke in vir ’n residensieprogram wat ten doel het om skrywers onverstoorde skryftyd in Somerset-Oos in die Oos-Kaap vanaf 5 tot 25 Junie vanjaar te bied.

Die suksesvolle kandidate sal gehuisves word in die Stigting se pragtige 200-jaar-oue Paulet Huis. Hierdie skrywers kan uitsien na die inspirasie en genot van ’n lowerryke tuin, genoeg spasie om in kreatief te wees, ’n sjarmante dorpie, die rus en stilte van die omgewing en die samesyn van medeskrywers.

Die residensie sluit in:

  • Nasionale retoerkaartjies na Gqeberha (Port Elizabeth), indien nodig
  • Vervoer tussen die lughawe en Somerset-Oos
  • ’n Gerieflike, eie “kamer-met-’n-uitsig”
  • Skoonmaakdienste
  • Die Stigting se inwonende sjef se heerlike maaltye
  • Onbeperkte internettoegang
  • Skryfruimte in jou eie kamer, in stil hoekies binne die huis en in die tuin

Belangstellendes moet hul aansoeke stuur na die uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel Stigting, Theo Kemp, by theo@jgf.org.za teen 17 Maart 2023.

Jou aansoek (in die taal waarin jy skryf) moet die volgende insluit:

  • ’n Motiveringsbrief
  • ’n Oorsig van jou skrywersloopbaan tesame met ’n lys van publikasies
  • Een bladsy wat jou skryfproses vir die residensie uiteensit
  • ’n Uittreksel uit jou skryfprojek:
    • Niefiksie- of fiksiemanuskrip (10–15 bladsye)
    • Digkuns (6–10 gedigte)
    • Verhoog- of filmdraaiboek (12–15 bladsye)

Let wel: ’n Brief van ’n uitgewer wat daarin belang stel om jou werk te publiseer, sal sterk in jou guns tel.

Oor die vennote

Die Jakes Gerwel Stigting bou voort op die aansienlike nalatenskap van wyle professor Jakes Gerwel wat uitgestaan het as opvoeder, bevryder, beskermheer van die kunste en besigheidsman.

Die Stigting poog om die Suid-Afrikaanse letterkunde in die algemeen en, in die besonder, die Afrikaans letterkunde – professor Gerwel se spesialisasierigting – uit te brei en te bevorder.

Die Stigting se fokusareas is:

  • Die verryking van die letterkunde
  • Fasilitering ten opsigte van die uitdruk van nuwe opinies en ervarings
  • Onderskraging van opkomende skrywers en nuwe stemme
  • Aanmoediging van ʼn leeskultuur en geletterdheid onder jongmense

Lees meer oor die Jakes Gerwel Stigting by jgf.org.za.

Die Stigting is trots op hul vennootskap met twee baie dinamiese sentrums onder die meer as 140 sentrums van PEN Internasionaal wêreldwyd: PEN Afrikaans en PEN South Africa. As ’n organisasie van skrywers wat as wêreldleier op die gebied van menseregte gesien word, ondersteun PEN Internasionaal vryheid van spraak, bevorder dit die letterkunde en beskerm dit skrywers.

Lees meer oor: