Vasgevang in die Snapshots van Distopie – Olivia M. Coetzee

 

Utopie is ’n idee wat Sir Thomas More geskep en hy het oek die boek “Utopia” geskryf. En utopie beskryf  ’n plek of ’n wêreld wat te goed is om waar te wies, of wat te goed is om ooit te bestaan. En distopie is die teenoorgestelde van utopie. Distopie beskryf ’n wêreld in die toekoms waa al ôs nagmerries ’n realiteit is, waa al ôs vryheid en vrede van ienige soort iets van die veliede is. Mensdom wôt vedruk deu ’n groep mense, of deu tegnologie, of tegnologie in die hande van ’n groep mense. ’n Distopiese wêreld kan oek praat van ’n toekomstige wêreld waa mensdom die vedrukker van die natuur is. Die genre van distopie is nie iets nuuts nie, baie skrywers het al hulle penne in daai ink gedruk om stories te vetel van toekomstige wêrelde wat sonner hoep en sonner vrede moet klaa kom. Stories soes Suzanne Collins se Hunger Games, P.D. James se Children of Men, stories soes Deon Meyer se Koors, of Octavia Butler se Parable of the Sower is stories waa sulke distopiese wêrelde uitgebeeld wôt.

Vi my om ’n storie te skryf in die genre is iets nuuts. Ek het nog altyd daavan gehou om sulke stories te lies, en om films in die genre te kyk, omdat in daai vedrukking van die mensdom of natuur praat distopie nie net van ’n tyd waa alle nagmerries ’n realiteit issie, maa dit praat oo ’n utopiese wêreld wat deu die vedrukking geskep kan wôt. Dit praat oo ’n utopiese wêreld wat geskep kan wôt as dit wat vedruk is maa net kan trugbaklei tien die ontwykende vryheid wat in die middel van ’n distopiese wêreld sit. Soms voel dit soes ôs kla in soe ’n tiepe wêreld liewe, maa in ’n distopiese realiteit is dinge êger as wat ôs dit nou experience.

Ek dink wat die genre nou lat groei is miskien die feit dat dit vi baie mense voel soes die einde nader kô, of miskien is dit dat die hoep wat mens nog elke dag kan in liewe biesag is om op te droeg. Ek mien ôs liewe in ’n wêreldwye pandemie. Elke dag wôt ôs strate net natter van die bloed van onskuldige mense. Die gawement is op hulle eie trip, ôs betaal, hulle vriet op, ôs suffer. Dissie mee net gêngstes wat dood gannie, meer en meer is dit mense wat hard wêk en vasklou an daai hoep van die dag van môre wat doodgemaak wôt.

Ek dink mense soek die lig an die einde van die tonnel. En dit is wat, volgens my, ’n distopiese wêreld beskryf. Soe ’n distopiese wêreld sê, ja, ôs gat mos nou nie ienige tyd gou ôs se ways veannerie, en dit sal lei tot ’n toekoms waa die liewe êger gat wies as wat dit nou is. Maa ek gloe dat dit sal ôs lei na die vryheid wat ôs amal soe hard na soek, of at least dis hoe dit gebeu in die stories. Want in die donkerte van daai distopiese wêreld lê daa altyd ’n stukkie lig iewers vasgevang in die details.

Om ’n distopiese storie te skrywe is meeran net die voorspellings of visies van ’n donker toekoms, dit gan oo die konstante uitbeelding van die balans tussen reg en vekeet wat heeltemal uit is. Om die storie liewe te gie moet mens aandag gie an die finer details wat die leser of kyker in daai wêreld intrek. En dis wat dit an die eenkant moeilikere maak en an die annekant maklikere maak om soe ’n wêreld te skep, want daai klein details skep die prent vi die leser of die kyker. Dis in die daai details wat die towerkuns gebeu, maa as djy as skrywer die klein details vekeet kry het dit ’n groot impak op jou leser, en hoe jou storie vloei.

Maa waa begin mens om soe ’n distopiese wêreld te skep? Elke skrywer se proses is annes, soe ek kan net praat uit my eie experience uit. Ek is op die oemblik nog biesag om te wêk an “Second Coming”, ’n storie wat gebeu in ’n toekoms waa godsdiens verbied is, waa ienige iets wat mense hoep kan gie verbied is, waa ienige individualisme verbied is. Die idee van die manuskrip het ek gekry toe ek ’n kôtvehaal moes skryf vir my meestersgraadkursus. Ek het ’n wêreld gesien wat sonder hoep is. Ek het vi Janine, die hoofkarakter van daai kôtvehaal ontmoet, en sy het ’n storie begin vetel wat praat van donke tye wat voolê vi haa mense. Sy’t gepraat van ’n tyd waa die water opgedroeg het, waa mense doodgeskiet wôt omdat hulle gloe in ’n Got. Sy’t gepraat van die Gattas wat elke wiek ’n draai kô maak in die mense se straat om mense in lyn te hou. Met die skryf van daai kôtvehaal het ek nie veel gewarrie met die skepping van die ruimte nie, maa met die stem van die storie, wat dan toe die kern van “Second Coming” gewôt het, en dis waa die ruimteskepping begin het, met “Second Coming” se eeste konsep.

Die ruimteskepping, soes hoe dit lyk in die Distrikte en die Sections, en hoe dit lyk an die anne kant van die muur het gekom soes ek die storie ontwikkel het. En daai ontwikkeling het mieste deu die oë van die karakters gebeur. Dis immers hulle wêreld wat die skrywer in genooi wôt om deu te kyk. Ek sit en dink nou an Skyedrie, die hoofkarakter van “Second Coming”, en wanne sy vetel toe haa anniem-ma haa vetel van hoe sy as ’n baba onner ’n trap naby haa huis gevind was, en die elektroniese boks wat sy in gesit, en die pers koebers wat praat van haa blou blood status, wat sy en hoe in daai oomblik gie sy ’n mens ’n glimpse in haa wêreld in. Dan praat sy oek oo die skurwe flêts wat se plek-plek roes soes goud lyk na dit gerient het. En ek vind dit amazing om die wêreld te leer ken deu die karakters se oë, want dis hoe die ruimtes geskep wôt, deu die karakters se snapshots van die straat of ’n particular huis, of die groot muur wat die stad omring. Dis die snapshots wat ’n groot verandering maak in hoe die storie an die einde van die dag gelies wôt. En daai snapshots wôt create deu direksie te vat van die karakters af te same met al die informasie in my kop, en ek praat nie net hier van die navorsing wat ek doen nie, of imagination nie, maa elke laaste experience wat my sintuie al gehad het wôt ingetrek om die karakters se storie te vetel. Soe ja, die karakters met hulle wêrelde kô uit ’n skrywer se imagination uit, maa dis meer as om net jou imagination te gebruik, want daa is baie dinge wat deel raak van die storie wat mens sal lat onthou van die hede.

Soe besides die dele wat die karakters bring om te vetel van hulle realiteit is daa dinge wat ek sal in sit. Miskien is dit iets wat die storie sal lat groei, of iets wat my leser daai visual marker kan gie om hulle te help die wêreld create soes hulle lies. Soes iets soe simple as die SMART toestel, ’n elektroniese chip wat onner die vel in gesit wôt, wat die karakters gebruik om saam mekaa te kommunikeer, en om anner dinge te doen. Iets wat die leser kan transport na ’n toekomstige tyd toe. Of die groep vroumense en kinnes wat in ’n onnergrondse hok by Lot 1 angehou wôt, en as ‘delikasies’ vekoep wôt, of hoe vroumense geforseer wôt om pregnant te wôt soedat die babas as ‘delikasies’ kan vekoep wôt. En met dit speel ek op die hele idee van mensehandel, en hoe die bedryf op ’n anner level is in die jaar 2114. Soe dis klein goetjies wat die wêreld skep.

Die idee van distopie vi my gan oo die feit dat ôs soek daai “einde van die wereld”, nie net om te suffer nie, maa om gered te wôt. Maa in daai klein details lê die storie van hoep, klein stukkies lig tussen die geweld, en al die anner issues wat ’n distopiese liewe soe swaar en lelik maak. In daai klein details, soes toe Skyedrie vi die eeste kee in haa liewe die roep van ’n visarend hoo toe sy oo haa anniem-ma se graf staan. En dis wat distopiese wêreld is vi my, dis die snapshots van hoep wat my die distopiese wêreld create, want in die donkerste tye vind ôs altyd hoep om vorentoe te beweeg. En dissie net hoe dit gebeu met karakters in my storie nie, maa dis wat die natuur is, dis wat die mensdom is, daa is altyd daai movement vorentoe, na iets bieter toe.