Video’s: Tuin van Digters 2020

Tuin van Digters het op 27, 28 en 29 November 2020 by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasgevind en opbetaalde lede van PEN Afrikaans kon dit weer gratis bywoon.

Ons deel hier video’s van ’n paar sessies op die program wat ons laat maak het om iets van die fees behoue te laat bly, veral aangesien bywoning onderworpe was aan Covid-19-beperkings en -regulasies. Baie dankie aan ProVideo Productions vir die video-opnames en -redigering.

Smeltkroes is die produksie wat ons met trots, en met PEN International se ondersteuning, vanjaar na Tuin van Digters kon bring. Dit is ’n uittreksel uit ’n NATi-ondersteunde produksie wat in 2021 sy debuut maak en sy oorsprong as opdragwerk van RSG het. Met o.a. Luna Paige, Ramon Alexander, Frazer Barry, Jolyn Phillips, Shirmoney Rhode, Devonecia Swartz en Breyten Treurnicht, en regie deur Nicole Holm.

Die paneelbespreking Ampie Coetzee en die Afrikaanse letterkundestudie belig die nalatenskap van Ampie Coetzee as letterkundige. Ampie Coetzee, die afwesige en alomaanwesige eregas van die fees, soos Danie Marais dit in die inleiding stel, tel onder een van PEN Afrikaans se stigterslede en ons is bly om dié gesprek te kon verewig. Louise Viljoen is in gesprek met Gerrit Olivier, Steward van Wyk en Jolyn Phillips.

In die paneelbespreking Nuwe bundels sluit slotte oop gesels Alfred Schaffer met drie digters oor hulle bundels: Jolyn Phillips, Lynthia Julius en Ryan Pedro. Jolyn is ’n bestuurslid van PEN Afrikaans en Lynthia en Ryan het verlede jaar tydens die Jakes Gerwel Stigting en PEN Afrikaans se skrywersresidensie aan hulle bundels gewerk. Ons sê hartlik geluk met die verskyning van dié bundels.