Nuusbrief: Desember 2020

Beste lede en vriende van PEN Afrikaans

PEN Afrikaans stel webwerf bekend

Dit is ’n groot plesier om hier PEN Afrikaans se webwerf bekend te stel. Baie dankie aan LitNet wat die afgelope jare PEN Afrikaans se webportaal gehuisves en bygewerk het. Ons sal aanhou om onder andere ons maandelikse resensie-oorsig daar beskikbaar te maak en ons sien uit na verdere goeie samewerking.

Tog is ’n eie webwerf vir PEN Afrikaans ’n belangrike manier om inligting oor ons werksaamhede te deel, ons inhoud te argiveer en ons sigbaarheid as organisasie te bevorder. Gaan kyk gerus rond en deel asseblief met belangstellendes: https://penafrikaans.org.za/

Video’s: Tuin van Digters 2020

Tuin van Digters het op 27, 28 en 29 November 2020 by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasgevind en opbetaalde lede van PEN Afrikaans kon dit weer gratis bywoon.

Ons deel hier video’s van ’n paar sessies op die program wat ons laat maak het om iets van die fees behoue te laat bly, veral aangesien bywoning onderworpe was aan Covid-19-beperkings en -regulasies. Baie dankie aan ProVideo Productions vir die video-opnames en -redigering.   

Kyk gerus na die volgende video’s op PEN Afrikaans se YouTube-kanaal:

  • Smeltkroesis die produksie wat ons met PEN International se ondersteuning vanjaar na Tuin van Digters kon bring. Dit is ’n uittreksel uit ’n NATi-ondersteunde produksie wat in 2021 sy debuut maak en sy oorsprong as opdragwerk van RSG het. Die verhoog was swaar gelaai van die talent in dié besonderse viering van woorde en musiek, en die belang van taal vir persoonlike en kulturele identiteit. Boonop was dit ‘n groot treffer by die feesgangers, wie se meelewing uiting gekry het in ‘n spontane gedans in en om die tent.  
  • Die paneelbespreking Ampie Coetzee en die Afrikaanse letterkundestudie belig die nalatenskap van Ampie Coetzee as letterkundige. Ampie Coetzee, die afwesige en alomaanwesige eregas van die fees, soos Danie Marais dit in die inleiding stel, tel onder een van PEN Afrikaans se stigterslede en ons is bly om dié gesprek te kon verewig.
  • In die paneelbespreking Nuwe bundels sluit slotte oopgesels Alfred Schaffer met drie digters oor hulle bundels: Jolyn Phillips, Lynthia Julius en Ryan Pedro. Jolyn is ’n bestuurslid van PEN Afrikaans en Lynthia en Ryan het verlede jaar tydens die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans se skrywersresidensie aan hulle bundels gewerk. Ons sê hartlik geluk met die verskyning van dié bundels.

Kyk gerus na hierdie video’s om iets van die fees te beleef of herleef. Dit is ook hier op ons webwerf beskikbaar.

Daar is ook op LitNet ’n fotoblad en verdere video’s op die Breytenbach Sentrum se YouTube-kanaal.

In memoriam: Christine Barkhuizen-Le Roux

Sedert ons vorige nuusbrief is die Afrikaanse boekewêreld geruk deur die dood van die geliefde skrywer, vertaler en een van ons gewaardeerde lede, Christine Barkhuizen-Le Roux. Ons het die Belgiese skrywer, vertaler en joernalis, Ingrid Vander Veken, gevra om ‘n stuk te skryf wat ons graag deel om hulde te bring aan Christine, haar vriendin, wat ons te vroeg verlaat het. Baie dankie aan Ingrid vir die roerende bydrae.   “Het was 2007, PEN Vlaanderen beschikte sinds kort een Schrijversflat waar buitenlandse auteurs konden verblijven. Als verantwoordelijke voor die residentie stroomden bij mij aanvragen toe van over de hele wereld. Eén daarvan kwam uit Zuid-Afrika, de afzender was Christine Barkhuizen-Leroux.[… Klik hier om verder te lees]  
Lees ook oor Christine se lewe en werk in haar bygewerkte ATKV-Skrywersalbum op LitNet.


PEN Afrikaans Vertaalfonds befonds vertalings van Ronelda S. Kamfer, Dalene Matthee en Ingrid Winterbach

Ons kondig met trots die jongste suksesvolle aansoeke by die PEN Afrikaans Vertaalfonds aan. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys en ter wille van die bevordering van die Afrikaanse letterkunde in die buiteland.  

Na oorweging van die aansoeke wat teen die November 2020-sperdatum ontvang is, sal die volgende vertalings befonds word:

  • ’n Nederlandse vertaling van Chinatown deur Ronelda S. Kamfer (Uitgeverij Podium)
  • ’n Arabiese vertaling van Fiela se kind deur Dalene Matthee (Mahrousa Publishing)
  • ’n Nederlandse vertaling van Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach (Zirimiri Press).

Uitgeverij Podium spesialiseer in literêre fiksie en gehalte-niefiksie, en is een van min uitgewerye wat nog geredelik gedigte in vertaling publiseer. Hulle fondslys sluit voorste Afrikaanse digters in, soos Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Ingrid Jonker en Ronelda Kamfer. Podium het suksesvol aansoek gedoen vir die vertaalkoste verbonde aan Kamfer se jongste bundel, Chinatown, waarin sy veral haar digterstem oor geslagspolitiek en die patriargie laat geld. Die vertaler, bekroonde digter en akademikus Alfred Schaffer sal, soos met Kamfer se vorige drie bundels, die werk vertaal en die vertaling sal na verwagting in April 2021 verskyn.

Fiela se kind, Dalene Matthee se geliefde roman, sal in Arabiese vertaling by Mahrousa Publishing (Kaïro, Egipte) verskyn. Die sukses van dié roman sluit verskeie uitgawes, vertalings (Engels, Duits, Frans, Hebreeus, Nederlands, Sloeweens en Sweeds), verhoog- en filmverwerkings in. Die beoogde publikasiedatum van die Arabiese vertaling is Mei 2021 en die vertaler is Emad Mansour. Hy gaan via die Engels vertaal en het al verskeie werke uit die wêreldletterkunde in Arabies vertaal, o.a. deur Franz Kafka, Thomas Mann en Mary Shelley.

Die troebel tyd, die jongste roman van die veelbekroonde romansier en kunstenaar Ingrid Winterbach, sal in Nederlandse vertaling by die onafhanklike uitgewery Zirimiri Press verskyn. Die vertaling van dié heerlik aweregse, sinies snaakse en boonop meesleurende roman, soos Johan Myburg dit in ’n resensie beskryf, sal in Oktober 2021 gepubliseer word. Die hoogaangeskrewe literêre vertaler Robert Dorsman sal die vertaalwerk doen. Die troebel tyd was die wenner van die 2018 Groot Romanwedstryd.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar.

Volledige besonderhede is hier beskikbaar: https://penafrikaans.org.za/pen-afrikaans-vertaalfonds/

Die wêreld van die skrywer: artikelreeks

Olivia M. Coetzee is aan die woord in die nuutste aflewering van ons artikelreeks genaamd “Die wêreld van die skrywer”.

Ons het haar gevra om te skryf oor distopiese letterkunde en die ruimteskepping oftewel “worldbuilding” wat tipies so belangrik daarin is. Hoe gaan sy daarmee te werk? Haar artikel is hier beskikbaar.

Maandelikse resensie-oorsig

Klik hier vir ons oorsig van Afrikaanse resensies wat in November 2020 verskyn het en digitaal beskikbaar is. Hierdie oorsig sluit boekbesprekings, boekgesprekke en voorlesings in wat op die radio of TV uitgesaai is. Daar is ook podsendings en ’n skakel na ’n simposium oor Elsa Joubert se werk.

Dit is vir ons ’n plesier om hierdie keer ook inhoud uit die jongste uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde in te sluit. Tydskrif vir Letterkunde is ’n aanlyn akademiese joernaal wat twee maal per jaar verskyn en naas navorsingsartikels ook resensies insluit. Die resensies is ooptoegang en die PDF’s kan gratis afgelaai word by die skakel bo.

Indien jy weet van ander gerekende publikasies wat ook Afrikaanse resensies en boekgesprekke plaas en dit digitaal beskikbaar maak, laat weet asseblief na penafrikaans@gmail.com.

Ons wil graag elke maandelikse oorsig so volledig moontlik maak.

Nuwe Afrikaanse boeke in Desember 2020

Vir oulaas in 2020, ’n jaar wat die belang van boeke opnuut duidelik gemaak het, deel ons graag die lys van die nuwe Afrikaanse boeke wat hierdie maand verskyn.

Die publikasielys kan hier in Excel-formaat afgelaai word. Baie geluk en alle sukses aan ons lede wat hierdie maand nuwe boeke op die rakke het.

Nuwe lede

Ten slotte is dit baie lekker om die volgende nuwe lede te verwelkom: Bibi Burger, Carien Smith, Anita van der Walt en Carla Botha. Hartik welkom en ons sien uit na die nuwe jaar saam met julle en die res van ons lede.

Baie dankie vir die saamwerk en saamwees, al was dit meestal aanlyn, tydens 2020.

Mag dit vir julle almal ’n goeie feestyd wees en alles wat mooi is vir die nuwe jaar.

Vriendelike groete
Catrina Wessels
Bestuurder: PEN Afrikaans