Beste lede en vriende van PEN Afrikaans
PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van boeke deur Nathan Trantraal en Fanie Viljoen
PEN Afrikaans maak met trots bekend dat die volgende twee vertalings na afloop van die jongste ronde aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds gefinansier sal word:
- ’n Franse vertaling van Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal (Éditions LansKine)
- ’n Albanese vertaling van Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen (Ombra GVG)
Alles het niet kom wôd, bekroonde digter Nathan Trantraal se tweede bundel, sal na verwagting in Oktober 2023 in Franse vertaling uitgereik word deur Éditions LansKine, ’n onafhanklike uitgewer wat in poësie spesialiseer. Soos met Chokers en survivors, Trantraal se debuutbundel wat ook in Frans by LansKine verskyn het en ook deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds is, sal die ervare literêre vertaler Pierre-Marie Finkelstein die vertaling behartig. Finkelstein is die vertaler van werke deur onder andere Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Achmat Dangor en Karel Schoeman.
Louise Viljoen skryf in haar resensie van Alles het niet kom wôd dat die werk kleiner in omvang is as Trantraal se debuutbundel, maar dieselfde kragtige effek het: “Dit is die produk van ’n digter volkome in beheer van sy vak. Veral is dit die werk van iemand wat met sy ingehoue, maar tog dringende stem die vermoë het om tot ’n wye spektrum van lesers te spreek.”
Die bundel het oorspronklik in 2017 by Kwela Boeke verskyn.
Na afloop van Ombra GVG se suksesvolle aansoek, word distopiese jeugliteratuur nou vir die eerste keer ingesluit by die genres wat deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds word. Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen is ’n distopiese oorlogsroman wat as die wenner van LAPA-Uitgewers se 2019 jeugromankompetisie aangewys is. Dit is ook bekroon met ’n ATKV-kinderboektoekenning (graad 8 – 10; 2021) en die Scheepersprys vir jeuglektuur (2022). Die Engelse vertaling, Sacrifice to the Flies, het in 2022 verskyn (ook by LAPA-Uitgewers) en het die roman vir die Albanese uitgewery Ombra GVG toeganklik gemaak. Die Albanese vertaling sal na verwagting in Oktober 2023 verskyn en die aangewese vertaler is Elisa Ivanaj. Ivanaj het al verskeie skrywers se werk vertaal, insluitend romans deur Ali Smith en Ann Pachett.
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/
Hierdie aankondiging is hier beskikbaar vir maklike verspreiding. Dankie aan LitNet, Maroela Media en Netwerk24 vir die deel van die goeie nuus.
Die wêreld van die skrywer
Antjie Krog is aan die woord in die nuwe artikel in ons artikelreeks “Die wêreld van die skrywer”. Sy het op ons uitnodiging geskryf oor die belang van vertaling en die mense wat hulle daarmee bemoei, met verwysing na vertaling tussen Nederlands en Afrikaans.
Lees haar artikel hier.
Baie dankie, Antjie.
Klik hier om die reeks artikels te bekyk. Nuwe artikels verskyn kwartaalliks.
Inskrywings ingewag: aanlyn resensiekursus
PEN Afrikaans het al verskeie resensiekursusse deur die jare aangebied en, met sosialemedia-gesprekke wat van tyd tot tyd oor die plaaslike resensiewese opvlam, het ons dit goedgedink om vanjaar weer so te maak.
Ons nooi graag lede en belangstellendes uit om in te skryf vir ’n aanlyn kursus oor die beoordeling van genrefiksie wat deur kranige en produktiewe resensent Jonathan Amid aangebied sal word. Kursusgangers sal Rudie van Rensburg se splinternuwe spanningsroman, Dwelm, met die oog op die kursus resenseer. Baie dankie aan NB-Uitgewers en aan Rudie van Rensburg.
Die fokus van die kursus sal primêr op spanningsromans wees, maar Jonathan sal ook aandag gee aan die spesiale eise wat romanses en ander liefdesverhale – en resensies daarvan! – stel.
Die basiese kursusinligting is hier onder. Kontak ons om jou plek te bespreek. Inskrywings sluit 1 Julie.
Maandelikse resensie-oorsig
Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in Mei 2023 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is.
Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.
Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.
Nuwe Afrikaanse boeke in Junie 2023
Baie geluk aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het. Die publikasielyste kan hier in Excel-formaat afgelaai word.
Ten slotte sê ons hartlik welkom aan die volgende lede wat onlangs by ons aangesluit het:
- Gaireyah Fredericks
- Jamile de Koker
- Renée du Toit
Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans