
PEN Afrikaans maak met trots bekend dat die volgende twee vertalings na afloop van die jongste ronde aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds gefinansier sal word:
- ’n Franse vertaling van Alles het niet kom wôd deur Nathan Trantraal (Éditions LansKine)
- ’n Albanese vertaling van Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen (Ombra GVG)
Alles het niet kom wôd, bekroonde digter Nathan Trantraal se tweede bundel, sal na verwagting in Oktober 2023 in Franse vertaling uitgereik word deur Éditions LansKine, ’n onafhanklike uitgewer wat in poësie spesialiseer. Soos met Chokers en survivors, Trantraal se debuutbundel wat ook in Frans by LansKine verskyn het en ook deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds is, sal die ervare literêre vertaler Pierre-Marie Finkelstein die vertaling behartig. Finkelstein is die vertaler van werke deur onder andere Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Achmat Dangor en Karel Schoeman.
Louise Viljoen skryf in haar resensie van Alles het niet kom wôd dat die werk kleiner in omvang is as Trantraal se debuutbundel, maar dieselfde kragtige effek het: “Dit is die produk van ’n digter volkome in beheer van sy vak. Veral is dit die werk van iemand wat met sy ingehoue, maar tog dringende stem die vermoë het om tot ’n wye spektrum van lesers te spreek.”
Die bundel het oorspronklik in 2017 by Kwela Boeke verskyn.
Na afloop van Ombra GVG se suksesvolle aansoek, word distopiese jeugliteratuur nou vir die eerste keer ingesluit by die genres wat deur die PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds word. Offers vir die vlieë deur Fanie Viljoen is ’n distopiese oorlogsroman wat as die wenner van LAPA-Uitgewers se 2019 jeugromankompetisie aangewys is. Dit is ook bekroon met ’n ATKV-kinderboektoekenning (graad 8 – 10) (2021) en die Scheepersprys vir jeuglektuur (2022). Die Engelse vertaling, Sacrifice to the Flies, het in 2022 verskyn (ook by LAPA-Uitgewers) en het die roman vir die Albanese uitgewery Ombra GVG toeganklik gemaak. Die Albanese vertaling sal na verwagting in Oktober 2023 verskyn en die aangewese vertaler is Elisa Ivanaj. Ivanaj het al verskeie skrywers se werk vertaal, insluitend romans deur Ali Smith en Ann Pachett.
Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.
Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.
Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar by: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/